Stephan Joubert sit steeds op die draad

Op 9 Januarie 2021 het Stephan Joubert ’n plasing op Facebook gemaak waarin hy sê dat Christene moet waak daarteen om altyd te wil kant kies oor alle kwessies. In die gesprek wat gevolg het, het Chris Visser hom gevra of ’n mens dan kant moet kies oor die feit dat die NG Kerk ruimte gemaak het vir homoseksualiteit. Soos gewoonlik het Stephan weereens die geleentheid van die hand gewys om standpunt in te neem teen homoseksualiteit.

Stephan het wel sterk keuse-standpunte wat hy nie skroom om te stel nie, byvoorbeeld oor die samesweringsteorieë in omloop oor die Covid-19 virus, entstowwe, die merk van die dier en 666. Hier is hy bereid om mense in die bek te ruk, maar wanneer dit by geloofskwessies soos homoseksualiteit kom, dan verkies hy om nie standpunt in te neem nie.

Op 19 Januarie 2021 het ek, Daniel Louw, aan Stephan ‘n persoonlike epos gestuur waarin ek gevra het hoekom hy nie vir Chris op Facebook wou antwoord nie en ek wou by hom bevestig of hy sy standpunt oor homoseksualiteit verander het, maar hy het my nie terug geantwoord nie. Kyk Stephan Joubert oor homoseksualiteit in 2005.

*******

Stephan Joubert (via Facebook)

9 Januarie 2021

Vandag se Goeie Nuus, Beeld: Oppas vir 2021 se kamp-gevegte.

Hierdie jaar gaan meer as ooit gekenmerk word deur groepe wat teenoor mekaar staan. Vanaf die kerk tot by die werk gaan mense in teenoorstaande kampe wees. Vanjaar moet jy of vír die inenting teen Covid-19 wees, of téén dit. Jy moet of vír diegene wees wat positief is oor SGV, of téén hulle. Jy moet vír Trump, Geloftedag, Kersfeesviering, aardverwarming, en sosiale media wees. Of téén dit alles! Jy moet glo alle groot korporasies, regerings, kerke, mediese navorsinginstitute is deel van ’n nuwe wêreldorde wat die mensdom eens en vir altyd wil beheer. Of jy moet daarteen wees. Diegene wat nie in 2021 sterk kant kies VIR of TEEN sulke groepe se idees nie, gaan as uitverkopers uitgekryt word.

Hoe gemaak? Wel, omring jouself in 2021 met wyse mense wie se menings die toets van integriteit, waarheid, betroubaarheid en deeglikheid geslaag het. Voordat jy enige stem oor die Bybel agterna-hardloop, luister jy eers na mense wat deur God toegerus is om die Skrif reg en deurdag te verklaar.
Voordat jy enige internet-opinies oor inentings, wêreldordes en kie glo, luister jy eers na gesaghebbende Christen-wetenskaplikes. Moenie alles vir soetkoek sluk nie. Moenie in elke geveg ingesleep word nie. Jy hoef ook nie elke slag ’n kamp-vegter of kant-kieser te wees nie.

Jy leef op verantwoordelike maniere die Here se pad, al vat dit jou na daardie vergete middelgrond toe. Dink vir jouself, maar doen dit met nederigheid. Onthou God het sy Gees gegee om ons in die waarheid te lei. Hy doen dit ook in 2021.

[Kommentaar: Vandag is daar baie opinies oor wat die waarheid is, maar self wil hy homself glad nie uitspreek wat volgens hom die waarheid is nie.]

Chris Visser

Dankie Stephan, maar wat van die ander gevaar naamlik om net altyd neutral te bly, draadsitter te wees, en alles maar net te “going with the flow”? Is daar dan nie ook ’n verantwoordelikheid om teen sonde te kies en jou daaroor uit te spreek nie, al is dit die gewilde pad wat deur sogenaamde wyse mense wat as leiers veronderstel is integriteit, waarheid en betroubaarheid beet te het, mense wat deur God toegerus is om die Skrif reg en deurdag te verklaar – dit die pad is wat hulle aanwys!

Help asseblief ook hierin. Om in 2021 te onderskei water “wyse manne” om te volg, dit gaan moeiliker as ooit wees.

[Kommentaar: Presies! Hoe bepaal mens wie is wys en wie nie, want almal beweer dat hulle die gesag van die Bybel aanvaar.]

Mag ek dan maar een voorbeeld op die naam noem… Die Algemene Sinode van die NG Kerk se 2019 besluite wat selfdegeslag-huwelike (sgv) kondoneer het – dit is besig om NGK lidmate, leraars en gemeentes in twee onversoenbare kampe te verdeel. Hoe moet ek dan maak?

Jy sê ek moet nie kampvegter of kant-kieser wees nie, maar nederig na die “vergete middelgrond” beweeg. Waar is dit? En as ek soek na God se Gees om my in die waarheid te lei volgens sy Woord en Hy lei my teen die heersende stroom in; wat dan?

Laastens, as daardie “wyse manne” wat ek moet volg, my nie oortuig dat hulle self steeds volgens hierdie Woord lei nie, wat dan? Of ander van die “wyse manne” na wie ek opkyk vir leiding, nie die moed het om hulle standpunt self teen die stroom in uit te spel nie, wat dan?

Christa Steyn Marais

Chris Visser, ek sal ook graag wil weet wat Stephan se antwoord op jou brief is. Ek wonder al lankal oor presies dieselfde vrae. Antwoord my asb.

Christa Steyn Marais

Stephan Joubert, ek wonder ook al lankal en wil ook graag ’n antwoord op al Chris Visser se vrae hê!!!!

Stephan Joubert

Chris Visser, ek dink met respek die term draadsitter is juis een van die terme wat baie mense gebruik wat VIR of TEEN iets is om mense uit te haal wat nie in hulle bokskryt op hulle terme wil veg nie. Dit geld ook vir leerstellige gevegte. Kerke het gekies dat sinodes die battleground word. As jy nie daar veg of praat nie is jy in baie se oë ‘n uitverkoper. Dis asof ons verbeelding gekaap is deur die struktuur en sulke formele prosesse waar waarheid uitgeveg moet word. In die NT word dit altyd relasioneel gedoen, nie struktureel nie. Dus hoef ons verbeelding en energie nie opgebruik te word deur gesprekke en stryde wat ander veg nie. Waarheid word heel eerste geleef en interaktief gedeel. Ons staan op vir Christus se waarheid deur dit uit te leef. En deur reg rekenskap van ons geloof af te Iê.

Chris Visser

Stephan Joubert, met respek, maar dis nie “gevegte wat ander veg” nie. Dis ons eie NGK leierskap wat ek as lid moet onderskryf, en as ek nie kan nie? Die “waarheid wat uitgeleef word” is op die grond nou baie verdelend. Ek is jammer, maar jy skram weg om my eerlik te antwoord. Ek ervaar dat jy duidelik ook nie ’n antwoord wil gee wat jou gaan komprominteer nie. Dis die rede waarom ek die Doleer pad gekies het.

Stephan Joubert

Chris Visser, dis presies wat ek in Beeld geskryf het. As jy nie vir of teen is nie, dan sit jy blykbaar die drade vol. Dan kompromiteer jy. Want die geestelike bokskryt is klaar gebou. En die reëls van die geveg is in sement gegiet. In daardie kryt is net twee opsies beskikbaar vir al die gehardes : vir of teen. Anders verkoop jy uit volgens die “virre” en die “teens”. As jy nie standpunt inneem ooreenkomstig die vrae wat daar gevra word nie, is jy op die draad. Wel die feit is dat dit nie in my wêreld waar is nie. Ek deel nie daardie keuses by voorbaat nie, en dra dus ook nie die verwyte wat my kant toe kom in my hart rond nie. Ek glo God se ewige waarheid maak net relasioneel sin. Ek bely dit openlik en leef dit openlik uit. ‘n Wyle gelede het iemand ook vir my gesê ek wil nie standpunt inneem nie. Toe antwoord ek dat dit vir myself baie interresant is om dit te hoor, want terwyl hy en ’n klomp mense op daardie dag vergader het om oor sulke vrae te beraadslaag, was ekself besig om in ‘n teologiese lesingsaal vir die waarheid van Christus my kant vol te staan teenoor oorsese akademici wat nie meer glo nie. Maar omdat ek nie speel volgens die spelreëls wat die hardebaard Vir of Teen ouens op my afforseer nie, tel dit nie as opstaan vir die Here in hulle boekies nie. Daarom is ek OK met die draadsit stereotipe solank ek betrokke kan wees tussen daardie mense wat Christus liefhet.

Ons kan ons blou veg en stry en verklaar sonder dat die wêreld een sentimeter Christuswaarts skuif. Ons kan die beste, suiwerste leerstukke hê terwyl ons kerke krimp. Die grootste tragedie is so by so dat die media die enigste wenners is in hierdie kerklike boksgeveg wat vir of teen uitspeel. Ek gun mense hul stryde hier en probeer dit nie as ligsinnig afmaak nie. Maar die evangelie wat ek glo roep my op om saam met alle mense lewe te doen; swart en wit; ryk en arm; gay en straight; gelowig en ongelowig- en om vir hulle almal lief te wees. En om die Gees van God te vertrou om in elkeen en ook in myself te werk.

[Kommentaar: Natuurlik is die tweedelaaste sin korrek. My ervaring is egter dat dit die tipe taal is van mense wat nie glo dat homoseksualiteit sonde is nie. As jy hierdie wil sê, moet jy ook bysê dat homoseksualiteit sonde is.]

Nic Grobler

Dankie Stephan, ons hoef nie altyd ’n “of” – mens te wees nie. Of die een of die ander nie. Jy kan ’n ook mens wees, “ook” die een en ook die ander.

Stephan Joubert

Nic Grobler, so waar

Gerhard Van Tonder

Stephan Joubert, ons moet maar met omsigtigheid omgaan en argumente vermy, weet dit is soms moeilik, maar stilbly is ook n antwoord. Ek kan my maar net so ooplaat vir insprake as wat ek toelaat. Vermy die “ek het jou mos gesé tipe” en toets wat jy hoor of lees, beste van tye is dit soos antisipeer, dit gebeur 99 % van die tyd nooit nie. En laat God in beheer en laat Hy jou lei.

Stephan Joubert

Gerhard Van Tonder, inderdaad. Ek sê vir myself ek kies die heuwels waarop ek bereid is om te sneuwel.

[Kommentaar: Dus, besluit Stephan self waaroor hy standpunt sal inneem? As dit nie ’n openlike erkenning is dat hy nie in die openbaar standpunt wil inneem teen homoseksualiteit nie, dan weet ek nie wat is nie.]

Ria Tolken

Ek stem volkome saam met jou …, totaal oortuig dat jy as Christelike leier nou my geestelike leier is, ek is moeg vir al die verkeerde informasie wat aan my oorgedra word… ek was jare in ‘n kerk wat in die nonsens glo… ek is so bitter teleurstel dat ek letterlik gebreinspoel was (agy hulle eie onkunde) …so graag wil Ek ander die lig wys… maar daar is niemand soos die wat nie wil hoor of sien nie… nou gaan Ek myself vrymaak van daai negatiewe poste … ek gaan myself net voed met die positiewe. Die “Fake” onBybelse nuus maak mens klaar. Ek dink ons wat die Waarheid ken… moet die vrede ervaar en geniet.

Stephan Joubert

Ria Tolken, ja ons moet almal saam in nederigheid ons Heer se waarheid soek. Ons vind dit nie in onsself nie maar by Hom

Andries Esterhuyse

Waar is die sogenaamde gesaghebbende christen-wetenskaplikes? Hulle wat saam met die hoofstroom God se skepping manupileer met genetiese verander.

Stephan Joubert

Andries Esterhuyse, dit is gladnie feitelik korrek om almal so te stereotipeer nie. Lees gerus eers die wéreld se grootste genetikus Francis Collins se boek: The language of God of kyk na die gesprek met die genetikus Ena Bromley op ekerk se webblad. Dan is hierdie stereotipe daarmee heen.

[Kommentaar: Francis Collins is ’n teïstiese evolusionis. Vir kommentaar oor sy boek, kyk HIER en HIER.]

Albert Cruywagen

Die finale en uiteindelike menslike orgaan wat enige standpunt inneem, is die mens se brein….. en dis gelaai met data soos die mens dit in sy brein inpak….. en dit hang nou saam met elke mens se “identiteit….. soos gevorm en beinvloed deur die ouerhuis, opvoeding, peer groups, leefkringe, ens.

Stephan Joubert

Albert Cruywagen, dankie

Conrad Dinkelmann

Jou agterent kan nogal seer raak as jy ’n passiewe draadsitter is, veral as die draad ’n doringdraad is…dalk moet ek meer ’n brugbouer wees…baie meer pro-aktief en konstruktief…

Hannes En Brianda Barnard

Selfs ‘n brugbouer is kieskeurig oor die brue wat hy bou. Hy bou nie ‘n brug oor elke draad nie. Dit is ‘n wysheid om te weet watter brug om te bou en wanneer dit beter is om nie ‘n opinie te he nie en wanneer om jou opinie uit te spreek of nie te deel nie. Kom seker met ouderdom…

3 thoughts on “Stephan Joubert sit steeds op die draad”

  1. As ek Stephan was, sou ek uiters bekommerd wees dat Albert Cruywagen met my saamstem! Alarmklokkies…

  2. By al die skrywes hierbo, sien ek nêrens dat die Woord, of Jesus en Paulus se uitsprake enigsins genoem word nie. En waar kom die Heilige Gees in wat ons “in die hele waarheid” sal lei?
    Ek sien wel boaan staan: glodiebybel.co.za. Glo ons nog die Bybel of moet ons nou maar na die “wyses” luister? Miskien moet almal maar weer 1 Korinthiërs 1:17-31 gaan lees. Of is die “wyses” meer betroubaar as die Woord van God? Ek vra maar net!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui