Ope brief aan NG Kerkleiers: ‘Kom tot inkeer’

Ope brief aan NG Kerkleiers: ‘Kom tot inkeer’ | Maroela Media

4 Maart 2020

Christel Cornelissen

Hoffie Hofmeyr, ʼn emeritus professor voorheen verbonde aan die Universiteit van Pretoria, waarsku NG Kerkleiers en -teoloë in ʼn ope brief dat hulle aandadig is aan die “huidige polarisasie” in die kerk.

“Ek was reeds sedert die vroeë 2000’s bewus daarvan dat die skroewe stadig begin loskom en dat fokus verloor word. Toe standpunte van medeteoloë die ronde begin doen dat die werklike opstanding van Christus betwyfel word, of dat die aanvaarding van die Bybel as Woord van God in die vroeë kerk as die gekonkel van mense beskou kan word, het die rooi ligte begin brand,” skryf Hofmeyr.

“Hierdie standpunte is nie deur die toesigliggame (kuratoriums) van die teologiese opleidingsentra gerepudieer nie, want dit was onder meer deel van die modegesprek, ook in die buiteland.”

[Kommentaar: Ek herinner aan Fanie Snyman se opinie dat daar nie iets fout is met die kuratoriums nie. Kyk Fanie Snyman moeg vir verdagmakery.]

Hofmeyr sê hoewel kerkleiers dikwels praat van diversiteit in eenheid, begryp hulle skynbaar nie dat ware eenheid slegs in die Bybelse waarheid en in die onderskrywing van die basiese waarhede – soos die Apostoliese Geloofsbelydenis – bestaan nie.

Hy sê heelwat misleidende standpunte is deur die jare uitgedra, terwyl die manier waarop dit gedoen is, ook kommer gewek het. “Ek het dit ook persoonlik beleef toe ek as kerkhistorikus standpunt begin inneem het teen sommige Bybelwetenskaplikes en praktiese teoloë se standpunte (want die meeste van ons dogmatici was maar doodstil).

“Die styl van doen (sonder om enige name te noem) het in dié tyd maar ook tot in ons tyd gewissel van arrogansie, selfvoldaanheid, boelietegnieke, manipulasie en gebrek aan gesonde oordeel. Dit het gegeld vir sommige teoloë maar ook verskillende senior funksionarisse of kerkleiers in die NG Kerk. Bepaalde agendas is gedryf, voorsitters van vergaderings (ook selfs van sinodes) het dikwels hul eie standpunte bevorder, en dít jammer genoeg dikwels in die naam van menseregte en gewaande humanistiese waardes,” skryf Hofmeyr.

Hofmeyr sê sommige kerkleiers luister nie na verskillende stemme of beswaarskrifte nie. Hy waarsku dat daar in baie kringe gevoel word dat die Wes-Kaapse streeksinode die kerk gekaap het.

“NG Kerkleiers neem ten slotte ook kennis daarvan dat NG dosente wat nie meer respek vir die Woord en basiese geloofskwessies het nie, tot orde geroep moet word, want ons kan nie alles vir almal wees en later niks meer vir niemand nie,” pleit Hofmeyr.

[Kommentaar: Kyk maar na byvoorbeeld Cas Wepener, Peter Nagel,  en nog baie ander.]

Hy sê ook aan kerkleiers hulle het nou een van die laaste geleenthede om ʼn skeuring in die NGK te vermy.

“Maar dit vra van julle om selfondersoek te doen oor julle teologiese standpunte, oor julle soort leierskap, oor julle saamspeel met die wêreld se modegrille, oor julle selfingenome styl wanneer julle met medegelowiges besig is, en bowenal oor julle verhouding met die lewende God. Mag julle met hierdie reguit, ernstige maar ook opregte oproep erns maak voordat dit te laat is.”

Groeiende ontevredenheid

Hofmeyr is ook nie die enigste een wat ongemaklik is met die NGK se omgaan met die Woord nie.

Al hoe meer lidmate en gemeen­te­­leiers is toenemend ongemaklik met Skrifgebruik in die NG Kerk en maak hul stemme daaroor dik.

ʼn Spesiale drie dae lange beraad is die afgelope week by die Moreleta-gemeente in Pretoria gehou om ʼn weg vorentoe te vind nadat die “Algemene Sinode gaandeweg in ’n rigting beweeg het waar die gesag van die Skrif be­vraag­teken word en waar daar groot verskille oor Skrif­in­ter­pretasie ontstaan het”.

Moreleta, as gasheergemeente, het belangstellendes wat bekommerd is oor Skrifgebruik in die kerk – veral wat betref homoseksualiteit – genooi om daaroor te vergader. ʼn Dokument met riglyne vir die beraad lui dat die sinode die afgelope paar jaar op verskillende terreine al hoe verder wegbeweeg van die gereformeerde leer en belydenis. Dit is in 2016 [Kommentaar: Seker 2015.] op die spits gedryf met die sinode se omstrede besluite oor selfdegeslagverhoudings. “Hierdie besluite was direk in stryd met die NG Kerk asook die meeste ander gereformeerde kerke se standpunt en prediking hieroor deur die eeue.”

Die beraad het ook die sinode se besluit oor selfdegeslagverhoudings verlede jaar in die geheel verwerp omdat dit volgens hom onwettig, ongeldig en direk in stryd met God se Woord is. (Die sinode het toe besluit gemeentes mag self besluit of hulle gay predikante gaan aanstel en of hulle selfdegeslagverhoudings ingevolge wetgewing gaan bekragtig.)

God se Woord vs. mense se woorde oor God

Hofmeyr, ʼn kerkhistorikus wat ná sy aftrede aan twee universiteite in België en Engeland verbonde was en tot onlangs rektor van die Nkhoma-universiteit in Malawi, het by navraag aan Maroela Media gesê in wese gaan die gesprek oor of die Bybel God se Woord is, of eerder mense se woorde oor God.

“Ons mense voel baie sterk daaroor dat dit God se Woord bly. As dit net mense se woorde oor God sou word, kan ons maar die kerk se deure sluit. Dit gaan oor God se Woord in mensetaal, versus mense se woorde oor God.”

Hofmeyr sê vir hom is die kwessie oor homoseksualiteit ʼn sekondêre saak. “Die kerk, en veral die NGK, is die afgelope paar jaar met gays besig, pleks daarvan dat hulle met die kerk se werk besig is.

“Ons leefwêreld het verander, maar daar is oral grense.”

Hy sê dit is belangrik dat die kerk ʼn boodskap van liefde en hoop uitdra. “Hy moet hom nie heeltyd met issues besig hou nie. Die kerk het ʼn enorme taak om ʼn boodskap van hoop te versprei.”

Volgens hom het die kerk ʼn koninklike, priesterlike en profetiese plig. “Die kerk het steeds ʼn sleutelrol te speel en is een van die min ankers wat ons in moeilike tye het.”

Hy sê hy hoop kerkleiers neem sy brief ter harte en dat dit in die breë tot selfondersoek lei.

1 thought on “Ope brief aan NG Kerkleiers: ‘Kom tot inkeer’”

  1. Dankie Daniel! Jy het vele talente, soos om MM se berigte te kopieer en plak, ek kon dit nog nooit regkry nie! Dit is baie belangrik dat mense iemand met die profiel van Prof Hoffie HOOR!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui