Wat het van die Seisoen van Luister geword?

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

BRIEF: Wat het van die Seisoen van Luister geword? – Kerkbode

28 Augustus 2023

Smuts Janse van Rensburg van Oudtshoorn skryf:

Enkele jare gelede het die Algemene Sinode (AS) die beleidstuk Seisoen van Luister met drie hoofpunte goedgekeur: Luister na God – m.a.w. luister allereers en bo alles na God, sy Woord, Sola Scriptura; luister na mekaar – m.a.w. luister na die getuienis van medegelowiges se verstaan van die Skrif; luister na die wêreld – m.a.w. luister na die nood van die wêreld, sodat die kerk die wêreld met die Bybel se goeie nuus kan bedien.

Dit word egter toenemend duidelik dat die AS in sy luister al hoe meer sy ore vir die wêreld leen. In verslae en besprekings oor selfdegeslagverhoudinge het luister na die Skrif plek gemaak vir luister na die wetenskap, wêreldse tendense en menslike oortuigings. In die nuutste verslag van ATLAS (Algemene Taakspan Leer en Aktuele Sake) i.s. aborsie, blyk dit weer die geval te wees.

Die AS toon egter ook onwilligheid om die tweede punt van die Seisoen van Luister tot uitvoer te bring. Getuienis van medegelowiges binne die kerk se stem word op grond van kerkordelike argumente dood gesmoor. So is die bundel van ongeveer 600 bladsye se getuienis in die vorm van beswaarskrifte en gravamina nooit inhoudelik deur die AS hanteer nie.

Daarna het ’n klomp gemeentes en lidmate by monde van Kairos Netwerk (KN) die ASM (Algemene Sinode Moderamen) genader met ’n versoek tot mediasie. Dié versoek is van die hand gewys, blykbaar omdat KN nie enige locus standi het nie. Daarna het die Koinonia Sinode (KS), ’n behoorlik gekonstitueerde vergadering wat 56 gemeentes deur amptelike afvaardiging verteenwoordig, die versoek tot mediasie herhaal. Hierdie versoek is nie eers in die agenda van die pas afgelope vergadering van die ASM geplaas nie. Die ATR (Algemene Taakspan Regte) het wel om kerkregtelike redes aanbeveel dat daar nie aan hierdie versoek gehoor gegee moet word nie. M.a.w., die AS moet nie meer luister na die getuienis van 56 gemeentes in die NG Kerk nie. Die vraag is: Hoe gemaak as daar nie op beswaarskrifte, gravamina en herhaalde versoeke tot mediasie gereageer word nie?

Na Tafelberg gemeente se besluit om hulle verband met die ring, sinode en die AS op te skort, verklaar die voorsitter van die ASM dat die wegbreek hartseer is. Die hartseer lê eintlik daarin dat die ASM tot hier by herhaling verseg het om positief te reageer op die herhaalde versoeke tot mediasie. Terwyl KS helder en duidelik besluit het dat kerkskeuring nie die weg is om te gaan nie, wil KS ook in sy oproep tot mediasie met trane in die oë uitroep: Luister na ons getuienis op grond van die Woord en in ooreenstemming met ons belydenisskrifte.

Die AS, ’n sinode van sinodes en nie ’n sinode van gemeentes nie en klein in getal, staan al hoe verder verwyderd van gemeentes. Deur oorpluisies in te sit en nie die getuienis van gemeentes te hoor nie, versterk hulle hierdie verwydering. Ek dink ek verstaan naastenby iets van die doel en toepassing van kerkordelike reëlings. Maar een ding weet ek, kerkordelike reëlings kan nie gebruik word om die getuienis van 56 gemeentes stil te maak nie

Kommentaar

Die kwessie van die 600 bladsye se gravamina wat nooit hanteer is nie kom gereeld na vore. Iemand het hieroor navraag gedoen by ‘n kerkregkenner. Hier is die vraag en die antwoord:

Vraag: Hoe lank het die sinode om beswaarskrifte en gravamens te hanteer en af te handel. Soos ek dit verstaan is daar tans ongeveer 600 bladsye wat nie hanteer is nie.

Antwoord: Daar is streng gesproke geen tydsbeperking nie, maar wanneer ‘n beswaarskrif of gravamen by ‘n sinode ter tafel was, en die sinode besluit het om slegs daarvan kennis te neem of om watter rede ookal daarvan af te stap, dan is dit afgehandel. Om dit weer op die agenda van ‘n volgende sinode te laat dien, sal spesiale revisie gevra moet word met duidelike motivering waarom dit weer ter tafel moet kom.

Kyk ook Oor die 600 bladsye se gravamina wat nooit hanteer is nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui