Kerkbode traag om oor Hoëveld Sinode te berig

Om een of ander rede wou Facebook/Kerkbode niks oor die pas afgelope Hoëveld Sinode plaas nie. Die waarskynlike rede is dat hulle nie gehou het van die 4 beskrywingspunte wat daar bespreek en na die Algemene Sinode deurgestuur is nie. Henrietta Klaasing en ekself het toe maar plasings op facebook/kerkbode gaan doen.  My plasing met die opvolgende kommentare is hieronder.

***********

Hennie Mouton -> Kerkbode (19 April 2012)

Gaan Kerkbode nie berig oor die bemoedigende besluite van die Hoëveld Sinode nie?

Kommentare

Delina Le Roux

Ek het self gewonder.

Henrietta Klaasing

Hennie dis nie elektronies beskikbaar nie, maar ek het dit getik en plaas dit op die muur

Hennie Mouton

Dankie vir die Beeld se berig Henrietta, maar ek sou hoop dat Kerkbode die besluite van die Hoëveld Sinode wat onder andere gaan oor die Algemene Sinode se dubbelsinnige saamwoon- en onbybelse duiwelbesluite sou plaas. En dan ook hul besluit oor die liberale denkwyses en uitsprake in die NG Kerk.

Lourens Zak Barnard

En hulle kom en sê vir Hom: Meester, ons weet dat U waaragtig is en U aan niemand steur nie; want U sien nie die persoon van mense aan nie, MAAR U LEER DIE WEG VAN GOD IN WAARHEID. – (Mark 12:14)

Kan ons dit van die huidige Leierskap van die Kerk sê???

Barend Nel

Op wie se muur sit jy dit Henrietta? Kerkbode wou seker nie so vroeg in die dag kom met ontmoedigende nuus nie…

Stefaan de Jager

Hennie, daar is ouens by Kerkbode wat nog eers besig is om hul wonde te lek. Gee kans dat hulle eers herstel. Sal nogal interessant wees om te sien hoe die plasing gedoen gaan word.

Jaco De Beer

Barend, dis goeie nuus…puik nuus….wonderlike nuus…

Henrietta Klaasing

Barend, het moeite gedoen , uitgetik en albei HIER geplaas – uit wie se oogpunt is dit “ontmoedigende nuus”?

Hennie Mouton

En Kerkbode self swyg steeds soos die graf.

Jaco De Beer

Hennie, ek sien die gereelde skrywers ook

Albert Cruywagen

Kerkbode sal nuuswaardige artikels plaas; nie noodwendig wat enkele smaldenkers van hou nie.

Barend Nel

Henriëtta, ongelukkig het jou plasings oor die Beeld berigte nog nie op my skerm verskyn toe ek geskryf het nie. Ek sien dit het intussen verskyn. Ek het maar sommer aangeneem dat die besluite vir my ontmoedigend sal wees as dit vir Hennie bemoedigend is :=))

Ek het toe bietjie ge-Google en die eerste berig hierbo op Wynand se hierstaanek blog gekry… En ook ’n verwysing dat die sinode gunstig oor ’n gravamen van die Louw en Danzfuss besluit het. Hy het nie die inhoud van die gravamen geplaas nie, maar genoem dat dit uiters krities oor die AS se besluit oor die duiwel was. Ek neem aan dat dit is waarvan Stefaan de Jager praat, as hy hierbo praat asof die sinode besluit het dat die duiwel wel ’n persoon is.

Ek het so ’n bietjie navraag gedoen oor wat die sinode besluit het en gevind dat dit toe tog nie so ontmoedigend was nie… en dus waarskynlik ook nie so bemoedigend nie. Die eerste berig praat nie eintlik oor besluite van die sinode nie, maar lug meer menings van individue. Dat die sinode (soos ek verstaan) besluit het om geleenthede te skep waar die beswaardes en beswadderdes saam kan vergader en probeer om ’n oplossing vir die onverkwiklike stryd te vind is goed. Ek was nog altyd daarvoor dat ons nie ophou om eerlik met mekaar oor ons verskille te praat nie. En ek was ook nog nooit daarvoor dat diegene wat met my verskil nie welkom is in die kerk nie.

Maar volgens die berig van Jackson oor die saamwonery en volgens wat ek verneem het oor die sinode se hantering van die gravamen oor die “duiwelsbesluit” het die sinode IN BEIDE GEVALLE besluit om GEEN BESLUIT OF KOMMENTAAR oor hierdie besware te neem nie, maar dit eenvoudig aan die Algemene Sinode deur te stuur. Die sinode het dus effektief, in beide gevalle slegs KENNIS GENEEM van die besware en geen mening daaroor ingeneem nie. Ek het in 1980 my eerste sinode vergadering bygewoon en was intussen by 10 (as ek nou reg getel het). En ek kan julle verseker dat as ’n sinode “Kennis neem” van ’n voorstel ek dit nie as “gunstig besluit” interpreteer nie. Dit is eerder soos wanneer ’n mens in ’n gesprek vir iemand sê “Ek hoor jou” Heel dikwels beteken dit eintlik “Ek verstaan jou argumente, jy is ’n nice (vr)ou en ek weet jy bedoel dit goed, maar laat ons nou ter wille van ons vriendskap nie verder oor dié saak redeneer nie”. Dat die goed aangestuur is, sonder om ’n besluit daaroor te neem, sê dus vir my baie duidelik dat die meerderheid van die sinode eintlik gesê het: “Ons het nie lus om nou wéér oor die goed te redeneer nie… stuur dit net aan!”

Die goed is dus eenvoudig na die AS deurgestuur, sonder dat die Hoëveld sy steun daaraan geheg het. Volgens gewone prosedure sal dit dus by die Leer en aktuele sake taakspan (of wat hulle dit dan ook al deesdae noem) beland. Die sal die meriete daarvan oorweeg en ’n aanbeveling daaroor aan die volgende Algemene Sinode maak. Ek kan nie sien dat daar ’n wesenlik ander besluit geneem kan word nie. Daar het géén nuwe inligting gekom nie en veral die besluit ivm die duiwel wás al by twéé Algemene Sonodes bespreek. By die eerste is die verslag juis agv sommige se besware teruggestuur vir verdere besinning. Die laaste besluit is dus na jare se besinning, ook by die vorige reeeks streeksinodes, geneem. Die AS en sy taakspanne was baie deeglik bewus van die besware. Dieselfde beswaardes het dieselfde besware reeds voorheen op verskeie vlakke van die kerk se besinnings ingedien. Dit is dus nie oorhaastig geneem, of sonder dat die sinode bewus was daarvan dat sommiges daaroor beswaard is nie.

Ek het boonop met my eie sinode én die Algemene Sinode se toestemming opgehou om te glo in die persoonlike bestaan van die duiwel. As hulle nou weer gaan besluit dat ek daarin móét glo, sal die onus myns insiens op hulle lê om my eers weer te oortuig dat ek dit moet glo… en dit sal sowaar moeilik wees. Waar gaan ek nou weer daai geloof vind? Die Heilige Gees skenk ’n mens die geloof in God, maar wie sal nou vir my die geloof in die duiwel skenk? Die Bose Geeste?

Coert Welman

As iemand na aanleiding van ’n sinodebesluit ophou glo in iets, dan kan daardie selfde persoon weens ’n sinodebesluit weer begin glo in iets.

Coert Welman

Barend se “ek hoor jou” stelling verwys.

Dit klink amper soos ’n universiteitspaneel wat ’n student skuldig bevind aan oneerlikheid en dan net skors van die fakulteit. Eintlik sê dit “jy is nie skuldig nie, maar ons is aangesê om jou skuldig te bevind. Hierdie is om almal gelukkig te hou”.

Hennie Mouton

Goeie een Barend 🙂 Maar ongelukkig weet ons nou nog nie presies wat die Hoëveld Sinode se besluite was nie. Ek neem aan jy’s reg dat die saamwoonvoorstel net aangestuur is na die Algemene Sinode want dit is wat Neels Jackson geskryf het. Maar ek het goeie rede om te glo dat sommige van die beskrywingspunte wel oor gestem is. En van Albert wat glo daar was kan mens nie objektiewe of volledige verslaggewing (hy het hier al keer op keer bewys dat hy vinnig vaak raak) verwag nie.

Hennie Mouton

Barend, om te glo dat die duiwel bestaan moet jy maar net glo wat in die Bybel geopenbaar is. Maar ja, ook daardie geloof is ’n genadegawe van God.

Henrietta Klaasing

Verskoning aanvaar, Barend. Oor die saamwoonbesluit en die “terugstuur” daarvan: as goedgelowige lidmaat vertrou ek dat elke kommissie opnuut erns sal maak met elke besluit wat na hulle terugverwys word. En Albert, daar is mos nog sinodes wat moet sit? En daar is ander plekke wat mens ook klagtes hoor – ek verbeel my jy het iewers waarderend van die Ring van Louis Trichard gepraat? Jy kan tog nie hierdie bedoel nie: http://hierstaanek.com/2011/10/30/louis-trichardt-ring-kritiseer-die-algemene-sinode-van-2011-se-besluite/

Louis Trichardt ring kritiseer die Algemene Sinode van 2011 se besluite.

hierstaanek.com

Ds Petrus Kriel en die ring van Louis Trichard het op 24/10/2011 besluit om ’n gespreksdokument uit te stuur oor …

Barend Nel

Nou ja toe, ’n mens is nooit te oud om te leer nie. Artikel 13 van die Apostoliese geloofsbelydenis lui: “Om sommer net te glo dat die duiwel die personifikasie van die bose is, dit kan ’n mens sommer so uit jou eie doen. Maar om te glo dat die duiwel ’n persoon is… dit is ’n genadegawe van God.”

Ek raai dat ons nou nog ’n klas Christene hier het. Deur die jare het ek van my medegelowiges wat verder as ek op die weg van heiligmaking gevorder het verneem dat daar die volgende klasse Christene is.

Die “entry level” christene is sommer net Christene.
Dan kry jy Bybelgelowige Christene
Dan kry ’n mens wedergebore Christene
Dan kry jy Geesvervulde wedergebore Christene
En nou kan Christene nog ’n stappie vorder na Duiwelgelowige, Geesvervulde, wedergebore Christene

Henrietta Klaasing

Ja Barend, vreemde tye voorwaar, want jou ander klas Christene het sommer ’n ander klas leiers ook. Soos ek van die AS 2011-besluite verstaan, het hierdie leiers ’n besluit goedgekeur waar predikante duiwels kan uitdryf wat nie werklik bestaan nie.

Renier Lourens

Ek verstaan die AS se besluite as “to each his own”, sonder om van enige kernwaarhede af te stap. En ek reken dit was die regte ding om te doen.

Indien dit so is dat die Hoëveld Sinode bloot kennis geneem en dit aangestuur het, juig ek “well done”!

Iewers sal ons moet aanbeweeg en die dinge wat reeds bespreek is en waaroor reeds besluit is aanvaar- dit gee beweeg ruimte aan almal.

Hennie Mouton

Barend, om te glo wat God in die Bybel aan ons geopenbaar het, is ’n genadegawe van God. En dit sluit geloof in die bestaan van die duiwel as ’n wese in. Maar jy verdraai my woorde lekker om jou spottende uitlatings te pas. En geloof in die duiwel (soos ’n satanis) verskil van geloof in (“aan” dra die bedoeling beter oor maar ek dink dis swak Afrikaans in die geval) die bestaan van die duiwel as wese. Renier, die Hoëveld Sinode het beslis nie net kennis geneem en die voorstelle aangestuur na die AS nie — hulle het tenminste gestem oor of die voorstelle na die AS aangestuur moes word, en na wat berig word is dit met groot meerderheid aanvaar. Dit bly inderdaad bemoedigend.

Henrietta Klaasing

Renier, jy sê: “Iewers sal ons moet aanbeweeg en die dinge wat reeds bespreek is en waaroor reeds besluit is aanvaar- dit gee beweeg ruimte aan almal” – – Kan ek hieruit aflei dat jy ’n bewonderaar is van John Shelby Spong, die vader die sg. “wiggle-room” , daardie “plek” waar daar “beweeg ruimte”, toleransie is vir allerhande uiteenlopende opinies en beskouings?

Renier Lourens

Henrietta, ek hoop nie dis weer die begin van ’n ondervraging nie, maar ek antwoord graag: ek meen beweeg ruimte binne die breë lyne van die belydenisskrifte.

Barend Nel

Ja Hennie ek het jou woorde effe gedraai om my spottende uitlating te pas… Ek dink almal wat darem iets tussen die ore het sou darem kon sien dat ek spot en dat hulle dus nie dit wat ek sê te ernstig moet opneem nie.

Maar die “beswaardes” teen hierdie duiwel besluit verdraai daagliks, blatant en sonder spot die woorde van die sinodebesluit én die woorde van diegene wat anders as hulle oor die duiwel glo.

Eerstens het die sinode NOOIT BESLUIT DAT DIE DUIWEL NIE BESTAAN NIE.

Tweedens het die sinode ook NOOIT EERS BESLUIT DAT DIE DUIWEL NIE ‘N PERSOON OF WESE IS NIE!

Henriëtta verdraai dus hierbo die sinode se woorde blatant as sy sê dat die sinode besluit het om predikante toe te laat om die duiwel, wat nie bestaan nie uit te dryf.

Wat gebeur het, en wat al die beswaardes baie goed weet, is dat al vir jare al met mekaar in die NGK beraadslaag is oor hoe ons oor die bose moet dink. Dit sluit terme soos “die duiwel”, “satan” en “bose geeste” in. Nadat daar minstens 8 jaar lank intens hieroor gepraat is by taakspanne, by die Algemene Sinode, weer by taakspanne, by talle streekbyeenkomste waarheen predikante en ander lidmate uitgenooi is, weer by taakspanne, by streeksinodes, weer by taakspanne en uiteindelik by die Algemene Sinode het dit geblyk dat daar konsensus is daaroor dat daar iets soos die Bose is wat ons lewens beïnvloed. Oor die aard hiervan kon daar egter nie eenstemmigheid bereik word nie.

Aan die een kant was daar diegene wat beoefen het wat ons “duiwel uitdrywing” noem. Dit is beslis ’n minderheidsgroep. Dit is ook ’n verdraaing van hulle woorde, want hulle sê dat hulle nie die duiwel uitdryf nie, maar bose geeste. Maar kom ons sê dat hulle glo dat die bose op ’n fisiese manier besit van ’n mens se liggaam kan neem, allerlei fisiese manifestasies het en dat ’n mens ’n spesialis bediening benodig om van die gediertes ontslae te raak.

Dan was daar die groot middelgroep wat wel aan die duiwel as ’n persoon of wese dink, maar nie glo dat hy of sy aanhangers, wat ook dan wesens moet wees fisies beset kan neem van ’n mens se liggaam nie. Veral dan nie van ’n gelowige se liggaam nie. Huille glo dat die enigste en beste manier om die duiwel te bestry is om die evangelie van Jesus Christus te verkonding, want as jy aan hom behoort woon sy Gees in jou en kan die duiwel jou nie beset nie. Hy kan jou versoek om hom te volg, maar hy kan jou nie beheer nie.

Dan is daar die groep waarin ek myself bevind. Daar is geen statistieke oor getalle nie, maar ek sou sommer raai dat ons nogal ’n groterige persentasie van die predikante verteenwoordig. Maar dat as jy praat van die hele NGK, dus alle lidmate, is ons waarskynlik ook ’n minderheid. Ons verstaan die bose en hoe die bose bestry moet word, PRESIES NES DIE MIDDELGROEP, OP EEN PUNT NA na en dit is dat ons nie glo dat die duiwel ’n persoonlike wese is nie. Ons glo dus wel deeglik aan die bestaan van die duiwel, maar dan as ’n personifikasie van die bose. Die gesprek tussen Jesus en die duiwel, soos in die evangelies beskryf, impliseer dus hoegenaamd nie vir ons dat Jesus mal moes gewees het nie. Net so min as wat die skrywers van die “wysheidsliteratuur” (Spreuke, Prediker, Hooglied, en selfs sommige Psalms) mal was as hul soms die Wysheid as ’n vrou voorgestel en selfs gesprekke met haar gevoer het nie.

Soos ek reeds gesê het, het ek regtig GEEN statistieke of opnames om dit te bewys nie, maar ek vermoed sterk dat die middelgroep die meeste is. Wat dus gebeur het is dat die sinode, en dus veral ook die middelgroep, besluit het dat dit nie nodig is dat ons die kerk verskeur en diegene wat na beide kante toe anders dink oor die bose die kerk uit dryf nie. Die besluit is juis geneem omdat die duiwel regtig nie ’n kernelement van ons geloof is nie. Dit is twak dat as die duiwel nie ’n persoon is nie, God ook nie bestaan nie. Dwarsdeur die Ou Testament was daar geen kwessie oor of God bestaan nie, maar die duiwel word slegs op iets soos drie plekke genoem en is in verreweg die meeste boeke van die Ou Testament nie eers ter sprake nie.

Ek is verbaas dat feit dat die sinode die groep wat nie glo dat die duiwel ’n persoonlike wese is nie akkomodeer het, vir mense so ’n groot probleem is. Die akkomodering van die eerste groep “die duiweluitdrywers” is myns insiens ’n baie groter probleem. Nie net omdat nie net ek nie, maar inderdaad die oorgrote meerderheid van die NGK verskil van wat hulle GLO nie, maar veral ook omdat ons verskil van wat hulle DOEN. Die sinode het wel beperkings geplaas op wat hulle mag doen, maar dit bly ’n tuksvy. Die groep wat nie glo in die persoonlike duiwel nie, verskil nét van die middelgroep in hoe ons oor die duiwel DINK/glo. Oor wat ons moet dóén om hom te beveg verskil ons hoegenaamd nie! Ons glo saam met verreweg die grootste deel van die NGK dat die enigste manier om die bose/duiwel te beveg, is om die Goeie Nuus van Jesus Christus te verkondig en uit te leef. Dws om die Liefde uit te leef, want die liefde wat van God kom verdryf alle vrees en kwaad.

Jaco De Beer

Renier, jammer dat ek nou ook vra en dalk wil jy nie met my praat nie agv ons gesprekke in die verlede al, maar ek probeer. Ek wil graag vir jou vra of jy dink daar is meer as een manier om die Woord te verstaan of is daar slegs EEN WAARHEID oor die KERN aspekte van DIE GELOOF. Dit sal nou goed wees soos Jesus se maagdelike geboorte sy fisiese opstanding, ensovoorts.

Hennie Mouton

Barend, kom ons kry ooreenstemming oor wat die Algemene Sinode besluit het. Hulle het onder andere besluit dat lidmate en leraars maar enigiets oor die aard van die duiwel kan glo, selfs dat hy/sy/dit nie as ’n wese (soos wat engele byvoorbeeld wesens is) bestaan nie. Stem jy saam dat dit onder andere hulle besluit is? Verder neem ek aan dat as jy die duiwel sien as ’n personifikasie bedoel jy nie daarmee dat dit ’n wese is nie. Is ek reg oor jou siening? Glo jy dat engele wesens is?

Henrietta Klaasing

Barend jou gemik na ’n middelgroep / sogenaamde “goue middeweg” laat my terugdink aan die ou Kletskerk dae. Wanneer iemand sulke tipe uitlatings gemaak het, was daar mos gou-gou gevra: “Kan ’n vrou half-swanger wees?”

Barend Nel

Nee, jy verkrag en verdraai die besluit van die Algemene Sinode. Die sinode het glad nie gesê wat mense mag en nie mag glo nie. Dit is in elk geval ’n belaglike ding om te begin sê iemand “mag dit glo” of “mag dit nie glo nie”. Wat ’n mens glo is mos nie soos ’n daad waaroor jy kan besluit nie. ’n Kerk kan slegs sê wat die mense in dié kerk wel glo… of eenparig of dan ’n meerderheid. En ’n kerk kan sê wat die minimum vereistes betreffende geloof is vir iemand wat ’n lid van daardie kerk wil wees. Die Algemene Sinode het in hierdie geval nie besluit wat die kerk oor die AARD van die duiwel glo nie. En dit het besluit dat daar ruimte in die kerk is vir mense wat verskillend daaroor glo… en die verskillende maniere is omskryf. Daar is nie gepraat van “enigiets” nie.

Ek het al verskeie kere vir jou gesê hoe ek oor die duiwel dink jy weet dit of goed of jy stel nie regtig belang nie. Ek gaan nie begin om dieselfde paadjie met jou te loop oor engele en wat nog alles nie. Vir wat is jy so behep met my en ander mense se geloof? Ek gun dit vir jou om te glo soos die Gees jou lei. Maak vrede daarmee dat almal nie so glo nie.

Barend Nel

Henriëtta ek sou weer wou vra of ’n mens net twee soorte vrouens kry… die wat swanger is en die wat nie swanger is nie.

Hennie Mouton

Barend, hier is die AS-besluit: “Die Algemene Sinode aanvaar die werklikheid dat daar ’n wye diversiteit van interpretasies en toepassing van die Bybelse boodskap oor die bose en demone binne die NG Kerk is. Daar is ruimte vir lidmate wat aan die werklike en persoonlike aard van die duiwel en demone glo, en daar is ruimte vir lidmate wat die Bybelse spreke oor die bose en duiwels anders interpreteer.” As die “anders” nie verduidelik word nie, hoekom sou dit nie “enigiets daaroor” beteken nie? En nee, ek verstaan nie hoe jou geloof oor die duiwel werk nie, daarom vra ek jou die paar maklike vragies. Die AS het wel ook ’n uitspraak gemaak oor die AARD van die duiwel — kyk weer na hul eie bewoording — “werklike en persoonlike aard”.

Alwyn van der Merwe ‎

@Hennie, daardie “anders” beteken inderdaad wat ookal jy goed dink.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui