2017 Vrystaatse Sinode Beskrywingspunte

Kyk ook:

Ek het die beskrywingspunte hieronder opgestel en ingedien vir bespreking by die Sinode van die Vrystaat op 11-15 Junie 2017.

Die beskrywingspunte is ontvang en is opgeneem in die Agenda van die Sinode. Die Sinode het egter nie die beskrywingspunte, punt vir punt behandel en tot stemming gebring nie. Die sake wat daarin aangespreek word sal wel in berekening gebring word deur die Kuratorium wat verantwoordelik is vir Teologiese opleiding. ’n Taakgroep wat moet navorsing doen oor homoseksualisme sal ook daaraan aandag gee. Ek het ook versoek dat dit by Ringe bespreek sal word.

Dit het egter duidelik geword dat leidende figure in die Sinode eerder ingestel is daarop om versoening te bring tussen opponerende standpunte en nie bereid is om ’n besluit te neem oor wat volgens die Bybel reg of verkeerd is nie.

Dr Gideon van der Watt het byvoorbeeld gesê daar is nie net een korrekte standpunt nie. Die koerant het hom ook verder as volg aangehaal:

“Daar moet wegbeweeg word van die strydpunt en debatte en beweeg word na gesprekke waar mense luister na mekaar”.

Ander leidende figure het in dieselfde trant gepraat.

Kyk by Koerantberigte oor die Sinode van die Vrystaat vir beriggewing deur Alet van der Walt. Dit gee ’n goeie waarneming van die klimaat wat by die Sinode geheers het.

Afkortings:

  • AS = Algemene Sinode
  • BAS = Buitengewone Algemene Sinode
  • ATLAS = Taakspan vir leer en aktuele sake

BESKRYWINGSPUNTE VIR DIE SINODE VAN DIE VRYSTAAT

1. HOMOSEKSUALITEIT

1.1. Die Sinode herbevestig die feit dat ons ooreenkomstig ons Kerkorde (Art 1) en ons Belydenis (NGB Art 5) onder die verpligting staan, om ons deur die Bybel te laat lei in alle nadenke oor leerstellige sake en etiese standpunte. Alle menslike filosofieë en teorieë (Kol 2:8) is ondergeskik aan Woord van die Here en ons skaam ons nie daaroor (Mark 8:38) as ons hieroor in botsing kom met ander menslike opinies nie.

1.2. Ten spyte van teenspraak is dit die oortuiging van die Sinode dat die Here sy wil oor homoseksuele praktyke baie duidelik in die Skrif vir ons geopenbaar het.

1.3. Die Sinode ondersteun die besluit van AS 2016 dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat seksuele gemeenskap buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis volgens die Skrif vir God onaanvaarbaar is.

1.4. Seksuele liefdesverhoudings tussen mense van dieselfde geslag skend die verhewe karakter van die huwelik soos God dit bedoel het, selfs al word daar aanspraak gemaak op ’n verhouding van “liefde en trou”.

1.5. Dit is vir ons duidelik dat God seksuele onrein gedrag in ’n ernstige lig beskou. Dit blyk uit:

  1. Jesus se woorde:“Elkeen wat na ’n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word” (Mat 5:28-29).
  2. Die uitleg van die Sewende Gebod deur die Heidelbergse Kategismus: “Alle onkuisheid is deur God vervloek en daarom moet ons dit hartgrondig haat. Daarenteen moet ons kuis en ingetoë lewe sowel binne as buite die huwelik. …. Omdat beide ons liggaam en siel, ’n tempel van die Heilige Gees is, wil God dat ons altwee rein en heilig bewaar. Daarom verbied Hy alle onkuise dade, gebare, woorde, gedagtes, luste en alles wat mens daartoe kan verlei”.

1.6. Die Sinode waarsku dat die sogenaamde LGBTIQ+ aksie (lesbies, gay, biseksueel, transgender, interseksueel, “queer”, aseksueel en meer) wat nou in die samelewing en selfs in die kerk gepropageer word, hoegenaamd nie versoenbaar is met die heilige lewe waartoe ons as kinders van die Here opgeroep word nie. Die veelkleurige vlag van die LGBTIQ+ beweging het in ons tyd ’n simbool geword van die mens se grenslose losbandigheid en opstand teen God en sy gebooie. Dit moet in verband gebring word met die sedelose vrou van Openbaring 17 en staan as sulks onder die oordeel van God.

1.7. Die “Liefde is Liefde” slagspreuk wat in die kerk gepropageer word, moet gesien word as ’n blote verheerliking van menslike seksualiteit en het niks te doen met die oproep tot die selfopofferende naasteliefde soos wat dit vir ons in 1 Korinthiërs 13 voorgehou word nie.

1.8. Die aantyging van liefdeloosheid teen gemeentes en/of persone wat die Bybelse standpunt voorhou is ongegrond. Die kerk se deure was nog altyd oop vir enigeen – ook vir mense met ’n homoseksuele oriëntasie en die BAS2016 het hierdie waarheid herbevestig met die besluit dat “enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, ongeag seksuele oriëntasie, ’n volwaardige lidmaat van die kerk is en as sodanig as ongesensuurde lidmaat volle toegang het tot al die ampte in die kerk”.

1.9. Lidmate wat sê dat hulle ’n homoseksuele oriëntasie het en daarom aanspraak maak op selfdegeslag seksuele verhoudings,kan die kerk nie verwyt dat hulle menswaardigheid aangetas word, wanneer die kerk op grond van die Woord, homoseksuele gedrag onder lidmate in die kerk veroordeel nie. Alle lidmate het by belydenis van geloof verklaar dat “jou medegelowiges die verantwoordelikheid het om jou te help om op die regte pad te bly”.

1.10. Die Sinode vra lidmate met ’n homoseksuele oriëntasie om ter wille van Christus bereid te wees om hulle kruis op te neem ooreenkomstig die eis van dissipelskap: “As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën, elke dag sy kruis opneem en My volg” (Luk 9:23).

1.11. Die Sinode spreek deernis uit teenoor mense wat om watter rede ookal probleme met hulle seksuele oriëntasie het en wys almal in liefde daarop:

  1. dat ons, ons ware identiteit in Christus vind (Kol 2:6-15),
  2. dat liefdesverhoudings en seksuele uitlewing nie ’n vereiste vir ’n menswaardige lewe is nie,
  3. dat ons identiteit met Christus deur die apostel Paulus verduidelik word met die woorde: “(24)Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. (25)Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal” (Gal 5:24-25).

1.12. Dit is nie van belang of ’n homoseksuele oriëntasie aangebore of aangeleer is nie. Selfbeheersing as vrug van die Gees (Gal 5:22) is op ons almal van toepassing, ongeag ons seksuele oriëntasie.

1.13. Die Sinode wil opreg empatie betoon teenoor ouers wat ’n kind of kinders het met ’n homoseksuele oriëntasie. Sulke situasies verg buitengewone wysheid, vir ouers, leraars en opvoeders, maar dit is in niemand se belang om gedrag wat in die oë van die Here verkeerd is goed te praat nie.

1.14. Ouers het nie rede om hulleself te verwyt oor kinders wat homoseksuele gedrag openbaar nie. Kinders staan self in ’n verhouding met die Here en word in die wet van die Here aanspreeklik gehou vir die koers van hulle lewe (Eks 20:12).

2. TEOLOGIESE OPLEIDING

2.1. Die Sinode is diep besorg oor die feit dat al drie die Teologiese Fakulteite van die NG Kerk die inisiatief geneem het in die opstelling van die besluite oor homoseksualiteit by AS2015 en die goedkeuring daarvan. Dit behels die goedkeuring van die sogenaamde burgerlike verbintenisse van homoseksuele mense en die erkenning van selfdegeslag seksuele verhoudinge, ook vir leraars van die kerk. [Kyk NG teologiese skole progay.]

2.2. Die wyse waarop die dosente van die kerk selfdegeslag seksuele verhoudinge Bybels probeer begrond, weerspieël ’n onderliggende teologiese onderbou en uitleg van die Skrif by die teologiese fakulteite wat vreemd aan die geloof van die kerk is.

2.3. Die Sinode aanvaar die realiteit dat die teologiese fakulteite van die NG Kerk en die legitimasie van leraars in baie kringe met agterdog bejeen word. Die agterdog word toegeskryf aan dosente van die teologiese fakulteite wat meegewerk het of gelate toegekyk het toe daar herhaaldelike aanslae teen die leer van die kerk die afgelope paar jaar was. Dit geld bv:

  1. die ontkenning van die bestaan van die duiwel as ’n persoonlike wese,
  2. die panenteïstiese godsbeskouing,
  3. die opstanding en maagdelike geboorte van Christus,
  4. en die erkenning van selfdegeslag seksuele verhoudings.

2.4. Die Sinode neem kennis van die stappe wat die Kuratorium neem om ’n Seminarium daar te stel wat aanvullend tot die opleiding by die Teologiese Fakulteit van die Vrystaat moet funksioneer. Die Sinode wys egter daarop dat die besorgdheid oor afvallige en afwykende leerstellings in die kerk nie deur struktuurveranderinge opgelos sal word nie. Vertroue in die teologiese opleiding van die kerk kan alleen herstel word deur dosente, wat volgens die Kerkorde se Reglement vir die Opleiding en Legitimasie van Predikante bewys lewer dat hulle “onbetwyfelbare voorstander(s) van die gereformeerde leer” is en volgens die apostel Paulus ’n liefde vir die “gesonde leer” het (1 Tim 1:11).

2.5. Die Sinode van die Vrystaat gee amptelik erkenning aan die Teologiese Fakulteit by Noord-Wes Universiteit op Potchefstoom as ’n kerklik-goedgekeurde opleidingsentrum vir studente van die NG Kerk en besluit dat die Kuratorium geen diskriminasie sal toepas op studente wat verkies om hulle teologiese kwalifikasies by die Fakulteit Teologie van die NWU te verkry nie. Studente wat verkies om hulle opleiding by NWU te doen sal onder die normale toesig van die Kuratorium staan en uiteindelik ’n praktiese gemeentejaar by ’n gemeente in die NG Kerk doen, soos alle ander studente wat opleiding as leraars ontvang. Die Algemene Kuratorium word ingelig van die besluit van die Sinode van die Vrystaat.

3. PETISIES, HOFSAKE EN OPSTAND IN DIE NG KERK

3.1. Die Sinode van die Vrystaat maak ernstig beswaar teen die optrede van die leraars en selfs professore in die NG Kerk wat deelgeneem het aan ’n petisie in die kerk, om ds Dirkie van der Spuy in diskrediet te bring, bloot omdat hy sy gebedsgroep in ’n nota, met dankbaarheid ingelig het van die AS2016 besluit oor homoseksuele verhoudinge. [Kyk Menigte protesteer teen Dirkie se brief.]

3.2. Die Sinode spreek sy ontevredenheid uit oor die manier waarop Neels Jackson die redakteur van die Kerkbode betrokke was by die petisie teen Ds. van der Spuy, deur die stand van die petisie gereeld (daagliks) by Kerkbode op te dateer. Dit skep die indruk van triomfantelikheid.

3.3. Die Sinode is uiters besorg daaroor dat berig word (Desember 2016) van leidende figure in die kerk wat betrokke is by ’n hofsaak teen die Kerk om die besluite van AS2016 oor homoseksuele verhoudinge ongedaan te maak. [Kyk Om met die kerk hof toe te gaan.]

3.4. Die Sinode neem kennis van gemeentes/kerkrade wat hulle openlik gedistansieer het van die besluite van AS2016. Die implikasie van sulke optrede is dat die besluite van die Algemene Sinode nie meer betekenis het nie en dat die Vrystaatse Sinode sy verbintenis met die Algemene Sinode in heroorweging sal moet neem.

4. LEERSTELLIGE VERDEELDHEID IN DIE NG KERK

4.1. Die Sinode kom tot die konklusie dat daar ’n diepgaande teologiese verdeeldheid tussen leraars in die NG Kerk, ontstaan het. Die openbare debatte oor leerstellige kwessies veral ná die Sinodes van 2015 en 2016 laat ’n pynlike werklikheid opdoem dat ons mekaar nie meer kan vind oor basiese Bybelse waarhede waaroor ons volgens ons belydenisskrifte met mekaar ooreengekom het nie. Dit lyk of ons paaie uitmekaar gegaan het oor ons diepste oortuigings, selfs oor wie God is en wat sy Woord is.

4.2. Die Sinode is besorgd daaroor dat leraars wat afwykende leerstellings propageer, vóórgee dat hulle die Bybel as Woord van God respekteer, by die Gereformeerde leer staan en hulle aan die Belydenisskrifte onderwerp. Dit blyk egter duidelik dat hulle ’n nuwe inhoud aan hierdie terminologie gee en op die wyse misleidend in die kerk optree en verwarring veroorsaak.

4.3. Die implikasie van hierdie verdeeldheid is dat ons hartlike broedelike liefde wat daar in Christus moet wees in skyn verval en in werklikheid vernietig word.

4.4. Die Sinode vra dat leraars:

  1. hartgrondig introspeksie sal doen oor die hoë posisie waartoe ons elkeen geroep is naamlik om Bedienaars van die Goddelike Woord (VDM) te wees,
  2. ag sal gee op die vermaning van die apostel Paulus dat ons moet let op ons “leer” (1 Tim 4:16) en
  3. dat ons die apostel se waarskuwing in 1 Kor 3:17 ernstig sal opneem: “As iemand die tempel van God beskadig, sal God hom straf, want die tempel van God is heilig, en die tempel is julle”.

4.5. Die Sinode reageer oor sommige van die leringe wat in hierdie tyd openlik deur teoloë van die NG Kerk gepropageer word die volgende:

4.5.1. Die sogenaamde “historiese lees” van die Bybel waarvolgens selfdegeslag seksuele verhoudinge en ander vreemde leringe geregverdig wil word is strydig met erkende Gereformeerde beginsels van eksegese en hermeneutiek en word as sulks verwerp.

4.5.2. Die Sinode beskou die uitleg van teoloë wat voorgee dat die apostel Paulus se duidelike verwerping van homoseksuele verhoudings (1 Kor 6:11), gesien moet word teen die agtergrond daarvan die apostel nie sou geweet het van die verhoudinge van “liefde en trou”, soos dit sogenaamd vandag voorkom nie, as strydig met historiese werklikhede van daardie tyd en is dus onaanvaarbare uitleg van die Skrif.

4.5.3. Die Sinode aanvaar nie die afwykende uitleg van sommige leraars oor Rom 1:26 waar Paulus homoseksuele praktyke as “teen-natuurlike omgang” beskryf nie. Hulle meen dat dit “natuurlike omgang” is vir mense met “’n voorgeboortelik gefikseerde seksuele orientasie”. Die Sinode aanvaar ook nie die interpretasie dat die “teen-natuurlike omgang” in die konteks van “uitspattigheid” verstaan moet word nie.

4.5.4. Die Sinode verklaar dat Levitikus 18 gesien moet word as deel van God se morele wette vir Israel. Dit val nie onder die seremoniële wette of reinheidswette wat in Christus vervul is nie. Die gebod: Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde (Lev 18:22) is dus soos die Tien Gebooie ’n uitdrukking van God se wil vir alle tye.

4.5.5.Die Sinode aanvaar die werklikheid dat praktyke rondom huweliksluiting deur die eeue verander het en dat die huwelik mettertyd ’n besondere staatsregtelike plek in die samelewing gekry het. Die Sinode verwerp egter die sieninge van leraars wat dááruit wil aflei:

  1. dat die huwelik bloot die produk van ’n evolusionêre ontwikkeling by die mens is,
  2. dat die huwelik nie ’n instelling van God is nie en beskou moet word as ’n blote “sosiale konstruk”.
  3. dat die huwelik nie gerespekteer moet word as ’n “skeppingsordening” waarvoor daar ewig geldende etiese voorskrifte uit die Bybel afgelei kan word nie.

4.5.6.Die Sinode oordeel dat vorige besluite oor bv die vrou in die amp en nagmaal aan kinders geneem is op goeie eksegetiese gronde en daar is ook ruimte vir verskil daaroor in die Kerk. Homoseksuele gedrag val in ’n totaal ander etiese kategorie en die duidelike leer wat ons daaroor in die Bybel kry, bied geen ruimte vir verskil daaroor nie.

5. ANDER BESLUITE VAN DIE ALGEMENE SINODE

5.1. Die Sinode van die Vrystaat distansieer hom van herhaaldelike besluite van die Algemene Sinode (2011, 2013 en 2015) wat wil ruimte wil maak vir mense in die kerk wat nie aanvaar dat die duiwel ’n persoonlike wese is nie. Die Sinode van die Vrystaat verklaar dat die Skrif duidelik is daaroor dat ons op aarde te doene het met:

  1. “die listige aanslae van die duiwel” (Ef 6:11),
  2. dat die Satan “planne” het (2 Kor 2:11) en
  3. dat die geskiedenis van die wêreld afstuur op die dag dat “die duiwel wat die mense verlei het, in die poel van vuur en swawel gewerp sal word” (Open 20:10).

5.2. Die Sinode gee nie goedkeuring aan die Eietydse Uitleg van die Apostoliese Geloofsbelydenis, wat by die Algemene Sinode van 2013 gedien het en as “kontoer-dokument” vir gesprek in die Kerk aanvaar is nie. Die dokument is geskryf vanuit ’n post-moderne waarheidsbegrip en die skrywers van die dokument het ’n poging aangewend om die kerk se belydenis met die evolusionêre wetenskapsbeskouing te versoen. Dit het geen opbouende waarde vir die geloof van die gelowiges nie.

MOTIVERING

1. Besluite oor Selfdegeslag Seksuele Verhoudinge

Dit is duidelik dat daar ’n diepgaande leerstellige verdeeldheid in die NG Kerk ontstaan het. Die heftige debatvoering die afgelope tyd oor selfdegeslag seksuele verhoudings het aan die lig gebring dat daar ’n totaal verskillende uitkyk op die Bybel en oor God in die NG Kerk tussen leraars en lidmate ontstaan het.

Die BAS2016 het oor sommige sake standpunt ingeneem, waaroor ons dankbaar is, maar die opskudding wat daaruit voortgevloei het, laat dit duidelik blyk dat die verdeeldheid onder ons ver van afgehandel is.

Die saak is te kompleks en omvangryk om hoegenaamd te probeer om mekaar met teologiese beredenerings te probeer vind. Die Moderamen van die Sinode het in 2016 streeksbyeenkomste in die Vrystaat gehou waar prof Fanie Snyman teologies probeer aandui het waarom ons so ernstig met mekaar oor die Bybel verskil. Die effek daarvan was egter dat die verwydering en verwarring onder ons net vererger het.

Ons meningsverskille is ook van so ’n aard dat dit nie met ’n fasiliteringsproses opgelos kan word nie. Die kerk is nie ’n sosiale klub nie. Ons word saamgebind deur die Waarheid in Christus. Daar is nie plek vir verskillende waarhede in die kerk nie. Ons het met mekaar ooreengekom oor die waarheid wat ons bely in ons Belydenisskrifte. Wanneer die waarheid onderling bevraagteken word, veroorsaak dit ’n vertrouensbreuk. Dit is wat ons nou in hierdie tyd ervaar en daarom is dit noodsaaklik dat ons eerlik en openhartig met mekaar sal praat oor die kwessies wat die afgelope tyd tussen ons ontstaan het.

Die beskrywingspunte gaan uit van die veronderstelling dat die sinodegangers bewus is van die standpunte en debatte wat die afgelope tyd in die Kerkbode en in die pers gevoer is. Sommige van die woorde wat in die beskrywingspunte voorkom verskyn in aanhalingstekens, omdat dit terminologie is wat in die debatvoerings gebruik word.

’n Paar van die beskrywingspunte gaan oor besluite van die Algemene Sinode in die onlangse verlede, wat behalwe SGV, óók groot ontevredenheid in die kerk nagelaat het. Die Sinode van die Vrystaat word gevra om hom daaroor ook uit te spreek:

2. Besluite van die AS oor die bestaan van die duiwel.

Die Algemene Sinode het ruimte gemaak vir lidmate wat nie glo in die bestaan van die duiwel as ’n persoonlike wese nie. [Kyk ATLAS AS 2011 Bediening van bevryding.] Weens die erns van die saak word die besluit van 2011 (Agenda 2011 Bl 189) volledig weergegee:

Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.

Die saak het weer in 2013 te berde gekom nadat daar van verskeie oorde beswaarskrifte by die AS oor die besluit ingedien is. Die besluit is toe as volg gewysig [Kyk Terugblik op die Algemene Sinode 2013]:

Die AS aanvaar die werklikheid dat daar ʼn wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is lidmate wat die persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar, en daar is lidmate wat die nie-persoonlike aard van die duiwel en demone aanvaar. Albei standpunte erken die realiteit van die bose.

In 2015 vra ATLAS (Agenda Bl 253) dat die vorige besluit gehandhaaf word.

3. Die sg Eietydse Uitleg van die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Die dokument is ’n lywige studiestuk 150 bladsye wat in 2013 by die AS gedien het en goedgekeur is as ’n “kontoer-dokument” wat moet dien as riglyn vir gesprek in die Kerk oor ons eietydse geloof. Die besluit is herbevestig in 2015 (Agenda Algemene Sinode 2015 Bl 252).

Die Sinode het verder gegaan en goedgekeur dat Bybel-Media ’n Bybelstudiegids na aanleiding van die dokument opstel: “Om nuut te glo (en leef) op een lyn met die geloof van eeue”.

Prof Johan Janse van Rensburg het tevergeefs probeer om die bedenklike postmoderne teologie wat in die dokument weerspieël word onder die kerk se aandag te bring.

“Google” vir meer inligting oor hierdie aangeleentheid “’n Eietydse Uitleg”. Kyk ook Kritiek op die Eietydse Uitleg van die Apostoliese Geloofsbelydenis.

Die die oogmerk van die beskrywingspunte is om sommige van die sake waaroor ons ernstig met mekaar verskil te verwoord en as Sinode ’n standpunt daaroor in te neem sodat ons die pad vorentoe in integriteit met mekaar kan saamloop.

Ter wille van die Kerk van Christus en die eer van God,

Ds JD Louw (emeritus)
NG Gemeente Reitz

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui