Mistastings oor skeppingsleer 5: Die uitgediende inligting kwessie

Kyk ook:

Iets om op te let: Die doel van hierdie artikel in besonder en die reeks in geheel is nie om lesers te probeer oortuig dat die Bybelse skeppingsleer (ook bekend as jong aarde skeppingsleer en hierna bloot skeppingsleer) die regte siening oor die oorsprong van die wêreld is nie, maar bloot om mistastings oor die skeppingsleer, wat vrylik en selfs doelbewus in die openbaar versprei word, reg te stel. Soos in vorige skrywes wanneer daar van die skeppingsleer gepraat word en sienings en opinies van die skeppingsleer, dan is dit die gemeenskaplike siening van die hoofstroom skeppingsleer organisasies wat geld. Ek argumenteer nie vir die meriete van die skeppingsleer nie, selfs al hang ek dit onbeskaamd aan. Ek probeer die artikels deeglik deurgaan om seker te maak dit is nie die geval nie, maar indien dit deurglip is dit onbedoeld en vra ek by voorbaat om verskoning.

Meeste van die mistastings wat hierdie reeks aanspreek is tot ’n mindere of meerdere mate vervat in ’n kommentaardokument wat ek met die hulp van drie ander outeurs die lig laat sien het. Meeste van die bronne wat genoem word se skakels kan in die bronnelys aan die einde van hierdie artikel gevind word.

Die vyfde mistasting wat aangespreek word in hierdie reeks handel daaroor dat skeppingsleerders halsstarrig bly vasklou aan uitgediende en selfs verkeerde inligting. Dit kom in die vorm van verskeie beskuldigings.

Beskuldiging 1 – Skeppingsleerders glo dat spore van mense en dinosourusse saam gevind is

Die eerste beskuldiging hieroor is gedeeltelik aangespreek in die kommentaardokument hierbo vermeld. Dit lui:

“Die ander bekende voorbeeld wat gereeld gebruik word, is die dinosourusspore oor “mensspore.” Hierdie bedrog is ook deeglik geboekstaaf. Trouens, die jong aarde kreasioniste het onderneem om dit uit hul literatuur te verwyder sou een van hul eie wetenskaplikes bevind dat dit nie mensspore is nie. Na dié bevinding gedoen is, is dit aanvanklik nie verwyder nie tot druk uitgeoefen is, maar dit is intussen weer teruggebring.”

Hierdie stelling is vir verskeie redes onsinnig. Eerstens, noem die beskuldiger nie watter organisasie se webwerf hy van praat nie wat sy argument beduidend sou versterk het. Hierdie geneigdheid van vae, ongestaafde stellings oor onderwerpe wat hulle nie aanstaan nie is ongelukkig ’n redelike algemene verskynsel wanneer dit kom by anti-skeppingsleer aktiviste. Die ander is ’n geneigdheid van die anti-skeppingsleer beweging om die skeppingsleer as ’n monolitiese beweging te sien wat almal een boodskap verkondig, volmondig met mekaar saamstem, mildelik bedrog pleeg en die waarheid verswyg sover hulle kan. In baie gevalle word Intelligente Ontwerp selfs saam met die skeppingsleer gegroepeer, iets wat beslis nie die geval is nie. Ek is deeglik bewus daarvan dat hierdie as ’n veralgemenende stelling mag voorkom en dat ek presies doen waarvan ek die anti-skeppingsleer groep beskuldig, maar dit word gemaak uit bittere ondervinding. Dit is werklik die uitsondering op die reël wat die nodige onderskeid tref tussen die verskillende groeperinge. Kom ons werp dus meer lig op die outeur se vae stelling.

Die spore waarna verwys word is die sogenaamde Paluxy Voetspore wat gelys is onder die opskrif “Which arguments should definitely not be used?” in ’n Creation Ministries International artikel getiteld “Arguments we think creationists should not use“. Hierdie artikel kan ook op die Answers in Genesis webwerf gevind word. Die gedeelte onder bespreking lees as volg:

“Some prominent creationist promoters of these tracks have long since withdrawn their support. Some of the alleged human tracks may be artefacts of erosion of dinosaur tracks obscuring the claw marks. There is a need for properly documented research on the tracks before we would use them to argue the coexistence of humans and dinosaurs.”

Beskuldiging 2 – Skeppingsleerders hou voor dat evolusie slegs ’n teorie is en nie bewys is nie

Die tweede beskuldiging dra dalk effe water, aangesien daar wel wetenskaplik oningeligte persone daarbuite is wat nie vertroud is met wetenskaplike vakterminologie nie. Dit is gedeeltelik aangespreek in die bovermelde kommentaardokument en die beskuldiging lui as volg (my byvoegings in blokhakies):

“Hulle [skeppingsleerders] verkondig dat evolusie net ’n teorie is en nie bewys is nie. Evolusie-aanhangers wys daarop dat dit lankal reeds volledig bewys is. Die beskrywing “teorie” word deur bekendes verklaar soos bv “teorie” in die relatiwiteitsteorie. Jong aarde kreasioniste verwar dit met die begrip hipotese, en raak erg omgekrap as wetenskaplikes na die evolusieleer – ’n meer korrekte begrip wat al sowat 35 jaar gelede geregverdig geraak het, verwys.”

Om die hele beweging nou oor dieselfde kam te skeer is onaanvaarbaar. Daar is talle voorbeelde op onder andere Media24 webwerwe se kommentaarfora waar aanhangers van evolusie en ongelowiges liederlike blapse maak (sonder om reggehelp te word deur die delers van hulle siening – iets wat ek ateïstiese solidariteit noem [sien voetnota vir ’n kort verduideliking]), maar tog hou skeppingsleerders dit nie voor as die siening van evolusioniste of ongelowiges nie.

Ook in die artikel “Arguments we think creationists should not use” hierbo genoem onder die opskrif “What arguments are doubtful, hence inadvisable to use?” word die volgende hieroor gelys:

“What people usually mean when they say this is ‘Evolution is not proven fact, so it should not be promoted dogmatically.’ Therefore people should say that. The problem with using the word ‘theory’ in this case is that scientists use it to mean a well‐substantiated explanation of data. This includes well-known ones such as Einstein’s Theory of Relativity and Newton’s Theory of Gravity, and lesser‐known ones such as the Debye–Hückel Theory of electrolyte solutions and the Deryagin–Landau/Verwey–Overbeek (DLVO) theory of the stability of lyophobic sols, etc. It would be better to say that particles‐to‐people evolution is an unsubstantiated hypothesis or conjecture.”

Dit is dus duidelik dat, selfs al dra die beskuldiging effens water, dit hoegenaamd nie die amptelike siening van die hoofstroom skeppingsleer organisasies is nie en word mense ook aangeraai om nie hierdie argument te gebruik nie. Skeppingsleerders word pertinent aangemoedig om te onderskei tussen die wetenskaplike definisie van die woord “teorie” en die definisie daarvan in die algemene spreektaal. Daar is ’n redelike groot verskil tussen die twee. Organisasies soos CMI en AiG is juis van mening dat die wetenskaplike term “teorie” eintlik onverdiend aan evolusie toegeken word en dat dit derhalwe onverdiende legitimiteit daaraan verleen. Om ’n beskuldiging te maak soos hierdie is bloot nie waar nie. Op ’n ander noot, om te skryf dat dit lankal reeds volledig bewys is, dui ook op ’n skreiende onkunde rakende die wetenskappe.

Dit vat ook min moeite om op Media24 se aanlynfora te gaan rondblaai en te sien hoe mense wat sulke uitlatings (die onderwerp van die beskuldiging hierbo) maak reggehelp word deur ander aanhangers van die skeppingsleer, juis omdat dit verkeerd is. Dieselfde gebeur egter nie onder dogmatiese aanhangers van evolusie nie. Ek het al menige kere swaarde gekruis met onder andere die outeur van die e-bundel wat die kommentaardokument hierbo vermeld tot gevolg gehad het en sy verkeerde stellings word hand en tand verdedig omdat dit die skeppingsleer laat sleg lyk. Die doel heilig blykbaar die middele. Wat ironies is, is dat dieselfde mense wat foutiewe inligting so heftig verdedig bitter vinnig beskuldigings uitpluk dat skeppingsleerders lieg en bedrog pleeg. Is dit ’n geval van splinter en balk dalk?

Beskuldiging 3 – Omdat ape nog bestaan…

Die volgende beskuldiging is ook maklik aangespreek:

“Die bietjie wat ek uitmaak hou verband met lank reeds uitgediende gedagtes, soos dat hulle glo die evolusioniste glo dat evolusie vind in ’n noodwendige gelyke lyn na meer gevorderde vorme plaas. ’n Gewilde “bewys” hierteen is dan dat daar steeds ape bestaan.”

Ook in die artikel “Arguments we think creationists should not use” hierbo genoem onder die opskrif “What arguments are doubtful, hence inadvisable to use?” word die volgende hieroor gelys:

‘If we evolved from apes, why are there still apes today?’

… However, the main point against this statement is that many evolutionists believe that a small group of creatures split off from the main group and became reproductively isolated from the main large population, and that most change happened in the small group which can lead to allopatric speciation (a geographically isolated population forming a new species). So there’s nothing in evolutionary theory that requires the main group to become extinct.

It’s important to note that allopatric speciation is not the sole property of evolutionists—creationists believe that most human variation occurred after small groups became isolated (but not speciated) at Babel, while Adam and Eve probably had mid‐brown skin color. The quoted erroneous statement is analogous to saying ‘If all people groups came from Adam and Eve, then why are mid‐brown people still alive today?’

Dit is dus heel duidelik dat aanhangers van die skeppingsleer nie hierdie argument moet gebruik nie. Mense wat die argument gebruik is eerstens wetenskaplik oningelig en tweedens, verteenwoordig heel ooglopend nie die hoofstroom skeppingsleer opinie nie. Om alle aanhangers van die skeppingsleer dus oor dieselfde kam te skeer is ’n misleiding bekend as ’n haastige veralgemening (hasty generalisation in Engels) waar die onkundige uitsondering gebruik word om die reël mee swart te smeer.

In die kommentaardokument hierbo vermeld by kommentaar 49 spreek ek juis hierdie tipe misleiding aan waar ’n duidelik oningeligte kommentator van mening is dat volgens koolstofdatering die aarde oor biljoene jare gevorm het. Om hierdie foutiewe en oningeligte stelling te gebruik om “opponente” op die fora mee swart te smeer is aanloklik, maar oneties en bepaald onchristelik.

Verdere voorbeelde

Die onderstaande voorbeelde is nie aangespreek in ’n beskuldiging nie, maar dien as verdere stawing dat dit inderdaad ’n mistasting is om skeppingsleerders te beskuldig van vasklou aan uitgediende inligting.

Voorbeeld 1 – Die “Vapour Canopy”

’n Eerste voorbeeld is die sogenaamde “Vapour Canopy”. Dit is ’n hipotese dat die waters bo die gewelf of uitspansel (1983 vs 1953 vertalings onderskeidelik) wat in Genesis 1:7 en ook elders genoem word, verband hou met ’n verhoging onder andere in die parsiële druk van suurstof in die pre-Vloed atmosfeer. Dit verduidelik klaarblyklik die lang lewens van Noag en sy voorgeslagte, asook die groot diere. Hierdie hipotese kan onder andere gevind word in Kent Hovind se gratis DVD-reeks.

Daar is vele probleme met hierdie hipotese en in plaas daarvan om halsstarrig daaraan vas te klou en te verkondig as die posisie van die skeppingsleer, het gesonde wetenskaplike ondersoek getoon dat die hipotese bloot nie sinvol is nie. Dit word deeglik aangespreek in ’n artikel getiteld “Running out of puff” op die CMI webwerf. Nes die Paluxy Voetspore word die “canopy theory” ook bespreek onder die opskrif “What arguments are doubtful, hence inadvisable to use?” in die “Arguments we think creationists should not use” artikel.

Voorbeeld 2 – Die son se “verlore” neutrinos

Nog ’n goeie voorbeeld van die selfkorrigerende aard van die hoofstroom skeppingsleer organisasies is die kwessie van ons son se sogenaamde verlore neutrinos. Dit was gebruik as ’n aanduiding van ouderdom om te bewys dat die son nie miljarde jare oud kan wees nie. ’n 1997 artikel hieroor is getiteld “Solar neutrinos – the critical shortfall still elusive”. Nuwe inligting het intussen vorendag gekom wat bewys dat hierdie nie meer ’n kwessie is nie. CMI het steeds die artikel op hulle webwerf om te wys hoe skeppingsleer argumente gelyk het in 1997, maar het ’n voorwoord tot die artikel aangebring (met ander woorde, die eerste ding wat jy lees in die artikel) wat as volg lees:

“Ed. note: while the argument in this paper was cogent given the information then available, subsequent information has superseded it, meaning that the shortfall problem seems to have been solved. Therefore creationists should no longer use this as an ‘ age’ argument.”

Nes die Paluxy Voetspore word die verlore neutrinos ook gelys onder die opskrif “What arguments are doubtful, hence inadvisable to use?” in die “Arguments we think creationists should not use” artikel. Daar is ook ’n spesifieke artikel getiteld “‘Missing’ neutrinos found! No longer an ‘age’ indicator” geskryf om te wys dat nuwe inligting die ou uitgediende inligting vervang het.

’n Verdere lang artikel getiteld “Maintaining Creationist Integrity” wys ook ondubbelsinnig hoe daar te werk gaan om verkeerde inligting wat elders onder die skeppingsleer vaandel verkondig word hok te slaan. Hierdie artikel is geskryf in reaksie op inligting wat Kent Hovind onder die Creation Science Evangelism (CSE) vaandel verkondig het in sy seminare, asook op sy webwerf. Die voorwoord van die artikel dui egter daarop dat ’n groot deel van die verkeerde inligting inderdaad nie meer verkondig word deur CSE nie, wat sommer ook direk die eerste beskuldiging aanspreek.

Hierdie is maar ’n paar voorbeelde wat duidelik wys hoe gestroop van waarheid en kwaadwillig die bogenoemde beskuldigings is.

Dit is verstommend hoe venynig Christene teenoor mekaar kan wees, veral teenoor diegene wat nie dieselfde siening as jy deel oor sekere sake nie, iets waaraan aanhangers van die skeppingsleer ongelukkig ook nie onskuldig is nie. Dit is ook tragies om te sien hoe strooipopargumente (wat effektief niks anders as leuens is nie) ingespan word om mede-Christene se name swart te smeer en hulle geloofsposisies te kelder.

Voetnota

Ateïstiese solidariteit is ’n term wat ek geformuleer het na ek vir die soveelste keer gesien het op veral Media24 platforms hoe ’n fout deur een van die ateïstiese deelnemers doodgepraat word en selfs verdedig word sou ’n gelowige dit durf uitwys. Tensy die outeur van ’n fout self erken hy het gefouteer (dit word selde waargeneem), word ’n fout doodeenvoudig geïgnoreer of sommer die gelowige se skuld. Laat ’n gelowige egter ’n fout begaan op so ’n forum en die spreekwoordelike hel breek los. Die ateïste sak ongenaakbaar toe op die arme persoon en hulle jag nooit alleen nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui