Artikel 32: Toorstokkie of suigstokkie?

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Artikel 32: Toorstokkie of suigstokkie? | Kerkbode

Deur Le Roux Schoeman / 24 November 2023 / Briewe

Hierdie is ‘n lesersbrief. Die opinies van briefskrywers weerspieël nie noodwendig die standpunte of oortuigings van die Kerkbode-redaksie of die NG Kerk nie.

Theo Danzfuss skryf: Sommige lidmate is opgewonde oor die wysiging van KO Art 32 sodat gemeentes nou glo by ander sinodes kan inskakel. Baie glo dat hierdie besluit soos die toorstokkie sal wees wat eenheid in die kerk sal herstel. Ander glo egter dat dit eerder ’n suigstokkie is om behoudendes besig te hou terwyl die AS voorgaan met hulle 2030-droomscenario om die NG Kerk se gereformeerde identiteit te verruil vir ’n pot lensiesop.

LEES OOK | Elders gesien: Herderlike brief van die Algemene Sinode 2023: ‘Gaan voor ons uit, Here’ 

Vir diegene wat hulle uitkoms sien in die nuwe Artikel 32, wag daar ’n groot ontnugtering as hulle ontdek wie steeds die finale seggenskap oor gemeentes se kerkverband het. Artikel 43.2.1 bepaal uitdruklik “Die Algemene Sinode hanteer nie sake wat deur die samestellende sinodes of gemeentes hanteer kan word nie”. Hierdie basiese gereformeerde beginsel is totaal buite rekening gelaat. Gemeentes se reg om oor eie kerkverband te kan besluit word misken. Ten spyte van ’n paar mooi klinkende woorde, bly die AS en sy taakspanne in beheer van die gemeentes se besluite. As ’n gemeente by ’n ander sinode wil inskakel moet hulle eers gaan uitvind presies wat die prosedures is wat die ATR nog moet bepaal en wat die ASM of die AS dan nog moet goedkeur om vir die gemeente voor te skryf. Die gemeente moet dan hierdie voorgeskrewe prosedures van die AS noukeurig volg om toestemming te kry by albei die betrokke streeksinodes of sinodale kommissies. Eers nadat die ATR en ASM se voorgeskrewe prosedures noukeurig gevolg is, en indien albei die streeksinodes of hulle sinodale kommissies dit goedgekeur het, moet dit dan weer finaal deur die AS of ASM goedgekeur word. Eers dan mag die gemeente (indien hy nog bestaan) by die ander sinode inskakel. Ongelukkig sal baie eers aan die einde van hierdie proses met skok ontdek dat hulle ten spyte van die skuif, steeds onderworpe bly aan die AS se besluite.

LEES OOK: Besluit: Spesiale Ringsitting – Ring van Heilbron

Getrou aan die AS se idee van ’n “ruim huis” met groot diversiteit, wat maak dat hulle al meer teenstrydige besluite moet neem, is die nuwe Art 32 geen uitsondering nie. Ons weet teenstrydige besluite is in die praktyk onuitvoerbare besluite. Aan die een kant wou die AS niks weet van ’n kategoriale sinode nie, maar die implikasie van hulle gewysigde Artikel 32 is veel erger. Dit kom teoreties daarop neer dat enige, of selfs al die streeksinodes dalk kategoriale sinodes kan word, maar steeds onder beheer van die AS en sy taakspanne wat finaal sal besluit watter gemeentes waar mag inskakel.

Die vraag is: Van wanneer af het die AS die reg om vir gemeentes en sinodes te besluit hoe hulle kerkverband moet lyk? Wat het geword van hulle eie Artikel 43.2?

Baie sal teleurgesteld wees om te ontdek die AS se toorstokkie was toe al die tyd slegs ’n suigstokkie om behoudendes besig te hou sodat die AS kan voortgaaan met hulle droomscenario vir 2030.

Kommentaar

Daniel Louw

Theo Danzfuss is baie skepties oor die Algemene Sinode se besluit om toe te laat dat gemeentes tussen streeksinodes kan skuif. Dit is omdat ‘n mens nie weet of toestemming gegee sal word nie.

Een ding is seker, as dit nie ‘n oplossing bied nie, dan is daar geen ander opsie meer oor as om te doen wat Tafelberg gemeente gedoen het nie en dit is om die verband met alle NG Kerk strukture op te skort.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui