Resensie op Philip Fourie se “DIE VERWARRING IN DIE KERK OOR DIE DOOP”

Kyk ook:

Inleidend

Mnr. Fourie se geskrif bevat ’n wye spektrum van uitsprake – op so ’n wyse dat dit bykans onmoontlik is om anders op sy menings te reageer as die punt-vir-punt opmerkings soos ek dit in [rooibruin letters in vierkantige hakies] gedoen het. Daarom net eers ’n paar algemene opmerkings:

Mnr. Fourie wil dat suigelingsdoop baie lank ná Christus ontstaan het. Hy skryf bv: “Eers in die derde en vierde eeu nC het kinderdoop sporadies begin voorkom. Die eerste opgetekende geval van kinderdoop is in die derde eeu in Noord-Afrika.” Dit is nie juis nie. Reeds in Jesus se leeftyd was doop ’n bekende praktyk. Minderjarige kinders is saam met hulle ouers gedoop. Soos God ’n baie bekende praktyk (die besnydenis) uitgesonder het as Sy verbondsteken aan Sy verbondsvolk, net so het Jesus die baie bekende praktyk van doop as teken van dissipelskap uitgesonder en ’n eie betekenis daaraan gegee. Jesus het ook geen aanduiding gegee van watter van die gangbare vorms van doop (onderdompeling, begieting en besprinkeling) gebruik moes word nie. Daarom is enige vorm daarvan geldig, met die formule wat Hy ingestel het daarby. Ter demonstrasie van die doop van kinders: Kinders is alreeds in die eerste eeu vC saam met hulle ouers met die proselietedoop gedoop. Die oudste rabbynse bronne naamlik die tannaïtiese oorleweringe, maak tallose male melding van heidense suigelinge en klein kindertjies wat saam met hulle ouers in die Joodse religieuse gemeenskap opgeneem is. Natuurlik was dit nie die christelike doop nie, maar dit demonstreer ten minste dat die doop van suigelinge en kinders reeds in Jesus se leeftyd ’n bekende verskynsel was. Die apostels van Jesus Christus het reeds hele huisgesinne gedoop (1 Kor 1:16; Hand 11:14; 16:15, 31-33 ens.).

Die skrywer verwar deurlopend Johannes se bekeringsdoop met die christelike doop (Handelinge 19:3-5). Terwyl Johannes se doop geen betrekking het op die christelike doop wat drie jaar later deur Jesus ingestel is nie, merk hy onder andere op: “Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle… sien ons dat Johannes die Doper gedoop het vir die vergifnis van sondes, voordat die Nuwe Verbond gesluit is. Dus is die simbool van die afwassing van sondes deur die doop alreeds bekragtig voordat die Nuwe Verbond gesluit is.”

Daar is ook dikwels verwarrende uitsprake sowel as teenstrydighede soos: die doop is die teken van die wedergeboorte, en wedergeboorte is die teken van die Nuwe Verbond; die wedergeboorte is die gevolg van geloof, bekering, vergifnis en doop, maar tog is die doop die teken dat die dopeling alreeds wedergebore is; die bewering dat die NG Kerk die bekeringsdoop beoefen (kyk opmerkings by relevante uitsprake hieronder).

Mnr. Fourie se hele lyn van betoog impliseer dat gelowige verbondsouers se geloof hulle onverantwoordbare kindertjies geensins ten goede kom (kyk bv. 1 Kor 7:14) solank hulle nog nie kan glo nie (“… kan die ouers ook nie vir die kinders in die Nuwe Verbond by God instaan nie.”). Hulle staan dus buite die Nuwe Verbond en het klaarblyklik dieselfde status as heidense kinders. In verband met Hand 2:39 merk hy op: “In hierdie geval is die belofte dus nie vir suigelinge nie omdat hulle nie die vermoë het om ’n boodskap aan te neem nie.”

In Mat 28:19 sê Jesus: “Gaan dan heen na al die nasies toe en en maak mense my dissipels…” Hieroor sê mnr. Fourie: “Ons kinders word egter volledig by bogenoemde Skrifgedeelte ingesluit aangesien hulle deel is “van al die nasies”. Hy meen ook dat enige persoon wat nie gedoop is nie, nie “in gemeenskap… met die Drie-enige God” is nie (“Dit impliseer dat dié wat tot geloof kom in Christus, in gemeenskap gebring word met die Drie-enige God, deur die doop.” Dit beteken óók dat iemand wat wedergebore is eers deur die doop in hierdie gemeenskap gebring word. ’n Verdere verwarring steek ook kop uit wanneer hy sê dat mens eers ná die doop wedergebore kan word. Hy skryf: “…omdat wedergeboorte die gevolg is van mense wat tot geloof gekom het, die vergifnis van sonde en die doop.”. [Indien dit waar is dat sommige dit sê, dan is hierdie siening by verre in die minderheid en dit strook ook nie met die Bybel of die belydenisskrifte nie.] Die skrywer sien blykbaar die twee onafskeidbare aspekte (tot geloof kom en wedergeboorte) as twee afsonderlike gebeurtenisse: “Vir wedergeboorte om plaas te vind moet die dopeling gelowig wees…” Ons het dus die onhoudbare mening dat wedergeboorte volg op geloof en doop, maar dan weer is die teken van wedergeboorte die daaropvolgende doop.

Dit is opvallend dat die skrywer geen melding maak van die mees bekende, ooglopende en fundamentele uitinge van die gereformeerde leer nie, naamlik die belydenisskrifte. In plaas daarvan hou hy bedenklike uitsprake van teoloë voor, soos dié van prof. Adrio König wat (volgens skrywer se aanhalings) meen dat ’n voorstander van die suigelingdoop “in skaakmat” is indien hy sou gevra word om “net een plek in die Bybel” te wys waar kinderdoop voorkom. Ook onskriftuurlike besluite van die Algemene Sinodes word voorgehou om sy (die skrywer se) saak te versterk.

Nader aan die einde van mnr. Fourie se geskrif het ek min opmerkings gemaak, omdat vele van daardie gedagtes redelik losstaande van mekaar is en meestal alreeds vroeër beantwoord is.

Ds. Gideon Aggenbag

(Ds. Gideon Aggenbag het opgegroei in die AGS. Op 40-jarige leeftyd het hy ’n intensiewe studie van die doop onderneem. Op 42 het hy op Stellenbosch gaan studeer as NG Kerk predikant, waar hy ook sy skripsie oor die doop geskryf het. Hy is nou ’n emeritus (afgetrede predikant) en nog baie aktief. Hy beskou die Bybelse inhoud as die onfeilbare, betroubare, geïnspireerde en heilige Woord van God, en die suiwer verkondiging van die evangelie bly nog steeds sy eerste prioriteit. Hy verwerp ten sterkste die beginsels van historiese kritiek en die meegaande herinterpretasie van die Bybel.)

Hier volg Philip Fourie se artikel nou met my kommentare tussenin.

**********************

DIE VERWARRING IN DIE KERK OOR DIE DOOP

Philip Fourie

Inleiding

“Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matteus 28:19-20)

Hierdie was die laaste woorde van Jesus, opgeteken in Matteus, voor Sy hemelvaart. Die opdrag wat ons van Christus gekry het, is om die Evangelie te verkondig aan al die nasies en hulle te doop. Hierdie opdrag klink dalk duidelik en eenvoudig, maar die doop en die toepassing daarvan is ’n aspek van die Christelike geloof waaroor daar twee uiteenlopende standpunte ontwikkel het, naamlik die doop van kinders of van volwassenes.

Sedert die Hervorming in die sestiende eeu het ’n groot aantal kerke ontstaan wat bekeringsdoop of geloofsdoop toepas, wat deur onderdompeling aan die dopelinge bedien word. Die doop van suigelinge word nie aanvaar deur hierdie groep as ’n geldige manier om die doop te bedien nie omdat hierdie kerke geloof as ’n voorvereiste vir die doop sien. Hierdie sluit onder andere die volgende kerkgenootskappe in: die Baptiste, die Pinksterkerke, die Sewendedag Adventiste, asook die meeste onafhanklike Charismatiese kerke. [Natuurlik is geloof ’n voorvereiste vir die doop. In die verbond geld die geloof van verbondsouers egter ook vir hulle kinders (1 Kor 7:14), dus nie noodwendig die geloof van die dopeling self nie. Hier mag nie vergeet word nie: dat ons onder dieselfde verbond staan as wat God met Abraham gesluit het (Gen 17:7; Gal 3:7,29), en God het nog nooit van Sy plan afgesien dat kindertjies van verbondsouers, weens hulle ouers se geloof, in die verbond ingesluit is en ook die verbondsteken moet ontvang nie (Gen 17:12).]

Kerkgenootskappe wat die kinderdoop toepas, sluit onder andere die volgende in: die Lutherse, Presbiteriaanse en Metodiste Kerke; asook die Rooms-Katolieke, Anglikaanse en Ortodokse Kerke. Die Afrikaanse Susterskerke beoefen ook tans die kinderdoop. Hierdie doop word beskryf as die bediening van die doop aan kinders van gelowige ouers.

Volgens hierdie praktyk moet kinders van gelowiges gedoop word omdat God die kind van die begin af insluit in Sy verbond met die gelowige ouers. [Dít kan nie weerlê word nie. Kyk hierbo. Ons moet duidelik onderskei dat insluiting in die verbond (en selfs die verbondsteken / doop) nie ’n waarborg is van redding/ewige lewe nie (Mat 20:16; Ef 1:4; 1 Kor 10:5-11). Wedergeboorte is die een onontwykbare voorwaarde wat Jesus gestel het (Joh 3:3). Maar insluiting in Sy verbond beteken nie noodwendig dat die kindjie reeds gewederbaar (gered) is nie, want vir die wat groot gaan word, gaan wedergeboorte volgens Jesus self, nodig wees.

Die volgende vraag kom as vanself op: Wat dan van kindertjies wat sterf vóórdat hulle wedergebore is?
Eerstens lees ons in 1 Kor 7:14 dat die kindertjies van gelowige (verbonds)ouers “heilig” (=God se eiendom) is – op grond van hulle ouers se geloof. Ter verduideliking mag ons hier onthou dat God Abraham se geloof vir hom as geregtigheid gereken het, en op grond van daardie geloof ook Abraham se kinders in die verbond ingesluit het. Die voorwaarde van geloof en wedergeboorte geld dus nie vir die kindertjies solank hulle onverantwoordbaar is nie. Tweedens: Wat dan van die heidense kindertjies wie se ouers nie tot geloof gekom het nie? Is hulle dan verlore? Dit pas ons nie om hieroor te spekuleer nie, want die Bybel maak geen uitsprake daaroor nie. Ons laat daardie kwessie rustig in die veilige hande van God. Hy is immers getrou, regverdig, alwys, genadig, barmhartig, liefdevol en goed.]

Het jy al gewonder wie is reg en wie is verkeerd? Die verstaan van die doop tussen hierdie twee groepe is so verskillend.

Almal kan tog nie reg wees nie! Iewers verstaan iemand die Bybel verkeerd. Ten einde hierdie argument beter te verstaan, moet ons ’n aantal vrae vra…

Is die kinderdoop of die volwassedoop Bybelgefundeerd? [Beide is Skrifgefundeerd – net nie óórdoop nie!] Op watter Skrifgedeeltes is die verskillende partye se argumente gegrond? Indien sommige van die betrokke Skrifgedeeltes nie van toepassing is soos deur een van die partye beweer nie, wat is dan die regte verstaan van hierdie Skrifgedeeltes? [Net één antwoord: laat die Skrif homself verklaar, en vermy daardeur simplistiese eie uitleg (2 Pet 1:20).]

Geleerdes argumenteer al vir eeue oor die regte toepassing van die doop en verskil steeds daaroor. Meestal spat die partye uitmekaar sonder ’n oplossing van enige aard. Die doop word gevolglik die kruispunt waar gelowiges en kerke se paaie uiteen loop en Christene selfs die rug na mekaar toe draai. Gevolglik vermy geestelike leiers eerder die kwessie oor die doop en geen vordering word gemaak om ’n helder en algemeen aanvaarde standpunt oor die doop te vind nie. [Ons mag toegee dat vele geestelike leiers (van albei oortuigings) die kwessie vermy omdat hulle só baie aspekte rondom die doop nie verstaan nie – soos die onderskeiding tussen die bekeringsdoop deur Johannes die Doper en die Christelike verbondsdoop wat deur Jesus Christus drie jaar daarna ingestel is (Handelinge 19:3-5), die spesifieke rede waarom die sondelose Jesus deur Johannes gedoop is, ens, ens.]

Dan vra sommige mense of hierdie stryd oor die doop die moeite werd is? Tog is die doop een van die fondamentstene van die geloof en ons as gelowiges behoort ’n poging aan te wend om hierdie saak uit te pluis. Ten einde ’n relevante bespreking te hê, kan ons die dooppraktyk van die Afrikaanse susterskerke vergelyk met die van die verskeie kerkgenootskappe wat die bekeringsdoop toepas. Die susterskerke bestaan uit die NG, die Gereformeerde (GKSA) en die Hervormde Kerke. Hierdie kerke het die grootste ondersteuningsnetwerk in Suid-Afrika en is dus ’n logiese vertrekpunt.

1 Die situasie in die kerk oor die doop

Aangesien die susterskerke naastenby dieselfde siening oor die doop het, gaan as voorbeeld vir ondersoek slegs die NG Kerk se besluite oor die doop in oënskou geneem word.

In 1986 het Bybelkor die kursus “Dank God ek is gedoop” gepubliseer. Hierdie kursus was in samewerking met die Algemene Kommissie vir die lidmaattoerustingsprogram van die NG Kerk uitgegee. Die opskrif van die inleidende hoofstuk is: “Alles is nie pluis nie.”

Alhoewel die boek nie meer beskikbaar is nie, word hierdie kursus deur Bybelkor van nader beskou, aangesien die doopformulier wat vandag nog in die NG Kerk gebruik word, dieselfde is as wat in die Bybelkorkursus opgeteken is. Dit was dus vir my die logiese beginpunt vir die bespreking van die NG Kerk se dooppraktyk. [Die vraag kom na vore: waarom is die logiese beginpunt dan nie die Gereformeerde Belydenisskrifte nie? Al die gemelde denominasies onderskryf dit immers, en geen ander geskrif of uitsprake (wat dikwels teologiese afwykings bevat) het dieselfde aanvaarding as dié geskrifte nie.]

’n Lys van talle vrae word in hoofstuk 1 (“Alles is nie pluis nie”) van dié boek gevra. Een interessante vraag wat die skrywers van hierdie boek vra, is: “Sê die kerk nie dalk meer (of minder) oor die doop as wat die Bybel daaroor te sê het nie?” Die publikasie “Dank God ek is gedoop” [Mens sou dit ook kon verwoord: “Dank God ek dra Jesus se trouteken (“trouring”).] het nie veel gehelp om die kwessie oor die doop op te los nie. Dit het nie ’n lang lewe gehad nie en is ook nie meer beskikbaar nie.

Bybelkor het hierna aanbeveel dat dr Adrio König se boek “Christelike doop én bekeringsdoop?” bestudeer word. In hierdie boek lewer dr König die volgende waardevolle bydraes: [Waarom vir prof. König uitkies as verteenwoordigend van die gereformeerde beginsels? Waarom nie die Gereformeerde Belydenisskrifte nie? Dieselfde vraag geld ook vir die besluite van ’n dwalende NGK Sinode]

1 Ons het nie van Jesus ’n bevel gekry om kinders te doop nie. [Prof. König (soos hier aangehaal) is oor-simplisties. Skrif verklaar Skrif. Verbondskinders moet ook die verbondsteken ontvang. God het nog nooit van plan verander en die kinders uit die verbond uitgesluit nie (Gen. 17:9-14; Gal. 3:7,29; 1 Kor. 7:14]. “Christus het sy bloed nie minder vir die … kindertjies as vir volwassenes vergiet nie.” (NGB Art. 34).]

2 Die probleem is nou dat die drie “Afrikaanse Kerke” ’n taamlike fundamentalistiese Skrifbeskouing aan hulle lidmate oordra…. Dis dan die maklikste ding in die wêreld vir iemand wat die kinderdoop verwerp, om net te vra: ‘Wys my net een enkele keer waar die woord kinderdoop in die Bybel voorkom.’ En daarmee is jy dan in skaakmat geplaas. [Dan sou prof. König ook maklik in skaakmat geplaas kon word: “Wys my net een plek in die Bybel” waar God met die woord “drie-enige” God beskryf word; waar pertinent staan dat Jesus nooit gesondig het nie; dat Jesus nooit gelieg het nie; dat Hy nooit owerspel gepleeg het nie; ens, ens. Of is “Skrif verklaar Skrif” ’n té moeilike begrip?]

Omdat ons lidmate glad nie op ’n meer genuanseerde wyse met die Bybel kan omgaan nie, besluit predikante dan om maar kortpad te kies en allerlei kwinkslae te gebruik om lidmate tog tevrede te probeer hou – ’n gebruik wat hom dan weer wreek as hierdie lidmate die “anderkant” hoor, omdat dié kant vir hulle baie oortuigender klink in terme van ’n fundamentalistiese Skrifbeskouing. [Dit is nie duidelik wat König bedoel nie met “Omdat ons lidmate glad nie op ’n meer genuanseerde wyse met die Bybel kan omgaan nie …”. Dat “predikante besluit om maar kortpad te kies en allerlei kwinkslae te gebruik om lidmate tog tevrede te probeer hou” is nie ’n oortuigende argument nie. Dit is juis wanneer simplistiese, eie Skrifuitlegging [die “kort pad” wat aan predikante toegedig word) vermy word, en die Skrif liewer toegelaat word om Homself te verklaar (2 Pet 1:20), dat “fundamentalistiese Skrifbeskouing” tot sy reg kom.]

Gevolglik verloor kerke wat die kinderdoop aanvaar, reëlmatig lidmate na kerke wat die kinderdoop verwerp. [Eenvoudig omdat ’n simplistiese eie uitleg van die Skrif toegepas word.]

3 Oor dekades heen was hierdie oordoop van lidmate een van die grootste faktore in die groei van die Pinksterkerke in Suid-Afrika. Hulle kon hulle daarop beroem dat hulle nie mense vir hulle kerke probeer wen nie, maar net eenvoudig mense doop soos hulle dit verstaan het, en dat die meeste van hierdie mense dan op so ’n wyse deur hulle eie kerke behandel is dat hulle sonder slag of stoot na die Pinksterkerke oorgegaan het. [Met “oordoop” word die aanvanklike doop waarmee God Sy liefde en verbondstrou bevestig, ongelukkig verwerp. Dit word dan vervang met ’n doop waarin die dopeling graag sý/háár geloof/bekering wil bevestig. Prof. König behoort te wéét dat God nooit gevra het dat ons ons geloof van ons kant af moet bevestig dmv die doop(-teken) nie! Die doop is uitsluitlik ’n teken van God aan die mens, en nie andersom nie.]

Met die koms van die onafhanklike Charismatiese kerke het hierdie uittog natuurlik net versnel. Daar is statistiek wat toon dat die NG Kerk teen die 1990’s alreeds omtrent ’n halfmiljoen lidmate verloor het. Oordoop was een van die grootste oorsake van hierdie uittog. [- wat ’n verwerping van die verbondsdoop impliseer. Ook ’n gevolg van die (simplistiese) verwarring met die bekeringsdoop van Johannes.]

Dit bly een van die vreemdste verskynsels in die geskiedenis van die kerke wat die kinderdoop beoefen, dat hulle nooit ’n deurtastende ondersoek gedoen en maatreëls getref het om hierdie uittog te probeer stuit nie.” [Maatreëls waardeur die suiwer leer dan prysgegee word en on-Bybelse oortuigings geakkommodeer word – soos ook die viering van die doop? As God dit nodig geag het, sou Hy dit so verorden het. Daarby verwerp die NGB “… alle menslike uitdinksels… wat mense sou wil invoer om God te dien en om, op watter manier ookal, die gewetens daardeur te bind en te dwing” (Art. 32)]

Daarteenoor sê die Algemene Sinode van die NG Kerk dat mense nie noodwendig oor die doop na ander kerke oorgaan nie, wat hemelbreed verskil van dr König se “omtrent ’n halfmiljoen.”

Dr König het ook die volgende waardevolle ondersoek gedoen oor die redes waarom lidmate hul weer laat doop en waarom hulle begin twyfel het in die geldigheid van hul kinderdoop. ’n Vraelys is uitgestuur aan 510 oorgedoopte mense, waarvan 362 na ’n ander kerk oorgegaan het. Hier volg dr König se bevindinge (Oordoop: Waarom? En Daarna, Lux Verbi. BM1997):

“Twee redes het die ander heeltemal oorheers:

  • Ek is gelei deur die Gees, 93%.
  • Die doop is ’n stap van gehoorsaamheid/bekering, 93%.

Drie ander redes het ook sterk na vore gekom:

  • Deur Bybelstudie op my eie, 65%.
  • Weens ’n besondere geestelike ervaring, 58%.

Al is kinderdoop reg, is grootdoop nog noodsaaklik, 53%.

Een ander rede was opvallend:

  • Kinderdoop is verkeerd, 50%.”

Dr König vervolg dan:

“Verreweg die meerderheid mense wat oorgedoop is, sou dus waarskynlik iets soos die volgende sê: “Ek het my laat doop omdat die Heilige Gees my oortuig het dat die grootdoop noodsaaklik is as ’n stap van gehoorsaamheid en ’n getuienis van my bekering.” [Geen Bybelse begronding nie, net ervarings en emosies. Die aanspraak op die “leiding van die Heilige Gees” blyk dikwels slegs ’n emosionele aanspraak en dikwels on-Bybels, te wees.]

Heelwat sou ook iets byvoeg soos: “Die Gees het my gelei deur Bybelstudie wat ek op my eie gedoen het…..”

Dr König het ook bevind dat die lidmate wat hulle wel laat oordoop het, graag bystand vanaf die kerk wou beleef het in die tyd wat hulle gedoop is. [Blykbaar beteken “bystand” hier “goedkeuring”?]

2 Die verwarring in die kerk oor die doop

Die probleem is dat baie lidmate wat as kinders gedoop is, begin twyfel oor die geldigheid van hul kinderdoop. [Slegs omdat hulle deur die simplistiese wederdoperse “verstaan” oortuig is]. Volgens dr König glo hierdie lidmate aan ’n meer simplistiese verklaring van die Bybel waarvan sommige teoloë se uitleg hulle moeilik sal oortuig. Gevolglik is die kerk steeds besig om lidmate te verloor aan mense wat oorgaan na ander kerke wat volgens “meer fundamentalistiese Bybelvoorskrifte doop”. [En hierdie stelling laat die aap uit die mou!! Lidmate wat glo aan “’n meer simplistiese verklaring van die Bybel”, loop oor na ander kerke wat volgens “meer fundamentalistiese Bybelvoorskrifte doop”. “Simplisties” word hier gelyk gestel aan “fundamentalisties” – wat misleidend is. ’n “Simplistiese verklaring” beteken om nie al die relevante uitsprake/aspekte in ag te neem nie, terwyl ’n “fundamentalistiese” verstaan beteken om alle Bybelse uitsprake letterlik, op gesigswaarde, te glo en te aanvaar. Dít is ’n baie groot verskil.] Die Algemene Sinode het hierdie situasie tydens die sinodesitting van 2007 soos volg beskryf:

“Buiten die krisis rondom die “grootdoop teenoor kinderdoop”, wat homself siklies deur die gang van die geskiedenis in die kerk herhaal, is daar in ons tyd sekere faktore wat die gesprek oor doop nog meer dringend en meer kompleks maak.”

Die krisis word deur die kerk as ’n “integriteits- en geloofwaardigheidskrisis” beskryf en word hoofsaaklik beleef deur diegene wat met groot erns hulle geloof in God wil uitleef en aan Hom gehoorsaam wil wees. [Dmv hulle eie “teken” eerder as ’n toegewyde lewenstyl soos wat God van ons vra?!] Die manier waarop die kerk die krisis oor jare hanteer het, het dit net verder uitgerek.

Die kerk kon nog nooit daarin slaag om die krisis oor die doop af te handel nie. Denominasies wat volgens ’n meer fundamentalistiese [simplistiese?] verklaring van Bybelvoorskrifte doop, beleef nie krisisse rondom die doop nie; trouens hulle is dikwels verbaas dat daar ’n krisis in die NG Kerk oor die doop is.

In ’n poging om die krisis tot ’n einde te bring, het die Sinode reeds in 2004 die volgende besluit daaroor geneem:

1. 1 Die Algemene Sinode besluit om sinodes en kerkrade weereens dringend aan te moedig om groot erns te maak met die verantwoordelike vertolking van die doop en nagmaal soos ons dit verstaan binne die Gereformeerde verstaan van die evangelie van die genade.

1.2 Die Sinode moedig kerkrade aan om gesamentlike doopvierings in die erediens verder te ontwikkel en uit te bou. [Is dit die “verantwoordelike” weg (1.1)? Kyk NGB Art. 32 hierbo.]

1.3 Die Sinode versoek gemeentes om nie met hierdie viering die suggestie van ’n herdoop te laat posvat nie.

1.4 Die Sinode moedig kerkrade ook aan om die moontlikheid van individuele doopvierings in die erediens en in kleiner groepe in die gemeente te ontwikkel.

In 2004 word doopvierings deur die Algemene Sinode (AS) ingestel in ’n poging om ’n oplossing te vind vir die krisis waar volwassenes wat as kinders gedoop is, nou aan rituele moet deelneem deur hul vingers in ’n bak water te druk. [Kyk hieronder.] Dit is veronderstel om die dopeling te “herinner aan sy doop van jare gelede.” Die AS beveel die volgende aan ten opsigte van doopvierings:

  • By belydenisaflegging steek die lidmaat sy hand in die doopvont as herinnering aan sy eie doop van jare gelede.
  • ’n Kers word aangesteek, en
  • dat die ouers, as die interim draers van die boodskap van genade, ’n prominente rol in die seremonie moet speel. [Inderdaad ’n krisis van verwarring: Hierbo word dit genoem “’n poging om ’n oplossing te vind vir die krisis waar volwassenes wat as kinders gedoop is, nou aan rituele moet deelneem deur hul vingers in ’n bak water te druk.”!! Het dié ritueel, met kerse en al, dan nie nou geword soos die goue kalf vir die Israeliete in die woestyn nie?]

In “Dank God ek is Gedoop” word die vraag gestel: “Sê die kerk nie dalk meer (of minder) oor die doop as wat die Bybel daaroor te sê het nie?” Die praktyk van “doopviering” word nêrens in die Skrif vermeld nie en is dus basies on-Bybels. In die geval van doopvierings, sê die kerk wel meer oor die doop as wat die Bybel daaroor te sê het.

Hierdie is ’n voorbeeld van die ontstaan van ’n on-Bybelse, mensgemaakte tradisie. ’n Mens kan vra: “Watter ander vorms van tradisie sal ons nog vorentoe sien?”. ’n Mens kan ook net sowel vra: “Watter ander on-Bybelse, mensgemaakte tradisies, soos doopviering, is nie al in die verlede deur gereformeerde kerke ingestel nie?”. Die Skrif is egter helder en duidelik oor die doop en moet die finale sê hê.

Die AS beveel ook die volgende aan:

“5. Gereformeerde verstaan van die doop:

Die Taakspan vir Leer en Aktuele Sake se verslag oor die Betekenis en Gebruik van die Doop het tot lewendige bespreking gelei. Die saak is verwys na ’n tydelike kommissie wat na oorleg met mekaar die volgende voorstel gedoen het:

NB: Enige suggestie in die media van ’n “bekeringsdoop” naas die Christelike doop (Beeld en Burger) is sonder enige gronde. Hier volg die finale besluit oor die doop:

1. Die AS neem bogenoemde verslag in ontvangs as vertrekpunt vir omvattende gesprek aangaande doop en doopviering.

2. Die AS bevestig dat die Christelike doop vanuit die radikaliteit van genade, as ononderhandelbaar beskou word.

3. Met groot begrip vir die kragtige betekenis van simbole en rituele en met behoud van die Christelike doop as eenmalige sakrament (vir kinders en volwassenes) dra die AS dit aan al die sinodes op om te besin oor toepaslike rituele waardeur gedoopte lidmate van die werklikheid van God in hulle lewe kan getuig.

4. Sodanige rituele sal ook net gevier kan word deur persone wat hulle Christelike doop erken.

5. Die Algemene Sinode gee aan die Algemene Diensgroep: Gemeente Ontwikkeling, opdrag om die sinode te bedien met ’n eenvoudige en helder beleid en voorstelle aangaande doop, doopviering en kindernagmaal en kategese, wat beide ons tradisie en die praktiese bedieningskonteks van ons dag in ag sal neem.”[Die Sinode wyk hiermee af van die Bybel en belydenisskrifte, en laat tradisie en (veral) “die praktiese bedieningskonteks van ons dag” (humanistiese modernisme) die laaste woord spreek.]

(http://www.ngk-ntvl.com/Alg%20SinodeInligting%202(5Jun07).rtf)

Tydens die sinodesitting van 2007 word die besluite van die 2004 Sinodesitting herhaal as “huidige besluite” en die AS gee opdrag aan die Algemene Diensgroep: Gemeente Ontwikkeling om die Sinode te bedien met ’n “eenvoudige en helder beleid en voorstelle aangaande die doop.” Die verslag oor die “Betekenis en gebruik van die doop” word ook aanvaar as uitdrukking van die NG kerk se verstaan van die doop en leraars en kerkrade word versoek om “toe te sien dat dit so gevier word.”

Hiermee erken die Sinode dat hulle tot op datum nie ’n “eenvoudige en helder beleid aangaande doop en doopviering” gehad het nie. Sedert 2004, of selfs 1998, kon die NG kerk nog nie finaliteit bereik nie.

Die Sinode skryf ook voor dat helderheid verkry moet word deur “die verantwoordelike vertolking van die doop … soos ons dit verstaan binne die Gereformeerde verstaan van die evangelie van genade.” Verder moet die helder beleid en voorstelle “beide die tradisie en praktiese bedieningskonteks in ag neem.”

Wat opvallend is by nadenke oor hierdie aanhaling, is dat die vraag na vore kom: “Watter gewig het die Skrif self teenoor die “tradisie” van die gereformeerde kerke in die beoordeling van die doop?” Beskou die kerk dan nie hul eie interpretasie van die Skrif bó die van die primêre bedoeling van die Bybelse teks nie?

Kom ons kyk eers na die volgende Skrifgedeelte:

Matt 15 1In dié tyd het daar Fariseërs en Skrifgeleerdes van Jerusalem af by Jesus gekom en Hom gevra: 2“Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte?…” 3En Jesus antwoord: “Waarom verontagsaam julle self die gebod van God ter wille van julle oorgelewerde gebruike?… 6 …So ontneem julle die woord van God sy gesag ter wille van julle oorgelewerde gebruike… 9Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie.”

Die Fariseërs het honderde kleinlike reëls aan God se heilige wet as deel van hul interpretasies toegevoeg, en die mense probeer dwing om ook húlle wette getrou na te kom. Hierdie mense het gereken dat hulle God se wil ten opsigte van elke aspek van die lewe ken. Sommige godsdienstige leiers probeer vandag nog om hulle eie interpretasies en regulasies naas en selfs bó God se Woord te plaas. Dit veroorsaak net verwarring onder gelowiges en buitendien is dit afgodsdiens om ’n menslike interpretasie van God se Woord net so belangrik soos die Skrif self te ag. Dit is veral gevaarlik om nie-Bybelse standaarde vir ander mense te stel en dan te verwag dat hulle volledig daaraan moet voldoen. [Hierop moet ook die skrywer en veral die wederdoperse standpunte bedag wees!!]

Uit bogenoemde blyk dit dat Jesus mense waarsku teen tradisie wat hoër as die Woord self geag word en dat ’n mens Hom eerder teengaan as wat jy Hom dien, as jy wel sulke tradisies uitleef.

Ons kom nou terug by die krisis waarin die kerk homself bevind. Tydens die Sinodesitting van 2007 is die praktyk van kinderdoop uitgewys as ’n aspek wat bydra tot die “integriteits- en geloofwaardigheidskrisis” in die kerk. Die kerk vra om hulp vir die bevordering van ’n helder beleid maar in dieselfde artikel skryf die AS “dat die Christelike doop vanuit die radikaliteit van genade, as ononderhandelbaar beskou word.”

Die kerk is dus duidelik bewus van die situasie oor die doop maar hoe beplan die kerk om enigsins vordering te maak oor die kwessie van die doop as die kerk die saak in beginsel as ononderhandelbaar sien? Myns insiens is die rede waarom hierdie krisis so uitgerek word, dit dat die kerk rondom die probleem wil werk en eerder die simptome wil behandel, soos om doopvierings in te stel, as om die werklike probleem aan te spreek.

Dan sal ons ook moet vra: Is die probleem dat die kerk die kinderdoop verkeerd verstaan of is die probleem dat die kerk die doop as sulks verkeerd verstaan?[Dit is dus vir die skrywer ’n uitgemaakte saak dat die gereformeerde leer die doop verkeerd verstaan!]

Matt 11 25Daardie tyd het Jesus gesê: “Ek prys U, Vader, Here van hemel en aarde, dat U hierdie dinge vir slim en geleerde mense verberg het en dit aan eenvoudiges bekend gemaak het. 26Ja, Vader, so was dit u genadige bedoeling.”

Matteus 11:25-26 is ’n bevestiging dat die woord se betekenis op ’n eenvoudige manier verstaan kan word. God het “hierdie dinge”, die betekenis van Jesus se woorde en dade, verberg vir “slim en geleerde mense”, die offisiële geestelike leiers van die volk wat in hulle trots geweier het om hulle te bekeer. Hy het dit daarteenoor aan eenvoudiges bekend gemaak wat soos kinders was in vergelyking met die slimmes. Maar hoe moet die Skrif bestudeer word om die ware boodskap te verstaan?

[Die implikasie is hier dat “groot-dopers” dié wat van hulle verskil (die “kinderdopers?”) as die (dwalende) “slim en geleerde mense” beskou, en vir hulleself die status van die “eenvoudiges” opeis. Die “eenvoudige verstaan” beteken nie om “kortpad te vat” en eie uitlegging aan Skrifgedeeltes te gee nie (2 Pet. 1:20), maar om die Skrif verantwoordelik te “ondersoek” (Hand. 17:11) en kinderlik te glo wat jy daar vind. “Eenvoudig” staan nié gelyk aan “simplisties”/ “vereenvoudig” nie. Om die Skrif te ondersoek beteken om die Skrif homself te laat verklaar.]

Hand 17 11Die mense daar was ontvankliker as dié in Thessalonika. Hulle het met groot belangstelling na die woord geluister en elke dag die Skrif ondersoek om te sien of dit is soos Paulus sê.

Hierdie mense was bereid om tot oortuiging te kom, maar hulle het self die Woord bestudeer om Paulus en Silas se uitleg daarvan te ondersoek. ’n Persoon moet dus aandagtig luister na leraars maar steeds self die Skrif bestudeer en enige leier/teoloog/geleerde se woorde krities nadink en jou eie siening daaroor vorm.

Hos 4 6My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis; omdat jy die kennis verwerp het, sal Ek jou verwerp, sodat jy vir My die priesteramp nie sal bedien nie; omdat jy die wet van jou God vergeet het, sal Ek ook jou kinders vergeet.

Matt 22 29Toe antwoord Jesus en sê vir hulle: Julle dwaal, omdat julle die Skrifte nie ken nie en ook nie die krag van God nie.

Onkundige mense se onvermoë om deel te neem aan die bespreking, weerhou hulle daarvan om kritiese vrae te vra.

Daarom is dit elke lidmaat se plig om op sy/haar eie die Skrif te bestudeer.

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en moet die finale sê oor enige vraagstuk hê, dus ook oor die doop. Kom ons begin dus ons ondersoek oor die doop deur te kyk na die oorsprong van suigelingdoop deur besprinkeling.

3 Wat en waar is die oorsprong van suigelingdoop deur besprinkeling?

[Die oorsprong is nét vanuit die Bybel!!]

Om hierdie vraag te beantwoord, is daar hoofsaaklik vier soorte bronne wat geraadpleeg kan word, naamlik die Bybel, historiese geskrifte, kunswerke en grafskrifte. Vir hierdie bespreking gaan ons na die oorsprong van suigelingdoop en besprinkeling afsonderlik kyk. Kom ons begin dus met die oorsprong van suigelingdoop.

3.1 Waar is die oorsprong van suigelingdoop?

[Weer: Nét in die Bybel. Dit is só duidelik wanneer die Skrif homself verklaar!! Kyk verder.]

Die doop word tans op verskillende maniere toegepas deur onderskeie kerkgenootskappe. Die Afrikaanse Susterskerke is voorbeelde van kerkgenootskappe wat suigelingdoop toepas terwyl die bekeringsdoop deur onderandere die Baptiste kerke toegepas word. Kom ons begin deur eers te kyk na die oorsprong van suigelingdoop in die lig van die Susterskerke se Bybelse verklaring oor hierdie onderwerp.

Die Susterskerke meen dat in die tyd toe die Nuwe Testament geskryf is, daar ’n “sendingsituasie” was omdat die Evangelie toe aan heidene verkondig is. ’n “Sendingsituasie” veronderstel dus dat slegs mense wat tot bekering gekom het, [mét hulle kinders!] gedoop is en daarom word hierdie doop die “Bekeringsdoop” genoem. [Nee! Die charismatiese (wederdoperse) kerke noem die (slegs) volwasse doop die “Bekeringsdoop”. Kyk Hand. 19:1-5. Die Susterskerke noem dit die “verbondsdoop”.] Omdat teoloë van mening is dat in die Nuwe Testamentiese tyd daar ’n sendingsituasie bestaan het, is daar gevolglik nie bewyse in die Bybel van suigelinge wat gedoop is nie. Verder is die kerk van mening dat die hedendaagse tyd nie meer ’n “Sendingsituasie” is nie en daarom word suigelinge gedoop. [Hele huisgesinne is reeds in die NT-tyd gedoop. Kyk o.a. Hand. 16:15; 16:31,33. (Let op dat telkens net die gesinshoof geglo het, maar hul hele “huisgesin” is saam met hulle gedoop. Ook onder die ou bedeling van hierdie selfde verbond het dieselfde beginsel vir die besnydenis gegeld {Gen. 17:10-12, 23-27})]

Maar waar is dan die oorsprong van suigelingdoop? [Kyk net hierbo! Vir meer duidelikheid oor hierdie vraagstuk, gaan ons dus eksterne Christelike bronne raadpleeg. Hierdie Christelike geskrifte (Bylaag A) is saamgestel deur die vroeë kerkvaders in die eerste vier eeue nC.]

Geskrifte toon duidelik aan dat in die eerste vier eeue nC, die oorgrote meerderheid dopelinge gelowiges of mense van ’n verantwoordbare ouderdom was. Slegs Christene wat al in staat was om hul geloof te bely, is in die eerste twee eeue gedoop. Eers in die derde en vierde eeu nC het kinderdoop sporadies begin voorkom. Die eerste opgetekende geval van kinderdoop is in die derde eeu in Noord-Afrika.

Die uitbreiding van die praktyk van kinderdoop kan deels toegeskryf word aan die toepassing van nood-doop en ook die doop wat in verband met die besnydenis gebring was. Nood-doop is toegepas wanneer ’n kind op sterwe gelê het om te “verseker” dat daardie kind wel die ewige lewe sal ontvang. Die afwassing van sondes speel ook ’n pertinente rol as rede waarom kinders gedoop is. Die betekenis van die doop as reiniging van sondes het dus verander van ’n simbool na ’n werklikheid.

Met die uitbreiding van die Christelike geloof het die doop van kinders teenoor die doop van gelowiges in twee uiteenlopende praktyke ontwikkel. Die doop van kinders word die Christelike doop genoem (volgens die NG Kerk se Sinodebesluit) en die doop van gelowiges die bekerings- of geloofsdoop.

Na die bekering van keiser Konstantyn in 312 nC, het die Christelike kerk die staatskerk geword en hiermee is kerk en staat versoen. Ons kan aanvaar [Dus is dit maar net ’n aanname] dat die doop van kinders in die kerk onder die beheer van die bisdom van Rome hierna ’n al meer aanvaarde praktyk geword het. Dit het dus tot ’n sekere mate die teologiese basis gevorm vir die doop van kinders.

Tydens die Hervorming in die sestiende eeu het die hervormers, soos Luther en Calvyn, teen die Rooms-Katolieke teologie gekies, maar die praktyk van kinderdoop deur besprinkeling behou. Gevolglik beoefen die Afrikaanse susterskerke vandag nog dieselfde praktyk. [Waarom sou Luther en Calvyn hierdie praktyk behou het as hulle bereid was om te sterf vir die regte verstaan van die Bybel?]

Steeds is die Bybel ons primêre bron van kennis en daarom sal die meerderheid van mense eerste die Bybel wil raadpleeg vir bewyse van suigelinge wat gedoop is. Om hierdie rede sal lidmate gereeld hul geestelike leiers nader op soek na bewyse van suigelinge wat gedoop is. Teenstrydig met die Susterskerk se eie definisie van ’n “Sendingsituasie” in die Nuwe Testamentiese tyd, soek teoloë na bewyse van suigelinge wat gedoop is uit die Nuwe Testament. Teoloë sal dan suigelingdoop probeer verdedig deur te redeneer dat wanneer daar van die doop van volledige huisgesinne in die Bybel geskryf is (Hand 16:14,15; Hand 18:8; 1 Kor 1:16), daar ’n groot waarskynlikheid is dat daar suigelinge teenwoordig moes gewees het tydens die doop van daardie betrokke huisgesinne en gevolglik ook die doop ontvang het. Baie redenasies kan gevolg word om te probeer bewys dat daar wel suigelinge in daardie betrokke huisgesinne was, maar die feit is dat dit ’n afleiding is dat suigelinge wel in hierdie gevalle gedoop is. [Indien daar wel onverantwoordbare kinders in daardie huisgesinne was, sou hulle doop in lyn wees met wat God beveel het aangaande die verbond en verbondsteken. Indien hierdie reëlings versuim was, kan dit niks verander aan wat die Woord van God daaroor sê nie. Insgelyks kan die verwerpers van die suigelingsdoop ook nie sê dat daar geen onverantwoordbare kinders was nie. Ons mag onsself maar afvra hoe groot/klein die waarskynlikheid is dat daar in vyf van die destydse aansienlike groot huisgesinne geen jong kinders was nie!]

Wat egter baie kommerwekkend is, is dat die geleerdes in die NG Kerk die hedendaagse tydperk nie herken as ’n sendingsituasie nie, maar terselfdetyd beoefen die NG Kerk ook die bekeringsdoop. [Nie so nie! Die bekeringsdoop het al obsoleet geraak terwyl Johannes die Doper nog gelewe het. Die NG Kerk (en ander gereformeerde kerkverbande wat die drie Formuliere van Eenheid aanvaar) doop met die verbondsdoop wat Jesus Christus by Sy hemelvaart ingestel het. Die doop van kinders/suigelinge was nog altyd ’n verbondsgegewene.] Vir die bediening van die bekeringsdoop het die NG Kerk ook ’n formulier vir die doop van volwassenes genaamd: Die “Formulier vir die bediening van die doop aan volwassenes”. Hierdie formulier is beskikbaar in die Erediens handleiding. [Die feit dat bekeerde volwassenes vir die eerste maal gedoop word, maak nie van die verbondsdoop ’n bekeringsdoop nie. Daar is net een geldige doop – dié wat Jesus ingestel het (Ef. 4:5), en dít was die doop as teken van dissipelskap/ die Nuwe Verbond waarby gelowiges se kinders ingesluit is (bv. 1 Kor. 7:14). Paulus het dan ook die bekeringsdoop (van Johannes die doper) vir volwasse bekeerlinge afgewys as ongeldig en het hulle met die geldige Christelike doop wat Jesus ingestel het, gedoop (Hand. 19:1-5 ).]

As die Kerk dan twee teenstrydige verduidelikings het van die hedendaagse bedienings konteks, wat is dan die hedendaagse situasie? Dit blyk dus of hierdie verwarring oor die doop steeds voortduur soos die Sinode self erken het tydens die 2007 Sinodesitting. As die kerk die hedendaagse tyd nie as ’n sendingsituasie sien nie, beteken dit dat die kerk besig is om die opdrag van God in Matt 28:19-20 te ondermyn. [Die beginsel van die verbondsdoop bly in enige situasie dieselfde: ’n Volwassene wat tot bekering kom en nog nie gedoop is nie, moet gedoop word, en sy kinders saam met hom. Soos reeds gesê: die skrywer kan nie bedenklike besluite en oortuigings gebruik om sy saak te sterk nie. Hy moes liewer die Belydenisskrifte gekies het om dié verkeerd te bewys. Boonop meen die skrywer self dat gemelde besluite onlogies en vals is (kyk ondertoe). Daarom kan hy nie hierdie besluite gebruik om sy argument te staaf nie.]

Bykomend tot hierdie het die volgende ook duidelik geword met die bestudering van die historiese geskrifte in Bylaag A:

  • Dat daar nie bewyse is uit historiese geskrifte van suigelinge wat in die eerste twee eeue nC gedoop is nie; en,
  • dat slegs volwassenes gedoop is vir ’n tydperk nadat die Nuwe Testament afgesluit is. [Ook dít kan niks verander aan die Bybelse beginsels omtrent die verbond en verbondsteken nie.]

Dít impliseer dus die volgende: [Dus is die volgende implikasies ongeldig.]

  • Dat sommige vroeë kerke se oorgang van die bekeringsdoop na suigelingdoop gebeur het in ’n tyd nadat die Nuwe Testament klaar geskryf is.

Dit blyk dus dat suigelingdoop ’n historiese ontwikkeling is na die derde eeu nC.[Nie so nie. Sien my inleidende opmerkings hieroor.] Om hierdie rede is die Susterskerke se klassifisering van die verskillende praktyke van doop in hul toepaslike tydsgleuwe (soos die bekeringsdoop in die “Sendingsituasie” en suigelingdoop buite hierdie tydsgleuf) onlogies en vals omdat die oorgang tussen die twee sistematies in ’n tyd gebeur het nadat die Nuwe Testament klaar geskryf was. Die rede vir die oorgang na suigelingdoop is dus ’n teologiese rede en het niks met ’n sendingsituasie te doen nie.

3.2 Onderdompeling of besprinkeling

Die doop kan op twee maniere toegepas word, naamlik deur onderdompeling of besprinkeling. [en ook begieting. Dit was die drie gangbare gebruike in Jesus se tyd. Die vraag na watter vorm van doop gebruik moet word, is eintlik irrelevant, maar die volgende ter inligting: Die Bybel (oorspronklike Grieks) het abosluut geen aanduiding watter vorm van doop gebruik is nie. Die feit is dat Grieks in Afrikaans kan vertaal volgens die oortuigings van die vertaler. Maar dan moet die omstandighede van die situasie (waar van toepassing) in ag geneem word – bv. die doop by Enon en die doop van die Etiopiër deur Filippus. Hier word allerweë vir onderdompeling geargumenteer. Meer oor die afsonderlike gevalle hieronder.

Sover ons weet, is daar nie ’n Christelike kerk wat onderdompeling verwerp as ’n geldige manier waarop die doop bedien kan word nie. Daar is egter gereeld vrae oor die geldigheid van besprinkeling. Om dus groter duidelikheid oor hierdie vraagstuk te verkry, gaan ons begin deur die doop van Christus te bestudeer:

Mark 1 9Jesus het in daardie selfde tyd van Nasaret af gekom, en Hy is deur Johannes in die Jordaan gedoop. 10Net toe Hy uit die water kom, het Hy die hemel sien oopskeur en die Gees soos ’n duif na hom sien neerdaal.

Die Amplified Bible lees as volg:

Mark 1 10And when He came up out of the water, at once He saw the heavens torn open and the Spirit like a dove coming into him.

[Dit is moontlik dat Johannes deur onderdompeling of begieting gedoop het, maar meer waarskynlik deur onderdompeling. Die rede hiervoor is die vraag wat Johannes se doop (en die water) in hierdie konteks verteenwoordig / gesimboliseer het. Die water was verteenwoordigend van God se toorn en straf oor die sonde van Sy verbondsvolk, en die doop self – met belydenis van hulle verbondsontrou – het die vrymaking / oorlewing van daardie straf gesimboliseer. Kyk in hierdie verband die vooruitskou van Jesus (“die Verbondsengel”) se eerste koms in Mal. 3:1-5. (Water is een van die simbole/tekens van God se toorn/straf in die OT, soos bv. die sondvloed.) Johannes se doop én -water het beslis nie vooruitgewys na die reinigende bloed van Jesus nie. Slegs ’n bloedige teken (soos o.a. die bloed van offerdiere) kon dit doen. Hierdie is een van die redes waarom Johannes se bekeringsdoop geen verband hou met die Christelike doop wat drie jaar later eers ingestel is nie. Die water in die Christelike doop wys terug na die reinigende bloed van Jesus. Daarom is die mees gepaste vorm (sonder afwysing van die ander vorms) van doop eintlik die besprinkeling – dít was immers die voorgeskrewe manier van (simboliese) reiniging met die bloed van offerdiere (Heb. 9:21,22) – wat vooruit gewys het na die bloed van Jesus Christus.]

Jesus is gedoop in die Jordaanrivier op die ouderdom van 30 en dit is duidelik dat Hy met Sy doop onderdompel is, want daar staan geskrywe dat Hy uit die water uit gekom het (Mark 1:10). Johannes verduidelik ook in Joh 3:23 dat Johannes die doper by Enon gedoop het “omdat daar baie water was”. Baie water dui nie op besprinkeling nie, trouens, dit dui op onderdompeling. Kyk ook na die volgende: [Die naam Enon (Joh. 3:23) is die Afrikaanse vertaling van die Griekse pleknaam Ainoon, wat beteken “Fonteine”. Dit was bekend vir die baie syferfonteine in die area. Die oorspronklike teks sê nie dat daar baie water (enkelvoud) was nie, maar baie waters (meervoud). Daar was nie noodwendig groot hoeveelhede water op een plek nie.]

Hand 8 36Onderweg kom hulle toe by water aan, en die amptenaar sê: “Hier is water. Wat verhinder dat ek gedoop word?”…38Toe het hy die wa laat stilhou. Filippus en die hofdienaar het albei in die water in gegaan, en Filippus het hom gedoop.

[Die engel sê vir Filippus: (Hand. 8:26) “Gaan na die pad wat afloop van Jerusalem na Gasa. Hierdie is woestyn / verlate /eensaam”. Dan is daar die vertalingsprobleem (Hand. 8:38,39). Die AOV is nie foutief vertaal dat hulle afgeklim het in die water en weer opgekom het uit die water nie, maar dit kon net sowel korrek vertaal gewees het met “… en hulle altwee het [van die koets] afgeklim na die water toe, en hy het hom gedoop. En toe hulle van die water af [weer op die koets] opklim…” Die vraag is: wat wil die vertaler hê moet daar staan? Hier is ook, soos by Enon, geen “bewys” watter soort doop daar mee gedoop is nie. By geen een van hierdie gevalle kan onderdompeling as dwingend bewys word nie. Daarom is die vorm wat die doop aanneem, nog steeds irrelevant, solank dit met water is, “in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”. Die vraag is ook: veronderstel ’n mens woon op ’n plek, soos in ’n woestyn, waar daar nie genoeg water is om onderdompel te word nie, moet ’n mens dan eers wag todat jy by ’n plek kom waar daar genoeg water is om onderdompel te word voor jy gedoop kan word?

Dit is ook heel onwaarskynlik dat die tronkbewaarder van Filippi en sy gesin, baie laat in die nag onderdompel is (Hand. 16:25,33).]

Dit is dus duidelik in hierdie gevalle (Hand 8:36,38; Joh 3:23 en Mark 1:9,10) dat onderdompeling die algemene aanvaarde wyse was om die doop toe te pas.

Wat opvallend is, is dat daar nie onsekerheid onder geleerdes is oor die tegniek wat gebruik is met die toepassing van die doop soos in die Bybel beskryf nie. Die Skrif is duidelik dat onderdompeling die wyse is waardeur die doop bedien was. [Uit bogenoemde kommentaar is dit juis duidelik dat die Skrif glad nie duidelik is hieroor nie.] Maar steeds sit ons met die vraag oor die oorsprong van besprinkeling.

Om duidelikheid te verkry oor hierdie vraagstuk, gaan ons soos met die afdeling wat handel oor die oorsprong van suigelingdoop, weer eksterne Christelike bronne raadpleeg, soos aangeheg in Bylaag A.

Onderdompeling was in die eerste vier eeue die algemene aanvaarde praktyk. (Kyk gerus na die Didaché in Bylaag A).

Die doop was bedien aan ernstige siek kinders en volwassenes deur hulle te besprinkel. Die metode van besprinkeling het met die verloop van tyd meer populêr geword. Tog was dopelinge ten volle deurdrenk met water tydens hul besprinkeling. [Dan wás die doop deur besprinkeling tog geldig??] Hierdie metode van doop het later ontwikkel in ’n praktyk waar kinders en volwassenes slegs deels besprinkel is. Dit het later ontwikkel in ’n metode waar dopelinge, hetsy gelowig of nie, [As slegs volwassenes gedoop is, waarom sou ongelowiges gedoop gewees het??] slegs op die voorkop besprinkel is. Dit blyk dus of die toename in die toepassing van besprinkeling deels toegeskryf kan word aan ’n “gemak-faktor”.

Wat egter opvallend is, is dat die woord “baptizo”, soos in die Bybel gebruik, die betekenis het van; om te onderdompel. [Nie so nie. Hierdie is die betekenis van “bapto” (indoop, onderdompel). Sien my volgende opmerking oor “baptidzo”.]

Die Strong’s Konkordansie het die volgende verklaring vir “bapOzō” of “bap-tid’-zo”, soos in die oorspronklike Griekse teks:

“To make whelmed (that is, fully wet); used only (in the New Testament) of ceremonial ablution, especially (technically) of the ordinance of Christian baptism: – baptist, baptize, wash.”[Die skrywer noem hier slegs die gebruiksbetekenisse van “baptidzo”. Ons moet onderskei tussen “oorspronklike” (etimologiese) en gebruiks- (semantiese) –betekenisse. Op p. 28 van sy boek, “The Biblical doctrine of infant baptism, sacrament of the covenant of grace” skryf P.Ch. Marcel: “… it is usage which ultimately determines the significance of a word, much more than it’s etymology. Words are of little consequence, provided the thing itself is preserved”. Dit beteken in die Nuwe Testamentiese konteks dat “doop” die betekenis het wat die (semantiese) gebruikskonteks daaraan verleen. Paulus gebruik egter óók die woord “doop” in die etimologiese sin, wat insluit “sink (soos ’n skip!), verdrink, vergaan” (die intensiewe vorm van “bapto”). In hierdie sin gebruik hy “baptidzo” om aan te dui dat ons as’t ware onsself verloor is Jesus Christus (sink, verdrink, vergaan)!! Om my bedoeling hiermee te verstaan, kyk asb. my artikel oor Rom.6:3,4 en Kol.2:12 by Is Rom 6:4 en Kol 2:12 die Doopsakrament?.]

4 Die doop en die besnydenis

Denominasies wat kinderdoop toepas, plaas ’n verband tussen die doop en die besnydenis. Die Ou-Testamentiese verbond word die “Ou Verbond” en die Nuwe Testamentiese verbond die “Nuwe Verbond” genoem. Die Nuwe Verbond het die Ou Verbond vervang met die dood van Christus en volgens Hebreërs 8:13 is die Ou Verbond nietig verklaar:

Heb 8 13Deur van ’n nuwe verbond te praat, het God die eerste oud verklaar, en wat oud word en uitgedien raak, sal gou verdwyn.

[Ons moet hier reg onderskei dat die Ou Verbond vervul is deur Jesus Christus. Daarom het dit “oud” geraak, maar nie irrelevant geraak nie. As “belofte” wat Jesus sou kom vervul en “waar maak”, bly dit ’n integrale deel van die evangelie.]

God verbind altyd ’n teken aan Sy verbonde met mense soos byvoorbeeld, die besnydenis wat ingestel was as teken van die Ou Verbond (Genesis 17). Met die tenietgaan van die Ou Verbond, is die teken van die fisiese besnydenis tesame met die bepalinge van hierdie verbond afgeskaf, soos verduidelik in Hand 15:5-29.

Alhoewel die eerste en tweede verbond opsigself twee verskillende verbonde is, is daar sekere ooreenkomste wat beide verbonde bevat. Die Ou- en die Nuwe Verbond is dieselfde met betrekking tot die volgende elemente:

  • Beide verbonde is met bloed beseël waar die Ou Verbond met die bloed van offerdiere beseël en herdenk was (Eks 24:8 Moses het toe die bloed gevat en op die volk gesprinkel terwyl hy sê: “Dit is die bloed van die verbond wat die Here op grond van al hierdie gebooie met julle gesluit het.”) en die Nuwe Verbond met die bloed van Christus: (Matt 26: 27-28; 27Toe neem Hy ’n beker, en nadat Hy die dankgebed uitgespreek het, gee Hy dit vir hulle en sê: “ Drink almal daaruit, 28want dit is die bloed, die bloed waardeur die verbond beseël word en wat vir baie vergiet word tot vergewing van sondes…”);
  • Beide Verbonde het ’n ingestelde herinnerings “sakrament” soos die pasga in die Ou Verbond en die nagmaal in die Nuwe Verbond (Matteus 26:26-31); en
  • Albei verbonde het ’n teken (byvoorbeeld die besnydenis in die Ou Verbond).

Omdat daar sekere ooreenkomste is tussen die Ou- en die Nuwe Verbond, sal die Susterskerke redeneer dat die doop as teken van die Nuwe Verbond in die plek van die besnydenis van die Ou Verbond gekom het. Gevolglik word die doop die teken van die Nuwe Verbond deur die Susterskerke genoem. Die doopformulier beskryf die doop as teken van die Nuwe verbond soos volg:

“Daarna het Christus gekom en hierdie verbond in sy persoon en deur sy verlossingswerk op ’n nuwe en finale wyse bevestig. As teken en waarborg hiervan het Hy die doop en die nagmaal gegee.”

Omdat die kerk die doop as plaasvervanger van die besnydenis in die Ou Verbond sien, meen geleerdes dat babas gedoop moet word, omdat die besnydenis, in die Ou Testament, aan seuntjies van agt dae ouderdom bedien was. God het die opdrag gegee dat die teken van besnydenis genadiglik, sonder verdienste, aan hierdie kleintjies gegee moes word en daarom meen geleerdes dat dit ’n duidelike bewys is dat die doop van kinders ook geldig is.

Om die stelling te maak dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het, moet daar bewys word dat die doop die teken van die Nuwe Verbond is. Kom ons kyk eers objektief na verbonde in die Bybel om meer lig op hierdie saak te plaas.

4.1 Verbonde en hul tekens

Daar is talle verbonde in die Bybel. ’n Verbond is soos ’n testament met sekere bepalings en verpligtinge waar ’n Verbond van God ook altyd ’n teken het. In Genesis 15 sluit God ’n ewige verbond met Abram waarna God die teken van die besnydenis as verbondsteken met Abraham in Genesis 17 instel:

Gen 15 18Op daardie dag het die Here ’n verbond gesluit met Abram en vir hom gesê: “Aan jou nageslag gee Ek hierdie land…”

Gen 17 10Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. 11Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: 12elke seun onder julle van agt dae oud moet besny word…

Die Ou Verbond is dus met Abram gesluit in Genesis 15 [&17] en dit word bevestig in Galasiërs 3:17 en ook in Handelinge 7:8 dat die Ou Verbond reeds met Abram gesluit is in Genesis 15, en nie op ’n latere stadium nie. Die Ou Verbond word egter 13 jaar later uitgebrei en ryker in betekenis met Abraham self deur die instelling van die verbondsteken in Genesis 17. Die Ou Verbond word op ander geleenthede ook uitgebrei deur byvoorbeeld die Moab- en Sinai Verbond sowel as met die Wet van Moses. Dus is die verbondsteken van die besnydenis sowel as die verbondsvoorwaardes eers bekragtig en uitgebrei deur God nadat die Ou Verbond gesluit is. Met ander woorde, eers verbondsluiting, daarna volg die teken van dit wat reeds gebeur het.

Kom ons kyk nou na ander verbonde en hul tekens in die Bybel. Die merk van Kain was die teken van die verbond tussen God en Kain. Die teken van die verbond met Kain word bekragtig by die sluiting van die verbond tussen God en Kain (Gen 4:15). Dieselfde geld vir die reënboog met Noag. Die betekenis wat God aan die reënboog gee as ’n teken dat daar nooit weer só iets sal gebeur nie, word ook eers bekragtig nadat die verbond gesluit is (Gen 9:12-14). Die reënboog mag al jare voor die vloed met Noag bestaan het, maar God heg eers ’n simboliese betekenis aan die reënboog na die vloed.

God stel dus altyd op ’n sekere manier ’n verbond in. Die onderskeie tekens van hierdie verbonde word ook op dieselfde manier ingestel ten opsigte van die spesifieke verbond. Al die verbonde in die Bybel het dus ’n teken wat tydens of na sluiting van die verbond bekragtig word. ’n Verbondsteken kan dus nie bekragtig wees voordat daardie bepaalde verbond gesluit is nie. Dus word ’n verbond eers gesluit, daarna word die teken van daardie spesifieke verbond ingestel.

Kom ons bestudeer nou die volgende:

Heb 9 15En daarom is Hy ook die Middelaar van ’n nuwe verbond. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is, die beloofde ewige erfenis kan ontvang. 16Dit is soos met ’n testament: daar moet eers bewys word dat die testamentmaker dood is, 17want ’n testament word alleen geldig by die dood van die testamentmaker; dit word nooit van krag solank as hy nog leef nie. 18Daarom is die eerste verbond ook nie sonder bloed ingestel nie. 19Nadat Moses al die gebooie van die Wet aan die hele volk oorgedra het, het hy bloed van die kalwers en bokke saam met water geneem en met rooi wol en hissop die wetboek self sowel as die hele volk besprinkel 20en gesê: “Dit is die bloed van die verbond wat God vir julle ingestel het.”… 22Byna alles word volgens die wet met bloed gereinig, en sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergifnis plaas nie.

In Hebreërs 9:15-22 word ’n verbond met ’n testament vergelyk en hierdie gedeelte bevestig dat ’n verbond of ’n testament eers van krag kan wees as daardie betrokke verbond of testament reeds gesluit is. Omdat die bepalinge van die Ou Verbond reeds bekragtig was, het God aan Moses die opdrag gegee om sekere voorwerpe sowel as die volk met bloed te besprinkel. Gevolglik is die bepalinge en voorwaardes van ’n verbond eers van krag as die verbond gesluit is, soos wat die bepalings en voorwaardes van ’n testament eers bekragtig word as daardie testament in werking tree met die dood van die testateur. Hebreërs 9:15-22 is dus ’n bevestiging dat ’n verbond nie van krag kan wees voordat daardie betrokke verbond gesluit is nie.

Gevolgtrekking: Noudat ons na die verbond met Abraham, Kain en Noag gekyk het en die bevestiging wat ons uit Hebreërs 9:15-22 ontvang, kan ons sien dat die teken van ’n verbond nie bekragtig kan wees as daardie spesifieke verbond nie gesluit is nie. ’n Teken van ’n verbond word dus eers bekragtig by of na die sluit van ’n verbond.

4.2 Die doop as teken van die Nuwe Verbond?

Noudat die belangrikste verbonde voor die Nuwe Verbond in die Bybel bespreek is, kan ons kyk na die Nuwe Verbond en vra of die doop wel die teken is van die Nuwe Verbond. Omdat al die verbonde in die Bybel op ’n soortgelyke manier ingestel word, kan ons dieselfde denkwyse volg met die redenasie oor die teken van die Nuwe Verbond. Vir die doop om ’n teken te wees van die Nuwe Verbond, moet die doop dus dieselfde hanteer word teenoor die Nuwe Verbond as die bogenoemde tekens teenoor hulle onderskeie verbonde.

Soos reeds genoem, sien die Susterskerke die doop as die teken van die Nuwe Verbond en dit word bewys uit die volgende uittreksel uit die NG Kerk se doopformulier: “… as teken en waarborg hiervan het Hy die doop en die nagmaal gegee…” Kom ons begin die bespreking oor die doop as teken van die Nuwe Verbond deur te kyk na die volgende:

1 Pet 3 20Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net ’n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered. 21Dit dui op die doop waardeur julle ook nou gered word.

[Die water van die sondvloed was nie ’n reddingsmiddel nie, maar wel die ark. Hier is noukeurige vertaling van groot belang. Die AOV 1953 vertaal 1 Pet. 3:20 meer akkuraat: “… deur water heen gered…” Ongelukkig is die NAV 1983 nie so akkuraat nie. Die feit is: die water, as straf van God, het doodgemaak en vernietig. Noag en sy familie is nie deur die water gered nie, maar (soos AOV 1953 dit weergee, “…[dwars]deur die water heen”. Laat my asb. toe om die Griekse Teks so suiwer moontlik in Engels te weergee: “… while Noah was preparing the ark, into which few, that is, eight souls were saved (right) through the water.” (not “by” water, but “through” water.) Hierdie gedeelte wil vir ons sê dat, soos Noag in die ark ingegaan het en só gered is, Jesus Christus ons ark, ons redding is, en Hy het ons “dwarsdeur” die waters van God se toorn en straf gedra. Die water van die sondvloed kan dus nie gesien word as ’n reddingsmiddel wat die mens uit sy sondige natuur “red” nie.]

Uit 1 Petrus 3 is dit duidelik dat God alreeds voor die Ou Verbond die simboliek van water wat die mens uit sy sondige natuur red, aan die doop geheg het. Hierdie betekenis van die doop was alreeds ingestel lank voor die Ou- of Nuwe Verbond gesluit is. [Die doop(water) wys terug na die reddende gestorte bloed van Jesus, nié na die vernietigende waters van die sondvloed nie.]

1 Kor 10 1Broers, ek wil julle daaraan herinner dat ons voorvaders almal onder die beskerming van die wolk was en almal veilig deur die see gegaan het. 2Omdat hulle almal vir Moses gevolg het, is hulle almal in die wolk en in die see gedoop.

[Ongelukkig moet ek weereens verskil: Beide hierdie gedeelte en Rom. 6:3,4 is geestelike terme / simboliek waarna die doop ook o.a. heenwys. Weereens: sien asb. my verduidelikende artikel by Is Rom 6:4 en Kol 2:12 die Doopsakrament?.]

Uit 1 Korintiërs 10:1-2 sien ons ook dat God die Israeliete deur die see gelei het en die hele volk is gedoop in die see en in die wolk waaronder hulle geloop het. Hierdie gebeurtenis het plaasgevind lank voor die Nuwe Verbond gesluit is. In hierdie geval was die simboliek van die doop ook alreeds bekragtig. Kom ons kyk na nog voorbeelde in die Bybel:

Mark 1 4Só het Johannes die Doper in die woestyn opgetree. Hy het verkondig: Bekeer julle en laat julle doop en God sal julle sondes vergewe. 5Die hele landstreek van Judea en al die inwoners van Jerusalem het na hom toe gestroom. Hulle het hulle sondes bely en is deur hom in die Jordaanrivier gedoop.

[Johannes se bekeringsdoop kan nie as teken van die Nuwe Verbond (kyk opskrif hierbo) beskou word nie. Johannes se doop was nog gedurende die ou bedeling en was gerig op die OT-verbondsvolk, Israel, en het spoedig verval. Sien o.a. Hand. 18:25; 19:1-5].

Matteus 21:25 bevestig wel dat die doop van Johannes van God af gekom het. Daar staan ook in Matteus 3:15-17 dat die Gees van God soos ’n duif op Jesus neergedaal het en dat God se stem uit die hemel gehoor is. Dus is die doop van Johannes ’n instelling van God. Johannes het baie mense gedoop voordat die Nuwe Verbond met die dood van Jesus gesluit is (Heb 9:15-20). Jesus is self ook gedoop voordat die Nuwe Verbond gesluit is met Sy eie kruisdood. [Ja, Johannes se doop was wel in opdrag van God, maar Johannes se doop was nie gerig op heidene wat tot geloof in Jesus gekom het nie. Hy moes God se verbondsvolk tot bekering en belydenis van hulle verbondsontrou oproep, en daarmee moes hy Jesus se weg voorberei om, soos Johannes dit gestel het: “Daar is die Lam van God wat [NOU] die sonde van die wêreld optel en wegdra”. Johannes het ook nie “in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” gedoop nie, en sy doopwater het NIE vooruit gewys na die gestorte bloed van Jesus nie, maar dit was verteenwoordigend van die dreigende strafgerig van God weens Israel se sondes. Ons mag maar ook onthou dat water in die OT-bedeling (Johannes die Doper se konteks) een van die tekens (saam met vuur en rook) van God se toorn en straf was.]

As ons nou terugverwys na Heb 9:22 en die boodskap dat ’n testament eers geldig is by die dood van die testateur, sien ons dat “sonder die vergieting van bloed vind daar geen vergifnis plaas nie.” Met Jesus se kruisdood is gelowiges uit alle nasies se sondes versoen deur Sy bloed maar in Mark 1:4-5 sien ons dat Johannes die Doper gedoop het vir die vergifnis van sondes, voordat die Nuwe Verbond gesluit is. Dus is die simbool van die afwassing van sondes deur die doop alreeds bekragtig voordat die Nuwe Verbond gesluit is. [Hierdie gevolgtrekking uit Johannes se doop is ongeldig. Kyk hierbo.]

Dít alles is ’n bevestiging dat die doop se simboliek alreeds bekragtig was voordat die Nuwe Verbond gesluit is. Wat egter opvallend is, is dat die simboliek van water wat die mens red van sy sondige natuur selfs lank voor die Ou Verbond bekragtig was (1 Pet 3:20-21). [Ongeldig. Kyk vorige opmerkings.]

Gevolgtrekking: As die doop die teken van die Nuwe Verbond is, moes dit soos met al die verbonde, eers betekenis gekry het met, of na die sluiting van die Nuwe Verbond. Dus kan die doop nie ’n teken van die Nuwe Verbond wees nie omdat dit alreeds betekenis gehad het voordat die Nuwe Verbond gesluit is. [Hierdie misverstande is te wyte aan die feit dat die skrywer nie onderskei tussen Johannes se bekeringsdoop en die Christelike doop nie. Omdat die skrywer nie onderskei tussen die uitgediende bekeringsdoop en die Christelike doop nie, besef hy nie dat die Christelike doop inderdaad ná die Nuwe Verbond ingestel is nie. Daarom kan dit selfs met sy vereiste dat die teken moet volg op die verbond, steeds die teken van die Nuwe Verbond wees.]

4.3 Het die doop in die plek van die besnydenis gekom?

Noudat ons gesien het dat die doop nie die teken van die Nuwe Verbond is nie, kan ons nou vra of die doop in die plek van die besnydenis gekom het. As die doop nie die teken van die Nuwe Verbond is nie, kon die doop nie in die plek van die teken (besnydenis) van die Ou Verbond gekom het nie. [Dit het wel!] Bykomend tot hierdie kan ons sien uit 1 Petrus 3:20-21 dat die doop alreeds betekenis gehad het selfs voordat die Ou Verbond gesluit is en gevolglik is die doop alreeds bekragtig voordat die besnydenis ingestel is.

As die historiese geskrifte in Bylaag A bestudeer word, is dit opmerklik dat die verband tussen die doop en die besnydenis eers relevant geword het toe die vraag na die ouderdom van die dopeling ter sprake gekom het. Vroeë kerkleiers het slegs op die verband tussen die doop en die besnydenis gewys maar hierdie leerstuk het eers later ten volle ontwikkel. Kom ons kyk wat die Bybel sê oor iets wat tot God se verbond toegevoeg word:

Gal 3 15Broers, ek gaan nou ’n voorbeeld uit die gewone lewe neem. As ’n testament, wat maar net mensewerk is, eers geldig is, kan niemand dit ongeldig maak of iets daaraan toevoeg nie.

Ons, as draers van die boodskap van genade, kan dus nie uit ons eie insig iets tot God se verbond toevoeg deur byvoorbeeld te sê dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het nie. [Met hierdie premise sou ons ook nie kon sê dat God ’n drie-enige God is nie, want dit word nie in soveel woorde in die Bybel aangetoon nie.]

Bykomend tot al die vorige bewyse kan die doop nie as die plaasvervanger van die besnydenis gesien word nie om die volgende basiese redes:

  • Uit Luk 2:21 is dit duidelik dat Jesus beide die doop en die besnydenis ontvang voor die Nuwe Verbond gesluit is. [Jesus was besny onder die Ou Verbond, en Sy doop was nie die doop wat Hy 3 jaar later ingestel het nie. Dié 2 dope het geen verband met mekaar nie.] Die bostaande is dus ’n bewys dat beide die doop en die besnydenis geldig was in Jesus se tyd, volgens die Bybel. [Nog steeds die misverstand met Johannes se bekeringsdoop. Tot en met Jesus se dood aan die kruis was die besnydenis nog geldig as teken van die Ou Verbond.] In hierdie geval kan die doop dus nie in die plek van die besnydenis gekom het nie omdat die doop nie die besnydenis in Jesus se geval vervang het nie.
  • Die besnydenis was slegs aan die manlike geslag bedien [Ou Testament] waar die doop aan beide geslagte bedien word. [Nuwe Testament: t.o.v. die evangelie is die onderskeid tussen man en vrou opgehef – Gal. 3:28.] Om hierdie rede kan die doop nie die besnydenis vervang in die geval van die vroulike geslag nie en dus ook nie in geheel vervang nie. [God het self bepaal watter rituele / gebruike in elk van die Ou en Nuwe bedelinge sou geld. Ons kan Hom nie bevraagteken nie.]
  • Daar word ook nêrens in die Bybel ’n verband gelê tussen die doop en die besnydenis nie. Dit is bloot ’n afleiding. [Korrek. Net soos ons “aflei” dat die Nagmaal die Pasga vervang het, dat God ’n drieënige God is en vele meer. Ons glo dit wel, want “Skrif verklaar Skrif”.] Sommige teoloë meen dat Kol 2:11-12 ’n bewys hiervan is. Hierdie stelling word bespreek in die volgende gedeelte.

In Prof Adrio König se boek, “Die Groot Geloofswoordeboek” maak hy die volgende stelling: “Dit is baie onnoukeurig en oorvereenvoudig om sonder meer te sê die doop het in die plek van die besnydenis gekom.” En daarom, na aanleiding van al hierdie punte is dit onlogies en on-Bybels om die stelling te maak dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het. Die argument dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het, kan dus nie gebruik word om suigelingdoop te regverdig nie. [Net omdat Adrio König so gesê het? En dít teenoor die Gereformeerde Belydenisskrifte? (Kyk die Doopformuliere en NGB Art.34).]

4.4 Die ware teken van die Nuwe Verbond

Om deel te word van ’n verbond van God moet ’n persoon die teken daarvan ontvang, soos met die fisiese besnydenis in die Ou Testament. Die teken dui aan dat ’n person deel is van ’n verbond. Maar as die doop nie die teken is van die Nuwe Verbond nie, wat is dan? In die Ou Testament is daar geskrywe oor die belofte van die Nuwe Verbond wat soos volg beskryf word:

Jer 31 31Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel ’n Nuwe Verbond sal sluit. Dit sal nie wees soos die verbond wat Ek met hulle voorvaders gesluit het toe Ek hulle aan die hand gevat en uit Egipte laat trek het nie. Hulle het daardie verbond wat Ek met hulle gesluit het, verbreek al was Ek getrou aan hulle, sê die Here. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal my woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagtes vaslê…

Deut 30 6En die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.

Jeremia 31:31-34 en Deuteronomium 30:6 beskryf die Nuwe Verbond en die rol wat die vaslegging van die Woord van God op die hart van die mens gaan speel deur die werking van die Heilige Gees. Hierdie “werk” deur die Heilige Gees word beskryf as die skrywe van die wet van God op die hart, sodat dit in ons elkeen se gedagtes vasgelê sal word. Uit Jeremia 31 en Deuteronomium 30:6 is dit duidelik dat hierdie “besnydenis van die hart”, as belofte, van God af sal kom. [Nie so nie!! Gemelde teksverse is bloot metaforiese taal wat aandui dat die besnydenis nie net ’n fisiese strekking gehad het nie, maar ook ’n diepere geestelike betekenis. Die verwydering van die voorhuid (wat ook higiënies is) was ook verteenwoordigend van die verwydering van die hardheid van hart, van harts-reiniging en van harts-toewyding.]

Die bogenoemde profesieë oor die teken van die Nuwe Verbond is vervul in en deur die Nuwe Testament en word bevestig in die volgende tekste: Heb 8:8-12, Kol 2:11-12, Rom 2:27-29, Filippense 3:3.

Fil 3 2Pas op vir daardie dwaalleraars; pas op vir daardie mense wat kwaad stig; pas op vir daardie betekenislose besnydenis! 3Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Christus Jesus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie.

Rom 2 28Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. 29Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.

Filippense 3:2-3 en Romeine 2:28-29 dra egter ’n interessante boodskap oor. In beide hierdie verse vergelyk die skrywers die besnydenis van die hart met die fisiese besnydenis. Uit bogenoemde is dit duidelik dat die fisiese besnydenis afgeskaf is en dat dit eerder belangrik is dat God ’n mens se hart besny. [Dit was alreeds só in Deut. 10:16; 30:6 en Jer. 4:4. Let op dat die woord “besny” in aldrie hierdie gedeeltes wegvertaal is in NAV 1983. Sien liewer OAV 1953. Die besnydenis van die hart was dus reeds geldig reg deur die OT – glad nie ’n nuwe konsep vir die NT nie! Net soos fisiese besnydenis en hartsbesnydenis bedmaats was in die OT, so ook die fisiese doop en hartsbesnydenis in die NT.]

Romeine 2:25-29 vertel dat ’n persoon eerder ’n Jood (deel van die uitverkorenes) is as sy/haar hart besny is, as ’n persoon wat die besnydenis fisies het. Die besnydenis van die hart word dus beskryf as die “ware besnydenis” van God. Maar wat is die besnydenis van die hart?

Die besnydenis van die hart/Christus – vgl. Deut. 10:16; 30:6; Jer. 4:4; 31:31-34; Rom. 2:29; Kol 2:11 – vind plaas by bekering. Hierdie besnydenis is die geestelike besnydenis wat voortvloei uit jou geloofsverhouding met Christus en is die soewereine vaslegging van die wet op ’n persoon se hart (Heb 8:10). Per definisie word elke hart in die Nuwe Verbond deur God besny (Jer 32:40; Rom 2:29; Fil 3:3; Kol 2:11-12). Dit is die rede waarom sonde-berou en geloof ’n vereiste is as bewys van lidmaatskap van die Nuwe Verbond deur die besnydenis van die hart, voor elke doop (Hand 2:38-41). “Die besnydenis van die hart” is dus die vernuwing van die menslike denke en gees.[Dit is korrek dat wedergeboorte (dissipel van Jesus) ’n voorvereiste is voordat daar gedoop word, maar dit maak nog nie die doop die teken van wedergeboorte nie. Die doop is eerder ’n resultaat van wedergeboorte.]

Dieselfde boodskap van die “vernuwing” van die gees word ook oorgedra as daar van wedergeboorte gepraat word soos in Titus 3:5 en Johannes 3:3-8.

Tit 3 5…nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees.

Kom ons kyk wat sê Jesus oor wedergeboorte:

Joh 3 3Daarop sê Jesus vir Hom: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”… 5Jesus het hom geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie…”

[Dit blyk uit die skrywer se verdere argumentasie dat hy “uit water en Gees gebore” beskou as die waterdoop en die wedergeboorte. Dit is egter ’n totale wanopvatting. Jesus het met die “water” die water van die moeder by die baba se geboorte in gedagte. Dít blyk uit Sy woorde in die daaropvolgende vers (Joh. 3:6): “Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.” Hierdie misverstand deurweek sy hele verdere argumentasie – wat onhoudbaar is. Dit lei uiteindelik tot die gevolgtrekking: “Die doop is dus die teken van wedergeboorte. Wedergeboorte is die teken van die Nuwe Verbond.” Hierdie argumentasie gooi die skrywer se vorige stelling omver. Hy het reeds verduidelik: eers die verbond, dan die teken. Om egter deel te hê aan die Nuwe Verbond, moet mens éérs wedergebore word. Mens word nie eers deel van die verbond en word dan eers weergebore nie. Dus kán wedergeboorte, volgens skrywer se eie argumentasie, nie die teken van die Nuwe Verbond wees nie.]

Uit Johannes 3:3-5 leer ons dat ’n persoon wedergebore moet word om te kan deel aan die voorregte van die Nuwe Verbond. Om dus deel van die Nuwe Verbond te word is dit noodsaaklik om ’n suiwer lewe te lei en jouself te bekeer. [Hier word die kar voor die perd gespan. Mens word nie deel van die Nuwe Verbond deur “’n suiwer lewe te lei en jouself te bekeer” nie, maar deur geloof in Jesus Christus. ’n “Suiwer lewe” is die uitvloeisel/resultaat van bekering, en bekering/geloof is ’n genadegawe van God – nie iets wat jy kan doen om deel van die Nuwe Verbond te word nie.]

Hierdie lewe is dus die teken van jou toewyding aan Christus en kragtens dit is ’n persoon ’n erfgenaam van die beloftes van God. Jou lewe is die teken van jou wedergeboorte en daarom is wedergeboorte opsigself die teken van die Nuwe Verbond. Die essensie van wedergeboorte deur die Gees is dus die skepping van ’n hart wat verlustig in God en Sy Woord. ’n Hart wat verlustig in die Woord van God, word geskep deur God, en dít is die “besnydenis van Christus”. Om hierdie rede is die besnydenis van Christus presies dieselfde as wedergeboorte.

Die lede van die Nuwe Verbond is die dissipels van Christus, op wie se harte die wil van God geskryf is deur die Heilige Gees. Hierdie lede is die mense wie God se wil ken deur geloof in Hom en wie in werklikheid die vergifnis van sondes besit (Heb 8:8-12). Hierdie persone is dié ware saad van Abraham, die nuwe Israel van God (Gal 6:16). Die Nuwe Verbond is wel anders as die Ou Verbond in die sin dat God die besnydenis van die hart aan elke verbondslid gee en dit is die persoon se plig om dit te behou (Deut 30:6; Jer 32:40; Joël 2:28).

Soos wat elke man die besnydenis moes ontvang het om deel te word van die Ou Verbond, net só moet elke hart besny word deur Christus om deel te word van die Nuwe Verbond. In die Ou Verbond is die tien gebooie op klip geskryf en dit opsigself is die Sinai Verbond genoem (Deut 4:13). Om hierdie rede word die skrywe van die wil van God, op die hart, die Nuwe Verbond self genoem en daarom is die teken van die Nuwe Verbond die besnydenis van die hart/wedergeboorte en nie die doop soos deur sommige teoloë beweer word nie. Omdat die besnydenis van die hart die teken van die Nuwe Verbond is, het die besnydenis van die hart in die plek van die besnydenis gekom – en nie die doop nie. [Gevolgtrekking: Die doop wat Jesus ingestel het, het dus geen betekenis nie, en die Nuwe Verbond het geen fisiese teken soos al die ander verbonde nie?]

Steeds is daar sommige teoloë wat sekere verse aanhaal, soos Kolossense 2:11-12, om te probeer bewys dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het. Kom ons kyk nou na Kolossense 2:11-12 om te sien wat dit werklik vir ons beteken:

Kol 2 11Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan uit die wegneem van die sondige natuur van die mens.

Elke manlike Jood moes besny word omdat dit die teken was van die verbond wat die Here met Abraham gesluit het (Gen 17:9-14). In die Nuwe Verbond word ons verbintenis met Christus in ons harte geskryf en nie meer met uiterlike tekens nie. [Nie korrek nie! Ook in die Nagmaal is die brood die liggaam van Jesus Christus, en die wyn Sy bloed – die bloed van die Nuwe Verbond (Mat.26:26-28)] . Ons word verenig met Christus se dood, deur die doop, deurdat ons tot bekering gekom het, deurdat ons die besnydenis van Christus ondergaan het. Dus, wanneer ons gedoop word is dit ’n teken dat God ons ou natuur afwas en plek maak vir die nuwe lewe. [En dít is die Nuwe Verbond (waarvan die doop die teken is)!]Ons ontvang dus die besnydenis van Christus by die doop, en dit is die boodskap wat deur Kolossense 2:11-12 oorgedra word. [Ongelukkig kom die NAV 1983-vertaling op sakramentalisme neer – d.i. dat die doop die hartsbesnydenis deur Christus bewerkstellig. Dan is dit nie meer “teken en seël” van God se verbondstrou nie, maar ’n bewerker van heil – juis die rede waarom Roomse Katolieke vroedvroue bemagtig is om die nood-doop amptelik te bedien aan kinders wat op sterwe is. Hier is egter nie ruimte om hierdie mistasting te ontmasker nie.]

In Kol 2:11-12 word geen konneksie gemaak dat die doop in die plek van die besnydenis gekom het nie. Dit is asof sommige teoloë soms enige nie-toepaslike vers gebruik om vooropgesette standpunte te probeer motiveer.

Die doop is dus die teken van wedergeboorte. Wedergeboorte is dieselfde as die besnydenis van die hart wat die teken van die Nuwe Verbond is en dit is die rede waarom die doop slegs aan mense moet bedien word wat Christus openlik bely as bewys van hul wedergeboorte en Nuwe Verbond-lidmaatskap.

Die teken van die Nuwe Verbond is dus die besnydenis van die hart deur die Gees wat uiterlik bewys word deur die dissipel se geloof en lewe. [Dit beteken dat kinders/suigelinge uit die Nuwe Verbond uitgesluit is, en hulle het ook geen teken daarvoor nie. Hulle is egter van die begin af onder die verbond ingesluit – met teken en al – dieselfde verbond waarin ons nog tans staan deur Jesus Christus. God het dít nog nooit verander nie.]

5 Is die doop van onverantwoordbare kinders geldig?

Tot op hierdie punt het ons gesien dat suigelingdoop deur besprinkeling eerder as ’n historiese ontwikkeling gesien moet word en dat die argument oor die klassifisering van die bekeringsdoop in ’n “Sendingsituasie” nie regverdigbaar is nie.

Steeds sit ons met die vraag oor die geldigheid van suigelingdoop. So kom ons gaan terug na die Bybel sodat ons ten einde ’n bespreking kan hê, gebaseer op feite, om te sien wat die Bybel te sê het oor hierdie onderwerp:

5.1 Wedergeboorte, geloof en die doop

Heb 10 22laat ons toetree met ’n waaragtige hart in volle geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water.

Hand 22 16En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het.

Die 1953 Afrikaanse vertaling van Handelinge 8:35-38 lees as volg:

Hand 8 35En Filippus het sy mond geopen en van hierdie skrif af begin en die evangelie van Jesus aan hom verkondig. 36En terwyl hulle voortreis op die pad, kom hulle by water; en die hofdienaar sê vir hom: Daar is water; wat verhinder my om gedoop te word? 37Toe sê Filippus: As u glo met u hele hart, is dit geoorloof. En hy antwoord en sê: Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is. 38En hy het beveel dat die wa moes stilhou; en hulle het altwee in die water afgeklim, Filippus en die hofdienaar; en hy het hom gedoop.

Uit Hebrieërs 10:22, Handelinge 8:35-38 en Handelinge 22:16 is dit duidelik dat geloofversekerdheid en dus geloof in Christus ’n voorvereiste is vir ’n persoon voordat hulle die doop kan ondergaan. Eers nadat die hofdienaar sy geloof in Christus bely het, het Filippus ingestem om die hofdienaar te doop (Hand 8). [Daar is niks fout daarmee nie. Hierdie is presies die sendingsituasie. Jy gaan nie na die sendingveld en doop almal voor die voet nie – eers as hulle tot geloof gekom het.] Kyk ook na die volgende:

Tit 3 5…nie op grond van die werke van geregtigheid wat ons gedoen het nie, maar na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees.

[Ook hier skyn dit dat die skrywer blykbaar die “bad van wedergeboorte” beskou as die doop – wat dit nie is nie. Dit beteken bloot die “reiniging” (“loetron”) van die wedergeboorte.]

Die doop vereis dus geloof deur wedergeboorte. Ons kry die eerste keer met die term wedergeboorte in Joh 3:3 te doen.

In hierdie geval verduidelik Jesus aan Nikodemus dat dit onmoontlik is om die koninkryk van God te sien as die bepaalde persoon nie wedergebore is nie. Paulus vertel ook in Rom 1:16 van die reddingskrag van God vir elkeen wat glo. God vereis dus geloof en wedergeboorte uit die spirituele saad van Christus, van beide Jood en nie-Jood.

Tog is daar steeds sommige teoloë wat die teorie van suigelingdoop wil regverdig en verdedig deur aan te voer dat wedergeboorte by die doop van ’n suigeling gebeur. [Indien dit waar is dat sommige dit sê, dan is hierdie siening by verre in die minderheid en dit strook ook nie met die Bybel of die belydenisskrifte nie.] Vir wedergeboorte om plaas te vind moet die dopeling gelowig wees in beginsel, waarop sommige teoloë gereeld sal reageer deur aan te voer dat ’n kindjie met geloof gebore word. [God vereis nêrens in die hele Bybel dat ’n “onverantwoordbare” kind moet (kan) glo nie. Daarom is die “geloofslas” by die ouer.]

Daar word ook soms geredeneer dat as ’n kindjie nie met geloof gebore sou word nie en nie die doop ontvang nie, dat daardie kindjie nie die ewige lewe sou beërwe nie. Kom ons kyk na ’n paar verse om meer lig op hierdie saak te bring: [Dit is eenvoudig nie waar nie. Die NG Kerk (of enige gereformeerde leer) het dit nog nooit geglo of verkondig nie! Wat dwalende teoloë kwytraak kan immers nie aan die deur van die NG Kerk gelê word nie.]

Rom 10 14Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie?…17Die geloof kom dus deur die prediking wat ’n mens hoor, en die prediking wat ons hoor, is die verkondiging van die woord van Christus.

Bykomend tot die bostaande gedeelte, getuig Johannes 4:39-42, 1 Korintiërs 2:1-5 en Handelinge 8:35-38 ook onder andere daarvan dat geloof die gevolg is van ’n gebeurtenis waar ’n persoon te hore gekom het van die evangelie van genade. Wat opvallend is, is dat in sommige gevalle waar daar van die bekering en doop van die huisgesinne geskryf is, daar geskrywe staan dat al die lede van daardie betrokke huisgesinne “tot geloof gekom het” en daarna gedoop is (Hand 16:33&34, Hand 18:8). Kyk ook na die volgende:

Hand 2 41Dié wat Sy woorde aangeneem het, is gedoop, en omtrent drie duisend mense is op daardie dag by die getal gelowiges gevoeg.

Hierdie mense (Hand 2:41) het dus tot geloof gekom nadat hulle “Sy woorde aangeneem het” en dit beteken dat hulle nie voor hul bekering gelowig was nie. Slegs nadat hulle tot geloof gekom het, is hulle gedoop. [Weer ’n voorbeeld van die sendingsituasie. Indien die sendingsituasie nie ’n geldige argument is nie, is kindertjies daarom UIT-gesluit!!!??]

Hand 3 19Daarom, bekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis.

Dit is uiters belangrik vir ’n persoon om eers tot bekering te kom en dan gedoop te word. Geloof is dus bykomend tot ’n persoon se lewe. [???] Gevolglik is die teorie van suigelingdoop teenstrydig met die vereistes en riglyne wat gestel is in die Bybel aangaande die bediening van die doop. As ’n suigeling nie kan glo nie, kan hy/sy nie wedergebore word nie omdat wedergeboorte die gevolg is van mense wat tot geloof gekom het, die vergifnis van sonde endie doop. [Baie verwarrend: wedergeboorte is die gevolg van geloof, vergifnis en gedoop te wees (?), maar die doop is ook die teken dat jy reeds wedergebore is? Skrywer weerspreek homself.] Suigelingdoop voldoen dus nie aan die bedieningsriglyne oor die doop wat in die Bybel gestel is nie. [Ironies, inderdaad! Die skrywer sê: “As ’n suigeling nie kan glo nie, kan hy/sy nie wedergebore word nie”. Jesus sê: As iemand nie wedergebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”, en “… hy wat nie glo nie, sal veroordeel word”. Dus verklaar die skrywer dat alle kindertjies wat nog nie kan glo nie, verlore is!!

Verder: “…wedergeboorte die gevolg is van mense wat tot geloof gekom het, die vergifnis van sonde en die doop.” Hier word die kar alweer voor die perd gespan. Wedergeboorte kan volgens skrywer net plaasvind nadat jy tot geloof gekom het, vergifnis ontvang het, en jou laat doop het. Toe Jesus vir die moordenaar aan die kruis gesê het “Vandag sal jy saam met My in die paradys wees”, was dit omdat e.g. in Hom geglo het. Ons mag aanvaar dat hy net daar wedergebore is. Die Christelike doop is eers later ingestel. Verder is ’n teken nét ’n teken, nie ’n heilsbewerker nie. Die skrywer impliseer dat die wedergeboorte beide ’n teken én ’n heilsbewerker is – wat onlogies is. Dán mag ons óók vra of wedergeboorte maar nét ’n “teken” van die Nuwe Verbond is. Die moordenaar aan die kruis wys na alle waarskynlikheid dat wedegeboorte nie maar net ’n teken is nie.

Beide geloof en wedergeboorte is ’n genadegawe van God, en die een kan nie sonder die ander nie – laat staan nog dat wedergeboorte “die gevolg” van geloof is!! Veel eerder is vergifnis en die doop die gevolg van geloof en wedergeboorte.]

5.2 Is die doop van gelowige ouers se kinders geldig?

[Hierdie hele paragraaf is ongelukkig een lang strooipopargument.]

Die Susterskerke is van mening dat kinders van gelowiges gedoop moet word omdat God die kinders van gelowige ouers van die begin af insluit in Sy verbond met die gelowige ouers. [Ja, 1 Kor. 7:14] Ten einde die dooppraktyk van die Susterskerke beter te verstaan is die doopformulier van die NG Kerk, soos vanaf die NG Kerk se webtuiste, in Bylaag B aangebring. Die doopformulier beskryf die doop van ‘verbondskinders’ soos volg:

Kinders van gelowiges moet gedoop word omdat God die kind van die begin af insluit in sy verbond met die gelowige ouers… Al verstaan die kinders nog nie die doop nie, verander dit niks aan die geldigheid daarvan vir hulle nie. Trouens, dit beklemtoon juis die feit dat dit God is wat uit vrye genade ook in hulle geval die inisiatief neem in hul verlossing.

In die doopformulier word die volgende as teksverwysings aangehaal om hierdie punt te staaf:

“Ons word gedoop omdat die Here God ’n verbond van genade met ons en ons kinders gesluit het. Reeds vir Abraham die vader van alle gelowiges (Gal 3:29; Rom 4:11,16), het die Here gesê: “Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (Gen 17:7).”

Maar is dit geldig dat ouers vir hul kinders kan instaan by God? [God het geen ouers gevra om vir hulle kinders “in te staan” nie. Hy het die kinders uit genade by Sy verbond ingesluit op grond van die ouers se geloof en gevolglike verbondsverhouding met Hom, en Hy het die ouers verantwoordelik gemaak om hulle kinders te onderrig en op te voed in Sy weë (Deut.6:7; 11:19). So het God dit bepaal en ons kan Hom nie bevraagteken nie!] Is dit dan nie elke persoon se individuele verantwoordelikheid om sy verhouding met God te bevorder en sy/haar geloof in God op ’n daaglikse basis uit te leef nie? [Verantwoordbare volwassenes, ja!] Kom ons kyk na die onderwerp van individuele verantwoordelikheid aan die hand van die Ou Verbond. [Met die gevolgtrekking dat kindertjies nie kan glo nie en dus gediskwalifiseer word?]

Soos vroeër gesê, het God die Ou Verbond met Abraham en sy nageslag in Genesis 15 ingestel. Alhoewel hierdie verbond alreeds met Abraham ingestel is, word die Abraham verbond uitgebrei en ryker in betekenis op latere stadiums soos byvoorbeeld met Abraham self 13 jaar later in Genesis 17, met Isak in Genesis 26 en met Jakob in Genesis 28. Hierdie verbond word later nog verder uitgebrei, byvoorbeeld met die volk Israel by Sinaiberg (Eksodus 19 en 20) en by Moab, bevestig in Deuteronomium 4, 5 en 29:

Deut 5 2Die Here ons God het by Horeb ’n verbond met ons gesluit. 3Dit is nie ons voorvaders met wie Hy hierdie verbond gesluit het nie, maar ons, ons almal wat hier is en nou lewe.

Deut 29 12Julle staan hier sodat julle deel kan kry aan die verbond van die Here julle God wat Hy vandag onder eed met julle sluit, 13sodat Hy julle vandag sy volk kan maak en Hy julle God kan word, soos Hy julle beloof het en soos Hy met ’n eed beloof het aan julle voorvaders, Abraham, Isak en Jakob. 14Die Here het gesê: ‘Dis nie net julle met wie Ek hierdie verbond onder eed sluit nie.’ 15Hy sluit die verbond met almal wat vandag hier saam met ons voor Hom, die Here ons God staan, maar ook met hulle wat nie vandag hier saam met ons is nie.

Die Ou Verbond is dus op verskillende tye en plekke bevestig met verskillende geslagte van Abraham. Wat wel opvallend is, is dat Abraham nie kon instaan vir Isak, Jakob of enige ander persoon in sy nageslag vir die uitlewing en/of uitbreiding van hierdie verbond nie. Gelykerwys, kon Jakob, Isak of enige ander persoon wat deel was van hierdie verbond nie vir hul nageslag instaan by God nie. Die vaders kon dus nie instaan vir die kinders by hierdie verbond nie. Dit was elke geslag se individuele verantwoordelikheid om te verseker dat hulle wel die bepalings van hierdie verbond uitleef.

By drie geleenthede het God die volk met die bepalings van hierdie verbond gekonfronteer waar die volk dit onderskryf het. Die volk het by al hierdie geleenthede God se bepalings aanvaar deur te antwoord: “Alles wat die Here gespreek het, sal ons doen…” Ex 19:5-8: Ex 24:3, 7 & Deut 30:11-15, 19. Met die antwoord van hierdie vraag, was God tevrede met die antwoord van die volk (Deut 5:27, 28).

Die klem val dus in Deuteronomium 5:2, 3 op die feit dat die verbond slegs bindend is op ’n nageslag as hulle ook bereid is om die bepalings daarvan persoonlik te aanvaar. Dit is dus ’n persoonlike saak en die verbond kan nie bindend wees op die nageslag as hulle nie bereid is om persoonlike verantwoordelikheid daarvoor te aanvaar nie.

Maar hoe is dit van toepassing op die doop? God is gister, vandag en môre altyd dieselfde. Net soos wat elke geslag in die volk van Israel persoonlik verantwoordelik was vir die verbond, is elke persoon individueel verantwoordelik vir sy/haar eie verhouding met God. Net soos in die Ou Verbond waar die vaders nie vir hul nageslag by God kon instaan nie, kan die ouers ook nie vir die kinders in die Nuwe Verbond by God instaan nie. [God het ook nooit vereis dat ouers vir kinders moet instaan nie. Kyk hierbo.] Soos wat God ’n antwoord vanaf die volk verwag het in die Ou Verbond by sekere geleenthede, verwag God ook ’n antwoord in die Nuwe Verbond van elke individu persoonlik: [Dit beteken nog steeds, volgens mnr. Fourie, dat die kindjie buite die verbond en verlore is, omdat hy nie in staat is om te kan glo nie!]

Hand 22 16En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het.

Die verantwoordelikheid rus dus op elke individu om die antwoord aan God te gee dat hy/sy wel die bepalinge van God ten opsigte van sy/haar lewe aanvaar. Elke individu moet dus hierdie vraag beantwoord voor elke doop, soos beskryf in Handelinge 22:16.

Individuele verantwoordelikheid in die Nuwe Verbond word ook bevestig in die volgende:

Jer 31 29In daardie tyd [Die tyd van die Nuwe Verbond] sal hulle nie meer sê: “Die Vaders het groen druiwe geëet en die kinders se tande het stomp geword nie” 30Elke mens sal oor sy eie sonde sterf: wie groen druiwe eet, se tande sal stomp word. 31Daar kom ’n tyd, sê die Here, dat Ek met Israel ’n nuwe verbond sal sluit…. 33Dit is die verbond wat Ek in die toekoms met Israel sal sluit, sê die Here: Ek sal My woord op hulle harte skryf en dit in hulle gedagte vaslê. Ek sal hulle God wees en hulle sal my volk wees. 34’n Man sal nie meer vir sy buurman of vir sy broer voorhou: “Jy moet die Here dien” nie, want almal sal My dien, klein en groot, sê die Here.

Lees ook gerus Esegiël se siening oor individuele verantwoordelikheid in Esegiël 18. Die boodskap wat Esegiël oordra is dat selfs al eet die vaders groen druiwe, sal die kinders se tande nie stomp raak nie. Die Here sê dat elkeen aan Hom behoort en dat Hy afsonderlik oor elke persoon se lewe en sondes oordeel. Elkeen wat sondig sal daarvolgens veroordeel word en elkeen wat volgens God se wil lewe, sal die vrugte daarvan pluk.

Suigelingdoop laat egter toe dat valse hoop geskep word in die redding van gelowige ouers se kinders, voordat die kinders hulself bekeer het tot die Woord van God. [Die suigelingdoop word nie voorgehou as ’n waarborg van redding nie, maar bloot as ’n teken van God se trou en beloftes, en dat hy/sy by die verbond ingesluit is.] Die waarheid is wel dat God ’n nugter antwoord van elkeen afsonderlik verwag waarop elke individu moet reageer, soos met die doop.

5.3 Die plig van ouers in die Nuwe Verbond

Maar as God dan elkeen individueel verantwoordelik hou vir sy/haar lewe, wat is dan die plig van ouers in die Nuwe Verbond? Om ’n antwoord op hierdie vraag te kry, kan ons die verantwoordelikheid van die ouers met betrekking tot die Ou Verbond eers bestudeer:

Gen 17 10Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. 11Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: 12elke seun onder julle van agt dae oud moet besny word. Dit geld vir elke lid van die manlike geslag onder julle: al julle nageslagte en ook elke slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en die slawe wat van ’n vreemde met geld gekoop word, wat nie jou afstammeling is nie. 13… So sal my verbondsteken aan julle liggaam wees as ’n blywende verbond.

Ons kan dus sien dat dit die ouers se plig was in die Ou Verbond om toe te sien dat elke lid van die manlike geslag (of dit nou ’n afstammeling was en of dit ’n vreemdeling was) die verbondsteken (besnydenis) moes ontvang het. Net só is dit die ouers se plig om toe te sien dat hul kinders of vreemdelinge die teken van die Nuwe Verbond (besnydenis van die hart/wedergeboorte) moet ontvang. Ons kan dus verseker dat ons kinders hierdie teken ontvang deur hulle ons eerste sending prioriteit te maak. [Dus kan die kind eers ná bekering gered word? Vóór dít nie gebeur nie, kan die kindertjies nie weergebore word en/of “die koninkryk van God sien” nie? Maar Jesus het gesê: “Aan sulkes behoort die koninkryk van die hemel”.] Die kinders moet egter hierdie opdrag op hul eie aanvaar en hulself laat doop as hulle die begeerte het, net soos wat die volk Israel self die verpligtinge (nie die teken van besnydenis) van die Ou Verbond moes aanvaar het. Dit alles word bevestig in die volgende gedeelte.

[Dit beteken dat die ouer kan verseker dat die kind wedergebore word!!? Die Heilige Gees dwing om die kind te wederbaar?

Mnr. Fourie meen ook dat die volk Israel hulle verpligtinge moes aanvaar, maar hulle hoef nie die teken te aanvaar het nie. Dit is onwaar – die teken was verpligtend! (Gen.17:14). God wou selfs vir Moses doodmaak omdat hy nie sy seuntjie (laat) besny het nie (Eks.4:24-26). Net so is die doop ook verpligtend – Jesus het dit so beveel!]

5.4 Handelinge 2:38-42

Bestudeer nou Hand 2:38 tot 42:

Hand 2 38En Petrus sê vir hulle: Bekeer julle, en laat elkeen van julle gedoop word in die Naam van Jesus Christus tot vergewing van sondes, en julle sal die gawe van die Heilige Gees ontvang. 39Want die belofte kom julle toe en julle kinders en almal wat daar ver is, die wat die Here onse God na Hom sal roep. 40En met baie ander woorde het hy hulle besweer en vermaan en gesê: Laat julle red uit hierdie verkeerde geslag. 41Die wat toe sy woord met blydskap aangeneem het, is gedoop; en daar is op dié dag omtrent drieduisend siele toegebring…

Handelinge 2:38-42 bevat twee opdragte in een, naamlik: 1) Bekeer julle en 2) Laat julle doop.

Wanneer hierdie opdrag aanvaar word deur ’n persoon, is daar ’n belofte aan die bekeerdes en gedooptes gerig en dit behels: 1) die vergewing van sondes en 2) die gawe van die Heilige Gees.

Maar aan wie is hierdie belofte gerig? Hierdie belofte kom die volgende toe, naamlik: 1) die bekeerdes en gedooptes; 2) julle kinders, onder dieselfde voorwaardes naamlik na bekering en doop, en; 3) aan almal wat daar ver is (ander volke as die Jode), ook onder dieselfde voorwaardes naamlik ná bekering en doop.

Die belofte is ook nie slegs aan afstammelinge van gelowige ouers gerig nie. Die belofte is ook aan “almal wat daar vêr is” gerig. Dit beteken dat die belofte aan kinders van gelowige of ongelowige ouers gerig is wanneer kinders as dissipels gedoop word, m.a.w. wanneer die kinders ook die voorwaarde nakom van “bekeer en laat julle doop tot vergewing van sondes”. Hierna sal die kinders, as dissipels, “die Heilige Gees ontvang”.

Die doopformulier laat egter toe en skryf trouens voor dat nadat ouers slegs bepaalde sinsnedes uit sleuteltekste gehoor het, hul babas as lidmaat van die kerk gedoop moet word. Bekering, dissipelskap en voortgesette onderrig kom nie ter sprake nie. [Hierdie is mos nie waar nie. Wat anders beteken: “Beloof u om hierdie kind, van wie u vader en moeder (of voog) is, in dié leer na dié beste van u vermoë te onderrig en te laat onderrig?” (kyk bylaag B)]

Daar moet dus na Handelinge 2:38-42 gekyk word om die belofte van Handelinge 2:39 in konteks te verstaan. Wat opvallend is, is dat slegs dié mense wat Petrus se “woord met blydskap aangeneem het”, gedoop is. In hierdie geval is die belofte dus nie vir suigelinge nie omdat hulle nie die vermoë het om ’n boodskap aan te neem nie. [Dus is die kindertjies uitgesluit! Die onveranderlike God het dus van plan verander?]

5.5 Matteus 28:19-20

In die doopformulier (Bylaag B) word “hulle”, wat volgens Matt 28 enige persoon wat bekeerd is beteken, vervang met “kinders van gelowige ouers”. Daar moet na dié gedeelte in geheel en in konteks gekyk word. Kom ons kyk na die volledige opdrag van Jesus met Sy hemelvaart:

Die 1953 Afrikaanse vertaling van Matteus 28:19, 20 lees as volg:

Matt 28 19Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. 20En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.

Die 1983 Afrikaanse vertaling van Matteus 28:19, 20 lees as volg:

Matt 28 19Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en 20leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.”

Die opgestane Christus stuur Sy dissipels uit na al die nasies om die evangelie te verkondig en mense Sy dissipels te maak. Dit impliseer dat dié wat tot geloof kom in Christus, in gemeenskap gebring word met die Drie-enige God, deur die doop. Dissipelskap impliseer verder voortdurende onderrig in alles wat Christus ons beveel het om te onderhou. [Dus is die outomaties-verlore kindertjies, weens hulle onvermoë om te glo, te bekeer en gedoop te word, uitgesluit uit gemeenskap met die drie-enige God!]

Matt 28 verse 19 en 20 vorm een opdrag met drie onderafdelings. Ons kan nie slegs ’n enkele sinsnede daaruit neem en dit van toepassing maak op dit wat vir ons van belang is en die res ignoreer of dit klassifiseer as ’n “sendingopdrag”, “sendingsituasie” of “volwasse doop” nie; as ons dit doen, haal ons die Bybel buite konteks aan.

Matt 28:19-20 bevat die volgende elemente:

Eerste deel van opdrag: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies”

Tweede deel van opdrag: “en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”

Derde deel van opdrag: “en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het”

Die versekering: “en kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.”

Soos in voorafgaande besprekings (Bv. Hand 2:38), is Christus se woorde in Matteus 28 ’n bevestiging van die volgorde waarin bekering, doop en voortgesette onderrig moet plaasvind. Uit Christus se woorde is dit duidelik dat die doop na dissipelskap moet gebeur. Ons kinders word egter volledig by bogenoemde Skrifgedeelte ingesluit aangesien hulle deel is “van al die nasies” [Hierdie is ’n vergesogde argument: om verbondsgelowiges se kinders onder hulle “geloofsambreel” uit te verwyder en hulle (die kindertjies) as deel van “al die nasies” te klassifiseer. Hierdie spreek ook nog steeds nie die probleem aan van wat met kinders gebeur wat nie gedoop is nie.]. Hulle behoort ons eerste of belangrikste verantwoordelikheid in ons dissipelmaakopdrag te wees. [Gewoonweg net soos “al die nasies”!?]

Soos Christus dit stel, moet ons kinders dus gedoop word na bekering en dissipelskap.

6 Die doop se ware betekenis

Die Woord is ons primêre bron van kennis. Hierna volg Bybeltekste oor die doop wat spesifiek behandel word omdat hierdie tekste as riglyne dien vir gelowiges oor die bediening en doel van die doop.

Rom 6 3Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? 4Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe lewe kan wandel.

Kol 2 11Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook besny, nie met die besnydenis wat deur mense verrig word nie, maar met die besnydenis deur Christus, en dit bestaan in die wegneem van die sondige natuur van die mens. 12Dit het by die doop gebeur deurdat julle toe saam met Hom begrawe is. Deur julle verbondenheid met Hom is julle ook saam met Hom opgewek, omdat julle geglo het in die krag van God wat Hom uit die dood opgewek het. 13Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy al ons sondes vergewe het.

Met die kruisdood van Christus is die Nuwe Verbond gesluit en daarmee is beide Jood en nie-Jood se sondes versoen.

Hierdie versoening is slegs van toepassing op ’n persoon mits die bepalings van die Nuwe Verbond nagekom word, naamlik: geloof, bekering, wedergeboorte , doop en volharding in geloof (Joh 3; Matt 28:19&20; Mark 16:16).

Hand 22 16En nou, waarom nog wag? Kom, laat jou doop en jou sondes afwas nadat jy sy Naam aangeroep het.

1 Pet 3 21…Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n bede tot God om ’n skoon gewete, en dit red julle op grond van die opstanding van Jesus Christus.

By die doop word ’n persoon egter geestelik verenig met die kruisdood van Christus (Rom 6:3-4 & Kol 2:11-13) [Ongelukkig beide foutiewe vertalings – sien my herhaalde skakel hierbo, en die OAV]deurdat die ou sondige mens simbolies begrawe en weer opgewek word saam met Christus, sodat “ons ook in ’n nuwe lewe kan wandel”. Om hierdie rede is die doop ’n simboliese afwassing van sondes (Hand 22:16). Hierdie reiniging deur God gebeur as ’n persoon ’n bede tot God om ’n skoon gewete het (1 Pet 3:21), met elke individu se persoonlike roeping tot God (Hand 22:16).

Die doop kan dus ook om die volgende fundamentele redes nie aan suigelinge bedien word nie:

  • ’n Bede tot ’n skoon gewete (1 Pet 3:21) en vergifnis van sondes (wat met die doop gepaard gaan), kan slegs van toepassing wees op ’n persoon wat alreeds gesondig het.
  • ’n Suigeling het geen begrip van die waarde van die doop en ook nie die vermoë om God aan te roep met geloofsekerdheid nie (Hand 22:16).

7 Steeds doop die kerk suigelinge…

Steeds soek mense na sekerheid oor die verlossing van hul kinders – dit is maar net menslik. Om hierdie rede moet ons die Bybel naslaan om ’n antwoord te kry op die volgende vraag: Ontvang mense/kinders dan die ewige lewe as hulle nie gedoop word nie? Volgens die geskrifte van Origenes en Cornelius (Bylaag A) is dit duidelik dat hierdie vraagstuk die vroeë-kerkleiers ook verontrus het. Uit die Christelike geskrifte (Bylaag A) het dit duidelik geword dat die uitbreiding van die praktyk van kinderdoop deels toegeskryf kan word aan die toepassing van nood-doop. Dit beteken dat wanneer ’n kind of volwassene op sterwe gelê het, die kerkleiers dit nodig geag het om hierdie persone te doop om te “verseker” dat daardie persoon wel die ewige lewe sal ontvang. Hierdie kerkleiers het gevolglik kinders en volwassenes gedoop om die onsekerheid te “verhoed” oor hierdie verskeie persone se “verlossings status”.

As ons na ’n uittreksel uit die doopformulier kyk, is dit duidelik dat teoloë vandag nog dieselfde siening het: [Nie waar nie!! Dit is ’n totaal foutiewe afleiding. Die gemelde uittreksel hieronder maak geen melding dat die doop die ewige lewe “verseker” soos hierbo beweer nie! Heeltemal die teenoorgestelde, nl. “… dat dit God is wat uit vrye genade ook in hulle geval die inisiatief neem in hul verlossing.”]

Verbondskinders moet gedoop word

Kinders van gelowiges moet gedoop word omdat God die kind van die begin af insluit in sy verbond met die gelowige ouers. Daarom is hele gesinne in die Nuwe Testament gedoop waar die ouer(s) tot geloof gekom het. Al verstaan die kinders nog nie die doop nie, verander dit niks aan die geldigheid daarvan vir hulle nie. Trouens, dit beklemtoon juis die feit dat dit God is wat uit vrye genade ook in hulle geval die inisiatief neem in hul verlossing.”

Hedendaagse toeloë het dus ook die siening dat ’n kindjie gedoop moet word om verlossing van God te ontvang. [Mnr. Fourie het uitdruklik gesê hy is hier besig met die NG Kerk. Dus is hierdie stelling nie waar nie.] Hierdie siening kom van die waninterpretasie van onderandere die volgende gedeelte:

Mark 16 16Wie tot geloof gekom het en gedoop is, sal gered word; wie nie glo nie, sal veroordeel word.[Arme kindertjies!!! – ongelowig, ongered!]

Bostaande vers veroorsaak gereeld onsekerheid. Mark 16:16 sê nie dat mense wat nie gedoop is veroordeel sal word nie. As ons Mark 16:16 deeglik bestudeer en daaroor nadink, word dit duidelik dat die klem in hierdie gedeelte op geloof in God val eerder as die doop. [Skrywer se sienings ten opsigte hiervan saamgevat: Die “wedergeboorte is die gevolg van” éérs geloof, bekering, vergifnis en doop. Kindertjies kan nie glo of tot bekering kom nie, dus kan hulle nie gedoop word nie, dus kan hulle nie die teken van die wedergeboorte (die doop) ontvangnie, dus word hulle nie gedoop nie. Die doop is die teken dat jy wedergebore is. Dus kan babatjies nie wedergebore word nie, want hulle is nie gedoop nie. Dus kan baba’s (alle onverantwoordbare kinders) die koninkryk van God nie sien nie, want hulle kan eers gedoop word as hulle kan verstaan, glo, en wedergebore is. Inderdaad ’n tragiese gevolgtrekking!]

Rom 10 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.[En kindertjies kan nie! En hulle is deel van “al die nasies”?]

Efe 2 8Julle is inderdaad uit genade gered, deur geloof. Hierdie redding kom nie uit julleself nie; dit is ’n gawe van God.

Rom 4 9…Ons sê weer: “Omdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek. 22Omdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek.

Geloof in God bring redding, nie die doop nie. Die doop is slegs ’n teken van hierdie geloof en daarom het ons die opdrag van Christus gekry in Matt 28:19-20 om na al die nasies toe te gaan, dissipels te maak en om hulle te doop “in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees”. Gevolglik moet ’n persoon die geleentheid aangryp om gedoop te word mits daardie persoon tot geloof in Christus gekom het.

Soos wat ons in hierdie boek gesien het, het die argumente agter die kinderdoop die volgende teenstrydige elemente teenoor die doop soos die Bybel ons leer:

  • Dat die doop nie in die plek van die besnydenis gekom het nie;
  • Dat die klassifisering van die bekeringsdoop in ’n sendingsituasie vals is;
  • Dat dit elke individu se verantwoordelikheid is om gedoop te word; en
  • Dat die doop om verskeie fundamentele redes nie aan suigelinge bedien kan word nie.

Gevolglik is suigelingdoop teenstrydig met die riglyne wat in die Bybel gestel is. Maar steeds wil die kerk suigelinge doop omdat sekere geestelike leiers valse waarde aan die mistieke krag van die doop heg [Niemand glo dat die doop mistieke krag het nie. Hierdie is weereens ’n strooipopargument.] en met hierdie self geskape waarde, verwag hierdie leiers dat God ooreenkomstig waarde aan die kinderdoop moet koppel. Kom ons kyk na die volgende:

Matt 15 1In dié tyd het daar Fariseërs en Skrifgeleerdes van Jerusalem af by Jesus gekom en Hom gevra: 2“Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte?…” 3En Jesus antwoord: “Waarom verontagsaam julle self die gebod van God ter wille van julle oorgelewerde gebruike?… 6 …So ontneem julle die woord van God sy gesag ter wille van julle oorgelewerde gebruike… 9Dit help niks dat hulle My probeer dien deur leerstellings van mense as gebooie van God voor te hou nie.”

Uit Matt 15:1-9 is dit dus duidelik dat Christus sê dat ons Hom verontagsaam deur menslike leerstellings en tradisie bó die Woord van God te ag. As die kinderdoop nie ’n Bybelse grondslag het nie, is dit dus om‘t ewe of ons ons kinders laat doop of nie. God heg nie waarde aan ’n mensgemaakte leerstelling soos die kinderdoop nie.

Dr Adrio König maak in sy boek: “Christelike doop én bekeringsdoop?” die volgende stelling:

“Ons het nie van Jesus ’n bevel gekry om kinders te doop nie.”

As God nie waarde aan kinderdoop geheg het nie, is kinderdoop niks meer werd as ’n mensgemaakte ritueel waar water op ’n baba se kop gedrup word. [Maar die onveranderlike God het genoeg waarde aan kindertjies geheg om hulle in Sy verbond met gelowige ouers in te sluit. Jesus het genoeg waarde aan hulle geheg om te sê dat die koninkryk van die hemel aan diesulkes behoort.]

Sommige gelowiges redeneer dikwels dat dit nie nodig is vir hulle om “groot gedoop” te word nie omdat hulle gedoop is as kinders. Aangesien die kinderdoop nie Bybelgefundeerd is nie, is ’n persoon wat slegs gedoop is as suigeling, nie gedoop nie. Daarom wil ek jou, die leser, aanmoedig om jouself te laat doop afgesien van jou kinderdoop status.

8 Steeds die verwarring in die kerk…

Prof Stephan Joubert het onder andere by die doopseminaar van 2007 die volgende stelling gemaak:

“Die ellendige ding het gebeur dat die doop in die hande van die teoloë geval het.”

Na aanleiding van al hierdie besprekings en opweeg van argumente, is dit onmoontlik vir my om neutraal te bly. Ek erken daarom ruiterlik dat ek sommige geestelike leiers se doopuitleg nie verstaan nie. Waar ek dit egter in baie gevalle begryp, staan ek verstom hoe roekeloos met die Skrif omgegaan kan word wanneer jy ten alle koste iets wil bewys – hoe meer geleerd dit klink, hoe minder kans is daar vir kritiese vrae. Teoloë is besig om hul eie interpretasies oor die Woord hoër te ag as wat die primêre bedoeling van die teks is.

1 Kor 1 7Julle moet verstaan dat Christus my nie in die eerste plek gestuur het om mense te doop nie; Hy het my gestuur om die Goeie Nuus te verkondig – en dit nie met allerlei woordkunsies nie, want daarmee verloor die kruis van Christus sy krag…

Die taal van teologie word dikwels op ’n vlak aangebied wat inkriminerend is. Dit word dan soos ’n mooi preek wat jou beïndruk maar geen verskil in jou lewe maak nie. Onkundige mense se onvermoë om deel te neem aan die bespreking, weerhou hulle daarvan om kritiese vrae te vra. Volgens my maak teoloë sommige dinge, soos die doop, baie meer kompleks as wat dit is. Kom ons kyk eers na hierdie interessante gedeelte in Luk 7:

Luk 7 30Net die Fariseërs en die wetgeleerdes het die bedoeling van God verwerp en hulle nie deur Johannes laat doop nie.

Dit is opmerklik dat dit die geleerdes is wat oor die eeue God se bedoeling oor die doop verwerp het. Dieselfde siening wat die wetsgeleerdes en teoloë oor die doop gehad het, is vandag nog volop in ons teologie.

Om nou terug te kom na die krisis soos die Algemene Sinode (AS) dit beskryf het tydens die sinodesitting van 2007:

“Buiten die krisis rondom die “grootdoop teenoor kinderdoop”, wat homself siklies deur die gang van die geskiedenis in die kerk herhaal, is daar in ons tyd sekere faktore wat die gesprek oor doop nog meer dringend en meer kompleks maak.”

Die manier waarop die kerk hierdie krisis hanteer het, het die situasie uitgerek. Die doop is dié aspek wat alleenlik verantwoordelik is vir die meeste kerk-skeurings in die geskiedenis van die kerk. Die kinderdoop dra ook by tot die groeiende geloofwaardigheids krisis in die kerk. Die kerk sit steeds “skaakmat” oor die bedoeling van die doop, maar geen stappe word geneem om die saak op te los nie. Die AS skryf voor dat hulle ’n helder en aanvaarbare beleid aangaande die doop wil bevorder maar in dieselfde asem beskryf die AS die Christelike doop as “ononderhandelbaar”.

As die AS hierdie siening oor die doop wil volhou, is daar geen manier hoe hierdie krisis kan opgelos word nie.

Bylaag A

Didache hfst 7: (Leer van die twaalf apostels)

“Wat die doop betref, moet julle so doop: nadat julle al hierdie dinge vooraf gesê het, moet julle in die Naam van die Vader en van die Seun en van die Heilige Gees doop in lopende water. As jy nie lopende water het nie, doop dan in ander water en as jy nie in koue water kan doop nie, dan in warm water. As jy beide nie het nie, giet dan drie keer water op die hoof in die Naam van die Vader en Seun en Heilige Gees. Voor die doop moet hy wat doop en hy wat gedoop word, vas, asook sommige ander as hulle in staat is. Maar jy beveel hom wat gedoop word om vooraf een of twee dae te vas.”

Justinus (100-165): Apologie I.65

“Maar nadat ons dus die een wat oortuig is en wat sy instemming betuig het so gedoop het bring ons hom na waar hulle wat broers genoem word versamel is, sodat ons op ’n opregte wyse gemeenskaplike gebede kan opstuur ter wille van onsself en van die gedooptes en van al die ander oral oor, sodat ons waardig geag word nadat ons die waarheid geleer het, en sodat ons op grond ons werke as goeie burgers en bewakers van die gebooie bevind kan word, ten einde gered te kan word met die ewige redding….”

Hippolytus (170-236), Apostoliese Tradisie, 217nC:

“Net diegene wie se lewens ondersoek is, word aanvaar om gedoop te word: hulle moes eerlik geleef het terwyl hulle katkisante was, weduwees geëer het, siekes besoek het, aktief goeie dade verrig het… Al die dopelinge moet die Vrydag vas…. Hulle moet die hele Saterdag na voorlesings uit die Skrif luister….”

Tertullianus (160-220), Die Kroon 3, 211 nC:

“Net voordat ons in die water ingaan, in die teenwoordigheid van die gemeente, en onder die hand van die een wat die doop bedien… Ons word dan drie maal onderdompel, terwyl ons ’n breedvoeriger belydenis maak as wat die Here in die Evangelies voorgeskryf het…”

Cyrillus (313-386), in 348 verkies as biskop van Jerusalem:

“Julle het julle klere uitgetrek, en dit was ’n beeld van die ou mens met sy dade wat julle afgelê het. Nadat julle jul uitgetrek het, was jul nakend; daarin het julle ook Christus nageboots wat ook nakend aan die kruis was, en deur Sy naaktheid die bose magte en kragte van Hom afgegooi het en oor hulle triomfeer het…Julle mag nooit weer hierdie ou kleed aantrek nie. …Hierna is julle geneem na die heilige poel van die Goddelike Doop, soos Christus gedra is van die kruis na die graf … En elkeen van julle is gevra of hy glo in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees. En julle het daardie belydenis gemaak, en 3 maal in die water afgegaan, weer uitgeklim; hier was dit weer ’n simbool van Christus se drie dae in die graf. Soos ons Heiland 3 dae en 3 nagte in die aarde deurgebring het, so het julle ook met julle 1e opklim uit die water, die 1e dag van Christus in die aarde gedenk. En met julle afgaan in die water, het julle die nag gesimboliseer, want in die nag kan ’n mens nie sien nie, maar hy wat in die dag is, bly in die lig. So in die afgaan in die water, soos in die nag, het julle niks gesien nie, maar toe julle uitkom, was dit weer asof julle in die dag was. Op daardie selfde oomblik het julle beide gesterf, en is julle weer gebore.

En die water van redding was tegelykertyd julle graf en julle moeder.”

Tertullianus (160-220), Aangaandie die Doop 18

Hierdie is die eerste eksplisiete “teks” wat na kinderdoop verwys:

“En so, in ooreenstemming met die ouderdom van elkeen, is dit verkieslik om die doop uit te stel, veral in die geval van klein kindertjies.

Want waarom is dit nodig – as die doop self nie nodig is nie – dat die peetouers in gevaar gestel word? Hulle kan dalk sterf, en dan nie hulle beloftes nakom nie… Die Here sê wel: Verhinder hulle nie om na My toe te kom nie. Laat hulle dan gekom, terwyl hulle groot word; laat hulle “kom” terwyl hulle leer waarheen om te “kom”, laat hulle Christene word wanneer hulle in staat is om Christus te ken… Soveel versigtigheid word aan die dag gelê in die geval van wêreldse dinge, sodat ons nie kinders wat nie eens met aardse dinge toevertrou word, met Goddelike dinge kan toevertrou nie”

Cyprianus (200/210-257/8) in ’n brief aan Fidus, biskop in Afrika 253 n.C.

Cyprianus is die eerste wat die doop en die besnydenis vergelyk het.

“Rakende babas, wat jy sê nie binne die 2e of 3e dag na geboorte gedoop behoort te word nie, en dat die wet van die antieke besnydenis nagekom behoort te word, met die gevolg dat jy dink dat hy eers op die 8e dag gedoop moet word, het ons almal in ons kerkvergadering anders gedink. Niemand het met jou saamgestem nie. Almal het gevoel dat die genade van God van niemand weerhou kan word nie.”

Origenes (sterf 254 nC)

“Klein kindertjies is gedoop “vir die vergifnis van sondes” vir watter sondes? Of wanneer het hulle gesondig? Dalk omdat “niemand sonder besoedeling” is nie. Maar hierdie besoedeling word deur die misterie van die doop weggeneem, en dit is vir hierdie rede dat kinders gedoop word.”

Cornelius, biskop van Rome, oor die doop van Novatianus (251 nC)

“Maar Satan, wat ’n lang tyd in hom gebly het, het die rede geword waarom hy tot geloof gekom het. Nadat daar duiwels uit hom gedryf is, het hy baie siek geword. En toe hy op die punt was om te sterf, is hy gedoop deurdat water op hom gegiet is, op die bed waar hy gelê het, dit is nou as ’n mens dit enigsins ’n doop kan noem.”

Bylaag B

FORMULIER VIR DIE BEDIENING VAN DIE DOOP AAN DIE KINDERS VAN GELOWIGES

Geliefdes in die Here Jesus Christus, vir die bediening van die doop moet ons die volgende weet en met ons hele hart daarop vertrou:

Waarom ons doop

Ons word gedoop omdat die Here God ’n verbond van genade met ons en ons kinders gesluit het. Reeds vir Abraham die vader van alle gelowiges (Gal 3:29; Rom 4:11,16), het die Here gesê: “Ek bring ’n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte.

Dit is ’n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag” (Gen 17:7).In die Ou Testament het die Here die besnydenis en pasga as tekens gegee dat die verbond geldig is. Daarna het Christus gekom en hierdie verbond in sy persoon en deur sy verlossingswerk op ’n nuwe en finale wyse bevestig. As teken en waarborg hiervan het Hy die doop en die nagmaal gegee. Die Here Jesus Christus het voor sy hemelvaart aan sy dissipels die opdrag gegee om die doop te bedien. Hy het gesê: “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense My dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het” (Matt 28:19,20a). So het die Here Hom verbind deur hierdieverbond om ons God te wees en ons te seën. Van ons vereis Hy dat ons Hom in dankbaarheid en gehoorsaamheid sal dien.

Wat is die doop?

Die doop in die Naam van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees, beteken en verkondig:

  • dat ons en ons kinders, wat as sondaars in die wêreld gekom het, slegs in die koninkryk van God kan kom as ons opnuut gebore word;
  • dat die Here daardeur bevestig dat Hy ons in sy verbond insluit, ons tot sy kinders aanneem en ons deel laat hê aan al die voorregte van die verbond;
  • dat ons en ons kinders verbind word aan Christus wat ons sonde deur sy bloed afgewas het;
  • dat ons ou, sondige lewe saam met Hom aan die kruis gesterf het en saam met Hom begrawe is, maar dat ons ook weer deur sy opstanding lewend gemaak word sodat “ons vir die sonde dood is en vir God lewe” (Rom 6:11);(6.4)
  • dat die doop ’n seël is van die inlywing in die kerk van Jesus Christus en ons verplig om as lewende lidmate te leef;
  • dat ons as gedooptes die Here uit dankbaarheid met ons hele wese moet liefhê, vertrou en dien, en
  • dat die Here ons deur hierdie sakrament verséker dat Hy deur sy Gees in ons wil woon en ons lewens daagliks so regeer dat ons hoe langer hoe meer sy beeld vertoon.

Verbondskinders moet gedoop word

Kinders van gelowiges moet gedoop word omdat God die kind van die begin af insluit in sy verbond met die gelowige ouers. Daarom is hele gesinne in die Nuwe Testament gedoop waar die ouer(s) tot geloof gekom het. Al verstaan die kinders nog nie die doop nie, verander dit niks aan die geldigheid daarvan vir hulle nie. Trouens, dit beklemtoon juis die feit dat dit God is wat uit vrye genade ook in hulle geval die inisiatief neem in hul verlossing.

Waartoe verplig dit ons?

Die doop bevestig aan ons alles wat God ons skenk deur die genadeverbond en maak ons telkens bewus van hierdie vaste grond waarop ons geloof berus. Daarom verbind die doop die ouers om hulle kinders soos hulle opgroei oor die betekenis eneise van die genadeverbond in te lig, ’n voorbeeld vir hulle te wees in die uitlewing daarvan en hulle op te roep tot die toe-eiening van God se beloftes.

(Die doopouers word opgeroep en die dopelinge word ingebring.)

Gebed

(Opsioneel)

Doopgelofte

Geliefdes in die Here Jesus Christus

U* het gehoor dat die doop ’n Goddelike instelling is waardeur die Here sy verbond van genade aan ons en ons kinders waarborg en aan ons al die gawes van Christus skenk. Om te bevestig dat u die doop vir hierdie doel gebruik en nie uit gewoonte of bygelowigheid nie, moet u opreg op die volgende vrae antwoord:

Ten eerste: Bely u dat, hoewel ons kinders as sondaars in die wêreld gekom het en daarom onder die oordeel van God staan, hulle nogtans in Christus aan God behoort en daarom as lidmate van sy gemeente gedoop moet word?

Ten tweede: Bely u dat die leer van die Ou en Nuwe Testament wat ook in die artikels van die Christelike geloof vervat is en in die kerk hier geleer word, die ware en volkome leer van die verlossing is?

Ten derde: Beloof u om hierdie kind, van wie u vader en moeder (of voog) is, in dié leer na dié beste van u vermoë te onderrig en te laat onderrig?

Antwoord (hardop): Ja.

*”u” kan met “jy” of “julle” vervang word.

Bediening

Die liturg wat die doop bedien, sê: “NN (volle naam en van), ek doop jou in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.”

1 thought on “Resensie op Philip Fourie se “DIE VERWARRING IN DIE KERK OOR DIE DOOP””

  1. Ek hou niks van die charismate oor die ‘groot doop’ nie dan ‘moet jy in tale praat’ wat ‘n leuen is, en die Afrikaner het goed wat uit die VSA oorgewaai het aanvaar. Een voorbeeld: Azusa street (Apostolic Faith mission) kyk op Youtube.
    Ek sê dit omdat ek ondervinding daar van het.
    Om my self studie het ek die 3 volume verklarende Bybel met aantekeninge aangeskaf, en toe ek dit vir die groot dopers die ‘anabaptiste’ wys toe is die ouens kwaad, want dan is die waarheid ontbloot. En die eende van daardie dam hou niks daarvan om gewys te word nie, soos ek sê my eie ondervinding.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui