Drabok-besmetting hou net tot die oes

******

Drabok-besmetting hou net tot die oes | Netwerk24

Deur Daan Nortier

13 September 2021

Volksblad

Arnold Griesel se brief “NGK kan leer uit dié lesse van sakewêreld” (06.09) en Henriëtta Klaasing s’n “Is NGK-handelsmerk redbaar?” (08.09) se bydraes oor die “degradering van die NG Kerk se produkintegriteit” tref die hart van ’n toestand wat deur niemand anders nie as Jesus self voorspel is. Hy’t vertel die koninkryk van die hemele is soos ’n man wat goeie koringsaad in sy land gesaai het. Sy vyand het daarna onkruid (zizania) tussen die koring gesaai.

Met die opkoms van die saad, het die boer se werkers die onkruid bemerk. Toe hulle dit met hom bespreek, het hy gesê dit was die vyand se werk. Laat dit saam groei tot met die oes, was sy opdrag. Dan wag die vuur vir die onkruid.

Zizania is in Afrikaans drabok. Dis berug as koring se bose tweeling. Dit lyk soos koring totdat die vrug verskyn. Dan onderskei dit as nie koring nie.

Dit groei in soortgelyke omstandighede, maar dis giftig en kan duiseligheid, verwarring, waansin, braking, hoofpyn, nóg ander simptome; selfs die dood veroorsaak.

Botanies is dit as Lolium temulentum, maar ook as darnel bekend. Temulentum is die Latyns vir “dronk wees”. Darnel is ’n verbuiging van die Franse woord darne, wat “bedwelm” beteken.

Wat glashelder uit Toyota se etos (waarna die vorige briefskrywers verwys het) blyk, is die suiwerheid van die produk.

Dis totaal vry van drabok. Dit onderskei tragies van die toestand in die kerk waar drabok welig gesaai word.

Die verdeeldheid en nimmereindigende misleiding oor Bybelwaarheid is dus vanselfsprekend ’n noodwendige gevolg van drabokbedwelming. Dit sal duur tot die oes. Dan wag die vuur daarvoor. Só het die Here van die kerk gesê.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui