Stephan Joubert lewe voluit, sonder tru-rat

*******

Stephan Joubert lewe voluit, sonder tru-rat | Netwerk24

Marga Ley

17 Junie 2022

Ná ’n motorkaping het Stephan Joubert en sy vrou die land verlaat, maar dié voorval het uiteindelik gelei tot die ontstaan van e-kerk – die rede vir hul terugkeer na Suid-Afrika, het Joubert aan Marga Ley vertel.

Stephan Joubert (63) is besig. Nie net skryf hy elke dag vars gedagtes vir die Goeie Nuus-rubriek in Beeld nie, hy preek en hou Bybelskole vir e-kerk en Ritme, gee opleiding en preek by verskeie NG gemeentes, gee klas by universiteite plaaslik en oorsee, skryf boeke en hy en prof. Jan van der Watt het die hele Nuwe Testament in die afgelope twee jaar vertaal.

Die jonge Stephan het destyds in st. 8 “ ’n soort van ’n ervaring met die Here” gehad. Die “bekering” het hom so godsdienstig gemaak dat hy teen alles was.

“Ek was teen popmusiek en het plate stukkend gegooi en wou selfs groot gedoop word. ’n Vriend met wie ek saam rugby gespeel het, het gesê elke keer as die skrum sak, was hulle bang ek begin bid.”

Martin Luther het sy lewe verander. Hy het gevoel die Heilige Gees se boodskap is dat hy hom met die Skrif moes besig hou.

Van Luther het hy geleer die mens vind nie God nie, maar dat God die mens vind en genade gee.

“Jy hoef nie te soek nie. Die Bybel is ’n leef-uit-boek, ’n lewensboek, ’n lig vir die pad, nie ’n go-to-boek wanneer dinge in die lewe moeilik raak nie.”

Joubert is baie vriendelik, maar tog ernstig. Hy praat rustig met Penny, een van sy en sy vrou, Marietjie, se twee hondjies, vas aan die slaap gedrapeer om sy nek. Toto, die ander hondjie, sit op sy skoot. Hy is die geduld vanself met die twee lewenslustige diertjies.

Landuit ná kaping

Hoe ’n mens is hy? “Ek is nie ambisieus nie. Die Here het my verras toe my liefde vir die akademie tot gevolg gehad het dat ek op 31 die jongste professor in Tukkies se teologiese departement geword het.

“Ek sê altyd agter elke suksesvolle man staan ’n verbaasde vrou, maar ek glo agter Stephan staan ’n verbaasde Here.”

Hy is verbaas wat die Here met hom doen. Die boodskap wat hy van die Heilige Gees beleef het, is “Hou jou met die Here besig”, vertel hy.

“My akademiese loopbaan het ontplof en ons lewe het gekompliseerd geword,” vertel Stephan.

“In 2002 was daar ’n onrustigheid in my. Ek het rugprobleme gehad, lam geword, gely aan uitbranding – en toe was daar die motorkaping.”

’n Pistool is teen sy kop gedruk en hy het vrede gemaak om sy Here te ontmoet. Hy het gelukkig met sy lewe daarvan afgekom, maar gevoel hy moet iets ánders doen.

“Die Here wou my tot verhaal laat kom. Ek wou ’n radikale nuwe begin maak, incognito. Ek het nie gehou van al die publieke rolle nie. Die introvert in my het uitgekom en ek het die Jonas-trick gedoen.

“Ek het alles gelos en ons het na Nieu-Seeland verhuis om oor te begin.”

Die gesin is na ’n klein gemeente in Auckland in ’n soeke na eenvoud ná die motorkaping.

“Ek reflekteer nie vreeslik oor die lewe en besluite nie. Ek het ses ratte vorentoe en het nie ’n reverse gear nie,” sê Stephan.

In Auckland het hy e-kerk begin. Hy het twee gemeentes op ’n groep gehad. “Ek sit toe met ’n elektroniese gemeente op e-pos, nog nie op Facebook nie. Maar gou-gou was daar 1 000 mense wat deel daarvan geword het.

“Die nuwe begin daar was vir ons moeilik. Ons wou nie terugkom Suid-Afrika toe nie.”

Maar toe word mense in Suid-Afrika bewus van e-kerk en wou dit borg. En hulle wou dit net doen as ek dit uit Suid-Afrika sou doen.

“Daar is diegene wat gesê het julle vlug na Nieu-Seeland en toe julle dit daar nie maak nie, toe kom julle terug. Maar ons het vir e-kerk teruggekom.”

E-kerk, nou ’n internasionale geloofsgemeenskap, het van krag tot krag gegaan. Die slagspreuk is “Jesus sigbaar, voelbaar, verstaanbaar”. Dit staan op twee pilare – op die Bybel en gefokus op die Woord, sê Stephan.

“Dit is ons beleid by e-kerk om nie te veel te praat oor ons suksesse nie, maar ons het verlede jaar 3 miljoen e-posse uitgestuur, twee keer ’n week skryf ons Goeie Nuus-boodskappe, ons het nuusbriewe, ’n visuele afdeling, Bybelskole, op Sondae regstreekse preke en ons noodbediening is groot.

“Om uit te deel is die hartklop van Christus. Ons is gelukkig om beduidend te kan weggee, verlede jaar verby ’n sewesyfer-bedrag. Vier jaar gelede het ons met Ritme begin. Die Here seën ons so dat ons nie gou genoeg kan bybly nie.”

Nuwe Nuwe Testament

Joubert het meer as 60 Afrikaanse boeke, drie Engelse geestelike boeke, twee akademiese boeke in Duitsland en meer as 50 artikels in akademiese tydskrifte geskryf. Hy het in 2010 die Andrew Murray-prys gekry vir sy boek Jesus: ’n Radikale sprong.

Sowat twee jaar gelede het Stephan en Jan van der Watt, bekende nuwetestamentikus, begin om die Nuwe Testament weer te vertaal nadat hulle dit in 2002 vir Die Boodskap ook gedoen het.

“Die Here het my vir die 100 m gemaak, nie vir langafstande nie,” sê Stephan op ’n vraag by die bekendstelling van Die Nuwe Nuwe Testament (NNT) by Ritme oor hoe hy en Van der Watt die vertaling in twee jaar kon doen.

Waarom nog ’n vertaling?

Stephan lyk of hy die rede nie lekker kan verwoord nie. Dan sê hy dit was ’n “natuurlike ontwikkeling”.

“Audi stel byvoorbeeld ook elke aantal jare ’n heeltemal nuwe model bekend.”

By die Ritme-bekendstelling het hy gesê “al is daar baie restaurante keer dit nie mense om nog een oop te maak nie”.

’n Mens het nie êrens toestemming nodig om Die Bybel te vertaal nie – al moes Joubert al voor die NG Sinode gaan riemspring daaroor.

Voor in die NNT staan dit is ’n “getroue vertaling in vars Afrikaans”. Joubert sê hulle is nie in kompetisie met enige ander vertaling nie. Die besluit lê by die leser welke vertaling hy of sy wil lees.

“Ons het direk uit Grieks, die grondtaal, vertaal. Dit is dus asof byvoorbeeld Paulus in Afrikaans geskryf het.”

Stephan verwys na Romeine 16, waarin Paulus die vrou Febe in vorige vertalings ’n helper noem, maar waar sy in die Grieks eintlik beskryf is as ’n belangrike weldoener.

“ ’n Weldoener was daardie jare ’n belangrike mens. Sy was ’n vrou van statuur, ’n mens wat vereer is. Ons was gewoond aan die beskrywing van haar as iemand van ’n mindere statuur.”

Stephan wonder of mense nie anders oor die vrou in die kerk sou gedink het nie as die vertaling haar van die begin af ’n hoë statuur gegee het.

Hy verwys ook na 1 Timoteus 2:11. In die vertaling van 1983 staan “ ’n vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer”.

In die NNT is dit direk uit Grieks vertaal met: “ ’n Vrou moet in stilte by die Here leer. Sy moet dit in groot nederigheid doen.” Daar staan dus nie dat ’n vrou spesifiek in die erediens moet stilbly nie.

Volgens Stephan is vertaling “oneindig” harde werk en het hy empatie met alle vertalers.

Grieks en Hebreeus is moeilike tale en dan is daar ook groot kultuurverskille in die tale.

Leë kerke en armoede

Oor die huidige situasie van die kerke wat al hoe meer leegstroom, sê Stephan dat die Christendom onder groot druk is.

“Daar word gesê ons woon in die post-Christendom-tyd. Christene wen ook nie altyd die gewildheidskompetisie nie.

“Daar is wel ’n groter oopkoppigheid in die kerk wat meestal van die nuwe generasie kom.

“Apartheid was ’n hartseersonde, ons kan dit nie verswyg nie. Ons moet ons bekeer van rassisme.

“Die toegangsweg na die geloof was nog altyd moeilik. Jy moet jou kruis dra om deel te word, dis ’n teologie van lyding. Ons wil leef in ’n teologie van voorspoed.”

Stephan se e-kerk vang baie mense op wat nie meer kerk toe gaan nie.

Gevra wat sy hart breek, is die antwoord armoede. “Dit is vir my hartverskeurend, stukkende en arm mense wat kwaad is vir God.”

Stephan is gewoond aan kritiek, hy kry baie. Volgens hom steur hy hom net aan gewigtige kritiek, die ander laat hy verbygaan. Hy word dikwels uit die NG Kerk – waarin hy steeds ’n leraarsbevoegdheid het – daarvan beskuldig dat hy ’n draadsitter is.

“Jesus het draadsitters nodig.

[Kommentaar: Dit herinner aan wat Dante Alighieri gesê het: “Die donkerste plekke in die hel is gereserveer vir diegene wat hul neutraliteit handhaaf in tye van morele krisis.” Kyk ook Aanhalings – Om niks te doen nie.]

“Ek neem standpunt in vir Jesus, ek sê dit oral. My standpunt is Christus,” verduidelik hy.

En, sê hy, hy het nie truuks nie. Hy skryf en preek wat die Heilige Gees hom inspireer om te doen. Hy waarsku mense moet wegbly van mense wat vertel en preek oor wat die “Gees vir my gesê het”.

“Die Gees lei my deur Die Bybel. Die Here praat met my uit Die Bybel.”

Ley is ’n afgetrede joernalis en deesdae mede-eienaar van Boekeplek & kuierstoep in Pretoria.

1 thought on “Stephan Joubert lewe voluit, sonder tru-rat”

  1. Kwoteer: ““Ons het direk uit Grieks, die grondtaal, vertaal. Dit is dus asof byvoorbeeld Paulus in Afrikaans geskryf het.””

    “direk vertaal” – Wie het ‘Die Direkte Vertaling’ ‘vertaal’, asseblief?

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui