2017 Vrystaatse Sinode sit gesprek voort met gays

Alet Van Der Walt, 13 Junie 2017 19:06

Prof. Fanie Snyman, dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van die Vrystaat (regs voor), en in die agtergrond is sinodegangers besig om met groen briefies ’n sinodebesluit oor voortgesette gesprekke oor gay-verhoudings goed te keur. Foto: Alet van der Walt

Kyk ook:

Die laaste woord oor gay-verhoudings is nie in 2016 gesê nie en sal ook nog vir lank nie gesê word nie.

Prof. Fanie Snyman, dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van die Vrystaat, het Dinsdag aan die Vrystaatse sinode gesê 2016 se algemene sinodebesluit was sleg vir die kerk, sleg vir homoseksuele mense en sleg vir heteroseksuele mense.

Die algemene sinode het in 2016 besluit die huwelik is ’n instelling tussen man en vrou.

Die Vrystaatse sinode het by Nampopark, Bothaville, besluit die gesprek oor selfdegeslaghuwelike moet voortgaan en in gemeentes, kerkrade en ringe van die NG Kerk voortgesit word.

Ds. Gideon van der Watt het aan die sinode gesê die soort gesprekke bring baie pyn en hartseer. Dit was traumaties om by die algemene sinodesitting in 2016 te luister na wat gesê is. “Daar is harde dinge gesê,” het Van der Watt gesê.

Daar moet wegbeweeg word van die strydpunt en debatte en beweeg word na gesprekke waar mense luister na mekaar, sê Van der Watt.

Van die sprekers het gesê die kerk kan nie net oor mense praat nie, maar moet met gay mense praat.

’n Taakspan moet aangestel word om waardes te skep waarbinne die gesprekke kan plaasvind. Daar moet ’n kultuur geskep word waarbinne mense saamgebring word en nie verdeel word nie, was een van die voorstelle wat aanvaar is.

Ds. Hein Kotzé van Bloemfontein het gesê die kerk het baie lojale lidmate wat gay is. Hy het gevra dat die sinode die woord van gay mense moet aanvaar dat hulle nie ’n keuse in hul geslagsoriëntasie het nie en dit nie kan verander nie.

Daar is op ’n punt van orde gevra dat daar nie oor Kotzé se voorstel gestem word nie en gewag word vir die taakspan se ondersoek en verslag.

Hy het hierna in ’n emosionele oomblik aan die sinodegangers gesê hy wil nou huis toe gaan en sy kind gaan vashou.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui