Thijs van der Merwe

Thijs van der Merwe is die Algemene Sekretaris NGKN (NG Kerk Namibië).

Hy was een van die NG Kerk se respondente tydens die hofsaak van 2016 tot 2019. Kyk Oorsig van NGK 2019 hofsaak oor homoseksualiteit.

Hy het ook die volgende petisie geteken wat in reaksie was op ds Chris van Wyk se stelling oor homoseksualiteit en pedofilie: Hou by waardes van seisoen van menswaardigheid, vra predikante (Okt 2018)

Hy het ná die 2019 NGK homoseksuele besluit ’n onderhoud met die moderator van Namibië, André Olivier, gehou waarin hulle duidelik die idee gesteun het dat daar ruimte gemaak moet word in die kerk vir SGV (selfdegeslagverhoudings) – kyk “Ds Thijs van der Merwe, Algemene Sekretaris NGKN, gesels met Dr André Olivier oor die Algemene Sinode wat tans in Benoni gehou word” hieronder.

Kyk ook

*********

Ds Thijs van der Merwe, Algemene Sekretaris NGKN, gesels met Dr André Olivier oor die Algemene Sinode wat tans in Benoni gehou word

Inleiding

Die Algemene Sinode het op Dinsdag 8 Oktober 2019 ruimte gemaak vir SGV. Die volgende dag het Thijs van der Merwe, Algemene Sekretaris NGKN (NG Kerk Namibië) met Dr André Olivier, die moderator van die NGKN gesels in ’n Facebookvideo op NG Kerk Namibië se Facebookblad.

Die boodskap wat hulle wou oordra is dat hulle gemeentes in Namibië wou gerusstel oor die feit dat die NG Kerk ruimte gemaak het vir SGV. Hier is ’n opsomming van hulle gedagtes tydens die onderhoud:

  • Alle gemeentes is volledig kerk. Die Algemene Sinode is nie die kerk nie.
  • Alles wat die by die Algemene Sinode besluit word, is nie noodwendig bindend vir gemeentes nie. Hiermee skep hulle die gedagte dat gemeentes in Namibië hulle nie te veel moet steur aan die besluite nie.
  • Die NGKN moet steeds deel wees van die AS omdat beide mekaar verryk.
  • Dit is belangriker dat mense van buite sien dat die mense in die kerk mooi met mekaar praat, want dit is blykbaar die maatstaf of Jesus daar teenwoordig is. Dit is daarom dat die sinode “aangebied is as ’n liturgie”.
  • Ons moet konsensus kry dat ons met mekaar verskil, maar dat ons steeds eenheid het in Jesus Christus. Handelinge 15 word voorgehou waar die vroeë kerk ruimte gemaak het verskillende opinies oor moeilike geloofskwessies. Kyk egter kommentaar oor Handelinge 15: HIER, HIER en HIER.
  • Hulle wil gerustheid bring dat Namibië nie daarvoor ruimte hoef te maak nie weens ander landswette (nie noodwendig omdat die Bybel so sê nie).

Hier volg die onderhoud

Video op Facebook: facebook.com/watch/?v=438728763424733

Video op Youtube: youtube.com/watch?v=QhRtKGVdduw

Thijs van der Merwe gesels met André Olivier oor Algemene Sinode 2019 (9 Okt 2019)

9 Oktober 2019

André: Daar is die persepsie by mense dat alles wat hier gebeur moet nou op elke vlak gebeur asof hierdie die kerk is en dit word uitgespeel daar buite terwyl ons in Namibië ’n kerk is, ’n NG Kerk op ons eie wat in verband tree met ander kerke binne die 10 sinodes wat hier bymekaar gekom het.

Thijs: Dit is eintlik kerke van verskille lande wat hier verteenwoordig word.

André: Dit is internasionaal, ’n breë familie en ’n verrykende ervaring om almal hier bymekaar te hê.

Thijs: Waarom sal ons verder deelneem behalwe dat ons die verband vier, dat ons die familie is? Wat anders bied die Algemene Sinode vir die NG Kerk in Namibië.

André: ’n Mens se eerste indruk is dit is ’n ryk vergadering van hoë kundigheid en van diversiteit wat ook die potensiaal het om ons baie te verryk omdat ons in ’n sin ver is en dat ons baie wyd geleë is in Namibië. So dit is ook vir ons ’n voedingsbron, alhoewel dit ook vir hulle ’n voedingsbron is. Daar is ’n wederkerigheid. Ons verryk mekaar.

Thijs: En dan die hele ding wat ons al gesien gebeur het in Namibië waar ons nou al predikante, standplaasleraars, opgelei en gelegitimeer het en ouderlinge met preekbevoegtheid het. Dit is eintlik alles goed wat vanuit die Algemene Sinode se navorsing oor opleiding na ons toe gekom het. So, hulle verryk ons ook.

André: Baie van wat hier (by die AS) gebeur kan baie vir ons beteken in die afsienbare toekoms.

Thijs: Paar indrukke? Ons is drie dae hier, het Sondag gekonstitueer. Ons is nou by Woensdag (9 Oktober 2019). Wat is jou indrukke tot dusver?

André: Dankie vir hierdie geleentheid, Thijs. Daar was groot verwagtinge vir hierdie sinode gewees voor ons gekom het. Die vraag waarmee ek wil begin is: as die wêreld daarbuite na hierdie vergadering kyk, sien hulle Jesus Christus, die drie-enige God teenwoordig in hierdie vergadering? In die manier waarop ons met mekaar werk, ons met mekaar praat, hoe ons komplekse sake hanteer? En ek wil sê: omonwonde “ja”. Daarom word hierdie sinode aangebied as ’n liturgie. Ons is hier voor die Here teenwoordig en ek is geweldig positief oor hoe dit verloop het tot nou toe.

Thijs: Daar was tog spanninge in die vergadering tot nou toe. Wanneer daar sulke spanninge was, wat was jou indruk dan? Wat gebeur dan?

André: Ek wil juis ook daarvoor dankie sê, Thijs, dat jy hierdie vraag vra, want hierdie sinode het oor tyd geleer om op ’n spesifieke manier te werk. Ons ken dit te veel uit die geskiedenis dat vergaderings ’n armdruksituasie is. Hierdie is ’n geleentheid om te sê: kom ons gaan op weg met mekaar en kom ons kry die konsensus dat ons verskil en dat ons ruimte gee vir verskille, maar ons het een gemeenskaplike belydenis: Jesus Christus is die Here. En binne dít hou ons aanmekaar vas. Dit was so in die eerste kerk gewees, in die Nuwe Testament.

Thijs: Ja, waar daar diep verskille was en tog kom … as ons bietjie oor die selfdegeslagverhoudinge kan gesels wat gistermiddag en gisteraand op die tafel was, diep, diep deurgepraat is met mekaar, wye verskeidenheid van standpunte wat gestel is. Ek kan my nou amper indink, dit is hoe dit was in Jerusalem daar in Handelinge se verhaal van hier kom ’n klomp ouens wat sê: ‘Ons gaan nie besny nie. Ons gaan nie die seremoniële wette volg nie. Ons is ander soort Christene.’ Ek kan my indink dit was dieselfde soort van spanninge. Hulle was baie maklik ewe ver uitmekaar uit gewees as wat ons oor dieselfdegeslag is.

André: Net so! Hulle het juis daarin geslaag om mense van verskillende oorde en agtergronde bymekaar te kry omdat hulle binne hierdie een belydenis van ‘Christus is die Here’ bymekaar gekom het.

Thijs: En daarom, as hulle weggaan, sê hulle: ‘Ons en die Gees het gesê’, en dan is dit vir my interessant dat hulle dan nie voorskrifte gee: julle moet nou ophou om te besny nie en julle moet nou ophou om die seremoniële wette na te kom nie, maar hulle gaan sê ook nie vir die ander: nou moet julle dit doen nie. So hulle sê eintlik: ons sien die verskeidenheid en ons vier die verskeidenheid.

André: Korrek.

Thijs: Nou op ’n manier dink ek dit is wat die vergadering probeer doen het gister. Wat hy oor tyd ontwikkel het. Dit is waar ons uitgekom het. Wil jy dalk iets daaroor sê?

André: Thijs, ek dink dit is verskriklik belangrik om te sien waar ons vandaan kom en waarmee het hierdie sinode gewerk. Ek het ’n beeld gebruik: as jy te hard op die koekie druk, dan spat hy in krummels uitmekaar en ons was oppad daarheen. Nou wat bereik ons daarmee? Want mense staan op hulle standpunte vanuit die Skrif en daarom het hierdie vergadering gesê: ons is dit eens dat die Skrif belangrik is, maar die Skrifhantering en uitleg, daar is verskille daar. En daarom het ons gesê: kom ons begin weereens vanuit ons belydenis in Christus en kom ons tree met respek teenoor mekaar op waar daar verskille is, maar ons gaan met mekaar op weg daarmee en ons druk nie mekaar in hoeke nie. Ons reis met mekaar en hou mekaar vas.

Thijs: En dat hulle dit absoluut afwentel tot by die laagste vlak, die plaaslike gemeente.

André: Dat daar diversiteit erken word van sinodes en gemeentes en dit is in lyn met Taakspan Kerkverband. Dat daar groter soepelheid en ruimte gegee word in die omgewings waarbinne ons ons bedieninge beoefen.

Thijs: Namibië het in 2016 ’n besluit geneem waarin daar gesê word: die Namibiese kerk, NG Kerk, sê dat ’n huwelik is die verbintenis tussen een man en een vrou en al daardie goeters so uitgepak en baie duidelik selfdegeslagverbintenisse afgewys en so aan. Dit staan dus nog net so en daar het niks aan verander nie.

André: Omdat 15 en 16 [die SGV-besluite van 2015 en 2016] af is, staan die vorige besluite van die sinode, veral rondom die huwelik waaroor mense bekommerd is. Dit bly staan. Maar ons het ’n eie posisie in Namibië as gevolg van ons wetgewing.

Thijs: En die feit dat ons ’n eie kerk is.

André: En dat ons ’n eie kerk is en ’n besluit geneem het. As ons teruggaan na ons 2016-besluit in Namibië, dink ek kan hierdie proses baie maklik daarin pas. In die besluite.

Thijs: André, baie dankie vir jou tyd.

André: Dit is ’n baie groot plesier, Thijs, en ons moet asseblief positief aan mekaar vashou, want die Here bly in gees in sy kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui