Figuurlike Genesis wen veld in VSA

Figuurlike Genesis wen veld in VSA
2011-09-10 22:42

(Gekopieer vanaf http://www.rapport.co.za/Wereld/Nuus/Figuurlike-Genesis-wen-veld-onder-Christene-in-VSA-2011091)

Johannes de Villiers

Die historiese Adam en Eva kan binnekort letterlik iets van die verlede wees.

Terwyl daar die laaste dekades wêreldwyd onder Christene debatte oor die letterlike waarheid van die Skeppingsverhaal woed (sommige beweer Adam en Eva het regtig geleef, teenoor ander wat beweer hulle is net ’n gelykenis), is een groep meestal dié polemiek gespaar: Amerikaanse evangelistiese Christene (evangelicals) het byna bankvas gestaan oor die letterlike waarheid van Genesis 1 en 2.

Die afgelope drie maande lyk dit asof dít verander. Evangelistiese Christene (Christene wat ’n klem op die letterlike waarheid van die Bybel plaas) het deur die jare in hul teologiese skole, tydskrifte en kerke byna eenparig verklaar die aarde is in ses dae klaar geskep (’n standpunt bekend as kreasionisme).

In Junie het ’n bom gebars toe Chris­tia­ni­ty Today, Amerika se grootste evangelistiese tydskrif, op sy voorblad ’n prent van Adam plaas wat soos ’n aapmens lyk. In die meegaande artikel sê verskeie evangelistiese teoloë hulle dink dit is heeltemal in orde vir Christene om Adam en Eva as beeldspraak te lees.

Daarbenewens het prof. Francis Collins, een van Amerika se beroemdste wetenskaplikes en ’n evangelistiese Christen, hom geskaar by Christene wat meen die wetenskap het bewys Adam en Eva kon nie letterlik bestaan het nie. Volgens Collins maak die studie van die variasie in die menslike genepoel dit duidelik moderne mense stam af van ’n groep van 10 000 voorsate wat sowat 150 000 jaar gelede geleef het.

Veel meer as net Adam en Eva, dus.

National Public Radio in die VSA het die storie opgetel en sedertdien woed ’n onverwagse gesprek in dié land, waar peilings toon vier uit elke tien mense glo nog Adam en Eva was historiese figure wat 6 000 jaar gelede geleef het.

Eerw. Albert Mohler, hoof van die invloedryke Southern Baptist Theological Seminary, wat nog ’n konserwatiewe lees van die Skeppingsverhaal voorstaan, het selfs einde verlede maand op sy blog geskryf dié nuwe tendense bedreig die evangelie.

Daarenteen sê prof. John Schneider, voormalige teologieprofessor uit Michigan, aan Christianity Today die behoudende strome van Protestantisme is op die rand van ’n krisis solank dit vasklou aan ’n letterlike verstaan van Eden en die sondeval, iets waarvoor geen bewyse bestaan nie.

Volgens dr. Jurie van den Heever, Stellenbosse paleontoloog, toon dié skuiwende denke in evangelistiese kringe in die VSA, maar ook in Suid-Afrika, kreasioniste is in ’n hoek gedryf.

“Hul aansprake word deur hoofstroomteoloë verwerp. Waar hulle krea­sio­nis­me in skole ingekry het, het hofsake gevolg wat hulle op ’n streep verloor het. Alles in die teologie, pa­leon­to­lo­gie en sterrekunde weerspreek hul stories.

“Jy kan nie ’n bevolking van 7 miljard mense uit net twee mense teel nie.”

Prof. Hendrik Bosman, Ou-Testamentikus, meen egter dié nuwe tendens kan tydelik wees.

“Vir my lyk dit asof daar ’n pendulumbeweging in die houding teenoor kreasionisme, evolusie en die historisiteit van Adam bestaan … Wat die laaste paar maande gebeur het, het al in die verlede ook afgespeel sonder om vaste veranderings tot gevolg te hê.”

 

Kommentaar:

Nog nooit was iets waar net omdat sommige mense daarin glo nie. Kyk gerus Hoekom is daar soveel wetenskaplikes wat aan evolusie glo?.

“Alles in die teologie, pa­leon­to­lo­gie en sterrekunde weerspreek hul stories.” – Nie waar nie. Kyk Het God evolusie gebruik om te skep, is Genesis 1-11 in ballingskap geskryf en was die sondvloed werklik ’n globale vloed?. Kyk ook wat sê wetenskaplikes self: Aanhalings – Paleontologie, Aanhalings – Kosmologie en Ons is in die middel!.

“Jy kan nie ’n bevolking van 7 miljard mense uit net twee mense teel nie.” – Nie waar nie. Hy sê seker so omdat ons vandag nie met naby familie kon trou nie, maar in die verlede, toe mutasies in mense se DNS nog min was, kon ’n mens (kyk Kain se vrou). En interessant, as mens na die mutasietempo in mitochondriese DNS kyk, het mitochondriese Eva ongeveer 6000 jaar gelede geleef (kyk Mitochondriese Eva).

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui