Teoloog Peter Nagel kry ná ‘belyning’ predikantsbevoegdheid terug, sê kuratorium op Stellenbosch

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Teoloog Peter Nagel kry ná ‘belyning’ predikantsbevoegdheid terug, sê kuratorium op Stellenbosch – Kerkbode

05 Desember 2023

Die tydelike opskorting van die predikantsbevoegdheid van ’n senior lektor aan die Universiteit Stellenbosch se Fakulteit Teologie is deur ’n “evaluasietaakspan” van die kuratorium van die Wes-Kaap opgehef.

“Dr (Peter) Nagel is bewus van die feit dat akademiese integriteit en kerklike integriteit belyn moet wees en nie in stryd met mekaar moet wees nie en dat akademiese vryheid nie los kan staan van kerklike opsig en verantwoordbaarheid nie,” luidens ’n verklaring namens lede van die kuratorium, ’n koppelvlak tussen kerk en akademie. (Lees die verklaring onderaan dié berig. – Red).

LEES OOK: ‘Die doel is om die waarheid en die feite aan die lig te bring’ – Kuratorium oor optrede teen dosent

Die opskorting het gespruit uit ’n ondersoek wat gevolg het op ’n navraag oor dr Nagel se standpunt oor die godheid van Christus.

Nagel wou nie Dinsdag (5 Desember) kommentaar lewer nie.

LEES OOK: ’n Agtermiddag by Peter Nagel: Oor teologie, tug en Griekse tragedie

Nagel se legitimasie is tydelik opgeskort “hangende die uitkoms van ’n proses van kundige en begeleidende gesprekke met die oog op die regstelling van sy standpunte,” het die kuratorium in Januarie vanjaar verduidelik.

“Die doel (van ’n kerklike tugondersoek) is gerig op die heil en welwese van die persoon sowel as van die geloofsgemeenskap,” luidens ’n vroeëre verklaring deur lede van die kuratorium. “Dit is ’n poging om die een oor wie se leer en lewe daar gerugte en vrae ontstaan, op ’n broederlike wyse te begelei en te ondersteun, ten einde daardie optrede of leer weer te belyn met die belydenisskrifte, die legitimasie-eed en die gedragskode vir gelegitimeerdes.”

Verklaring soos ontvang op 4 Desember 2023

Die kuratorium van die NG Kerk Wes-Kaap het die verslag van die gevolmagtigde evaluasietaakspan van die Ring van Stellenbosch insake die bevinding en besluit na beweerde leerdwaling teen dr Peter Nagel aan die hand van Reglement 22 vir tug en vermaning van die Kerkorde 2019, ontvang.

Die evaluasietaakspan het die tydelike opskorting van dr Nagel se predikantsbevoegdheid opgehef.

Dr Nagel is bewus van die feit dat akademiese integriteit en kerklike integriteit belyn moet wees en nie in stryd met mekaar moet wees nie en dat akademiese vryheid nie los kan staan van kerklike opsig en verantwoordbaarheid nie. Dr Nagel verklaar dat hy steeds die legitimasieverklaring, soos deur hom afgelê en onderteken, onderskryf en dat hy hom opnuut daartoe verbind.

Die kuratorium aanvaar die integriteit van die proses en bevestig dat dr Nagel gedurende die hele proses egtheid en gelowige deernis uitgestraal het. Al die betrokke begeleiers bevestig sy samewerking en toewyding as lidmaat van die NG Kerk.

Die kuratorium bedank almal wat deur hulle benadering en optrede gehelp het dat hierdie ’n opbouende en helende proses kon wees.”

  • Uitgereik deur dr Pieter van der Walt, skriba van die kuratorium gesetel aan die Universiteit Stellenbosch.

Kommentaar

Daniel Louw

Dus het Peter Nagel skotvry van sy leerdwaalaanklag gekom nadat hy homself bloot opnuut verbind het tot sy legitimasieverklaring.

Ek weet nie of ek moet sê: “Ek is glad nie verbaas nie”, en of ek moet sê: “Kan jy dit glo?!?!? Daar doen hulle dit weer!”

Aan die een kant is ‘n mens nie verbaas dat dit gebeur het nie. In die verlede het NG teoloë al met hierdie truuk weggekom. Mens dink aan:

  • Julian Müller: Op ‘n vraag of Jesus liggaamlik opgestaan het en dat die graf leeg is, het Julian soos volg geantwoord: “Ek het vanoggend ’n erediens bygewoon soos wat ek elke oggend ’n erediens bywoon op ’n Sondag. En met groot vrymoedigheid sê ek met die gemeente saam die Apostolicum, want dit is wat ek glo . . . dit beteken nie dat daar nie ruimte vir herinterpretasie is nie.”
  • Nelus Niemandt: In 2011 het Wynand Louw probeer om ‘n belydenis uit Nelus Niemandt te kry oor die bestaan van die duiwel. Nelus het die vraag ontwyk en op die ou einde hom beroep op sy legitimasie-eed. (Kyk Korrespondensie met prof Nelus Niemandt.)

Cobus van Wyngaard het selfs ‘n artikel geskryf (kyk Om publiek te bely) en gesê dat dit al is wat nodig is om mense gerus te stel.

Marcus Borg volg dieselfde benadering en skryf in sy boek Speaking Christian (2011):

For many Christians, the creeds have become a problem. … “I can’t say them anymore.” The reason is that many Christians are uncomfortable professing affirmation of a list of statements they think they are supposed to believe to be literally and absolutely true. … I use the historical-metaphorical approach to Christian language … Believing as beloving is not believing in the literal and absolute truth of statements. … the notion that the language of the creed is to be understood literally and absolutely is strange when you think about it. … The creed’s language is the language of poetry, mystical poetry, not the language of literal factuality. … Thus a historical approach makes Christian language relative and not absolute.

(Kyk ook “Ek bely steeds die belydenisskrifte”.)

Aan die ander kant kan ‘n mens met reg vra: “Kan jy dit glo dat hulle dit weer gedoen het?” Is hulle nie bang dat lidmate sal agterkom dat hulle vir die gek gehou word nie?

Hoe dit ookal sy, hierdie insident het net weereens bewys dat die legitimasie-eed van NG predikante ‘n totale klug geword het.

Verdere leeswerk

Dit is insiggewend om te gaan kyk na die gesprek tussen Dubois du Toit en Frederick Marais, voorsitter van die algemene kuratorium van die NG Kerk. Kyk Kommentaar: Dubois du Toit in gesprek met Frederick Marais (Sep 2021).

1 thought on “Teoloog Peter Nagel kry ná ‘belyning’ predikantsbevoegdheid terug, sê kuratorium op Stellenbosch”

  1. Hulle omarm hom seker maar in liefde soos met alle ander dinge wat verkeerd is…moet tog net nie liefdeloos voorkom nie…

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui