Verrassende wetenskap uit Duitsland wat geloof bou en nie vernietig nie!

Kyk ook:

Die volgende artikel is deur Ferdie Mulder geskryf en het oorspronklik op www.opgestaan.com verskyn. Hierdie webblad bestaan egter nie meer nie.

**********

Verrassende wetenskap uit Duitsland wat geloof bou en nie vernietig nie!

deur Ferdie Mulder

– Prof Nelus Niemandt se “Nuwe bedeling en nuwe lewe” (15/04/2012) het betrekking.

Prof Niemandt se insiggewende artikel en spesifiek sy verwysings na ’n “nuwe bedeling en … iets opwindends wat aan die gebeur is”; die wegbeweeg van ’n “Christelike ghetto” en die omhelsing van “die taal van die wetenskap”; sy verwysing na onder meer die kontroversiele Cornel du Toit en Danie Veldsman; en ook die stelling dat “Vir Jesus van Nasaret is die waarheid nie ’n … klomp leerstellings nie. Waarheid is te vinde in verhoudings”, het my onwillekeurig laat terugdink aan ’n koffietafel gesprek wat ’n groep teologie studente met hom persoonlik gehad het by Menlyn se Mug & Bean, Pretoria, in Februarie 2004. Ons gesprek het gegaan oor studente se worstelinge met die kritiese bybelwetenskap en by name ons moedeloosheid oor hóé Prof Andries van Aarde dit vir ons geleer het. Op daardie tydstip het van ons maats toe al opgeskop, ontnugter omdat hulle soos Prof Lina Spies van Stellenbosch na haar lees van Prof Andries se Fatherless in Galilee (sien Insig Desember 2003) nie meer kon glo dat Jesus regtig die Seun van God is wat ook letterlik uit die dood opgestaan het nie. Al die “opwinding”, “nuwe lewe” en “hoop” wat die gesprek tussen geloof en wetenskap kan en behoort te bring vir die teologie het opgeeindig in ongesonde verhoudings, spanning en geestelike dood.

Ons studente het kom hulp soek by Prof Niemandt maar geen woord van ondersteuning gekry nie. Al waaroor hy wel besorgd was op daardie stadium was sy streekssinode se NG pensioen fonds wat glo moeilikheid kon optel met ’n groot groep predikante wat gaan aftree. Maar in alle billikheid, dalk stem Prof Nelus nie saam met prof Andries (en Veldsman – sien onder) oor die moeilike sake nie, ek weet nie, nêrens het ek al kon lees daarvan nie.

Vir ten minste sommige studente was daar nie “opwinding”, “nuwe lewe” en “’n boodskap van hoop” meer na ons lees van Fatherless in Galilee nie. Uit ons klas van 24 het 6 klaargemaak. Van hulle het twee intussen ook bedank uit die NG Kerk. As ons die wetenskaplike teorie (vanuit die ou histories-kritiese skool) moet aanvaar dat Jesus se liggaam gesteel was deur sommige van sy dissipels, en dat hy dus nie regtig uit die dood opgestaan het nie, soos wat Danie Veldsman al in 1993 in ’n HTS artikel betoog het (Adriö Konig het ook hieroor uitgewei – Beeld 9 Okt 2009), dan bly daar vir baie gelowiges nie meer ’n “boodskap van genesing en nuwe lewe midde-in die geboortepyne van hierdie nuwe bedeling” nie.

Dit ís moontlik om wetenskap en geloof met integriteit bymekaar te kry. So ook die leerstellings oor Jesus en verhoudings. Mens hoef nie die opstanding of die bonatuurlike dimensies van ons Here se verstommende lewe en werk te laat vaar ter wille van verhoudings nie! Mens sien dit in die werk van sommige teoloë van Cambridge, Wittenberg, St Andrews, Tübingen om net ’n paar plekke te noem. Onlangs weer lees ek die aangrypende verhaal van Prof Adolf Schlatter wat op die hoogste intellektuele vlak vir Prof Adolf von Harnack in Berlyn aangevat het. Toe Schlatter Berlyn verlaat vir Tübingen het Von Harnack die volgende gesê: “I miss our discussions and feel it as a serious loss that I have no one around me who can by challenging my views make me ponder them”.

Schlatter het die verstommende vermoë gehad om historiese, literêre en filosofiese insigte in sy eksegese van die Nuwe Testament by te werk. Geloof het nie teenoor die wetenskap gestaan nie, hulle het mekaar gevoed. En dít nadat Schlatter as ’n tiener aanvanklik die volgende gesê het: “Theological study is dangerous and could easily shake one’s faith”. Later het hy sy standpunt dramaties verander: “I came to the conclusion that avoiding theological study to preserve faith was rank hypocrisy, and this conclusion brought decisive consequences”.

Schlatter as Evangeliese bybelwetenskaplike en akademikus was later so hoog in aanvraag dat ’n paar Duitse universiteite byna gelyktydig gepoog het om sy dienste te bekom.

Laastens, een student van Schlatter, wat later ook professor geword het se refleksie op sy Berlyn jare: “… often enough our faith was like a city under siege by the enemy Skepticism. From our theological professors … [we] found … no help whatsoever … How we pricked up our ears when Schlatter came along and began to deal exhaustively with Kant … Schopenhauer … when he settled accounts with Nietzsche’s Beyond Good and Evil! Suddenly light swept across the whole range of modern thought! We were astonished at the thoroughness and fearlessness with which Schlatter proceeded … The result for us was the confidence that we could uphold our Christian outlook with good conscience and joy even in the corrosive atmosphere of current thought”.

Schlatter het die “taal van die wetenskap” van sy tyd uitgedaag en getoon dat jy op die hoogste vlak wetenskaplik kan wees EN met integriteit glo in ’n Here en Verlosser wat “genesing en nuwe lewe midde-in die geboortepyne van hierdie nuwe bedeling” bring.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui