Folau het sy brein laat kaap

Kyk ook:

Chris Jones het die artikel “Folau het sy brein laat kaap” hieronder geskryf waarin hy Israel Folau kritiseer dat hy sy rugbyloopbaan onnodig beeïndig het omdat hy glo dat homoseks sonde is. Daarmee het Folau toegelaat dat Christelike fundamentalisme sy brein gekaap het.

’n Mens moet in gedagte hou watter teologie Chris Jones beoefen – hy ontken al die belangrike Bybelse waarhede (kyk Wie is Chris Jones?).

Kyk ook verdere kommentaar in die artikel in [blokhakies].

************

Folau het sy brein laat kaap | Netwerk24

Deur Chris Jones

2 Junie 2019

Die Australiese rugbyspeler Israel Folau het sy rugbyloopbaan op naïewe wyse op die altaar van fundamentalisme geoffer, skryf Chris Jones.

Israel Folau, Australiese heelagter, maar (skynbaar) ook ’n fundamentalistiese Christen, was in die laaste tyd baie in die nuus oor sy inskrywing op sosiale media dat die hel op dronkaards, homoseksuele, egbrekers en ander wag.

Omdat hy, ná herhaalde versoeke deur Rugby Australië, geweier het om hierdie plasing te verwyder, is sy kontrak met hulle beëindig. Volgens Folau sal hy die werk van Satan doen as hy Rugby Australië se vredesaanbod aanvaar om sy rugbyloopbaan te hervat.

Dit is na my mening ’n baie goeie voorbeeld van hoe Christelike fundamentalisme ’n mens se brein kan kaap.

Vir fundamentaliste is die Bybel die onfeilbare Woord van God. Omdat God immers onfeilbaar is, moet sy Woord dit ook wees.

As daar egter een fout in die Bybel sou wees, word alles volgens diesulkes onseker, want dít sou te kenne gee dat ’n mens God nie meer kan vertrou nie. Vir fundamentaliste kom elke woord in die Bybel direk van God, omdat dit deur die Heilige Gees só geïnspireer of ingegee is.

Waar daar egter met akkuraatheid op verskille en/of foute in die Bybel gewys word, word dit gewoon deur fundamentaliste wegverduidelik of -verklaar.

Wat ons moet onthou, is dat ons vandag geen geskrif of teks het wat oorspronklik deur ’n Bybelskrywer geskryf is nie. Dit het alles verlore gegaan. Al wat ons het, is afskrifte, en dan in baie gevalle afskrifte van afskrifte. En só is oorskryffoute wat gemaak is, voortgesit in nuwe afskrifte.

Dus, as ons geen oorspronklike geskrifte meer het nie, het ons ook geen geskrifte wat ons met sekerheid kan sê onfeilbaar is nie. En daarom het ons ook nie ’n Bybel wat onfeilbaar is nie. Boonop lees baie mense vandag net vertalings van die Bybel, wat uiteraard ook weer probleme meebring.

[Dit is duidelik dat Chris Jones na strooihalms gryp. Die Bybel is amptelik die mees betroubaarste antieke manuskrip ter wêreld. Daniel Wallace gebruik die term “embarrassment of riches” om ’n aanduiding te gee van die oorvloed antieke manuskripte wat ons tot ons beskikking het. Kyk byvoorbeeld How Many Bible Manuscripts?.

Dit is waar dat ons nie enige oorspronklike manuskripte het nie, en dat daar baie variasies tussen manuskripte is, maar geleerdes is dit almal eens dat by verre die grootste gedeelte van hierdie variasies (volgens Daniel Wallace is dit 99.8%) gering is, soos byvoorbeeld verskillende spelling. Die res van die variasies (0.2%) beïnvloed geen sentrale Christelike doktrine nie. Kyk byvoorbeeld Are There Any Major New Testament Text Variants? en How can you trust the New Testament when the original manuscripts are different?.

Wanneer aan ’n nuwe Bybelvertaling gewerk word, word die codex’e gebruik wat 300 nC dateer (kyk Geskiedenis van die Bybel), dus is die Bybel van vandag nie ’n vertaling op ’n vertaling op ’n vertaling nie en het die Bybel nie oor die jare heen verander nie.]

Die groot probleem met fundamentaliste is dat hulle die Bybel deurgaans letterlik opneem, sonder om die eiesoortige maatskaplik-historiese kontekste waarbinne dit ontstaan het, verantwoordelik te verreken.

[Daar is verskillende genres in die Bybel (kyk Die verskillende genres van die Bybel). Die Bybel moet gelees word soos dit bedoel was. Lees geskiedenis as geskiedenis, poësie as poësie, metafore as metafore, ensovoorts. As jy nie hierdie reël navolg nie, dan het die Bybel geen gesag nie. Dan besluit jy self, op grond van die heersende kultuur, wat jy van die Bybel wil glo en dan het jy in wese jou eie god geskep. Dit is presies wat Jones doen.]

Waar en wanneer het dit ontstaan?

Christelike fundamentalisme het in die laat 19de en vroeë 20ste eeu onder Britse en Amerikaanse Protestante ontstaan as ’n reaksie op teologiese liberalisme en kulturele modernisme.

[Dit sal meer korrek wees om te sê: “Die teologiese liberalisme het in die laat 19de en vroeë 20ste eeu ontstaan toe teoloë die Bybel se gesag begin uitdaag het.”]

Dit was ’n doelbewuste poging om die rasionele invloed van die opkomende wetenskap – en dan veral die vernietigende uitwerking en ondergrawing wat dit op fundamentele geloofsbeskouings sou hê – teen te werk.

Hierdie fundamentalistiese beskouings het mettertyd uitgekring en feitlik alle Christelike kerke binnegedring.

Gedurende die 20ste eeu is daar sterk teenkanting hierteen gebied, veral vanuit die Protestantse kerke, maar in die hantering daarvan – en dit is belangrik – is daar nie behoorlik rekening gehou met die voorwetenskaplike aard van die Bybel nie.

[Liberales maak altyd ’n kwessie van die sogenaamde “voorwetenskaplike aard” van die Bybel. Dit is niks anders as om Goddelike openbaring te ontken nie. Paulus was nie teen homoseksualiteit omdat hy daarvoor gegril het nie. Hy was daarteen gekant omdat God dit aan Moses geopenbaar het.

Gepraat van voorwetenskaplik: dit sal interessant wees om uit Chris se eie mond te hoor of hy aan Jesus se wonderwerke glo. Was Jesus se wonderwerke nie maar net ’n voorwetenskaplike siening van Jesus se volgelinge nie?]

Hoewel daar in die Duitse teologie heelwat aandag gegee is aan die eie aard en konteks van die Bybel en daar ook groot klem gelê is op die kritiese lees van die Bybel, is daar oor die algemeen nie genoegsaam gekyk na die verskil tussen die voormoderne wêreld van die Bybel, en die kennis en inligting van die moderne wetenskaplike wêreld waarin ons ons nou bevind nie.

Hoewel die bibliologiese vakke in die teologie (Ou en Nuwe Testament) al jare lank ons probeer sensitief maak vir onder meer die afstand tussen die Bybelteks en ons postmoderne tyd, is die “voorwetenskaplike aard van die Bybelse geskrifte in hul wêreld- en lewensbeskouing nooit volledig en behoorlik konsekwent geïntegreer in die sistematiese denke en leer van die kerk nie”, soos wat Ben du Toit in sy boek God? Geloof in ’n post-moderne tyd skryf.

Die gevolg is dat ons vandag met ’n klomp verskillende interpretasies van die Bybel en ’n groot klomp verskillende kerke sit.

En sommige interpretasies van die Bybel het ’n verleentheid vir ’n groeiende deel van die Christendom geword, veral dié soort wat gay mense nog hel toe wil stuur.

[Soos reeds gesê: watter gesag het die Bybel nog indien iets wat só duidelik in die Bybel gestel word, bloot verwerp kan word?]

Dit het dus hoog tyd geword dat daar wêreldwyd ’n dringende herwaardering van die Bybel as geloofsboek in ’n wetenskaplik ontwikkelende postmoderne tyd gedoen word.

[Jones sê dat ons vandag oor baie meer wetenskap beskik en dat dit ons daartoe dwing om tot ander gevolgtrekkings te kom as die Bybelskrywers. Dit is hoegenaamd nie waar nie. Die nuutste wetenskap is aan die kant van die Bybel – kyk Word jy gay gebore? en Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit.]

Paradigmaskuiwe

Natuurlik is pogings wat grense wil verskuif baie moeilik, veral as ’n mens kyk na hoe paradigmaskuiwe plaasvind. Volgens Thomas Kuhn, Amerikaanse wetenskapsfilosoof, funksioneer wetenskaplike kennis altyd binne paradigmas. Paradigmas het met strukture van denke of maniere van dink te doen, en funksioneer normaalweg in geslote denksisteme. ’n Mens sou dit ook baie goed op godsdiens van toepassing kon maak.

[Soos reeds gesê: in terme van homoseksualiteit is die wetenskap aan die Bybel se kant, nie aan die liberales se kant nie.]

Maar goed, só byvoorbeeld kan die denke van ’n voorwetenskaplike tydperk as ’n paradigma beskou word. En die denkraamwerk weer wat wetenskaplike bevindings ernstig opneem as ’n volgende paradigma.

Solank almal min of meer alles binne ’n spesifieke paradigma dieselfde verstaan/beskou, soos dit wel vroeër in die kerk ook was, is almal tevrede. Want vir al die vrae is daar antwoorde.

Op ’n dag word die ewewig in so ’n paradigma egter versteur. Daar ontstaan nuwe inligting, en dit veroorsaak spanning en onrus. Dit versteur die vrede.

[Watter nuwe inligting?]

En dit is dán wanneer mense na ’n volgende paradigma aanskuif, omdat die vorige een nie meer bevredigende verklarings vir sekere wesenlik belangrike vrae (kan) bied nie. In so ’n nuwe paradigma ontstaan daar mettertyd ook weer stabiliteit, integriteit en vrede, totdat ook dít weer versteur word.

Mense wat vasgevang sit in ’n ou paradigma, verdedig dit gewoonlik baie sterk. Hulle is boonop dikwels ongenaakbaar en rigied, selfs effe aggressief wat hul oortuigings betref. Hulle sukkel om die skuif na ’n volgende paradigma of lewens- en wêreldbeskouing te maak.

Om die waarheid te sê, hulle het dikwels weinig begrip vir mense wat die skuif maak. Hulle kan/wil dit net nie insien nie. Diegene wat reeds die skuif gemaak het, toon weer eienskappe van progressie: Hulle is dikwels meer geneig om genaakbaar, verdraagsaam en diplomaties te wees. Vir hierdie mense is dit onmoontlik om terug te skuif na ’n vorige, meer konserwatiewe, behoudende paradigma of wêreldbeskouing, hoewel dié wat meer progressief is graag wil hê hierdie mense moet saam met hulle beweeg op húl opwindende nuwe pad van inligting, ontdekkings en groei.

Wat dikwels gebeur, is dat wanneer ’n ou paradigma uitgedaag word deur ’n insident of nuwe kennis, die ou paradigma se aanhangers met nuwe ywer nog groter klem lê op die bekende en vertroude waarhede wat nog altyd vir hulle gewerk het, en sodoende die progressiewe aanslag daarmee probeer besweer. En diegene vir wie die ou kennis nie meer werk nie, en hulle daaroor uitspreek, word maklik as verdag en gevaarlike Trojaanse perde beskou, veral in die kerk.

Ongelukkig betaal Israel Folau nou die prys van ’n uitgediende, voormoderne/voorwetenskaplike teologiese paradigma. ’n Denkraamwerk wat irrasionele, onverantwoordelike besluite bevorder en gevolglik ’n uiters suksesvolle rugbyloopbaan op die altaar van fundamentalisme geplaas het, deurdat Folau op naïewe wyse die sogenaamde absolute gesag van ’n teksvers asook (waarskynlik) dié van ’n geestelike leier onkrities aanvaar het.

Folau word nou die slagoffer en sal natuurlik deur ’n klomp mense opgehemel word. En dít versterk weer die bekende en vertroude denke en inhoude van hierdie belangegroep in so ’n spesifieke paradigma. Hulle oordeel dat sulke teenkanting soos Folau nou kry, ’n mens se geloof versterk. Die Bybel verwys immers daarna.

Hierdie soort paradigma-aanhangers kom tans nog (in ’n mate) weg met hul teologiese beskouings, maar ek het al baie gewonder of hierdie spesifieke paradigma nie die weg na ateïsme plavei nie? Want wat gaan gebeur wanneer wetenskaplike bewyse uiteindelik en “finaal” die mat onder hierdie teologie en sy aanhangers se voete uitruk?

[Nee Chris! Dit is juis die liberale aanslag wat ateïste maak (kyk Hoe evolusie (en liberalisme) mense se geloof beïnvloed). Maar ek verstaan nie hoekom dit vir Jones ’n probleem is as Christene ateïste word nie. Hy is ’n universalis wat nie glo dat mense hel toe gaan nie, dus wat is die groot probleem met ateïsme? Baie ateïste leef beter lewens as sogenaamde Christene.]

Mense – en ek ken van hulle – wat reeds hierdie ontdekkings gemaak het, word op daardie oomblik so ontredderd, voel so uitverkoop en verraai, dat hulle hul geloof verloor. Soos as hulle byvoorbeeld wat (konstitutiewe) homoseksualiteit betref, ontdek dat dit op grond van wetenskaplike inligting gewoon deel van die diversiteit van God se skepping is, en dat niemand dit kan verander of reg bid nie. Dat ons nie net met twee geslagte werk nie, maar met vyf. En dat ’n verpersoonlikte Satan tot ’n voormoderne denkstruktuur behoort. Nog voorbeelde kan genoem word, en ek hoor mense vra: Waaroor het die kerk ons nóg mislei?

Sal iemand tog sin in Israel Folau se kop praat sodat hy kan besluit om sy rugbyloopbaan te hervat, en sodoende sy briljantheid vir nog ’n paar jaar aan rugbyliefhebbers wêreldwyd uitstal? En hopelik sal veral bekende, hoëprofiel-sportpersoonlikhede nou leer dat ’n mens ander se ras, geslag, seksuele oriëntasie en identiteit, waaroor niemand ’n keuse het nie, ten alle koste moet respekteer.

Waar dit nie gebeur nie, moet oortreders ernstige kritiek verwag, omdat die wese, die identiteit van hierdie kategorieë mense diep deur sekere opmerkings geraak kan word. Uiteraard moet dronkaards, egbrekers, leuenaars, diewe en ander waarna Folau verwys ook met die nodige respek behandel word, maar hulle het darem ’n keuse wat hul gedrag betref.

[Homoseksueles het ook ’n keuse en hulle erken dit self – kyk Word jy gay gebore?.]

* Dr. Chris Jones is verbonde aan die Universiteit Stellenbosch se Sentrum vir Etiek.

1 thought on “Folau het sy brein laat kaap”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui