Ras, Volk en Nasie

‘n Mens hoor dikwels dat liberales argumenteer dat die NG Kerk apartheid uit die Bybel regverdig het en daarom moet ons nie vandag dieselfde foute maak deur die Bybel te gebruik om kulturele aangeleenthede, soos homoseksualiteit, te verdedig nie.

Hierdie argument word bloot gebruik weens ’n gebrek aan enige Skrifgefundeerde argument vir homoseksualiteit of enige ander liberale siening.

Eerstens, homoseksualiteit is nie ’n kulturele aangeleentheid nie (kyk Homoseksualiteit: vrae en antwoorde).

Tweedens, die NG Kerk het nooit werklik apartheid uit die Bybel regverdig nie.

Die dokument “Ras, volk en nasie” (1974) (kyk hieronder) was die laaste amptelike dokument wat uitspraak gelewer het oor apartheid voor die NG Kerk standpunt ingeneem het téén apartheid in die dokument “Kerk en Samelewing” (1986).

In die artikel ‘n Unieke bedieningstyd: 1975-2021 word die volgende gesê oor “Ras, volk en nasie”:

“Ons studiejare het in aanvang geneem net ná die NG Kerk in 1974 die studiestuk Ras, volk en nasie aanvaar het. Dit was die kulminasie van die kerk se jarelange denke oor volkereverskeidenheid en kerklike eenheid. Terugskouend was dit die laaste amptelike dokument wat apartheidsteologie eksplisiet verdedig het.”

Sommige praat ook oor hierdie dokument as die “hoogtepunt van die verdediging van apartheid”.

Indien “Ras, volk en nasie” egter gelees word, is dit duidelik dat hierdie dokument NIE apartheid uit die Bybel probeer regverdig nie. Daar is geen Bybelverse wat getoon word met hierdie doel nie.

Die boodskap van die dokument kan kortliks soos volg opgesom word:

  • Die uitdagings van ’n veelvolkige en veelrassige land moet erken word.
  • Die Bybel gee nie duidelike riglyne vir die situasie in Suid-Afrika nie.
  • Die kerk moet bereid wees om eerlik te soek na wat die Bybel sê en nie verblind word deur (1)humanisties liberalistiese ideale, (2)die stem van ’n bepaalde volk of politieke party of (3)die druk van ekonomiese of emosionele faktore nie.
  • Dit spreek geen opinie oor apartheid uit nie.

*******

Ras, volk en nasie dokument van die Ned Geref Kerk oor rasse- en volkereverhoudinge (1974)

Inleiding

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk verteenwoordig ongeveer 42% van die blanke bevolking van die Republiek van Suid-Afrika en het in die loop van die geskiedenis, as gevolg van sy sendingarbeid, veertien jonger kerke onder die Swart-, Bruin- en Asiër-bevolkingsgroepe binne en buite die grense van die Republiek tot stand gebring wat tans ’n totaal van 1 640 367 aanhangers het – alreeds ongeveer 400 000 meer as die getal blankes wat aan die Nederduitse Gereformeerde Kerk behoort. Die Nederduitse Gereformeerde Kerk beoefen steeds die gereformeerde godsdiens wat saam met die Volksplanting vanaf 1652 in Suid-Afrika wortel geskiet en gegroei het. As Kerk van die oorgrote meerderheid van Hollands- (en later Afrikaans)sprekende burgers van Suid-Afrika, het die Kerk saam met die veelbewoë geskiedenis van ons land gegroei. Dit was die Kerk wat die eensame grensboer se troos en anker was in dae van storm en gevaar. Die Bybel het saam met die Voortrekkers die onherbergsame binneland in beweeg en selfs onderweg is die “reisende gemeente” georganiseer. Vanaf die begin van Suid-Afrika se geskiedenis moes hierdie Kerk worstel met die probleme van ’n veelvolkige en veelrassige land. In die verkondiging van die Evangelie aan die mense van wyd uiteenlopende taal, kultuur en beskawingspeile is deur die jare praktiese metodes gevind “sodat elkeen in sy eie taal die groot dade van God kon hoor en verkondig”. (Sendingreglement, artikel 1.4.) Dit het op sy beurt aanleiding gegee tot die totstandkoming van afsonderlike Kerke uit die verskillende bevolkingsgroepe. Dit was ’n natuurlike groeiproses wat met geseënde gevolge voortgegaan het en ook geen geringe invloed uitgeoefen het op die latere staatkundige ontwikkeling en politieke denke nie.

Die Kerk is intiem betrokke by die staatkundige ontwikkelinge van ons land. Die Kerk het ook voortdurend aandag gegee aan die eise van die Woord van God in ons besondere situasie. Opeenvolgende kerklike kongresse en sinodale vergaderinge het aandag aan hierdie sake gegee. Vanaf die dertiger jare van die twintigste eeu het die Kerk voortdurend sy stem laat hoor oor die Christelike implikasies van “apartheid”, “afsonderlike ontwikkeling”, “eiesoortige ontwikkeling” of hoe die heersende politieke denke ook van tyd tot tyd die probleme van ons veelvolkige land benader het. Dié rapport wat hiermee aangebied word is die resultaat van die besinning, denke en oortuiginge wat in die Nederduitse Gereformeerde Kerk lewe oor die verhoudingsprobleme in ’n veelvolkige land, gesien vanuit die ewig en onveranderlike norme van die Woord van God.

Aan hierdie rapport het meegewerk teologiese professore en doserende personeel van ons teologiese inrigtings sowel as leidinggewende persone wat in die praktyk van die Bediening en die Sending staan.

Dit is voorgelê aan die Algemene Sinode van die Nederduitse Gereformeerde Kerk in sitting te Kaapstad 16-25 Oktober 1974. Die Sinode het stellings (vetgedrukte dele van die verslag) behandel en daaroor besluit.

Van die nie-vetgedrukte dele, d.w.s. die verduideliking en motivering van die stellings is bloot kennis geneem en na die Breë Moderatuur verwys vir finale formulering.

Die rapport in sy finale verwerkte vorm word hiermee aangebied met die bede dat dit veel mag bydra tot ’n beter begrip van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en ’n vrugbare basis van bespreking in die Kerk sowel as met ander Kerke en Christene in en buite ons land, bied.

Die Breë Moderatuur:

  • P. M. Beukes Voorsitter
  • D. Vorster Vise-Voorsitter
  • E. Potgieter Skriba
  • E. OS. Geldenbuys Aktuarius
  • J. Eloff
  • C. van Rooyen
  • T. Jordaan
  • du P. Moolman
  • van der Merwe
  • F. Louw
  • D. A. du Toit
  • S. Snyman

Pretoria Maart 1975

HOOFSTUK 1 ALGEMENE OPMERKINGE

1. Noodsaaklikheid van voortgesette besinning

Die kerk kan homself nie die weelde veroorloof om die besinning oor rasse- en volkereverhoudinge op ’n gegewe moment as afgedaan te beskou nie. ’n Uitspraak in die VERSLAG VAN DIE AD HOC-KOMMISSIE VAN DIE RAAD VAN DIE KERKE, 1956 is hier op sy plek: “In toenemende mate word die Christelike kerk bewus van die gevaar om te berus in rasseverhoudinge, wat moontlik nie strook met die Woord van God nie. Daarom is ook die N.G. Kerk besig om opnuut te luister na wat die Woord van God vir ons oor genoemde saak in die huidige situasie te sê het” (Leerstellige Benadering, stelling 6). Hierdie uitspraak is vir die kerk blywend aktueel, ten eerste, omdat sy roeping om steeds opnuut na die Woord van God te luister, nooit beëindig word nie, ten tweede, omdat “die huidige situasie” nie staties is nie, maar begrepe is in die dinamiese proses van verandering wat kenmerkend is van ons tyd; en ten derde, omdat die kerk homself voortdurend moet afvra of vroeëre uitsprake oor rasse- en volkereverhoudinge wel in alle opsigte “strook met die Woord van God”.

2. Woord van God as uitgangspunt en norm

In sy besinning oor rasse- en volkereverhoudinge moet die kerk van Jesus Christus die Woord van God as uitgangspunt en norm aanvaar.

Die doel van hierdie studie is om rasse- en volkereverhoudinge in die lig van die Skrif te plaas. Hiermee word dus die oortuiging bely dat die Heilige Skrif ’n beslissende woord te spreek het oor die reëling van die verhouding tussen volk en volk en ras en ras, omdat dit die normatiewe beginsels bevat wat ook op hierdie terrein moet geld. Voor hierdie beginsels moet die kerk van Jesus Christus onvoorwaardelik en gehoorsaam buig.

Die kerk van Jesus Christus moet in hierdie verband steeds baie eerlik wees en bereid tot kritiese selfondersoek. Die gevaar is nie denkbeeldig nie dat hy in die waan dat hy Skrifgehoorsaam is, in werklikheid voor ’n ander outoriteit buig: voor ’n humanisties liberalistiese ideaal; of voor die stem van ’n bepaalde volk of politieke party; of voor die druk van ekonomiese of emosionele faktore, ens. Slegs wanneer ons oortuiginge en handele gebou is op die rots van die Woord, sal dit die storms kan deurstaan (Matt. 7:24 e.v.).

3. Omskrywing van Begrippe

‘n Vrugbare bespreking van die onderhawige probleem is alleen moontlik wanneer ons ’n duidelike begrip van die terme ras, volk en nasie het. In weerwil van ’n sekere verskil van opvatting, word die begrippe deur die meeste wetenskaplikes só onderskei dat “ras” meer ’n biologiese, “volk” ’n kulturele en “nasie” ’n politieke begrip is.

Hierdie begrippe kan soos volg nader omskryf word: Ras, waarvan die woordafleiding onseker is (Boshoff-Nienaber: Afrikaanse Etimologieë (1967), bl. 532), is ’n groep mense wat saam geklassifiseer word op grond van dieselfde oorerflike eienskappe: haarkleur, velkleur en oogkleur; mond-, gesigs- en haarvorm, skedelbou en liggaamsbou. Sodanige eienskappe moet aangebore en oorerflik wees. Dit is van belang om daarop te let dat dié eienskappe nie geïsoleerd nie, maar in ’n bepaalde kombinasie moet voorkom. ’n Enkele eienskap, soos bv. die velkleur, is nie genoeg om aan te dui dat die draer daarvan tot ’n bepaalde ras behoort nie. Hierdie eienskap moet konstant saam met bepaalde ander eienskappe, soos oogkleur, haarvorm, skedel- en liggaamsbou, ens. voorkom. Verder moet daarop gewys word dat ons hier nie met absolute ooreenkomste te doen het nie, maar met gemiddeldes. Binne dieselfde ras fluktueer die eienskappe en daarom word die gemiddelde ooreenkomste gebruik om ’n rastipe te bepaal. Ons kan dit dus soos volg stel: “Dit is die somtotaal van die eienskappe wat saam voorkom in ’n bepaalde kombinasie van gemiddeldes wat bepaal tot watter rassegroep ’n persoon behoort en nie afsonderlike, absolute eienskappe nie.”

‘n Volk is ’n groep mense wat op grond van ’n gemeenskaplike kultuur as behorende tot ’n bepaalde groep geklassifiseer word, d.w.s. ’n groep mense wat o.m. dieselfde taal, gewoontes, algemene lewenswyse, ens. het.

Die verskil tussen rassiese en volkseienskappe is dus in hoofsaak dat in eersgenoemde geval die eienskappe oorerflik is en nie na willekeur deur die individu aangeneem of afgelê kan word nie, terwyl in laasgenoemde geval die eienskappe na willekeur afgelê kan word, en die individu dus die een volksgemeenskap vir ’n ander kan verruil.

Die konsensus van wetenskaplike opinie is dat die term nasie ’n staatkundige betekenis het, en ’n groep mense aandui wat onder dieselfde sentrale gesag staan. Hierdie definisies en onderskeidinge is van belang om ’n beter insig te verkry in die aard van die probleem waarmee ons in hierdie rapport te doen het.

4. Aard van die probleem

‘n Nugtere en noukeurige ontleding van die aard van die verhoudingsprobleem in die konteks van die wêreldsituasie is gebiedend noodsaaklik vir ’n juiste insig in die wyse waarop die probleem opgelos moet word. Die feit dat die verhoudingsprobleem ’n basis in rasseteenstellinge het, kan nie ontken word nie, maar terselfdertyd word die betekenis van die rasseteenstellings as veronderstelde oorsaak van die meeste van die wêreld se verhoudingsprobleme, geheel en al oordryf. Die oordrewe nadruk op die rasse-aspek van die wêreldspanninge blokkeer nie alleen die pogings om die wêreld se probleme op te los nie, maar is wesenlik eensydig en naïef.

Die verhoudingsprobleme in die wêreld vandag is baie meer gekompliseerd as dat dit uitsluitend op rasseteenstellings sou berus. Coetzee wys daarop dat die groot bevolkingsvraagstukke van die wêreld gereduseer kan word tot, ten eerste, intervolkse verhoudinge van botsing en vyandskap, en ten tweede, tot die probleem van “oorbevolking”, met gepaardgaande armoede en honger. Nie alle botsinge en spanninge tussen volkere het ’n basis in rasseteenstellinge nie. Coetzee wys daarop dat die dubbele probleem van oorbevolking en honger vandag graag aan eenvoudige faktore, soos kolonialistiese en kapitalistiese uitbuiting toegeskryf word. Hy sê tereg dat die probleem meestal nie so enkelvoudig opgelos kan word nie. “Hierdie verskynsels word eintlik alleen vitale faktore onder bepaalde omstandighede. Die basiese oorsaak moet eerder gesoek word in die beskawingsagterstand van die betrokke volk en in die verstarring van sy kulturele struktuur en lewensgewoontes.” Die oplossing van die wêreld se probleme word nie gedien deur ’n enkele faktor tot allesbeheersende oorsaak én geneesmiddel te verhef nie. Ten einde die regte terapie in die lig van die Skrif toe te pas, moet die “kwaal” van die wêreld se rasse en volkereverhoudinge omvattend en korrek gediagnoseer word.

5. Hermeneutiese uitgangspunt

Die lig van die Skrif op die rasse- en volkereverhoudinge kan alleen verkry word, wanneer die Skrif in hierdie verband suiwer verklaar en korrek gebruik word: Die Bybel is nie bedoel om gebruik te word as ’n wetenskaplike handboek vir die sosiologie en volkekunde nie, en die gevaar moet ook vermy word om die “historiese situasie” te laat funksioneer as hermeneutiese beginsel waarvolgens die Skrif uitgelê word. Alhoewel die Bybel nie ’n wetenskaplike handboek is nie, bied dit tog fundamentele gegewens en beginsels wat vir alle lewensterreine normatiewe betekenis het. In ons afleiding en formulering van dergelike “beginsels” moet ons gewaarsku wees teen “an incautious use of the term ‘principle’” 11 (G.E.S., Grand Rapids, 1963). In sy hantering van die Skrifgegewens sal die kerk hom voortdurend bewus moet bly van die sentrale tema van sy prediking, t.w. die verkondiging van die weg van heil in Christus en die koms van die koninkryk van God tot sy eer. Dit beteken dat hy die norme sal aantoon en verkondig wat op alle lewensterreine geld, en sal aanprys wat in gegewe omstandighede met hierdie tema ooreenstem, en dat hy sal waarsku wanneer die weg van heil op een of ander wyse geblokkeer word, en die etiese norme van die Skrif vir alle lewensterreine nie eerbiedig word nie.

Daar moet ernstig gewaarsku word teen die opvattende neiging deur die eeue heen om die verstaan van die Bybel by gangbare tradisies te laat aansluit. Die gevaar bestaan dan dat die “historiese situasie” sal funksioneer as hermeneutiese beginsel waarvolgens die Skrif meestal selektief uitgelê word. In sy boek, The Authority of the Old Testament, vestig John Bright die aandag op hierdie gevaar in die misbruik van die Skrif, en illustreer hy dit aan die hand van die pogings deur ’n vroeëre geslag om slawerny uit die Skrif te regverdig (bl. 46-51).

‘n Vanselfsprekende, maar tog belangrike oorweging, is dat ons Skrifgebruik ook nie biblisisties mag wees nie. Afsonderlike tekste moet steeds in die lig van hulle verband en in samehang met die geheel van die openbaringsgeskiedenis verklaar word. Dit sluit o.a. in dat rekening gehou word met die eenheid van die Skrif, en veral ook met die besondere aard van die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament. In die verhouding tussen Ou en Nuwe Testament is daar nie net openbaringshistoriese kontinuïteit nie, maar ook diskontinuïteit, en met albei aspekte moet op ’n verantwoorde wyse rekening gehou word.

Alhoewel die Bybel nie ’n wetenskaplike handboek is nie, bied dit tog fundamentele gegewens en beginsels wat vir alle lewensterreine normatiewe betekenis het. Dit hang saam met die feit dat die sentrale tema van die Skrif die koninkryk van God is, en dat die vleeswording en soenverdienste van Christus ook ’n breëre kosmiese betekenis het. In die beoordeling van die rigtinggewende beginselwaarhede wat vir alle lewensterreine aan die gegewens van die Skrif ontleen word, moet ons rekening hou met die tydige waarskuwing van die Gereformeerde Ekumeniese Sinode van Grand Rapids, 1963, teen “an incautious use of the term ‘principle’”. Hulle verduidelik: “When the Synod uses the term ‘principle’ in this context the term shall mean a regulative rule of conduct expressive of God’s will as revealed in Scripture, and demanding application regardless of place, time and circumstance” (Acts, p. 37).

Ons hou, ten slotte, daarmee rekening dat die Skrifgegewens deur die kerk gebruik word, vir die bepaling van sy standpunt en sy houding ten opsigte van die vraagstuk van die rasse- en volkereverhoudinge. Ons verwag nie dat die kerk in hierdie opsig wesenlik anders sal spreek as die Skrifgelowige staatkundige, regsgeleerde of sosioloog nie, maar tog sal sy taal en aksente anders wees, d.w.s. in ooreenstemming met die karakter én grense van sy profetiese verkondiging. In sy hantering van die Skrifgegewens sal die kerk hom voortdurend bewus moet bly van die sentrale tema van sy prediking, t.w. die verkondiging van die weg van heil in Christus en die koms van die koninkryk van God. Dit beteken dat hy die norme sal moet aantoon en verkondig wat op alle lewensterreine met hierdie tema ooreenstem, en dat hy sal waarsku wanneer die weg van heil op een of ander wyse geblokkeer word. In hierdie opsig het die kerk in sy profetiese roeping ’n kritiese funksie ten opsigte van staat en maatskappy, en behoort dit tot sy roeping om die suiwerende lig van die Woord van God op alle lewensituasies te laat val.

Ons gaan uit van die volgende Hermeneutiese beginsels:

Die Bybel moet verklaar word volgens erkende gereformeerde, wetenskaplike hermeneutiese beginsels in ooreenstemming met sy eintlike bedoeling en is nie ’n wetenskaplike handboek vir empiriese sosiologie of volkekunde nie.

Die Skrif moet nie biblisisties gebruik word nie, maar tekste moet in hulle verband en in samehang met die geheel van die openbaringsgeskiedenis verklaar word.

Alhoewel die Bybel nie’n wetenskaplike handboek is nie bied dit tog fundamentele gegewens en beginsels wat vir alle lewensterreine normatiewe betekenis het, ook vir rasse- en volkereverhoudings.

In sy hantering van die Skrifgegewens sal die kerk hom voortdurend bewus moet bly van die sentrale tema van sy prediking, t.w. die verkondiging van die weg van heil in Christus en die koms van die koninkryk van God en sal hy die norme moet aantoon en aanprys wat op alle lewensterreine met hierdie tema ooreenstem.

Die kerk het aan die ander kant ’n profetiese funksie ten opsigte van staat en maatskappy, wanneer die skrifnorme wat op alle lewensterreine moet geld, nie eerbiedig word nie. In die uitoefening van hierdie funksie moet die kerk teen twee uiterstes waak: teen ’n gebrek aan die een kant aan durf, en aan die ander kant aan diskresie. Die kerk mag hom nie deur aanpassing sy vrymoedigheid laat ontneem nie, maar hy mag ook nie sonder pastorale bewoënheid en begrip optree nie.

6. Slotopmerkings

Die Nederduitse Gereformeerde Kerk is hom diep bewus van die ernstige vraagstukke wat daar ten opsigte van volkere-, rasse- en menslike verhoudinge in Suid-Afrika bestaan. Hy streef steeds na dieselfde ideale van maatskaplike geregtigheid, menslike regte en selfbeskikking van volke en mense, gegrond op Gods Woord, as ander Christelike kerke. Hy is ook oortuig van die noodsaaklikheid dat die kerk sy profetiese roeping moet vervul, simpatieke begrip moet hê, Skriftuurlike leiding moet gee en voorbidding moet doen. Waar die Ned. Geref. Kerk van ander kerke verskil, is dit nie te wyte aan ’n verskil van siening ten opsigte van morele begrippe of Christelike etiek nie, maar op grond van ’n verskillende siening van die situasie in Suid-Afrika en die boodskap van Gods Woord daaroor. Die verskil is nie een van ideale en doelstellings nie, maar van die beste metodes om hulle te bereik.

Hierdie rapport gee nie voor om alle aspekte van die probleem van ons land ten volle vanuit kerklike en Bybelse gesigspunte te dek nie.

Daar is met besondere waardering kennis geneem van die gesindheid en optrede van die sentrale, provinsiale en plaaslike owerhede en die betrokke ministers, departemente en amptenare van die R.S.A. en die ander state waar die Ned. Geref. Kerk (Moeder- en Dogter-) sendingwerk doen. Daar is ook kennis geneem van die reusetaak wat deur hierdie state met welslae aangepak is en die vordering wat gemaak is met die oplossing van die talle probleme in ons veelvolkige land. Vir die groot uitdagings en vraagstukke van die toekoms word hulle van die Kerk se volgehoue belangstelling en voorbidding verseker.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui