Wie is Stephan Joubert?

Stephan Joubert is die stigter van E-kerk. Hy kom as behoudend voor, maar in werklikheid wil hy op twee stoele sit. Trouens, hy het al self voorgegee dat om op die draad te sit, ‘n deug is – kyk Draadsit is dán goed.

Hier volg ‘n paar punte oor hom:

Hy het hom by Ferdie Mulder geskaar tydens die opstandingsdebakel by Tukkies se teologiese fakulteit in 2005, maar sedertdien het hy nog nooit weer sterk standpunt ingeneem oor die dwaling in die NGK kerk nie. Trouens, hy het sommige van die dwaalleraars, soos Nelus Niemandt geprys.

Hy is nie seker of hy Genesis 1 letterlik moet lees nie – kyk Evolusie – Debat op ekerk.co.za.

Hy het geglo dat homoseks sonde is (kyk Stephan Joubert oor homoseksualiteit in 2005). Dit is egter duidelik dat hy sy standpunt op ’n stadium verander het (kyk Stephan Joubert sit steeds op die draad (9 Jan 2021))

Daar is ’n groot stuk onsekerheid oor hom.

Stephan Joubert en André BartlettDaar is ’n spreekwoord wat sê: “Aan jou vriende sal jy geken word.”

In die verlede het hy baie aanklank gevind by ontluikendes soos Rob Bell, Brian Mclaren en Leonard Sweet.

In 2013 het Stephan Joubert gereël dat Leonard Sweet in Suid-Afrika optree. Van tipiese ontluikendes is Leonard Sweet van die beteres, maar daar is tog ’n onsekerheid oor hom. Lees ‘n Beoordeling van Leonard Sweet om meer oor hom uit te vind.

In ’n persoonlike e-pos sê Stephan Joubert darem dat Sweet van Rob Bell verskil omdat hy nie ’n universalis soos Bell is nie, maar die unieke versoening van Jesus se bloed vir sondaars voorstaan. Hy verskil ook van McLaren.

Oor Nelus Niemandt se boek Nuwe drome vir nuwe werklikhede – Geloofsgemeenskappe in pas met ’n postmoderne wêreld skryf Stephan die volgende onder die opskrif: “My kop is geswaai”:

Nelus Niemandt is een van die invloedrykste denkers … Sy insigte is asemrowend … absolute juweel … kop-oopmaak materiaal … horison-verskuiwend … sonder twyfel die belangrikste boek op die Suid-Afrikaanse kerklike toneel … Nelus het goed daarin geslaag om die insigte van die mees invloedryke eietydse denkers oor kerkwees in homself te internaliseer en op vars maniere te verwoord!”

Op 10 Junie 2015 gaan Jean Oosthuizen gal af op die Juig!-tydskrif en sê die volgende op Facebook:

Dat vooraanstaande NG teoloë soos Stefan Joubert ʼn gereelde bydraer tot daardie smetterige blad is laat mens wonder waar lê so iemand se sentimente regtig.

Die feit dat Jean vir Stephan as ’n vooraanstaande teoloog sien, sê iets oor Stephan.

Op 30 Mei 2015 skryf Stephan die volgende op Nelus Niemandt se Facebook muur na aanleiding van die artikel Nelus Niemandt praat met Marida Fitzpatrick: Hy het vrede, ook oor Belhar:

Profete word altyd meer gekritiseer as wat hulle verdien en minder erkenning gegee as wat hulle toekom. Nelus jy is so iemand. Dankie vir jou dapperheid en deernis.

Net ’n maand later pleit Nelus dat die NGK sy deure moet oop gooi vir homoseksueles. Dit is duidelik dat Nelus Niemandt nie behoudende teologie beoefen nie (en ek dink hierdie is sag gestel). Kyk Wie is Nelus Niemandt. Nog nooit het Stephan Joubert hom van enige opinies van Nelus gedistansieer nie.

In 2015 reël Stephan weer dat Leonard Sweet in Suid-Afrika optree op 9 en 10 Maart 2015. Hierdie keer word Nelus Niemandt ook betrek. Die volgende advertensie verskyn op Ekerk:

Ekerk is exicited to present Leonard Sweet as our guest and speaker in South Africa. Leonard will be speaking over the course of two days with the emphasis on missionality, current ministry and social evangelism. Nelus Niemandt will also be joining us for one day as a speaker. Do not miss this opportunity!
9 March 2015: God’s new social gospel, Leonard [morning] + Nelus [afternoon], Pierre van Ryneveld Church, Centurion
10 March 2015: Giving blood – communicating the gospel, Mosaiek Church, Fairlands

Kyk ook Huis van Vader het baie wonings (Mosaïekkerk) om te sien waarvoor Mosaïekkerk staan. Is dit die mense waarmee Stephan homself mee vereenselwig?

Hy is nooit uitgesproke oor enige dwaling wat in die NG Kerk plaasvind nie. Hy maak nie sy hande daarmee vuil nie.

Hy assossieer hom glad nie met die boek Die Trojaanse Perd in die NG Kerk nie en was baie ontevrede dat sy naam in die boek genoem is. Hierdie feit bevestig waarskynlik dat die skrywers van die boek reg is oor Stephan.

Op 20 Augustus 2013 verskyn die volgende brief van Stephan Joubert in die Beeld:

Is jou naam ook op die swartlys van gevaarlike kerklikes?” vra iemand my en voeg by dat jy dit nog nie gemaak het in God se koninkryk as jou naam nie onder die top dwaalleraars verskyn op heksejag-webblaaie en blogs nie.
Eers het ek gedink dit is snaaks en toe besef daar steek ’n stuk waarheid in.
Jesus het op verskillende maniere gewaarsku teen sulke godsdienstiges wat ander probeer uithaal.
As hulle Hom Beëlsebul genoem het, dan sal dit met sy volgelinge ook gebeur.
Boonop is Jesus uitgekryt vir ’n sabbatoortreder, tempelontreiniger en iemand wat van sy kop af is.
Geen “gentle Jesus” dus nie. Om Hom te volg tot diep in die wêreld, sal meebring dat hoogheiliges jou as die vyand sien. Maar nou ja, uiteindelik tel net Een se goedkeuring.
Nee, sonder om iets terug te verwag, moet julle julle vyande liefhê en goed doen en uitleen. Dan sal daar vir julle ’n groot beloning wees: julle sal kinders van die Allerhoogste wees, omdat Hy self goed is vir die ondankbares en slegtes. – Luk. 10:35

Ek sou nie verbaas wees as www.glodiebybel.co.za as een van hierdie “heksejag-webblaaie” kwalifiseer nie. As Stephan egter nie dink dat daar nie net ’n plek vir hierdie webblaaie is nie, maar ook ’n baie groot behoefte, dan is ek bevrees dit sê al klaar baie van hom. Vir hom is vredeliewendheid baie belangriker as om die waarheid te beskerm.

In Stephan se boek Jesus, ’n radikale sprong, 2009, het sy vriend Nelus Niemandt die voorwoord geskryf. Hy gebruik onder andere die volgende mense se boeke as bronne: Nelus Niemandt, Leonard Sweet, Marcus (MJ) Borg, Brian McLaren, JD Crossan, W Bruegemann, Rob Bell en JS Spong.

Hy kan dalk redeneer dat hy nie noodwendig met alles saamstem wat hulle sê/glo nie, maar hy het homself egter nog nêrens uitgespreek teenoor hierdie mense se dwalings nie.

Matteus 12: (30)Wie nie aan my kant is nie, is teen My; en wie nie saam met My die skape bymekaarmaak nie, jaag hulle uitmekaar.

Mense wat nie help om dwaling te bestry nie is in effek teen Jesus en jaag die skape uitmekaar.

‘n Mens kry die idee dat hy almal tevrede probeer stel – hy probeer op al die stoele sit.

In Moenie uitsterf ter wille van waarheid nie (26 Nov 2022) sê hy per implikasie dat ’n mens die waarheid kan ontken of verdraai ter wille van die Evangelie.

Wat van die goeie wat Stephan doen?

Daar is baie mense wat aanklank vind by Stephan Joubert. Die vraag is nou: moet ’n mens dan nie eerder op die positiewe fokus en ’n blinde oog draai vir sy foute nie? ’n Mens kan dit vergelyk met roomys wat 1% gif bevat: Oor die 99% roomys kan jy wonderlike dinge sê. Dit is egter die 1% gif wat jou gaan doodmaak. Daarom moet jy alles weggooi.

Kyk ook

2 thoughts on “Wie is Stephan Joubert?”

  1. Geagte Dr Stephan Joubert,
    Een enkele vraag aan die Herders van die kerk. Ek is 75 jaar oud, amper 76, en was my hele lewe verbonde en betrokke aan die NG Kerk. Ons grootste betrokkenheid was by SKJA. Dit is nou behalwe leierdiaken, kategeseleier, voorsiter van die Ringsendingkomitee, 50 jaar plus op die beheerraad van die Badseloop Jeugkampterrein ens, ens. Die jeugkampe by Badseloop, Amanzimtoti, ens was besonders. Nou saamgewerk met DI RB Murry van Villieria, Ds Cassie Carstens en vele ander. Ringsendingkomittee van Eloffsdal gemeente, elke Sondag se uitreik na Wallmansthal ens.
    AS gevolg van my vrou se siekte moes ek ernstig afskaal. Nou wat nou. Ek sit met so ’n intense behoefte om met ’n leraar te kommunikeer. Persoonlik en vertroulik. Maar die Herderlike sorg van ons leraars het so verander dat jy nie die vrymoedigheid het om ’n afspraak te maak en met hom te kom gesels nie. Hulle is onbereikbaar, besig met sinodale verpligtinge, hospitaalbesoek, kinders by die skool gaan haal, sportbyeenkomste by te woon ens ens. dat ek voel ek wil hom nie pla nie. Nou wat nou gemaak? Ek het ’n baie groot probleem in die geestelike pas, maar met wie kan ek praat sonder dat ek hulle tyd mors?

  2. Ek oorweeg dit dikwels om alles te beëindig, maar ter wille van my vrou kan ek nie. Sy sal dit nie oorleef nie. Finansieël is ek bankrot agv hospitale, mediese bystandfondse en medikasie. Sy was hierdie jaar drie maal opgeneem agv oordosis pille. My twee seuns neem my kwalik dat ek nie na hulle ma kyk nie – ek pas haar nie op nie. Sy kry mediasie by vriendinne ens. Nou ja, waar gaan ek heen? Wat doen ek? Ek sit hier en skrywe in pyn in my nek wat geopereer moet word. Wie gaan na my vrou kyk en wie gaan na my kyk? Sorry, maar ek kan nie meer nie. Waar sal my hulp vandaan kom….? Ek het soveel sondes, dit help nie meer om te bid nie. Ek dink, nee, ek is seker God het my vergeet.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui