Om met die kerk hof toe te gaan

Kyk ook:

Die volgende artikel het in Kerkbode verskyn.

********

OM MET DIE KERK HOF TOE TE GAAN

19 Mei 2017, Frits Gaum

In die gay-“kwessie” is dit juis hierdie twee sake wat ter sprake is: regsekerheid wat gekry moet word en onreg wat bestry moet word.

Wat regsekerheid betref: Die Algemene Taakspan Regte (ATR) van die Algemene Sinode het ná die Algemene Sinode 2015 en nadat appèlle teen die besluite van daardie sinode ontvang is, self na advokate en regters gegaan om duidelikheid oor die regsposisie te probeer kry. Die ATR het aanvanklik verkeerde regsadvies ontvang en in die lig daarvan opgetree. Lidmate van die kerk (11 van hulle) het op hulle beurt regsadvies bekom wat lynreg van die ATR s’n verskil het. Die ATR (en Moderamen) het egter volhard in die “verkeerde” rigting (selfs nadat hulle self ander regsadvies ontvang het wat hulle in die ongelyk gestel het). Op die ou end, weet ons nou, het die ATR se appèlliggaam die waagmoed aan die dag gelê om van die appèlle te handhaaf, die 2015-sinode se besluite as ongeldig te verklaar … en toe te sien dat hulle besluit nie eens deur die 2016-sinode bespreek kon word nie! Dit was die heel eerste keer dat appèlle teen besluite van ’n Algemene Sinode ontvang is.

En terwyl die “11” se regsadvies lui dat daar nie teen ’n Algemene Sinode se besluit geappèlleer kan word nie (nes daar, op ’n ander vlak, nie teen die Konstitusionele Hof se beslissings geappèlleer kan word nie), het daar nou ’n eienaardige situasie ontstaan. Daar is toegelaat dat ’n onderliggaam ’n streep deur die besluite van ’n meerdere vergadering trek … en geen bespreking van ’n onderliggaam se doen en late is in die sinode toegelaat nie. Die moderator verklaar selfs dat, indien daar besware teen die appèlliggaam se besluite oor hierdie saak is, sulke appèlle deur die appeèlliggaam hanteer moet word. Dis glo die kerklike weg.

Die Algemene Sinode 2016 het nie onduidelikheid oor die saak gehad nie. Die Sinode het met teleurstelling verneem dat lidmate van die NG Kerk – en onder hulle predikante van die kerk – dreig om die kerk hof toe te sleep oor die hantering van die gay-kwessie.

Verskeie Bybelgedeeltes word dan in die motivering vir die sinode-besluit aangehaal om aan te toon dat dit onbybels is om die kerk hof toe te wil neem.

En die sinode was reg: die Bybel wil nie hê dat Christene mekaar oor elke bakatel hof toe moet vat nie. Jesus het self in die Bergrede gesê: “As iemand ’n regsaak teen jou begin, kom betyds tot ’n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is, sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee en die jou in die tronk sit nie. Dit verseker Ek jou: Jy sal sekerlik nie daar uit kom voordat jy die laaste sent betaal het nie” (Matt 5:25-26).

Dis duidelik, soos ook as Paulus oor die sake praat, dat dit oor persone gaan wat oor geldskuld met mekaar oorhoops is. In sulke gevalle moet Christene hulle met mekaar probeer versoen voordat sommige in die tronk beland.

Die Bybel praat egter nie oor gevalle waar Christene na die hof gaan om regsekerheid oor ’n saak te kry waaroor daar nie onderling ooreengekom kan word nie. Die Bybel sê ook nie dat, waar Christene onreg teen mekaar pleeg, die hof nie kan help om die onreg uit die weg te probeer ruim nie.

En as rede waarom die appèlliggaam nie ag geslaan het op die regsadvies wat onder andere deur die “11” aan hulle verskaf is nie, het hulle aangevoer dat dit maar net “opinies” sonder gesag is. Nou wie anders moet dan aan die “opinies” gesag gee as dit nie die hof is nie? Die hof moet dus regsekerheid gee in ’n saak waaroor daar klaarblyklik groot verskil van mening is.

As daar nou by die hof aangeklop word om regsekerheid te gee oor die vertolking van die kerklike reëls soos vervat in die Kerkorde en die daaraan ondergeskikte reglemente, is dit nie om die kerk in die verleentheid te probeer stel nie. Dit is om die kerk te help sodat, as daar weer ’n soortgelyke situasie ontstaan, met regsekerheid (en nie voel-voel nie) opgetree kan word.

Maar hierdie saak het nog ’n aspek. Die van onreg.

Dis verkeerd – dis onreg – om aan iemand iets (‘n geskenk) te gee en dit dan weer terug te vat. Dis erger as steel. Die Algemene Sinode 2015 het iets aan gay lidmate “gegee” – die volledige erkenning van hulle menswaardigheid soos hulle is – wat die Algemene Sinode 2016 weer teruggevat het. Ten spyte van al die mooi woorde waaragter die lelike werklikheid skuil hou, is die feit dat die NG Kerk steeds beperkinge op gay lidmate plaas.

Terwyl heteroseksuele lidmate lewensvervulling kan hê saam met ’n lewensmaat wat by hulle pas, mag homoseksuele mense dit nie doen nie. ’n Lewensverbintenis tussen gay mense kom volgens die NG Kerk se amptelike verstaan van sake, op sonde neer.

2015 het anders geoordeel. Daar is ruimte geskep vir trouverbintenisse tussen gays. Niemand is verplig nie – maar die kerk het vir gay mense geglimlag, nie gefrons nie.

Dis ’n onreg wat reggestel moet word. En as dit die hof is wat in hierdie geval die kerk moet help om onreg teen te staan, dan moet dit so wees.

Ons is nog nie daar nie. Die NG Kerk het onlangs van die dokumente wat die “11” aangevra het, aan hulle besorg. Daarin word die handel en wandel van die ATR, die appèlliggaam, die Moderamen en die Algemene Sinode 2016 beskryf. Dit word tans deur die 11 lidmate se regspan bestudeer. Hulle sal hopelik binnekort aandui hoe hulle meen die pad vorentoe lyk.

Dalk word die NG Kerk nog ’n “vriend van die hof” om regsekerheid te kry? En, glo ek, sodat ’n eeue-oue onreg teen sommige lidmate van die kerk reggestel kan word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui