Briewe in Rapport oor Israel Folau

Kyk ook:

Die volgende briewe het in die Rapport verskyn na aanleiding van die Israel Folau-kwessie. Die brief “Liefdeloosheid is om nie te waarsku nie” is op 27 Mei 2019 deur Daniel Louw aan Rapport gestuur vir plasing, maar is nie geplaas nie. Daar is wel ’n baie lang opinie (“Folau het sy brein laat kaap”) deur Chris Jones geplaas in die volgende uitgawe van Rapport.)

Diskriminasie – Folau dink júis | Netwerk24

Deur Bernard Ficker, Somerset-Wes

19 Mei 2019 00:15

Bernhard Ficker, Somerset-Wes, skryf: Johan Visser skryf verlede week dat ek “vir Israel Folau verdedig as hy wat Folau is gay mense hel toe stuur”.

Folau het nêrens gay mense uitgesonder om hulle hel toe te stuur nie. Sy skrywe meld “drunks, homosexuals, adulterers, liars, fornicators, thieves, atheists and idolators will go to hell unless they repent”, wat basies maar net ’n aanhaling uit die Bybel is.

Insiggewend dat die dronkaards, egbrekers, leuenaars, diewe ensomeer geen woord gerep het oor sy uitspraak nie. Slegs die homoseksuele kom soos ’n ton bakstene op hom neer.

Dis juis omdat Folau “dink” dat hy so-iets op sy Facebook-blad plaas – nie omdat hy “nie kan dink nie”, soos wat Visser skryf nie.

Folau skuil ook nie “agter die Bybel” soos Visser beweer nie, maar as gelowige neem hy bloot die aanmanings van Jesus ernstig op.

Rugby Australië se beleid gee spelers die reg op vryheid van uitdrukking. Baie Australiërs glo dat hierdie saak ’n geval van godsdiens-diskriminasie teenoor Folau is en dat vryheid van spraak hier op die spel is.

Daar trap dr. Ficker weer in die slaggat | Netwerk24

26 Mei 2019 00:15

Johan Visser, Kleinmond, skryf: Dit is duidelik dat dr. Bernhard Ficker glad nie probeer het om my standpunte oor die Israel Folau-saak in Rapport van 12 Mei te oorweeg nie.

Ficker gebruik die Bybel soos ’n resepteboek wat vir die 21ste eeu bedoel is. Dit is maklik om kitsantwoorde in die Bybel te vind. Dit is egter nie hoe ek sulke kwessies benader nie.

Colin Halgryn, George, skryf: Ek het nog altyd baie waardering gehad vir iemand wat by sy oortuigings en beginsels staan of val. Let wel: Sy beginsels – nie noodwendig my beginsels nie!

Israel Folau, as diep gelowige Christen, het “ongelukkig” dit waarin hy glo nie vir homself gehou nie, maar die aardsonde gepleeg deur dit te verkondig.

Daarom het ek die wêreldse respek en bewondering vir hom, nie soseer oor sy siening nie, maar wel omdat hy opkom vir sy geloofsoortuigings.

Dr. Jurie van den Heever, Stellenbosch, skryf: Bernhard Ficker is alombekend as iemand wat homself gereeld in die voet skiet. Verlede week trap hy weer in ’n slaggat as hy die arme Israel Folau se misplaaste en liefdelose uitsprake probeer goedpraat op hierdie blad.

Menslike seksualiteit manifesteer oor ’n breë spektrum omdat ’n groot verskeidenheid anatomiese, fisiologiese en omgewingsfaktore die embrionale ontplooiing daarvan beïnvloed, iets waarvan Jesus en die mense wat die Bybel geskryf het, onbewus was. Korrekte inligting aangaande die diversiteit van menslike seksualiteit is dus nie in die Bybel aanwesig nie, en dat daar in werklikheid meer as net twee geslagte bestaan, is eers in ons tyd finaal bevestig.

Miskien moet Ficker liewer na Paulus luister en homself soos ’n vrou stil in die erediens gedra en hom laat leer (1 Tim. 2:11), want om jou op die Bybel te beroep as ’n maatstaf oor menslike seksualiteit is om jou huis op sand te bou.

Ben Louw, Milnerton, skryf: Waarom laat al hoe meer owerhede homoseksuele toe om hul saak openlik te stel, maar vervolg ware Christengelowiges wat op suiwer Bybelse gronde teen homoseksualiteit waarsku?

So word Folau nou vervolg omdat hy Christus se waarskuwing in Korintiërs presies aangehaal het, naamlik: “Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.”

En dan spog Australië se rugbyhoof, Raelene Castle, sowaar nog spelers is vry om hul geloof uit te druk, net solank hulle dit op ’n respekvolle manier doen!

Sy weet seker nie dit was nie Folau se eie woorde nie, maar dié van die almagtige God self wat sulke mense waarsku dat hulle op pad hel toe is.

Liefdeloosheid is om nie te waarsku nie

 (Hierdie brief is op 27 Mei 2019 deur Daniel Louw aan Rapport gestuur vir plasing, maar is nie geplaas nie. Daar is wel ’n baie lang opinie deur Chris Jones geplaas (“Folau het sy brein laat kaap”) in die volgende uitgawe van Rapport.)

Jurie van den Heever glo dat Bernhard Ficker homself in die voet skiet omdat hy Israel Folau se “misplaaste en liefdelose uitsprake probeer goedpraat” (26 Mei 2019).

Penn Jillette is ’n Amerikaanse kulkunstenaar, akteur, musikant en uitvinder. Hy is ook ’n ateïs. Ná een van sy vertonings het Tim Berends hom ’n Bybel gegee met die hoop dat dit Penn tot bekering sou lei. Dit het nie (of nog nie), maar in die Youtube video “A Gift Of A Bible” sê Penn basies die volgende:

 “As jy glo dat daar ’n hemel en ’n hel is en jy vertel dit nie vir mense nie, want dit is te sosiaal ongemaklik, het ek geen respek vir jou nie. Hoeveel moet jy iemand haat om te glo dat die ewige lewe moontlik is en dit nie aan hulle vertel nie? Hierdie man wat my die Bybel gegee het, het genoeg vir my omgegee om my te probeer bekeer. Hy was ’n baie, baie, baie goeie man.”

Drie persone sit in ’n vliegtuig wat se enjins pas gaan staan het. Persoon A het nie sy veiligheidgordel aan nie. Persoon B sê vir persoon A om dit aan te sit al is ’n veiligheidsgordel uiters ongemaklik. Persoon C sê dat ’n mens hoogs waarskynlik kan oorleef sonder ’n veiligheidsgordel, dus hang dit af van persoonlike keuse. Persoon C is ook vies vir persoon B omdat hy vir persoon A wil dwing om ’n baie ongemaklike veiligheidsgordel aan te sit.

Folau het gemaak soos persoon B.

Jurie, ek wil vir jou sê: Jou veiligheidsgordel is nie vas nie en die vliegtuig is besig om te val…

{Einde van brief}

(Kyk ook Mystery Man Who Gave Bible to Famous Atheist Revealed.)

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui