Mistastings oor skeppingsleer 1: Die kwalifikasie-kwessie

Kyk ook:

Iets om op te let: Die doel van hierdie artikel in besonder en die reeks in geheel is nie om lesers te probeer oortuig dat die jong aarde skeppingsleer (hierna skeppingsleer) die regte siening oor die oorsprong van die wêreld is nie, maar bloot om mistastings oor die skeppingsleer wat vrylik in die openbaar versprei word reg te stel. ’n Beginsel wat ek ook net hier op die tafel wil plaas is dat wanneer daar van die skeppingsleer gepraat word en sienings en opinies van die skeppingsleer, dan is dit die gemeenskaplike siening van die hoofstroom skeppingsleer organisasies wat geld. Hierdie organisasies is Creation Ministries International, Answers in Genesis en Institute for Creation Research. Ek argumenteer ook glad nie vir die meriete van die skeppingsleer nie, selfs al hang ek dit onbeskaamd aan. Ek probeer die artikels deeglik deurgaan om seker te maak dat dit nie die geval is nie, maar indien dit deurglip is dit onbedoeld en vra ek byvoorbaat om verskoning.

Ek wil dit graag herhaal in die belang van helderheid. Die doel van hierdie reeks is om mistastings (verkeerde inligting en doelbewuste leuens wat versprei word) rakende die skeppingsleer reg te stel. Hoop dit is duidelik.

Meeste van die mistastings wat hierdie reeks gaan aanspreek is tot ’n mindere of meerdere mate vervat in ’n kommentaardokument wat ek met die hulp van Daniel Louw en twee ander outeurs die lig laat sien het. Hierdie artikel is ook geplaas onder my eie naam op Woes.co.za onder “Rubrieke”.

Die eerste mistasting wat ons sommer vinnig uit die weg wil ruim, handel oor die kwalifikasies van die kenners wat skeppingsleer organisasies inspan in artikels, studies en dies meer.

In “debatte” waar die onderwerp oor die skeppingsleer geopper word, of artikels en bloginskrywings daarteen, sal mens gereeld opmerkings sien soos “regte wetenskaplikes” wanneer daar van aanhangers van evolusie gepraat word. Hierdie is ’n klassieke voorbeeld van die “No True Scotsman” misleiding. Waarop hierdie neerkom is dat, volgens die argumenteerder, geen regte wetenskaplike homself sal bemoei met die skeppingsleer nie en dat wetenskaplikes wat dit wel doen nie regte wetenskaplikes is nie.

’n Meer venynige vorm van hierdie misleiding lui as volg: “En, anders as die “creation science”-ringkoppe, het so-en-so ’n regte doktorsgraad verwerf.” Hierdie opmerking, asook die eerste een, is ook glad nie beperk tot self-verklaarde ateïste of agnostici nie. Die ironie hierin is dat geeneen van die argumenteerders wat ek tot nog toe teëgekom het in openbare fora oor soortgelyke of eers naastenby soortgelyke kwalifikasies beskik nie, maar steeds bitter neerhalend praat van die werk wat mense met baie hoër kwalifikasies as hulself doen. En natuurlik van die mense self ook. Een plaaslike teïstiese evolusionis het selfs so ver gegaan om die hoogs-gekwalifiseerde mense wat as kenners ingespan word deur skeppingsleer organisasies, liggelowig te noem. Hoekom is ons as mense so lief daarvoor om iemand wat anders as ons dink te beledig en verkleineer?

Wanneer daar vir stawing van bogenoemde kwalifikasie-stellings gevra word, word daar bietjie kleigetrap, aangesien dit verspot maklik is om diegene wat verskil van jou opinie/geloof te beledig, verkleineer en sleg te sê, maar iets heeltemal anders om feite op die tafel te plaas. Daar word selfs gereeld gepoog om die bewyslas terug op die beskuldigde te plaas. Wanneer vir bewyse gevra word kan die volgende tipe stelling verwag word: “Die “doktors” se grade kom meestal van Amerikaanse Bybelskole af wat nie geakkrediteer is nie”. Die vraag is nou of hierdie stelling geldig is al dan nie. Wel, ja en nee.

Die stelling is gedeeltelik geldig, aangesien daar wel prominente skeppingsleerders is wat hul kwalifikasies, asook doktorsgrade, verwerf het by nie-geakkrediteerde Bybelskole. ’n Sprekende voorbeeld hiervan is Kent Hovind. Hy is ongelukkig een van die meer bekende en prominente voorstaanders vir die skeppingsleer daarbuite, grotendeels vanweë die feit dat sy DVD-reeks gratis verspreibaar is. Dit is weens blootstelling aan sy DVD-reeks – wat ek verskeie kere al deurgekyk het – dat ek in die onderwerp begin belangstel het. Hy is ’n goeie spreker wat sy gehoor geboei kan hou en jou genoeg laat wonder dat jy verder gaan oplees oor die onderwerp. Een van die probleme wat ek (in my persoonlike hoedanigheid en opinie) wel met sy werk het is dat hy geneig is om plek-plek van uitgediende inligting gebruik te maak (kyk bv Arguments we think creationists should NOT use, van CMI) en ook geneig is om te verval in samesweringsteorieë (conspiracy theories in engels) oor die Nuwe Wêreld Orde en dies meer. Daar is ook ’n mate van konflik tussen hom en die hoofstroom skeppingsleer organisasies aangesien hy halsstarrig bly vasklou aan sekere stellings wat sy punte pas, maar wat lankal reeds verkeerd bewys is deur beide sekulêre wetenskap, asook die skeppingsleer. Sy teenwoordigheid is egter besig om te taan aangesien hy in die tronk is vir finansiële misdrywe of iets dergeliks, wat natuurlik genadeloos deur evolusioniste (ateïsties en teïsties albei) uitgebuit word as skietgoed teen die skeppingsleer. Kent Hovind se voorbeeld as iemand met twyfelagtige of nie-erkende kwalifikasies word egter nou gebruik om alle praktiserende skeppingsleerders mee swart te smeer. Dit is ’n haastige veralgemening, wat ook ’n vorm van misleidende argumentering is.

Die stelling is ook grotendeels ongeldig, want in die bovermelde kommentaardokument by kommentaar 41 word daar ’n lys van 19 (negentien) mense gegee – almal met PhD’s by erkende universiteite – wat almal praktiserende skeppingsleerders is en gereeld bydraes lewer vir die hoofstroom skeppingsleer organisasies boontoe gelys. En dis nie eens al die mense met PhD’s wat bydraes lewer vir hierdie organisasies nie. Daar is nog vele meer gelys op die instansies se webwerwe (kyk hier en hier), asook heelwat bydraers wat tegnies gekwalifiseerd is, maar nie oor PhD’s beskik nie. Hierdie paragraaf mag dalk op die oog af lyk soos die sogenaamde “Appeal to Authority” misleiding. Een groot verskil is dat ek nie op die lys van PhD wetenskaplikes se argumente staat maak in hierdie skryfstuk nie. Hulle word bloot gelys as bewys dat die mistasting rondom kwalifikasies grotendeels verkeerd is en dus vir alle praktiese doeleindes ongegrond en die verkondiging daarvan kwaadwillig is.

Een van die laaste jakkalsdraaie volg wanneer hierdie lyste vir die argumenteerder gegee word. Siende dat daar nou konkrete bewyse op die tafel is kan nie een van die vorige misleidings met ’n skoon gewete (met skoon natuurlik ’n relatiewe begrip) meer gebruik word nie en dan kry mens die systap waar daar aanspraak gemaak word dat die enkelinge wat wel werklike wetenskaplike opleiding het (’n laaste desperate poging om weer die “No True Scotsman” misleiding rond te swaai), se uitsprake oor terreine handel waarop hulle geen of min kennis het.

Hierdie is ’n interessante stelling, aangesien daar kernfisici is wat oor radiometriese datering skryf (waar die verval van radioaktiewe elemente sentraal is), sterrekundiges wat oor kosmologie skryf, chemici wat oor sake soos chiraliteit skryf en dies meer. Enigiemand wat bereid is om ’n paar minute te spandeer op ’n webwerf van een van die organisasies hierbo gelys sal sien dat hierdie argumente sonder meriete is. Daar is gevalle waar die onderwerp onder bespreking in ’n artikel nie in lyn is met die formele kwalifikasies van die outeur nie, maar dit word gewoonlik onderwerp aan die portuur-evaluasie proses.

’n Laaste gedagte hieroor. Daar is min mense wie se loopbane absoluut belyn is met wat hulle formeel afgestudeer het. As voorbeeld, ek is ’n opgeleide chemiese ingenieur (UP), maar ek werk as omgewingspesialis waar ek boonop ondervinding opgedoen het in die omgewingsreg en in die rehabilitasie van kontaminasie, beide ondergronds en bogronds. Is my tegniese skryfwerk nou beperk tot artikels oor chemiese ingenieursverwante onderwerpe? ’n Verdere voorbeeld. Ek het twee kollegas met PhD’s in chemie, maar wat as projekbestuurders werk. Het hulle enige gesag wanneer hulle oor projekbestuur skryf? Die een projekbestuurder het boonop 5 jaar se ondervinding as omgewingspesialis. Is sy steeds beperk tot slegs chemie-verwante aangeleenthede? Kwalifikasies vertel nie die hele storie nie. Ondervinding, tesame met kwalifikasies, vertel die hele storie.

Hoekom wil mense wat so passievol vir evolusie argumenteer hierdie argument gebruik waar die man gespeel word en nie die bal nie? Dit is ’n klassieke voorbeeld van die Argumentum ad Hominem misleiding. Is die feite dan nie vanselfsprekend nie? Wat maak dit saak watter kwalifikasies iemand het of nie het nie? Argumenteer die feite en los die man, selfs al stem jy nie met hom saam nie! Hier praat ek uit ondervinding. My karakter is al uitmekaar uit getrek op die blog van ’n teïstiese evolusionis omdat ek van hom verskil en hom op feitefoute in sy skryfwerk gewys het. Maak ook seker van inligting wanneer jy iemand wil beskuldig van iets. Om argumente op hoorsê te baseer, sonder om dit self te bevestig, is lui.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui