‘Skop vas teen NGK-kaping’

***********

‘Skop vas teen NGK-kaping’ | Netwerk24

Deur Ds. Pieter Prinsloo, NG Kerk Kroonstad-Wes (Dolerend)

20 Augustus 2021

Ds. Jan Lubbe sluit sy Woord en perspektief-rubriek “Hoe lees ons dié verhale so swak?”(17.08) af met die doelbewuste uitlokkende woorde: “En hoekom kan ons nie aanvaar dat God haar vleuels oor ons almal uitsprei nie?”

Ek wil geensins met Lubbe in ’n onverkwiklike teologiese debat – wat hy klaarblyklik moedswillig en desperaat soek – betrokke raak nie.

Ek rig hierdie brief eerder aan NG lidmate wat wonder waarom al hoe meer NG gemeentes doleer.

Aan hierdie skape van die Here wil ek verduidelik dat Jan Lubbe die voorsitter van die kuratorium van die NGK Vrystaat is. Lubbe, wat na God as “haar” verwys, is dus die voorsitter van dié NGK-liggaam wat moet toesig hou oor dit wat by teologiese fakulteite aan toekomstige leraars geleer word.

Hy is dus in ’n magsposisie in die NGK.

Lidmate kan dus verstaan hoe “leiersfigure” soos Lubbe die dwalings wat aan gemeentes se toekomstige leraars by die teologiese fakulteite geleer word, sal toesmeer deur mooiklinkend te beweer dat alles in die NGK se strukture nog Skrifgetrou en gereformeerd verloop.

Liewe gelowige, soos in Lubbe se stelling gesien kan word, kan hy en sy geesgenote nie vertrou word as hulle vriendelik beweer dat daar geen dwaling in die NGK se strukture en teologiese opleiding toegelaat word nie.

Wat kan lidmate en hul gemeentes hieraan doen?

Bly getrou aan die Woord van die Here en bring ’n duidelike getuienis as kerkraad uit dat julle as NG gemeente, wat God se Woord eerbiedig, voortaan amptelik doleer.

Word dan deel van die Kairos Netwerk wat opstaan teen hierdie vrysinnige dwalings in die gekaapte NGK-strukture.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui