Riglyne vir saamblygesprek

Die volgende artikel het oorspronklik in Rapport verskyn.

**********

Riglyne vir saamblygesprek

2010-07-10 23:35

Johannes de Villiers in Johannesburg

Die NG Kerk se debat oor saamwoon gaan nou na die menigtes.

Die amptelike gesprek oor dié kwessie sal in die volgende maande deur sinodale liggame en kerkstrukture gevoer word.

Maar ’n groep vooraanstaande teo­loë het nou ’n nuwe publikasie die lig laat sien waarmee hulle die man en vrou in die kerkbank by die gesprek wil betrek.

Kan ons nie maar saambly nie?, ’n boek waaraan teoloë soos proff. Adrio König, Christina Landman, Louis Jonker, dr. Chris Jones en ander meegewerk het, bestaan uit ’n reeks artikels kompleet met vrae en oefeninge sodat mense die moraliteit van buite-egtelike saam­woon­ver­hou­dings in klein groepies of gemeentes kan verken. Dit word deur Bybelmedia gepubliseer.

Die bydraes verteenwoordig ’n reeks standpunte oor dié omstrede kwessies en lesers word aangemoedig om die saak uit verskillende hoeke te bekyk.

Een artikel sluit selfs ’n voorbeeld in van hoe ’n kontrak kan lyk wat saamwoners met mekaar kan teken om te sorg dat hul verhouding verantwoordelik bestuur word.

Ander is versigtig afwysend teenoor saamwoon. König gee byvoorbeeld toe daar is geen onomwonde Bybelse uitsprake teen voorhuwelikse seks nie, en die waardes van die huwelik kan dalk ook in ’n saamwoonverhouding tot hul reg kom, maar hy meen die huwelik bied nogtans sekuriteit, respek en selfbeheersing wat in voorhuwelikse seksuele verhoudings moeiliker is.

Jones, die redakteur, skryf in die slotbesinning: “Die huwelik bly die mees ideale en geborge ruimte vir die uitleef van onder meer ons seksualiteit.”

Hy skryf egter elders die tyd is verby dat mense “sonde-inspekteurs” kon speel en almal wat saamwoon, veroordeel. “Ons moet eerder almal in ‘gesonde verbintenisse’ help om waardegedrewe te leef.”

Hy moedig ook mense aan wat wel besluit om saam te woon om onder meer hul verhouding volgens evangeliese waardes voort te sit en met God en hul familie oor die besluit te praat.

“Ons sê in die boek die huwelik bly die ideale ruimte waarbinne mense hul seksualiteit moet uit­lewe,” het Jones aan Rapport gesê.

“Maar die werklikheid is dat sommige mense die keuse gaan maak om saam te woon. Ons wou vir hulle ’n paar riglyne neersit.”

Boonop is mense skaam om oor saamwoon te praat. “Kinders weet wat hul ouers se standpunt is en het nie die vrymoedigheid om met hulle daaroor te praat as hulle saamwoon nie.”

Hy hoop ouers en kinders kan die boek as ’n manier gebruik om oor dié ongemaklike kwessie te gesels.

“Dalk kan hulle besef daar is nie altyd klinkklare antwoorde nie en dat mense nie soveel skuldgevoelens hoef te hê nie.”

Die boek bevat ’n paar eerstepersoonvertellings van saamwoners so­dat hulle kan verduidelik hoekom hulle dié lewe gekies het.

Verder bespreek Jonker die Ou Testament se benadering tot die huwelik, terwyl prof. Jeremy Punt die huwelik in die Nuwe Testament bespreek.

Albei voer aan dat daar in die Bybel nie ’n eenvoudige model is vir hoe die huwelik vandag moet lyk nie, maar dat waardes soos liefde belangrik is.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui