Ontnugterde SA dominees volg in Hollanders se spoor

*******

Ontnugterde SA dominees volg in Hollanders se spoor | Netwerk24

Francois Mulder

16 Julie 2022

‘Nederland is geen gelovig land meer,’ hoor Francois Mulder in gesprekke met predikante in die Lae Lande.

Met die lees van Tim du Plessis se rubriek op 26 Junie, “Hoor hier: Ek glo nie meer!”, het ek teruggedink aan my ontmoeting met die Nederlandse sanger Stef Bos in 2011. Twee jaar vantevore het Stef die album In een ander licht opgeneem. Elkeen van die 12 liedere daarin neem ’n Bybelse karakter en kyk op ’n nuwe en eietydse manier na hul lewe. Ons gesprek daaroor het oorgeloop in ’n korrespondensie waarin hy toe vermeld dat dit wat toe reeds in Suid-Afrika met die dominees gebeur – om hul geloof te verloor – reeds 20 jaar gelede afgespeel het in Nederland en ander Europese lande.

In ’n onlangse gesprek met ’n predikant van die Protestantse Kerk van Nederland in Gouda, Kees van den Berg, oor die toestand van die kerk vandag in Nederland, oor geloof en ongeloof sê hy: “De secularisatie . . . het hard toegeslagen. En nog steeds verlaten mensen de kerk.” Hy deel ook met my die ondersoek getiteld “Buiten kerk en moskee” van die Sociaal en Cultureel Planbureau van 24 Maart 2022. Hul gevolgtrekking: “Nederland is geen gelovig land meer. Atheïsten en agnosten vormen inmiddels een meerderheid onder de bevolking. Religieuze groepen zijn nu minderheden in Nederland.”

Chris Steyn, president van Healthcare Christian Fellowship International in Amsterdam, sê onlangs aan my die volgende oor die toestand van die kerk: “Die vrysinnige en liberale kerke hier word al hoe kleiner. Soos iemand gesê het: Die skape weet waar goeie kos is . . .

SuidAfrika – van volkskerk na sekulêre samelewing?

Terug in Suid-Afrika bly die vraag: Hoekom haal dominees nog die koerante? Hoekom verkoop ontnugterde-dominees­manuskripte soos Tim dit noem? Hoekom gee enigiemand nog om? Dalk omdat die Afrikaanse kerke en die woelinge in hul binneste steeds vir baie saakmaak. Dalk omdat die Christendom so diep gewortel is in Afrikaners se psige. Ook dalk omdat dit ’n toeskouersport is om met genoegdoening te sien hoe ’n eens magtige organisasie verbrokkel.

Die koms van die nuwe Suid-Afrika het ’n stadige maar konstante uittog uit Afrikaanse kerke gebring en ’n soortgelyke proses van sekularisasie as in Nederland ingelui.

Verskeie gemeentes floreer wel steeds en maak ’n merkbare positiewe verskil in hul omliggende gemeenskappe.

Die uittog was beslis nie nét negatief vir kerke nie, want, diegene wat alleenlik uit tradisie, kultuur en ander bymotiewe deel was van die “volkskerk” as klub, het die gebou ontruim met die besef dat hul CV’s nie meer ’n kerklike geur benodig nie.

Diegene wat nog deel gebly het van die kerk, glo ek, is daar uit oortuiging en nié uit tradisie of bygeloof nie.

Die verwagting is dan ten minste dat hul geestelike leiers sal voorloop met geloof, sonder pretensie of slegs ter wille van ’n salaris. Die beroep kan immers nie sonder die geloof eerlik beoefen word nie. Anders is goeie akteurskap al wat benodig word om die rol van geestelike begeleier vir ’n gemeente te vertolk.

Dan sing die ongelowige dominee saam met Freddie Mercury “I’m the Great Pretender” en “The Show Must Go On”.

Hoekom skryf dominees?

Dominees is storievertellers – God s’n via die Bybel, ons s’n en die wêreld om ons s’n via ons preke en perspektiewe. Die neerskryf is terapeuties. Wanneer ’n reis na ongeloof dan in detail geboekstaaf word, glo ek dat daar dus tog ’n sekere verligting en bevryding ervaar kan word in die openbaarmaking van ’n diep hartsgeheim.

Ons almal wil soos die antieke grotbewoners tekeninge maak teen die mure in die hoop dat iemand dit sal raaksien.

Daarom maak dit vir my sin dat dominees ook hul (on)gelooflike stories skryf en wil deel met die leserspubliek wat belangstel, soos wat die ander van ons daarteenoor ons geloof boekstaaf.

Tim verwys na sommige dominees wat eers ná aftrede hul ongeloof in boekvorm ontboesem. Maar ek het waardering vir die eerlikheid van verskeie gewese dominees wat lank voor aftrede met die moed van hul oortuiging bedank het omdat hulle hul geloof verloor het.

Geken vir dít waarvoor jy staan

Tydens my en Stef Bos se 2011-gesprek het hy my gelaat met besondere advies uit sy eie Nederduits Gereformeerde opvoeding: “Word eerder geken aan dit waarvóór jy is as waarteen.”

Petrus herinner my opnuut: “Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” (1 Pet 3:15) My hoop is Jesus Christus, vir hierdie lewe én die volgende. Ek vertrou die getuienis van al die ooggetuies van Jesus se lewe, dood en opstanding. Hulle was bereid om hul lewe op te offer vir die onwettige belydenis: “Jesus is die Here.”

Saam met Paulus sê ek: “Vir my is die lewe Christus en die sterwe wins!” (Fil. 1:21)

Maar ek druk nie my ore toe vir hulle wat hul geloof verloor het nie. Ek glo dat ons moet luister met empatie na die hartseer verhale, terwyl ons ons eie roeping nederig uitleef om soos die goeie Herder verdwaalde, stukkende mense (soos ons) terug te lei na Hom wat die weg, die waarheid en die lewe is!

Mag ons met respek luister na mekaar se eerlike reisverhale.

  • Francois Mulder is sedert 1995 predikant en is vanaf 2007 leraar in die Blanco-gemeente, George­.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui