Wie is Jan van der Watt?

Prof Jan van der Watt is ’n Nuwe Testamentikus van die Universiteit van Nijmegen in Nederland. In 2006 het hy opgetree as spreker tydens ’n konferensie by NG gemeente Moreletapark waarin hy ’n behoudende standpunt gehad het. Die titel van die konferensie was “Homoseksualiteit en die Bybel“.

Volgens die artikel hieronder is dit egter baie duidelik dat hy sy standpunt oor homoseksualiteit gewysig het.

******

Wat word met ‘liefde’ bedoel? | Kerkbode

Deur Neels Jackson

25 Oktober 2016

Wat word met liefde bedoel?

Hierdie vraag is deur prof Jan van der Watt, Nuwe Testamentikus van die Universiteit van Nijmegen in Nederland, aan die Oostelike Sinode gevra aan die einde van drie sessies oor die verstaan van die Bybel wat deur hom gelei is.

Van der Watt het gesê soos hy die debat oor verhoudinge tussen mense van dieselfde geslag verstaan, is dit een van die verskilpunte.

Albei groepe doen ’n beroep op die Bybel en albei groepe beroep hulle ook op die liefde. Dit sou nie reg wees om te sê dat die een groep die Bybel opsy skuif of dat die ander groep liefdeloos is nie.

Hulle hanteer die Bybel en die liefde egter verskillend.

Van der Watt het gesê diegene wat dink homoseksualiteit is normaal, sê hulle moet met liefde in die geloofsgemeenskap opgeneem word.

Hierteenoor sê die ander groep dat as die Bybeltekste sê homoseksualiteit is verkeerd, dan roep dit gelowiges op om dié probleem uit te wys en oplossings daarvoor te soek.

Dit is soos wanneer daar ’n medegelowige is wat baie vloek. Ander gelowiges moet dan daardie persoon help om aandag te gee aan sy probleem. “Dit is nie liefdeloos nie,” het Van der Watt gesê.

Wat word met liefde bedoel? Is dit onvoorwaardelike aanvaarding, wou Van der Watt weet.

Hy het sinodegangers aangemoedig om te gaan kyk wat die Bybel oor liefde sê. Volgens Matteus 18 is tug ook ’n vorm van liefde.

In sy aanbieding het Van der Watt verskeie aspekte van die verstaan van die Bybel en die toepassing daarvan behandel.

Hy het byvoorbeeld gesê dat daar ’n benadering is wat alles in die Bybel direk op vandag wil toepas. “As hulle toe kopdoeke gedra het, moet ons dit vandag ook doen.”

Die NG Kerk volg nie daardie benadering nie. Hy het byvoorbeeld daarop gewys dat die gedeeltes oor 1 Korintiërs oor vroue wat hulle hoofde moet bedek, ’n reëling is in terme van die destydse kultuur en dat dit daarom nie vandag direk so toegepas word nie.

Van der Watt het ook gepraat oor die verhouding tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament. Hy het gesê Jesus is die sentrale boodskap van die Nuwe Testament en die filter waardeur die Ou Testament gelees moet word.

Tussen die Ou Testament en die Nuwe Testament is daar dinge wat verander en ander dinge wat dieselfde bly. So word die verbod op die eet van varkvleis nie in die Nuwe Testament volgehou nie, maar die negatiewe beoordeling van seks met dieselfde geslag wel.

Oor die kerklike gesprek hieroor het Van der Watt gesê daar is een groep wat sê homoseksualiteit is nie normaal nie.

Die ander groep het kom sê: “Weet julle wat julle doen? Is julle seker dit is dieselfde ding?

Hierop is die reaksie: Goeie vraag! Kom ons gaan kyk weer.

Van der Watt het hierdie soort proses as ’n sirkel of spiraal bestempel. As die proses reg verloop en die verskillende groepe na mekaar luister, is dit een van openheid en is dit goed. As een of albei partye egter halstarrig is, is dit ’n probleem.

Hy het gesê in die kerk mag daar nooit gesê word dat die twee groepe mekaar nooit gaan vind nie. Die gesprek moet voortgaan.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui