Waarom moes Jesus deur Johannes gedoop word?

Kyk ook:

Die verbond wat God destyds met Abraham gesluit het, was geskoei op die patroon van die destydse Hetitiese Vasalverdrae. Volgens die reëls van ’n verbond moet dan ’n verbondsboodskapper na die verbondsverbreker gestuur word en hy moet verwittig word van sy oortreding. As hy berou aanteken en regmaak, dan was daar vrede. Indien nie, het die ander party die reg om die verbondsvloek oor die oortreder te voltrek.

Regdeur sy lang geskiedenis het Israel hierdie verbond keer op keer verbreek. God het oneindig meer gedoen as net die vereistes van één boodskapper nagekom. Hy het keer op keer Sy verrbondsboodskappers gestuur om te sê : “Julle het teen my oortree – maak reg!” (Jesaja, Jeremia, Amos – ens.) Maar Israel steur hom eenvoudig nie aan hierdie BOODSKAPPERS  -  DIE PROFETE nie.  Inteendeel, hulle word geïgnoreer, weggejaag, en selfs doodgemaak.

Soveel so dat Jesus by geleentheid gehuil het en gesê het:

“Jerusalem, Jerusalem, hoe dikwels wou ek julle bymekaarmaak soos ’n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaar maak, maar julle wou nie – julle wat die profete doodmaak…”

Uiteindelik stuur God Sy finale verbondsboodskapper – Jesus. Hierdie Boodskapper moet nou finaal vir Israel kom sê : “Dit is nou genoeg – nou gaan Ek my reg uitoefen – die dag van afrekening het aangebreek”.

Maar in sy groot genade stuur God tog nog vir Johannes die Doper om die volk Israel voor te berei op die koms van hierdie finale Verbonds-engel (letterlik vertaal: “boodskapper”). Hy moet hulle nog vir oulaas, dringend, tot bekering roep, voordat die groot en vreeslike dag van die Here aanbreek. (Mal.3:1,2) Terselfdertyd moet hy (Johannes) Jesus se “weg voorberei” – as’t ware die tafel dek vir dít wat Jesus moes kom doen.

Baie van die Jode bekeer hulle van hulle verbonds-ontrou, hulle bely dit, en word deur Johannes met die doop van bekering gedoop.

Toe mense vir Johannes vra wie hy nou eintlik is, verduidelik hy: “Ek is die wegbereider vir Hom wat ná my kom…”. Die wegbereider?  Ja, hy moes die grondwerk doen, die situasie VOORBEREI, waarin God Sy heilsplan kan uitvoer. Van regoor die hele Joodse land kom hulle in skares, en Johannes word bekend as die man wat bekeerlinge doop – mense wat sondes het om te bely – mense wat bely dat hulle God se verbond verbreek het en strafskuldig is. Ons mag hier oplet dat Johannes gestuur is na God se verbondsvolk, Israel, en dat hy geen heidene tot die Godsgeloof geroep het nie. Dit was gladnie sy fokus nie.

Toe Jesus na Johannes kom om deur homgedoop te word, sê hy vir die skare : “Daar is die LAM van God, wat (NOU) die sonde van die wêreld wegneem (letterlik: “optel en wegdra”)”. (Joh.1:29) 1Pet. 1:19 praat ook van  “…die kosbare bloed van Christus, soos van ’n lam sonder gebrek en vlekkeloos”.

En hier kom Jesus voor Johannes staan, voor daardie hele skare, en sê: “Doop My nou, sodat God se geregtigheid vervul kan word”.

Hoe moet ons dan nou verstaan dat Jesus, die Onskuldige, nou soos ’n sondaar behandel moet word? – Soos iemand wat sonde het om te bely? Het Hy dan enige sonde gehad om te bely?  Inteendeel: Het Hy dan nie gekom as Verbonds-engel om vir Israel die stryd te kom aansê nie? Maleagi sê dan Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die seep van die wasser, en vra : “Wie kan standhou as Hy verskyn?”  Johannes (Mat.3:12) het dan van Hom gesê: “Sy skop is in sy hand, en Hy sal Sy dorsvloer deur en deur skoonmaak – sy koring sal Hy bymekaarmaak maar die kaf sal Hy met onuitbluslike vuur verbrand”!

En nou kom Hy en dring daarop aan om soos ’n sondaar behandel te word? En Hy sê dat só moet God se geregtigheid vervul word? God se geregtigheid is immers dat sonde gestraf moet word – en God het gesê die loon van die sonde is die dood (Rom.6:23)! Hoe moet daardie geregtigheid dan nou geskied? Hoe verklaar ons dat hierdie Lam van God nou soos ’n sondaar behandel word – dat Hy as’t ware in die skoene van die sondaar kom inklim en só as’t ware kom induik onder die regverdige toorn van God wat Hy moes kom aankondig?

Kom ons kyk wat staan daar in Lev. 16: Hiermee saam moet ons in gedagte hou dat God se Woord ons leer dat al hierdie rituele wat Israel moes uitvoer, vooruit sien na Jesus Christus wat sou kom. (Aanmoediging: Lees gerus Hebreërs, wat verduidelik hoe Jesus Christus d.m.v. die godsdienstige rituele vooruitgesê/voorspel word (vernaamlik Hebr. hoofstukke 9-11).

In Lev. 16:15,16; 20-22 lees ons van die twee bokke – wat altwee heenwys na die versoeningswerk van Jesus. Die een bok “vir God” (as sonde-offer) en die ander een “vir Asásel” (= sondebok/scape goat). Wanneer die hoëpriester hulle sondes oor die kop van lg. bok bely, gaan dit oor op die “sondebok” en dié word weggelei na die woestyn en daar gelaat.

Jesus kom wel om God se regverdige toorn uit te spreek oor die onbekeerlikes maar hier, waar die verbondsverbrekers hulle sondes bely, kom Hy as’t ware in die skoene van die skuldiges inklim en Hy word  behandel as ’n sondaar. Johannes het so pas gesê dat Hy (nou) die sondes van die wêreld wegneem (“optel en wegdra”). Hy neem daardie sondes wat bely is op Homself, die Vader salf Hom met die Heilige Gees, en die Heilige Gees lei Hom weg na die woestyn en laat Hom daar – om deur die duiwel versoek te word.

Só maak Jesus die “vooruitwysing” na Hom in Lev. 16 waar. Hy (simbolies -) tel die sondes op en dra dit weg” na die woestyn, soos die sondebok van ouds.

Hier het Jesus, wat die toorn en straf van God moes kom aansê, Homself as’t ware kom inskuif onder die straf van God en in die plek van die verbondsverbrekers kom staan.

(Tussen hakies – hier word Hy ook deur die Vader gesalf as Christus – gesalf om Sy amp as Redder, Verlosser te vervul. Dáárom het die engel vir Maria gesê: “Jy moet Hom Jesus noem, want dit is hý wat Sy volk van hulle sondes sal verlos”).

Dit is presies wat Jesus daardie dag kom doen het vir elke verbondsverbreker wat wou kom en sê: “Ek bely. Ek is skuldig. Ek wil my saak met U regmaak”. Daardie dag toe Jesus deur Johannes gedoop is, was dit die Regter wat in die skuldige se plek kom staan het, soos ’n sondaar behandel is, die sonde op Hom geneem het, weggelei is na die woestyn (soos die sondebok van ouds) , en ja – daardie sonde het Hy drie jaar vêr na die kruis van Golgota gedra en die doodstraf daarvoor ondergaan – God het immers deur Paulus gesê: “Die loon van die sonde is die dood” (Rom.6:23) – dít is Sy “geregtigheid wat vervul” moes word – deur Jesus.

SOMMIGE BYKOMENDE OPMERKINGS:

  1. Johannes se doop was spesifiek gerig op die destydse verbondsvolk van God – NIE vir dié wat tot geloof in Christus gekom het nie. In Hand.19 lees ons van omtrent 12 Efesiese Jode wat deur Johannes met die doop van bekering (oor hulle verbonds-gedoop was, maar intussen die evangelie gehoor het en dissipels van Jesus geword het. Toe Paulus egter vir hulle die verskil verduidelik, is hulle gedoop in die Naam van Jesus.
  2. Johannes se doop was ’n “voorbereiding” van die pad wat Jesus moes loop, nl. om DIÉ sondebok / “scape goat”  vir ons te word.
  3. Johannes het NIE gedoop in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees nie.
  4. Die water van Johannes se doop kón nie vooruitwys na die bloed van Jesus wat sou vloei nie – geen water in die Ou Testamentiese bedeling kon dit doen nie. Johannes se doopwater was eerder verteenwoordigend van God se oordeel. (In die Ou Testamentiese bedeling waarin Johannes opgetree het, was water, vuur en rook tekens van God se oordeel.)
  5. Die christelike doop is eers ongeveer 3 jaar ná Johannes ingestel deur Jesus.
  6. Ek kan nie Jesus se voorbeeld met Sy doop volg nie: Want ek kan nie sonder sonde gaan staan om gedoop te word nie, ek kan nie met my doop die sonde van die wêreld “optel en wegdra” nie, en ek kan nie met my doop “alle geregtigheid vervul” nie.

Ds. Gideon Aggenbag

– Ds. Gideon Aggenbag het opgegroei in die AGS. Op 40-jarige leeftyd het hy ’n intensiewe studie van die doop onderneem. Op 42 het hy op Stellenbosch gaan studeer as NG Kerk predikant, waar hy ook sy skripsie oor die doop geskryf het. Hy is nou ’n emeritus (afgetrede predikant) en nog baie aktief. Hy beskou die Bybelse inhoud as die onfeilbare, betroubare, geïnspireerde en heilige Woord van God, en die suiwer verkondiging van die evangelie bly nog steeds sy eerste prioriteit. Hy verwerp ten sterkste die beginsels van historiese kritiek en die meegaande herinterpretasie van die Bybel.

2 thoughts on “Waarom moes Jesus deur Johannes gedoop word?”

  1. Jesus se doop was ongetwyfeld om Hom met Johannes se boodskap te vereenselwig en om ons sondes op Hom te neem maar dit was nie die enigste rede nie.
    Die Skrif is eintlik baie duidelik oor presies hoe Johannes en Jesus se dissipels gedoop het. In Johannes 1:24 vra die Fariseërs vir Johannes “Nou waaroor DOOP jy dan as jy nie die Christus is nie en ook nie Elia nie en ook nie die Profeet nie?” Die DOOP is dus iets waaraan hierdie persone herken sou word. Verder in Johannes, in Joh. 3: 25 word die doop “die’ reiniging” genoem, dus moet die drie persone reiniging seremonies in gemeen hê.
    Die Profeet is natuurlik die een soos Moses (Deut. 18: 15) en Moses het die reiniging seremonies vir die Israeliete gegee wat volgens Hebr. 9: 9 tot 14 dui op Christus se volkome offer vir ʼn ewige verlossing. En hierdie reinigings seremonies was met besprinkeling gedoen.
    Deur sy opvolger Elisa is dit eintlik wel Elia wat Naäman stuur om hom sewe maal in die Jordaan te gaan was (reinig), (2 Kon. 5:10, Luk 4:25 – 27). In 2Kon. 5: 14 word die Hebreeuse woord “tabal” vertaal as onderduik / gebad/ Engels ;- dipped, maar tabal beskryf hier eintlik die besprinkelings deel van die seremonie soos deur Moses voorgeskryf (Deut. 18:15) net soos “tabulim” die Joodse proseliete se besprinkelings reiniging beskryf. So Elia het wel iemand in die Jordaan gedoop/gereinig en net soos Moses met besprinkeling en Johannes was die groot Profeet en Elia wat sou kom (Mat. 11: 7-14, Luk 1:76, 7:24 – 30)
    Moses se besprinkelings seremonies was vir verskeie redes gedoen;
    Dit is vir seremoniële reiniging na herstel van `n toestand wat God as onrein verklaar het; Siektes (Levitikus 14: 2 – 7,Levitikus 14: 48 – 56), kontak met `n lyk (Numeri 19: 11 – 19).
    Dit is vir die seremoniële reiniging van sonde (Numeri 19: 3 – 5 + 9)
    Dit is vir wyding tot diens aan God (Eksodus 29: 21, Levitikus 8:30, Numeri 8:5+11)
    Dit is vir salwing, afsonder vir `n taak (Levitikus 8: 11)
    Dit is vir insluiting by die volk van God (Numeri 19: 13 +20)
    Dit is vir die instel en van `n verbond. (Eksodus 24 : 8)
    As ons Jesus se doop as REINIGING MET WATER sien is daar ʼn sterk ooreenkoms tussen Jesus se doop en die wydings seremonie van Aäron as Hoëpriester in Eksodus 29. Eers gewas met water (vers 4) dan gesalf ( vers 7 ) en dan ʼn lang seremonie om vir sy sondes boete te doen sodat hy aanvaarbaar kan wees vir die Here (vers 10 – 37) ( sien ook Levitikus 8 ). Jesus word met water gereinig, met die Heilige Gees gesalf en deur die Vader aanvaarbaar verklaar (Mat. 3: 13 – 17, Hand. 10: 36 – 38). Mens kan dus sê dat Jesus se doop was ook sy wydings seremonie as Hoëpriester van die nuwe verbond (Heb. 7: 28, 8: 1 + 6, 9: 11 + 15). Die groot profeet van die Nuwe Verbond (Johannes : Mat. 11:7 – 14, Luk 1:76, 7:24 – 30) wy die Hoëpriester van die Nuwe Verbond (Jesus : Heb. 4: 14, 9: 11). Volgens Matteus wou Johannes eers nie vir Jesus doop nie deur te sê “Ek moet eintlik deur U gedoop word, en U kom na my toe?” Hierdie is ʼn verwysing na Numeri 19: 18 + 19 waar die reinigings prosedure met water beskryf word as “ ʼn REIN persoon moet die water oor die onreine SPRINKEL”. Jesus bevestig Johannes se siening van die korrekte prosedure (dat Jesus rein is en Johannes nie) maar vra hom om ʼn uitsondering te maak omdat dit God se wil is.

  2. Verdere kommentaar oor bykomende opmerkings
    C; Die water van Johannes se doop kón nie vooruitwys na die bloed van Jesus wat sou vloei nie – geen water in die Ou Testamentiese bedeling kon dit doen nie. Johannes se doopwater was eerder verteenwoordigend van God se oordeel. (In die Ou Testamentiese bedeling waarin Johannes opgetree het, was water, vuur en rook tekens van God se oordeel.)
    Johannes as die Profeet (soos Moses) het gedoop/gereinig volgens Moses se voorskrifte en al Moses se reinigings seremonies het vooruit gewys na die ewige verlossing deur Christus se bloed.
    Hebreërs 9: 7 – 26; Maar in die agterste gedeelte het alleen die hoëpriester ingegaan,en dit net een keer in die jaar, en dan nie sonder bloed nie, om vir homself te offer en vir die sondes wat die volk onwetend gedoen het…. (9)DIT ALLES WYS VOORUIT NA DIE HUIDIGE TYD waarin offergawes en diere offers gebring word wat nie vir die een wat dit bring `n volkome skoon gewete kan gee nie.(10)Dit het net betrekking op voedsel, drank en `n verskeidenheid REINIGINGSGEBRUIKE (baptismois , dikaiōmata). Dit is voorskrifte wat slegs die uiterlike raak en wat opgelê is tot dat God `n beter orde sou instel. (11)Maar Christus het gekom as Hoëpriester van die weldade wat nou verwesenlik is. Hy dien in die verbondstent wat groter en volmaakter is en nie deur mense gemaak is nie, dit wil sê wat nie tot hierdie wêreld behoort nie. (12)MET SY EIE BLOED en nie met dié van bokke en kalwers nie, het Hy net een maal die heiligdom binnegegaan en `n ewige verlossing tot stand gebring. (13)WANNEER DIE BLOED VAN BOKKE EN BULLE EN DIE AS VAN `N VERS OP ONREINES GESPRINKEL WORD, MAAK DIT HULLE UITERLIK REIN. 14HOEVEEL TE MEER SAL DIE BLOED VAN CHRISTUS ONS GEWETE BEVRY VAN DIE LAS VAN DADE WAT TOT DIE DOOD LEI, sodat ons die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer. 15Daarom is Hy ook die MIDDELAAR VAN DIE NUWE VERBOND. Sy dood het plaasgevind om mense te verlos van die oortredinge wat onder die eerste verbond begaan is, sodat dié wat geroep is die beloofde ewige erfenis kan ontvang. …..(18)Daarom is die EERSTE VERBOND ook nie sonder bloed ingestel nie. (19)Nadat Moses al die gebooie van die wet aan die hele volk oorgedra het hy BLOED VAN KALWERS EN BOKKE SAAM MET WATER en met rooi wol en hisop die wetboek self sowel as die hele volk BESPRINKEL(20)en gesê: “Dit is die BLOED VAN DIE VERBOND wat God vir julle ingestel het.” (21)Ook die verbondstent en al die voorwerpe vir gebruik by die erediens het hy op dieselfde wyse met die bloed BESPRINKEL. (22)Byna alles word volgens die wet met bloed GEREINIG, en SONDER DIE VERGIETING VAN BLOED VIND DAAR GEEN VERGIFNIS VAN SONDES PLAAS NIE. (23)Die aardse afbeeldings van die hemelse dinge moes dus noodwendig deur hierdie middele GEREINIG word, maar die hemelse dinge self deur BETER OFFERS AS HIERDIE. (24)Christus het nie ingegaan in `n heiligdom wat deur mense gemaak is en net `n namaaksel van die ware is nie. Nee, Hy het in die hemel self ingegaan om nou terwille van ons voor God te verskyn.
    Dit is wel so dat in die Ou Testamentiese bedeling waarin Johannes opgetree het, water`n teken van God se oordeel was, gesprinkelde vars water het egter simbolies die bloed of as van `n offer dier bevat en dus gedui op verlossing en vergifnis.
    Ons kry twee duidelikke voorbeelde van God se oordeel deur water in assosiasie met die doop in 1Petrus 3 en 1Kor. 10: 1 Petrus 3: 20 + 21 sê dat Noag se ark dui op die doop en 1 Korintiërs 10: 1 + 2 sê die Israeliete is met hulle deurtog deur die Rietsee gedoop. In beide gevalle word die veroordeeldes deur water verswelg. Oppas vir onderdompeling, volgens die Bybel dui dit eerder op God se oordeel as Sy verlossing.
    Daarteenoor staan besprinkeling: Let mooi op wat sê God vir Moses : “SORG dat jy ALLES maak volgens DIE VOORBEELD WAT EK JOU op die berg GEWYS HET. God het `n doel gehad met al hierdie voorskrifte, daaroor laat Hy dit noukeurig opskryf en bewaar Hy dit deur al die millinia tot vandag, 2000 jaar nadat dit waarheen dit wys (Heb. 9:9) reeds vervul is (Heb. 9:10). In al hierdie seremonies gee God aan een spesifieke aksie – besprinkeling – `n baie wye toepassing. Let ook op hoe dit dui op die werking van die Heilige Gees.
    1) Dit is vir seremoniële reiniging na herstel van `n toestand wat God as onrein verklaar het; Siektes (Levitikus 14: 2 – 7), swam besmetting, swelsels, uitslag en sere (Levitikus 14: 48 – 56), kontak met `n lyk (Numeri 19: 11 – 19). HET JESUS NIE SIEKES KOM GENEES NIE?
    2) Dit is vir die seremoniële reiniging van sonde (Numeri 19: 3 – 5 + 9, Hebreërs 9: 12 – 14,21+22 , 13:11+ 12). REINIG DIE BLOED VAN JESUS CHRISTUS ONS DAN NIE VAN SONDE NIE?
    3) Dit is vir wyding tot diens aan God (Eksodus 29: 21, Levitikus 8:30, Numeri 8:5+11, Hebreërs 9: 13 +14). WY JESUS DAN NIE DIE KERK TOT DIENS NIE? (Efesiërs 5: 25 – 27, 1Petrus 1:2)
    4) Dit is vir salwing, afsonder vir `n taak (Levitikus 8: 11, 1Petrus 1:2). WORD ONS DAN NIE DEUR JESUS GESALF MET DIE HEILIGE GEES OM DIENSBAAR TE WEES AS PRIESTERS NIE? (1 Petrus 1:2 + 2: 5, 1 Johannes 2: 20 + 27, Openbaringe 1: 5 + 6 & 5:9 + 10)
    5) Dit is vir insluiting by die volk van God (Numeri 19: 13 +20) MAAK JESUS ONS DAN NIE DEEL VAN SY LIGGAAM – DIE VOLK VAN GOD NIE? (Johannes 11:52, Galasiërs 3: 26 – 29, Efesiërs 1: 13+14 Efesiërs 2: 11 – 22, 1 Korintiërs 12: 13, 1 Petrus 2: 9,
    6) Dit is vir die instel en van `n verbond. (Eksodus 24 : 8, Hebreërs 9: 18 – 22) IS JESUS DAN NIE DIE MIDDELAAR VAN DIE NUWE VERBOND EN KRY GELOWIGES DAN NIE DEEL DAARAAN NIE? (Hebreërs 9:15+12: 24, Galasiërs 3: 16 – 29, Efesiërs 2: 11 – 22)
    7) God gebruik dit as sy merk, sy seël. (Numeri 19: 13 +20, 1Petrus 1:2, Hebreërs 10: 22 – 54 vert ) WORD GELOWIGES DAN NIE DEUR DIE HEILIGE GEES BESEËL AS GOD SE EIENDOM NIE? (2 Korintiërs 1: 22) IS GOD SE SEËL DAN NIE OP DIE VOORHOOF NIE? (Esegiël 9: 4, Openbaringe 7: 3; 14: 1
    1 Johannes 5: 6 tot 13 sê dat God drie – enig se getuienis: dat die wat glo in die Seun van God die ewige lewe het, lê in die water van die doop en die bloed van Jesus se dood. Dan word dit beklemtoon ; nie net deur die water nie, maar die water en die bloed. Hebr. 9 verduidelik hoekom, met die instel van die Sinai verbond (ook genoem die wet, ou verbond en eerste verbond) het Moses die bloed in water gesit en toe die volk besprinkel, die nuwe verbond vervang hierdie verbond en deur die doop water te sprinkel word dit die besprinkelingsbloed van die nuwe verbond (Hebr. 12: 24).
    Hebreërs 10: 22 – “Laat ons tot God nader met ʼn opregte hart en met volle geloofsekerheid, ons harte is immers deur BESPRENGKELING GEREINIG (rherantismenoi – permanent besprinkel;- met die bloed van Christus – 1 Petrus 1:2 … het Hy julle uitverkies en deur die Gees afgesonder om …. besprinkel te word met die bloed van Jesus Christus.) van ʼn skuldige gewete en ons liggame is gewas (lelousmenio – permanent gewas dus GEREINIG) met REIN (katharō – reinigende) water.”
    Esegiël 36: 24 – 28 Ek sal julle tussen die nasies uit wegvat, julle uit al die lande bymekaar maak en julle na julle land toe bring. Ek sal reinigingswater oor julle uitgooi (sprinkel – zaraq) sodat julle rein kan word. Ek sal julle reinig van al julle onreinheid en van al julle afgodery. Ek sal julle ‘n nuwe hart en ‘n nuwe gees gee, Ek sal die kliphart uit julle liggaam uithaal en julle ‘n hart van vleis gee. Ek sal my Gees in julle gee en Ek sal maak dat julle volgens my voorskrifte leef en my bepalings gehoorsaam en nakom.
    Naskrif
    Wanneer mens met ʼn foutiewe voorveronderstelling begin kan jy nie by die waarheid uitkom nie, en om te beweer dat die Griekse woord “baptizo” altyd onderdompel of insteek beteken is so ʼn foutiewe voorveronderstelling. Uit die woord “baptizo” alleen kan mens slegs aflei dat ʼn permanente verandering plaasvind, miskien deur saamsmelt of versmelt ( Engels – merse), maar om die medium en metode te bepaal het jy konteks nodig. Dus as “baptizo” gebruik word om ʼn Joodse reinigings seremonie te beskryf beteken dit die metode is besprinkeling en die medium is bloed, water, of bloed of as in water.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui