Nuwe bedeling en nuwe lewe

Kyk ook:

Nuwe bedeling en nuwe lewe

2012-04-15 22:12

(Van Beeld gekopieer)

[Kommentaar verskyn in bruin in blokhakies]

Nelus Niemandt

Dit is heeltemal verstaanbaar dat mense verward en ontsteld sal wees oor al die nuus rondom Christelike kerke.

Sommige koerante verklaar die Afrikaanse kerke by voorbaat dood.

Mense in Suid-Afrika ervaar ’n soort gekonsentreerde sekularisasie – teenoor Europa, waar die proses reeds sedert die Tweede Wêreldoorlog aan die gang is.

Die sekularisasieproses kan raak­gesien word in die baie standpunte waar die vryheid opgeëis word om nie in God te glo nie.

Ek dink ook dit is een van die oorsake dat minder mense lidmate van tradisionele kerke is.

In Afrikaanse geledere woed die debat tussen kreasioniste en evolusioniste nogal fel.

Intussen stel tegnologiese deurbrake splinternuwe etiese eise aan mense wat ’n Christelike lewenstyl wil volhou.[Dit sal baie interessant wees om te weet na watter tegnologiese deurbrake prof Nelus hier verwys? Homoseks-aanhangers is onder die wanindruk dat dit wetenskaplik bewys is dat jy so gebore word (kyk egter Die Bybel oor Homoseksualiteit en Nuutste wetenskaplike navorsing oor homoseksualiteit). Is dit hierna wat prof Nelus verwys? Of verwys prof Nelus na die sogenaamde bewyse vir evolusie?]

Ek sal nie die kerk so maklik “dood” verklaar en die einde van Christelike geloof uitbasuin nie.

Dit is ’n transformasieproses waar die Christelike geloof, soos ’n paar keer vantevore, ’n nuwe vorm aanneem.

Ons staan eerder op die drumpel van ’n nuwe bedeling en is getuienis van iets opwindends wat aan die gebeur is.

Christene kan die voortekens van ’n kreatiewe toekoms op verskillende plekke sien deurbreek.

Ek is oortuig dat die kerk vorentoe uit die Christelike ghetto sal beweeg en die taal van die wetenskap sal omhels. [Weereens, na watter wetenskap verwys prof Nelus hier: is dit die wetenskap wat prof Jurie le Roux laat twyfel oor Abraham se historisiteit (kyk Kommentaar op Jurie le Roux se studienotas oor Abraham of die wetenskap wat Andries van Aarde (en prof Le Roux) laat twyfel oor Jesus se goddelikheid (kyk Kommentaar op Jurie le Roux se artikel “Andries van Aarde se vaderlose Jesus”)?]

Die Christelike geloof het nog altyd grense oorgesteek en die boodskap van lewe in Jesus Christus in verstaanbare taal vir mense gebring.

Dit gaan ook gebeur met die “taal van wetenskap” en ek is seker dat hierdie taal oor die oorsprong van die aarde deur die kerk gedeel sal word.[Dit sal ’n donker dag wees as dit gebeur. Jy kan nie evolusie en miljarde jare met die Bybel versoen nie. Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?]

Ek dink ook dat Christelike denkers al hoe meer en meer ’n bydrae gaan lewer om dié “gedeelde taal” met die wetenskap te ontwikkel.

Ons sien reeds al hoe meer vrugbare kritiek en nuwe gedagtes oor die lewe en skepping.

Dink maar net aan die werk van Wentzel van Huyssteen by Princeton en die vars denke van Ernst Conradie, Cornel du Toit en Danie Veldsman hier in Suid-Afrika.[Hierdie is almal liberale teoloë. Wentzel van Huysteen word bespreek in die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk en gaan lees sy verdraaide siening oor die sondeval in Sondeval eintlik evolusionistiese ontwikkeling. Kyk ook Skepping en Ewolusie vir Cornel du Toit se sieninge oor dinge.]

Hierdie beweging gaan ook lei tot ’n baie groter betrokkenheid van kerke by die bewaring en versorging van die skepping.

Daar is heelparty teoloë wat praat van ’n nuwe bedeling van die Gees waar die werk van die Heilige Gees nuut waardeer word.

Die Wêreldraad van Kerke se Kommissie oor Sending en Evangelisasie praat in ’n nuwe verslag van die Heilige Gees as God se “Asem van Vuur”.

Hierdie waardering vir die werk van die Heilige Gees herinner ons ook dat die Gees dinge altyd verander van doodsheid na nuwe lewe.

Die lewensveranderende teenwoordigheid van die Gees help die kerk om op nuwe maniere gemeenskap met die Skepper en skepping te ontdek.

Ek dink ook dat daar ’n baie groter sensitiwiteit aan die ontwikkel is vir die belang van gesonde verhoudings.

Verhoudings is die belangrikste vorm van sosiale kapitaal in ’n globaliserende wêreld.

Verhoudings is deel van die identiteit van die kerk.

Die wese van die kerk is gebou op die verhouding met Jesus Christus en Jesus se verhouding met die ganse skepping.

Vir Jesus van Nasaret is die waarheid nie ’n filosofie of klomp leerstellings nie. Waarheid is te vinde in verhoudings.[Hierdie is mos nou absolute snert. Die waarheid word gevind in die Bybel en Jesus (Joh 17:17).]

Christene se beheptheid met die kerk en veral met kerkpolitiek en die mags­posisie wat kerke gehad het, gaan op die agtergrond skuif.

Daar gaan ’n baie groter fokus wees op die gemeenskappe waarbinne Christene leef en om geloof in die alledaagse lewe uit te leef.

Die kerk het eeue lank ’n boodskap van hoop gebring.

Die kerk het steeds ’n boodskap van genesing en nuwe lewe midde-in die geboortepyne van hierdie nuwe bedeling.

Prof. Nelus Niemandt is moderator van die algemene sinode van die NG Kerk.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui