Mistastings oor skeppingsleer 4: Glo in die skeppingsleer of jy is nie ’n Christen nie

Kyk ook:

Iets om op te let: Die doel van hierdie artikel in besonder en die reeks in geheel is nie om lesers te probeer oortuig dat die jong aarde skeppingsleer (hierna skeppingsleer) die regte siening oor die oorsprong van die wêreld is nie, maar bloot om mistastings oor die skeppingsleer, wat vrylik en selfs doelbewus in die openbaar versprei word, reg te stel. Soos in vorige skrywes wanneer daar van die skeppingsleer gepraat word en sienings en opinies van die skeppingsleer, dan is dit die gemeenskaplike siening van die hoofstroom skeppingsleer organisasies wat geld. Ek argumenteer nie vir die meriete van die skeppingsleer nie, selfs al hang ek dit onbeskaamd aan. Ek probeer die artikels deeglik deurgaan om seker te maak dit is nie die geval nie, maar indien dit deurglip is dit onbedoeld en vra ek byvoorbaat om verskoning.

Meeste van die mistastings wat hierdie reeks gaan aanspreek is tot ’n mindere of meerdere mate vervat in ’n kommentaardokument wat ek met die hulp van drie ander outeurs die lig laat sien het. Met die skryf van hierdie artikel het die kommentaardokument hierbo intussen meer as dubbel die aantal trefslae op Scribd gekry as die oorspronklike dokument. Dit is verblydend, aangesien dit beteken dat die waarheid meer kere raakgelees word.

Die vierde mistasting wat aangespreek word handel oor die beskuldiging dat skeppingsleerders van mening is dat mens in die skeppingsleer moet glo om ’n Christen genoem te kan word. Dit is ’n strooipopargument om dit ligtelik te stel. Hierdie spesifieke beskuldiging word ook uitsluitlik gevind in die skrywes van mede-Christene wat antagonisties is jeens die skeppingsleer. ’n Agnostikus of ateïs sal veel eerder verbasing uitspreek oor hoe mense dit kan regkry om evolusie met hulle Christenskap te versoen.

Ek het hierdie argument die eerste keer raakgeloop op ’n aanlynforum van ’n Media24-koerant en is gemaak deur die outeur van die bundel wat die kommentaardokument hierbo genoem genoodsaak het. Die opmerking lees as volg:

“Omdat die kerke gewoonlik swyg in hierdie “debatte” kan iemand wat nie begelei word nie, maklik die indruk kry dat, om ’n Christen te wees, hy “moet” glo die aarde is 6 000 jaar oud, en indien hy dit nie kan glo nie, moet hy maar aanvaar hy is vir die verdoemenis bestem.”

In ’n bloginskrywing van die persoon hierbo skryf hy die volgende terwyl hy oor aanhangers van die skeppingsleer praat (outeursnota: ten tye van hierdie Kersdagplasing was die persoon geneig om die terme “fundamentalisme” en “skeppingsleer” uitruilbaar te gebruik. Hy het intussen gestaak om dit te doen):

“Het die teksvers dat geloof in Christus as Verlosser en Saligmaker, wat so mooi in die Kersverhaal aangebied word, ’n bepaling dat dit met allerlei voorbehoude gepaard moet gaan? In kort, die jongeling wat gereed is om gelowige te wees of te word, moet uitgeskop word omdat hy nie mag glo wat hy weet nie? Hoeveel jong mense het weens gebrekkige leiding van hul kerke, teenoor die sterk standpuntinname van die fundamentaliste, nie al weens hierdie “misverstand” die rug op kerk en selfs geloof gekeer nie.”

Beide hierdie beskuldigings is geheel en al van die waarheid gestroop: daar is talle voorbeelde wat die teendeel bewys (kyk Hoe evolusie mense se geloof beïnvloed). Verder handhaaf nie ’n enkele een van die drie hoofstroom skeppingsleer organisasies daardie beskouing nie. Hierdie organisasies is wel almal van mening dat iemand wat kies om nie skeppingsverhaal in die Bybel te glo nie ’n baie gevaarlike en glibberige paadjie loop met die kompromisposisie, iets waarop ’n bietjie meer uitgebrei word ondertoe. Die volgende artikels illustreer ter inleiding hierdie punt baie goed:

Nog ’n kommentaar vat die mistasting verder waar daar midde-in ’n strooipopargument ’n sogenaamde “False Dilemma” voorgestel word. Strooipopargumente is al so algemeen in hierdie tipe skrywes dat dit byna ongesiens verbygaan. Die rede waarom hierdie een so uitgestaan het is as gevolg van die vals dilemma stertjie.

“Dit skep by hom die indruk sy keuses lê tussen glo in evolusie, en daarmee gepaardgaande ateïsme, of om ’n Christen te wees en te glo die aarde is 6 000 jaar oud.”

Siende die persone wat hierdie tipe klag publiseer geen benul het waarmee skeppingsleer organisasies hulself mee besig hou nie en ook gereeld aandui dat hulle geen behoefte het om uit te vind nie, word hierdie tipe stellings in doelbewuste onkunde gemaak, myns insiens met die uitsluitlike doel om die skeppingsleer en aanhangers daarvan met ’n teerkwas by te dam. Wanneer mens die waarheid probeer uitwys, dan word daar so antagonisties terugbaklei dat dit selfs plek-plek as laster beskou word om hierdie foute reg te stel.

Alhoewel geen hoofstroom skeppingsleer organisasie van mening is dat mens die skeppingsleer moet aanhang om ’n Christen te kan wees nie, is daar dalk meer meriete aan die “evolusie met gepaardgaande ateïsme” stelling as wat baie mense graag sou wou erken. Dit word verder ondertoe bespreek.

In ’n stuk wat handel oor die Ontluikende Kerk (Emergent Church in Engels) stel CMI dit onomwonde dat hulle nie mense wat in evolusie glo tot buite die kerk verban nie. Hulle skryf dat nie almal wat evolusie aanhang teen die glibberige helling afgly na liberalisme en uiteindelike ongeloof nie. Daar is egter voorbeelde soos Brian McLaren (stigter van die Ontluikende Kerk) en evolusionêre evangelis Michael Dowd, wat wys dat hierdie helling, asook die glibberigheid daarvan, alles behalwe hipoteties is. CMI gaan verder deur te skryf dat, alhoewel daar sekere teïstiese evolusioniste is wat andersins evangelies en ortodoks is, dit nie ’n gesonde uitkyk is vir Christene nie. Dan kom die gedeelte wat dit onomwonde stel wat ek eerder wil aanhaal as vertaal en parafraseer (my beklemtoning):

“We’re not saying you can’t be a saved evolutionist—we’ve never said that. But we see over and over again that how one takes Genesis can be indicative of one’s view of Scripture in general. “

In ’n artikel getiteld Can compromisers really be saved? skryf CMI die volgende as die heel eerste woorde van die artikel:

“At CMI, we often make the point that even though creation is an important doctrine, one can be an evolutionist and be saved.”

Hulle gaan verder deur te skryf dat dit wat mens moet glo om gered te word eintlik baie basies is: ’n Mens moet glo en aanvaar dat Jesus jou Verlosser is, vir jou sondes gesterf het, begrawe is en opgestaan het. Hiervoor haal hulle 1 Korintiërs 15:1-4 aan. Die leser word aangemoedig om ’n Bybel oop te slaan en dit self te gaan lees.

Hierdie punt word verder beaam in ’n artikel getiteld Defending Theistic Evolutionists waar hulle skryf dat geloof in ’n ses-dag skepping nie noodsaaklik is om gered te word nie, maar dat dit wel noodsaaklik is vir ’n konsekwente en logiese Christelike wêreldbeskouing, aangesien die oorgrootte meerderheid Christelike doktrine se ontstaan in Genesis is.

Dit is dus redelik onomwonde gestel dat Creation Ministries International, wat vir alle praktiese doeleindes die grootste en invloedrykste van die skeppingsleer organisasies is en wie se opinie grotendeels geëggo word deur Answers in Genesis en Institute for Creation Research, nie van mening is dat mense wat evolusie aanhang per definisie ongered is nie. Dit is dus verstommend dat diegene wat die skeppingsleer so vieslik met die teerkwas probeer bydam dit met soveel selfvertroue kan doen terwyl dit duidelik soos daglig is dat hulle geheel en al onkundig staan teenoor dit waarin skeppingsleerders en die organisasies wat dit bedryf glo of doen.

Aangesien dit redelik onomwonde aangedui is dat dit nêrens amptelike beleid of opinie is dat skeppingsleerders ander Christene wat evolusie aanhang as buite die Christendom of selfs as ateïste sien nie, is dit tyd om wel stil te staan by die opinie van ateïste. Vroeër is evolusie gelykgestel aan ateïsme, of eerder dat evolusie gepaardgaan met ateïsme. Die opinie van ateïste wat ook evolusie aanhang mag dalk onthullend wees.

Die leser word graag verwys na ’n Answers in Genesis artikel getiteld Why Orthodox Darwinism Demands Atheism. Uit die slotgedeelte van hierdie artikel kom die volgende:

“The common claim that no conflict exists between modern neo-Darwinism and orthodox biblical Christianity is contradicted by the conclusions of many of the most eminent biologists living today. Furthermore, a survey by Griffin of leading biologists found that they strongly disagree with the claim that evolutionism and Christian theism involving a personal God are compatible. Further, they can articulate valid reasons for their conclusion.”

Die bekende ateïs en Nobelpryswenner Jacques Monod het die volgende te sê gehad in ’n Junie 1978 uitgesaaide onderhoud getiteld “The Secret of Life”:

‘[Natural] selection is the blindest, and most cruel way of evolving new species, and more and more complex and refined organisms … The struggle for life and elimination of the weakest is a horrible process, against which our whole modern ethics revolts. An ideal society is a non-selective society, one where the weak is protected; which is exactly the reverse of the so-called natural law. I am surprised that a Christian would defend the idea that this is the process which God more or less set up in order to have evolution.’

Dr William Provine, bekende ateïs en biologieprofessor by Cornell Universiteit stem hiermee saam in ’n 1999 stuk getiteld “No Free Will” in “Catching up with the Vision” met Margaret W Rossiter as redakteur:

“… belief in modern evolution makes atheists of people. One can have a religious view that is compatible with evolution only if the religious view is indistinguishable from atheism.”

Een van die wêreld se voorste en mees prominente ateïste, Richard Dawkins, wat homself interessant genoeg ’n kulturele Christen noem, het die volgende te sê gehad in ’n TV uitsending getiteld “The Root of all Evil” wat op 16 Januarie 2006 op Channel 4 uitgesaai is:

“Oh but of course the story of Adam and Eve was only ever symbolic, wasn’t it? Symbolic?! Jesus had himself tortured and executed for a symbolic sin by a non-existent individual. Nobody not brought up in the faith could reach any verdict other than barking mad! It seems to me an odd proposition that we should adhere to some parts of the Bible story but not to others. After all, when it comes to important moral questions, by what standards do we cherry-pick the Bible? Why bother with the Bible at all if we have the ability to pick and choose from it, what is right and what is wrong?”

’n Verdere lys van soortgelyke aanhalings kan hier gelees word.

Ten slotte en ter opsomming. Geen hoofstroom skeppingsleer organisasie is van mening dat iemand wat nie die skeppingsleer aanhang nie verban is tot buite die Christendom. Dit is ’n bewese feit – soos die spreekwoordelike koei. Om dus wyd en suid te verkondig dat dit die geval is, is oneerlik, misleidend en vals getuienis. Om dit as sodanig uit te wys is nie lasterlik nie, aangesien dit onomwonde bewys is en ’n bewese feit kan per definisie nie lasterlik wees nie. Selfs al is dit nie die siening van die hoofstroom skeppingsleer organisasies nie, moet die sienings van bekende ateïste tog dien as stof tot nadenke. Selfs hulle kan insien hoe wyd ’n gelowige moet omgaan met sy of haar keuse van interpretasie van sekere stukke in die Bybel om dit te laat inpas by die hoofstroom wetenskap paradigma, asook watter wonderwerke mens mag glo en watter nie, siende dat wonderwerke per definisie geheel en al onwetenskaplik is.

Indien die leser nog nie oortuig is dat die beskuldiging ’n algehele mistasting is nie, kan daar gerus gegaan word na CMI se vrae-en-antwoord gedeelte oor die kompromisposisie, asook ’n artikel getiteld Het God evolusie gebruik om te skep.

Ten slotte, ek ontken nie dat daar wel oningeligte aanhangers van die skeppingsleer daarbuite is wat sulke beskuldigings maak nie. Dit maak dit egter nie die siening van die hoofstroom skeppingsleer nie. Aristoteles het wyse raad gegee soveel jare terug wat in Engels vertaal word as: “One swallow does not a summer make.” Die outeurs van die tipe beskuldigings aangespreek hierbo is lief daarvoor om enkele duidelik oningeligte argumente van aanhangers van die jong aarde skeppingsleer te neem en dit toe te dig aan die hele “beweging”. Al wat dit doen is om te getuig van ’n desperate gryp na strooihalms om die beeld van die jong aarde skeppingsleer, asook aanhangers daarvan skade te berokken.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui