Goudland Sinode 20 Nov 2019 – Ondersteuning uit 5 provinsies

Kyk ook:

Opdatering: Op 20 November 2019 het Goudland sinode besluit om nie weg te breek nie (kyk Goudland sinode breek nie weg nie en doleer ook nie)

***********

GOUDLAND SINODE 20 Nov 2019 – ONDERSTEUNING UIT 5 PROVINSIES

Tydens ’n vergadering op Donderdag 14 November 2019 in Boksburg, het 25 predikante en ander kerkleiers van die Ned. Geref. Kerk (NGK) uit Gauteng, Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en Oos-Kaap hul besorgdheid uitgespreek oor die besluit wat die Algemene Sinode (AS) oor selfdegeslagverhoudings geneem het. Hierdie besluit en die tipe hantering van die baie beswaarskrifte wat gespruit het uit die vorige Sinodesitting, wek kommer dat die AS nie meer vertrou kan word nie en dat nuwe affiliasie gesoek moet word as uitdrukking van kerklike eenheid.

Die AS neem al hoe meer besluite wat direk in stryd is met die Bybel en wat beslis nie die stem van die meerderheid gemeentes verteenwoordig nie. Die bevooroordeeldheid teen en viktimisering van sprekers wat hulle teen sodanige besluite uitspreek is ewe onaanvaarbaar. Hierdie skrywe moet derhalwe nie vertolk word as 5 pogings tot kerkskeuring nie, maar as 5 mosies van wantroue in die AS wat sonder behoorlike gemeenteverteenwoordiging, op outoritêre wyse, namens die breë NGK besluite neem, besluite wat nie Skrifgefundeerd is nie en in stryd is met ons Gereformeerde Belydenisskrifte – NGB art 7.

Ons wil die hoop uitspreek dat Goudland se optrede die weg kan baan vir nouer samewerking en selfs moontlike affiliasie vir ander NG Gemeentes wat in die steek gelaat is deur die besluit van die AS.

Ons bid dat die Heilige Gees die vergadering van Woensdag sal help om nie in hoë teologiese debatvoering vas te loop nie, maar om in die woorde van 1 Pet 2:2 “soos pasgebore kindertjies (te) smag na die suiwer geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid verkry”. Die Bybel is immers ten opsigte van ons saligheid en etiese lewe die enigste waarheid en die hoogste norm waarvolgens die kerk van Christus deur die eeue sy lewe inrig en besluite neem.

…………….

Namens die Boksburg beraad:

  • Johan Marais (hoogleraar dogmatiek, leraar)
  • Johan Theunissen (lidmaat, leier)
  • Gerhard Mahne (leraar)
  • Theo Danzfuss (leraar)
  • Jan Louw (leraar)
  • Anton Knoetze (leraar)
  • Frans Kok (lidmaat, leier)
  • Rheinier Nel (leraar)

1 thought on “Goudland Sinode 20 Nov 2019 – Ondersteuning uit 5 provinsies”

  1. “…dié derde… Ek sal hulle suiwer soos goud gesuiwer word. Hulle sal My aanroep, en Ek sal hulle gebede verhoor. Ek sal sê: “Hulle is my volk.” En hulle sal sê: “Die Here is ons God.” …” Sagaria 13 v 9 …dis my hoop vir Goudland – Die Here is ons God!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui