RSG: NG Kerk teologiese dosent is pro-aborsie

Kyk ook:

Op 13 September 2021 het Nadia Marais, teologiese dosent by die Universiteit Stellenbosch, en bevestigde predikant van die NG Kerk oor die radiostasie RSG gesê dat dit jammer is dat die Rooms-Katolieke kerk president Joe Biden van Amerika wil weerhou daarvan om nagmaal te gebruik weens sy pro-aborsie standpunt.[1] Volgens haar (en die ander deelnemers) is dit nie die plek van die kerk en die staat om in te meng in huwelike, geslagtelikheid en liggaamlikheid nie. Sy wonder ook of ons nie vandag vir Maria, wat buite die huwelik swanger geword het met Jesus, ook onder tug sou plaas nie.

Dit laat ’n mens wonder of die goedkeuring van aborsie die volgende skokkende besluit is wat tydens die NG Kerk se Algemene Sinode geneem gaan word?

Praat saam 13 September 2021

Rooms-Katolieke biskoppe in Amerika besin daaroor of politici nagmaal mag gebruik terwyl hulle vroue se keuse oor hulle liggame en gay-gemeenskappe ondersteun. Dit is veral die Amerikaanse president Joe Biden, wat die tweede Amerikanse president is wat ‘n lid van dié kerk is, se besluite onlangs wat intense besprekings en kritiek uitlok. Sommige kerke is ontevrede omdat die president dieselfdegeslaghuwelike steun asook vroue se reg om ’n aborsie te ondergaan. Die Amerikaanse biskoppe sal besluit of dit nodig is om in ‘n dokument uit te stippel wie geregtig is op nagmaal al dan nie. Het politieke- en geloofsinstellings ‘n sê oor wat jy met jou liggaam doen en wie jy mag lief hê?

Aanbieder: Lynette Francis-Purin

Gaste:

  • Prof Christie van der Westhuizen (sentrum nie-rassigheid en demokrasie by die Nelson Mandela universiteit)
  • Nadia Marais, bevestigde predikant van die NG Kerk en dosent in sistematiese teologie by die fakulteit teologie by die Universiteit van Stellenbosch.
  • Dr Ina Gouws, politieke ontleder verbonde aan die Universiteit van die Vrystaat

Iets oor die program

Dit was ’n absolute eensydige aanbieding. Al vier hierdie vroue op die program was ten gunste daarvan dat vroue die reg het om self te besluit oor hulle liggame, wat betref aborsie, seks buite die huwelik en homoseksualiteit (en ’n mens aanvaar ook die hele spektrum van LGBTQIA+). Die indruk wat daar op stadiums geskep is, is dat die teenkanting teen aborsie hoofsaaklik van mans af kom en dat dit dus op ’n manier neerkom op mans wat vroue onderdruk. Met ander woorde, die idee dat vroue nie aborsies mag ondergaan nie kom neer op vroulike onderdrukking deur ’n patriargale sisteem.

Op ’n stadium het ’n “Kobus” ingebel (26:50) met die opinie dat ’n ongebore baba ’n persoon is en dat hy verstom is dat vier intelligente vroue kan dink dat aborsie ’n geringe saak is.

Die reakie was dat dit verstommend is dat ’n man vir vroue kan voorsê wat hulle met hulle liggame moet doen. Dit is ’n totale feministiese benadering.

Dit is interessant dat hulle ’n man wat gekant is teen aborsies ’n spreekbeurt gegee het tydens hierdie program. Ek sal nie verbaas wees indien dit met opset so beplan is, juis om die idee van patriargale onderdrukking te versterk nie.

Hier volg ’n paar uittreksels uit die onderhoud:

Nadia: (4:14) Lynette, ek is nogal bietjie verbaas om te sien dat hierdie ’n moontlikheid op die tafel is. Op ’n manier is dit nie ’n verrassing nie. Die kerk het ’n ongelukkige geskiedenis, ’n slegte “track record” in hierdie opsig. Veral waar die weerhouding van die nagmaal gebruik is om mense te straf en te “shame” in die publiek. Ons kan dink aan ander voorbeelde in Suid-Afrika soos tienerswangerskappe en weerhouding van nagmaal aan ouers wat kinders buite die huwelik gehad het. So daar is ’n baie slegte, eintlik ’n verwoestende tendens in die kerk.

Nadia: (5:18) Wat interessant is, is die lewende gesprek rondom spiritualiteit en seksualiteit of liggaamlikheid en of die kerk op enige manier ’n positiewe bydra kon lewer en vandag lewer rondom liggaamlikheid. Help ons spiritualiteit en geloof om positief te dink en te praat oor ons liggaamlikheid, ons seksualiteit of is daar net hierdie koppeling met sonde en skuld?

Nadia: (6:24) As ons kyk na wat gebeur het in die hofsaak in die NG Kerk rondom selfdegeslagverhoudinge (SGV) sien ons dat dit baie keer howe is wat vir die kerk moes wys wat is die Christelike ding om te doen. Dit is howe wat ’n volgende tree uitwys op hierdie reis na groter menswaardigheid en groter insluiting van mense… Dit veroorsaak nogsteeds vandag trauma vir mense. Dit is op ’n manier ’n stuk geweld wat nogsteeds gepleeg word insluitend die taal wat gebruik word in die kerk as gepraat word oor seksualiteit, liggaamlikheid en veral vrouens se liggame.

Lynette: (7:39) In alle geloofsinstellings is daar nogsteeds diegene wat vir hulle gemeenskappe voorskryf wie mag kondome gebruik, wie mag voorbehoedmiddels gebruik… (8:00) Ina, behoort politieke en geloofsinstellings enigsins ’n sê te hê oor wat jy met jou liggaam doen?

Ina: Nee.

Lynette: (11:08) Nadia, wie is geregtig op nagmaal?

Nadia: (11:11) Eers volg daar ’n stilte, dan ’n verleë laggie en dan antwoord sy soos volg: Dit is ’n goeie vraag. Ek dink mense het verskillende menings daaroor. Normaalweg is dit as ’n mens ’n ligmaat van ’n kerk is en jy is in “good standing” met jou kerk, so daar is nie een of ander soortvan tug teen jou nie. Daar is ’n klomp faktore. Gewoonlik is die reël dat jy ’n lidmaat moet wees, maar vir baie kerke (gemeentes) is dit nie noodsaaklik nie.

[Kommentaar: Wanneer oor kerklike tug gepraat word, sou ’n mens verwag dat ’n hoogleraar in Godgeleerdheid sou verwys het na die Heidelbergse Kategismus, Sondag 30, vraag 82:

Vraag: Moet dié mense ook aan die Nagmaal toegelaat word wat met hulle belydenis en lewe wys dat hulle ongelowig en goddeloos is?

Antwoord: Nee, want so word die verbond van God ontheilig en sy toorn oor die hele gemeente opgewek (a). Daarom is die Christelike kerk volgens die bevel van Christus en sy apostels verplig om sulke mense met die sleutels van die koninkryk van die hemel uit te sluit, totdat hulle verbetering van hulle lewe bewys.

Nadia: (12:40) Ek dink wat hier nou interessant is, is die feit dat president Joe Biden ’n lidmaat is van die Katolieke kerk. Normaalweg sou hy sonder enige probleem die nagmaal kon gebruik. Wat nou hier gebeur is “scary”, want die nagmaal word op ’n manier as ’n wapen ingespan. Dit word ’n dreigement: as jy hierdie politieke standpunt inneem dan gaan ons jou op ’n ander manier straf.

Christie: (18:55) As ’n mens reëls het wat sê: omdat hierdie groep mense sekere voortplantingsorgane het, mag hulle nie self besluit wat met hulle liggame gebeur nie, dan … sê ons basies dat daar hierdie tweede klas groep mense is wat nie mag besluite neem oor wat met hulle liggame gebeur nie. Hulle liggame word op ’n manier staatsbesit of kerkbesit.

Nadia: (21:12) Ek stem absoluut saam met Christie, uiteraard. Belangrik, daar is die afgelope tyd teologiese boeke gepubliseer wat juis gaan daaroor dat vrouestemme na vore gebring word, ook in terme van teologiese refleksie oor baarmoeders en liggaamlikheid. Ek dink regtig dat indien dit ontbreek in hierdie gesprek moet ons nie hierdie gesprek voer nie. … Een van die inbellers het genoem dat dit Amerika se “issues” is: Die interessante ding is ons kan aan baie voorbeelde dink in Suid-Afrika, nie noodwendig nou op hierdie gegewe tydstip nie, maar die apartheidswetgewing soos byvoorbeeld die wet op die verbod van gemengde huwelike in 1949 en die immoraliteitswet in 1950, waar die NG Kerk dit spesifiek aangevra het in sinodebesluite en selfs afgevaardigdes gestuur het om dit aan te vra. Met ander woorde, die kerk het op grond van wetgewing en in terme van politieke besluite ingemeng rondom die huwelik, rondom seksualiteit, rondom verhoudings tussen verskillende rasse. So, in Suid-Afrika het ons ook baie van hierdie uitdagings in ons verlede en ons moet hieroor kan praat. Hoe “navigate” ons dit vandag in 2021 ook met hierdie geskiedenis wat nie verdwyn nie. Ek dink daar is ’n bepaalde aanloop tot hierdie gesprek in ons eie land oor wat is die rol van die kerk wanneer ons praat oor wie mag trou met wie, of wie neem die besluit oor aborsie.

Nadia: (24:10) Wat vir my altyd ironies is, is dat aan die hart van die kerk se boodskap, die Evangelie, is die verhaal van ’n tiener swangerskap. Maria word swanger met Jesus. Sy is nie getroud nie. So, as ons mense so onder tug plaas – hierdie is een van die dinge waarvoor veral jong vroue en tieners onder tug geplaas is en ek vermoed vandag nog word – wonder ek altyd of ons nie vir Maria onder tug sou geplaas het in ons kerk vandag nie?

Voetnotas

[1] Kyk:

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui