Mistastings oor skeppingsleer 3: Hulle glo in ruimtestories soos reptielwesens en Nibiru (Nemesis)

Kyk ook:

Iets om op te let: Die doel van hierdie artikel in besonder en die reeks in geheel is nie om lesers te probeer oortuig dat die jong aarde skeppingsleer (hierna skeppingsleer) die regte siening oor die oorsprong van die wêreld is nie, maar bloot om mistastings oor die skeppingsleer, wat vrylik en selfs doelbewus in die openbaar versprei word, reg te stel. Soos in vorige skrywes wanneer daar van die skeppingsleer gepraat word en sienings en opinies van die skeppingsleer, dan is dit die gemeenskaplike siening van die hoofstroom skeppingsleer organisasies wat geld. Ek argumenteer nie vir die meriete van die skeppingsleer nie, selfs al hang ek dit onbeskaamd aan. Ek probeer die artikels deeglik deurgaan om seker te maak dit is nie die geval nie, maar indien dit deurglip is dit onbedoeld en vra ek byvoorbaat om verskoning.

Meeste van die mistastings wat hierdie reeks gaan aanspreek is tot ’n mindere of meerdere mate vervat in ’n kommentaardokument wat ek met die hulp van drie ander outeurs die lig laat sien het om die verdraaide en foutiewe skrywes aangaande die skeppingsleer van ’n teïstiese evolusionis van Bloemfontein reg te stel.

Die derde mistasting wat aangespreek word handel oor die beskuldiging dat skeppingsleerders glo in buite-ruimtelike wesens (wat blykbaar boonop nog tussen ons woon ook) soos die Anunnaki en in die geheimsinnige Planeet X oftewel Nibiru, ook bekend as Nemesis in sekere kringe. Dit is ten beste ’n strooipop argument, maar eintlik baie nader aan ’n strooidemoon. ’n Strooidemoon is ’n meer ekstreme weergawe van die strooipop waar die opponent se posisie nie alleen verkeerd voorgestel word nie, maar as geheel en al belaglik voorgestel word. Dit is onder geen omstandighede die waarheid nie, maar die skade word aangerig omdat dit vereis dat die opponent eers moet vure doodslaan voordat daar by die eintlike debat uitgekom kan word. Strooipoppe en strooidemone is tekenend van ’n argumenteerder met ’n baie swak fondament vir sy argumente of ’n vyandige agenda teen sy “opponent”.

Wat werklik kommerwekkend is, is dat hierdie spesifieke beskuldiging uitsluitlik opgemerk is in die skrywes van mede-Christene wat antagonisties is jeens die skeppingsleer en nie, soos mens eerder sou verwag, van nie-Christene nie.

Hierdie argument is die eerste keer raakgeloop in ’n bundel wat geskryf is teen die skeppingsleer (ten spyte van daardie outeur se protestasies dat hy “hoogstens toevallig” daarna verwys), iets wat hy kreasionisme noem. In ’n bespreking oor reuse grafiese uitlegte op die grond in die Amerikas, soos onder meer die bekende Nazca-lyne, word daar gespekuleer oor die moontlikheid dat hierdie antieke beskawings in staat was om warmlugballonne te kon bou. Die betrokke outeur kom toe met die volgende juweel na vore (my kommentaar in blokhakies):

“Maar voor dit [die moontlikheid dat hierdie beskawings warmlugballonne kon vervaardig en benut] uitgepluis was is kortpad na ’n verklaring van ruimteskepe gesoek. Talle bewerings en “bewyse” vir besoeke uit die ruimte word ook geopper. Die teelaarde, so lyk dit, van jong aarde kreasioniste.”

Dit is werklik onrusbarend en verstommend hoe iemand tot daardie gevolgtrekking kon kom met al die inligting wat vrylik op die internet beskikbaar is rakende die verskynsels, asook materiaal beskikbaar op skeppingsleer organisasies se eie webwerwe.

As die bespiegeling daar gestaak was, kon mens dit dalk nog oorgesien het, maar daar word verder uitgevaar teen Christelike fundamentalisme, wat per definisie die jong aarde skeppingsleer insluit.

“Die mens het ’n ingebore drang na sekerheid. In vandag se wêreld verander dinge vinnig, dat omtrent al wat seker is, is dat dit gaan verander. Met die teologie wat homself skoorvoetend teen die fundamentalisme handhaaf, bied die fundamentalisme ’n kits-sekerheid. En dan, op laas. Kyk ’n mens na dit wat mense bereid is om te glo, en selfs heftig daarvoor sal opkom, is nog een of twee vreemde goed om in te glo nie vreemd nie.”

Twee aspekte word dan gelys. Hulle sal individueel aangespreek word hieronder.

Planeet X, ook bekend as Nibiru en/of Nemesis

Hier word skeppingsleerders daarvan beskuldig dat hulle glo in ’n vreemde, donker planeet wat elke klomp duisend jaar in ons geweste verby beweeg en wat nie deel uitmaak van die algemeen erkende lysie planete van ons sonnestelsel nie. Daar word geskryf:

“Die planeet X, die vreemde planeet wat duisende jare deur die donker ruimtes sweef omdat dit om twee sonne, waarvan ons son een is, wentel. En al sal die fisika toe oë sê dis twak, sal mense dit glo omdat hulle dit wil glo, en toe dit laas, na honderde jare in ons sonnestelsel by ons aandoen, is dit toe in ander dimensie hier verby dat ons dit nie kon sien nie.”

Oor die motief vir die beskuldiging kan daar net gespekuleer word, aangesien daar absoluut geen rede is vir skeppingsleerders is om aan buite-ruimtelike wesens in hierdie konteks te glo nie. Skeppingsleerders glo dat die enigste lewende Drie-enige God die heelal en meer spesifiek die Aarde geskep het soos dit geskryf staan in die Bybel, veral in die eerste hoofstukke van Genesis. Om buite-ruimtelike wesens en donker planete hierby te betrek sal hierdie boodskap kromtrek en selfs vernietig, eerder as aanvul. As mens gaan kyk na wie in hierdie donker planeet en ook in panspermia glo, wat insluit dat lewe op Aarde “gesaai” is vanuit die buitenste ruim, dan is dit veel eerder nie-Christene wat daaraan glo. Dit blyk al hoe meer dat die rede vir hierdie strooidemoon is om die geloofwaardigheid van skeppingsleerders af te breek.

Om hierdie aan te spreek sal daar eerstens gekyk word na wat te vinde is op die webwerwe van die hoofstroom skeppingsleer organisasies oor hierdie onderwerpe en dan sal daar gekyk word na wie eintlik hierin glo en waar die stories eintlik vandaan kom. Indien my verduideliking onvoldoende is, is die leser welkom om ’n soortgelyke oefening te doen. Dit behoort nie beduidende tyd te neem met ’n behoorlik benutte soekenjin nie.

Hierdie is ook gedeeltelik aangespreek in die bovermelde kommentaardokument onder kommentaar 65. In terme van soektogte op die webwerwe (soektogte gedoen tussen 9 en 15 April 2011):

  • Institute for Creation Research (ICR) lewer geen resultate op vir ’n soektog met die soekterme “planet x” (in aanhalingstekens vir ’n spesifieke soektog), “nibiru” of “nemesis” nie.
  • Answers in Genesis (AiG) lewer geen resultate op vir ’n soektog met die soekterme “planet x” (in aanhalingstekens vir ’n spesifieke soektog) of “nibiru” nie. Nemesis het ’n relevante trefslag.
  • Creation Ministries International (CMI) lewer geen resultate op vir ’n soektog met die soekterm “nibiru” nie. Beide Nemesis, asook Planet X het relevante trefslae wat hieronder bespreek word.

CMI en AiG het ’n artikel getiteld The extinction of the dinosaurs wat op beide webwerwe voorkom waarin daar vermelding van Nemesis gemaak word in die konteks van hierdie bespreking. In die artikel word daar genoem dat een van die hipoteses vir die sogenaamde siklus van massa uitwissings in die aarde se geskiedenis verband kan hou met Nemesis se benaderde 26 miljoen jaar wentelperiode, soos aanvanklik in 1984 voorgestel deur Richard A Muller. Hulle (die CMI/AiG outeurs) skryf spesifiek: “Nemesis has of course never been observed, neither has the Oort cloud”. Die verwysings in die artikel lei terug na ’n aanbieding wat gemaak is voor die Amerikaanse Geologiese Vereniging, wat beswaarlik gesien kan word as vriendelik teenoor die skeppingsleer, asook ’n 1989 boek getiteld Mass Extinctions: Processes and Evidence, ook nie ’n boek wat naastenby handel oor die skeppingsleer nie.

Daar moet wel daarop gelet word dat, alhoewel die name by tye plaasvervangend gebruik word, is Nibiru en Nemesis twee heel verskillende konsepte. Nemesis sal byvoorbeeld glad nie naby die Aarde kom nie, maar eerder die Aarde bedreig deur ’n komeet- en meteoriet bombardement van voorwerpe wat vanuit die gepostuleerde Oortwolk geslinger word, terwyl Nibiru wel die Aarde moontlik kan tref. Die wentelbaanperiodes verskil ook met etlike ordegroottes. Let wel: net omdat ek hierdie “feite” rakende Nemesis en Nibiru op die tafel plaas, beteken nie dat ek die idees enigsins ondersteun nie.

CMI het ’n boekresensie getiteld Book review: The Great Dinosaur Extinction Controversy waarin daar ook vermelding gemaak word van Nemesis. Die aanhaling wat CMI se posisie skitterend opsom lui as volg: “This completely imaginary star, also called ‘Nemesis’ after the Greek goddess of vengeance, made it to the front cover of Time, and even into Reader’s Digest”.

Daar is ’n paar verwysings na Planeet X (“planet x” as soekterm) in artikels op CMI se webwerf, maar behalwe vir een uitsondering dui almal op die onontdekte planeet wat klaarblyklik anderkant Pluto wentel, soos onder meer voorspel deur Percival Lowell (’n bekende sterrekundige en wiskundige van die laat 19e eeu en vroeë 20e eeu), en besprekings daarvan. Dit is ook redelik duidelik dat CMI nie veel waarde heg aan sulke voorspellings nie, siende dat alle aanduidings daarop dui dat ’n planeet van die grootte en massa wat voorspel is nie bestaan nie. Die sterrekundige soektog na ekstra planete buite die wentelbaan van Pluto hou absoluut geen bedreiging in vir skeppingsleerders nie. Dit maak deel uit van God se skepping en die waarneming van so ’n hemelliggaam is gewone bedryfswetenskap (ook bekend as operasionele wetenskap) wat waarneembaar en herhaalbaar is. Daarmee het die skeppingsleer geen probleem nie.

Die een trefslag wat lei na iets anders as die moontlike planeet buite Pluto is in die artikel getiteld Alien & skeptics waar ’n leser vrae vra oor buiteruimtelike wesens en dies meer en die term “planet X” gebruik in sy brief. CMI het dit nie gebruik nie. Hierdie artikel illustreer CMI se posisie teenoor ruimtemannetjies en verwante onderwerpe baie goed. Nog ’n artikel wat CMI se posisie baie goed opsom is getiteld Prepare ye the way—the aliens are coming! – Popular fantasy becomes cultural ‘fact’. Hierdie artikel het ook ’n magdom skakels na ander CMI artikels wat hulle posisie verder staaf. Hierdie artikel raak ook die volgende onderwerp aan en word in meer detail ondertoe bespreek.

Die tipiese relevante soekresultate op die hele wêreldwye web (Star Trek: Nemesis is nie relevant nie) wat ’n soekenjin soos Google oplewer met die betrokke sleutelwoorde dui hoofsaaklik op die wetenskaplik geldige soektog vir ’n planeet wat verder as die dwerg planeet Pluto van die son af wentel, antieke Midde-Oosterse gode of die einde van die wêreld in 2012. Die trefslae wat so ’n soektog oplewer skakel ook glad nie na Christelike webwerwe en meer spesifiek skeppingsleer webwerwe nie.

Vir nog meer artikels rakende die buiteruimtelike wese onderwerp vanuit ’n skeppingsleer oogpunt (met ander woorde uit die spreekwoordelike perd se bek), gaan blaai gerus rond op Alien/UFOs Questions and Answers. Dit is veel eerder evolusioniste en ateïste wat in buiteruimtelike wesens glo as skeppingsleerders.

Die volgende paar voorbeelde spreek nogal boekdele:

Met alles hierbo in ag geneem is dit duidelik dat dit geheel en al onwaar is dat skeppingsleer organisasies in planeet X/Nibiru/Nemesis glo op die manier wat in die beskuldiging aangedui word. Dit is vals getuienis. Christene wat hulle skuldig maak aan hierdie mistasting word herinner aan Eksodus 20:16 wat ’n redelike ondubbelsinnige standpunt inneem teen vals getuienis, selfs met ’n liberale teologiese interpretasie van daardie vers.

Reptielwesens

Die tweede aspek waarvan skeppingsleerders beskuldig word is dat daar geglo word in reptielwesens wat tussen ons woon. Dit lees as volg:

“Voeg dan die reptielwesens wat tussen ons woon hierby, die annunaki. Hulle is die afstammelinge van Eva en die slang – lg eintlik ’n reptielagtige ruimtewese, en die spesieprobleempie word met kloning opgelos.”

Daar is ’n hele klompie feitefoute in hierdie paragrafie. Die Anunnaki is ’n groep antieke Sumeriese, Akkadiese, Assiriese en Babiloniese gode. Hierdie is ook gedeeltelik aangespreek in die bovermelde kommentaardokument onder kommentaar 66. Die verwysing na die reptielwesens wat afstammelinge is van Eva en die slang is iets wat uit vroeë Midrasiese (Midrashic in Engels) tekste afkomstig is. Dit is opgeneem in die Kabbalah en vind ook steeds aanklank onder aanhangers van die Christian Identity teologie. Verwysings hierna kan ook gevind word in vroeë gnostiese skrywes soos die Evangelie van Philippus, iets wat sommer vroeg-vroeg al in die kerk se geskiedenis as kettery en dwaalleer bestempel is.

Iets wat interessant is om op te merk is dat in ’n bespreking oor die Christian Identity teologie word daar spesifiek genoem dat Christelike fundamentaliste, wat per definisie skeppingsleerders insluit, hierdie twee-saadlyn teorie (ook genoem serpent seed, dual seed of two-seedline) as absurd beskou.

’n Vinnige soektog, wat die klaer niks meer as 5 minute sou neem nie, het getoon dat ICR geen artikels op hulle webwerf het wat eers die woord Anunnaki bevat nie. AiG het een artikel wat handel oor die vloed en die Gilgamesh verhaal. CMI se webwerf het 4 artikels waarin die soekwoord verskyn. Drie handel oor die vloed en een is ’n kommentaar op ’n film getiteld The Fourth Kind. Hoofstroom skeppingsleer organisasies glo nie in die Anunnaki op die manier waarop daar beskuldig word nie. “Finish en klaar” (om woorde te leen by ons voormalige polisiehoof, Jackie Selebi). Om dit te verkondig is ’n blatante, kwaadwillige leuen en vals getuienis (weereens Eksodus 20:16).

’n Soektog op die internet kon ook geen beduidende verwysing kry dat die Anunnaki afstammelinge is van Eva en die slang nie. Daar is wel webwerwe wat beweer dat Adam en Eva beide Anunnaki was. Hieronder is ’n paar voorbeelde van trefslae tydens die soektog:

Soos redelik duidelik gesien kan word is dit nie skeppingsleer organisasies wat dit aanhang nie, maar eerder aanhangers van samesweringsteorieë (“conspiracy theorists”). Die titel van die eerste artikel is ook heel interessant. Dit blyk veel eerder dat iemand wat evolusie aanhang, hierin sal glo as iemand wat die skeppingsleer aanhang. ’n Vriendelike voorstel is dat die persone wat hierdie vals beskuldigings maak dalk minder na TV-reekse soos “V” of “Stargate” of na David Icke se materiaal kyk en ophou om hulle eie “foute” op skeppingsleerders te projekteer.

Soos boontoe genoem spreek CMI die onderwerp van ruimtewesens en vlieënde pierings baie goed aan in ’n artikel getiteld Prepare ye the way—the aliens are coming! Popular fantasy becomes cultural ‘fact’.

Volgens die artikel het die geloof in buite-ruimtelike lewe ’n nuwe godsdiens vir baie mense geword as ’n plaasvervanging vir die meer “tradisionele” godsdienste. Navorsing het getoon dat mense wat hulself as godsdienstig beskou, maar nie verbonde is aan enige kerk nie, veral vatbaar is vir ’n geloof in ruimtewesens en vlieënde pierings. Die VVVlogie (my Afrikaans vir UFOlogy) verskynsel is ’n baie handige plaasvervangende teologie vir die groter Christelike prentjie van Skepping → Sondeval → Verlossing → Herstel.

Baie VVV literatuur poog om:

  • Om die Skeppergod te vervang met buite-ruimtelike wesens, selfs om te stel dat die Bybel eintlik van sulke wesens praat en nie God nie.
  • Om die Sondeval te vervang met ’n omgewingsverwante boodskap soos dat die ruimtewesens ons nie sal toelaat om “Moeder Aarde” te vernietig nie, en dies meer.
  • Die ruimtewesens sal die redders van die mensdom wees en sommer ook die Aarde red terwyl hulle besig is. Daar mag selfs wegraping-tipe gebeurtenisse ook gebeur.
  • Die Aarde sal gerestoureer word en “ware gelowiges” sal weggevoer word na ’n nuwe Eden of Nirvana, ’n planeet wat nog nie die korrupsie van die mensdom ervaar het nie.

Baie VVV stories gaan ook gepaard met kanalisering (channelling) van spesiale boodskappe vanaf die ruimtewesens na uitverkose mense wat ’n duidelik okkultiese praktyk is. Dit is verbysterend dat Christene met ’n skoon gewete hulle mede-Christene (skeppingsleerders) kan beskuldig hiervan.

’n Laaste beskuldiging wat die betrokke teïstiese evolusionis vanuit die e-bundel aangespreek in die bovermelde kommentaardokument wat ek ten slotte wil aanhaal lui as volg: “Dit is daarom ook nie vreemd dat sommige van die jong aarde kreasioniste lustig saam die ruimte-stories glo nie. En ’n mens kan net met vraagtekens staan: Hulle kan dít glo, maar om te glo dat die God van alle tye, op Sy tyd, as Skepper van tyd, die heelal op Sy manier geskep het op ’n manier wat die wetenskap, waarvan Hy ook die Skepper is, kan ondersoek, sodat die hele Bybel soos ’n mosaïek in plek val; dít kan hulle nie glo nie.”

Hierdie is ook aangespreek in die bovermelde kommentaardokument onder kommentaar 67. Daar mag skeppingsleerders wees wat hierin glo, maar dit beteken nie dat alle skeppingsleerders hierin glo nie. Daar kan wel met baie sekerheid gesê word dat die hoofstroom skeppingsleer organisasies nie hierin glo of dit verkondig nie. Dit is onomwonde bewys hierbo. Om dus aan te hou om sulke blatante valshede te versprei is kwaadwillig en oneties. Christene wat hierdie versprei word weereens herinner aan Eksodus 20:16.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui