Moreletaberaad: Riglyne vir behoudende lidmate en kerkvergaderinge van die NG Kerk

Kyk ook:

Behoudendes in die NG Kerk het van 25 tot 26 Februarie 2020 bymekaar gekom om opsies te bespreek oor die pad vorentoe in die NG Kerk na aanleiding van die 2019-besluit oor selfdegeslagsverhoudings.

Die volgende dokument is tydens die laaste dag uitgedeel.

******

Riglyne vir behoudende lidmate en kerkvergaderinge van die NG Kerk

Opsommend stel ons die volgende 6 stappe voor vir ons pad terug na ware eenheid in die NG Kerk.

Stap 1: Neem kennis van die huidige krisis in die NG Kerk

  • Die kern van die saak is dat die Algemene Sinode oor tyd in ’n rigting beweeg het waar die gesag van die Skrif bevraagteken word en waar daar groot verskille oor die Skrifinterpretasie ontstaan het.
  • Verder is hulle reeds die laaste paar jaar besig om geleidelik op verskillende terreine al verder af te wyk van ons gereformeerde leer en belydenis.
  • Reeds in 2015 was hierdie teologiese dwalinge op die spits gedryf met die sinode se nuwe omstrede besluite oor selfdegeslagverhoudinge. Hierdie besluite was direk in stryd met die NG kerk asook die meeste ander gereformeerde kerke se standpunt en prediking hieroor deur die eeue.
  • Die inwendige skeuring was duidelik sigbaar in ongeveer 650 bladsye beswaarskrifte asook die geslaagde appèlle daarteen, die buitengewone sinodesitting van 2016 en as hoogtepunt die onaangename en duur hofsaak wat daaruit voortgespruit het. Hierdie inwendige skeuring het ook uitwendig sigbaar geword deurdat die kerk duisende lidmate verloor het. Die besluite van 2015 het die NG kerk letterlik miljoene rande gekos. Die besluite van 2015 [eerder 2019?] het die NG kerk ook letterlik miljoene rande gekos.
  • Die finale strooi wat die kerkskeuring in die NG Kerk ’n voldonge feit gemaak het, was die on-Skriftuurlike besluite oor selfdegeslagverhoudinge wat die Sinode ten spyte van al die besware wat reeds ingedien was, in 2019 maar net wéér in ’n meer radikale vorm herhaal het.
  • Die vraag is nou hoe gaan dit die kunsmatige strukturele eenheid raak? Is daar nog ’n manier om terug te keer na ware eenheid in leer en belydenis?
Ef. 4:14-16 : (14)Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. (15)Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, (16)en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

Stap 2: Begin by die drie G’s

Die probleem is so ernstig dat indien dit nie vinnig en effektief aangespreek word nie, die eer van God sowel as die integriteit van die kerk en die geloofwaardigheid van die Evangelie op die spel is.

Kom ons begin by die drie G’s

  • Gebed: Begin met gebed in gebrokenheid en verootmoediging voor die Here. Ons as NG Kerk staan ook saam skuldig voor die Here.
  • Geloof: Glo dat ons God almagtig is en nuwe lewe in sy Kerk wil bewerk. Glo dat Hy jou juis in hierdie spesifieke tyd en plek geroep het om as instrument in Sy Hand draer van hoop te wees.
  • Gehoorsaamheid: Antwoord gehoorsaam op Sy roeping en laat jou geloof tot dade oorgaan (Jak 2:14-26).

Stap 3: Bestudeer die volgende opsies asook elkeen se implikasies.

By die Beraad het ons minstens nege verskillende opsies met elkeen se implikasies volledig bespreek. Kortliks kom dit op volgende neer.

  1. Doen niks: sit maar net stil en kyk wat gebeur. Dit is die mees oneerbare opsie.
  2. Aanvaar besluite van die Algemene Sinode: dan staan ons skuldig aan die waarskuwing van ons Nederlandse Geloofsbelydenis Art 29: “Wat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God;…
  3. Word ’n Breker: sluit aan by mense binne- en buite die kerk, wat dit geniet om die NG Kerk ten alle koste af te kraak. Hulle vergeet ons probleem is nie eintlik die NG Kerk nie, maar die kerkleiers en sinodale vergaderinge wat hul perke oorskrei en hul mag misbruik.
  4. Ander kerk: baie lidmate het reeds die NG Kerk verlaat, maar dit mag slegs die laaste uitweg wees.
  5. Hofbevel: daar is genoeg regsgronde om 2019 se besluit ongeldig te verklaar (vgl. KO Art. 23.2). Tog is dit nie die wyse waarop ons kerklike geskille oplos nie.
1 Kor. 6:7 : Eintlik is julle saak al klaar verlore omdat julle hofsake met mekaar het. Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle julle nie liewer te kort doen nie?
  1. Doleer: baie vorme. Probleem: Negatiewe en langdradige proses. Nie veel sukses op eie nie.
  2. Artikel 37 van KO: dit is ‘n goeie moontlikheid. Ons breek dan nie met die NG Kerk nie, maar met die Algemene Sinode. Die Algemene Sinode se besluite is dan nie meer vir ons bindend nie. Ander streke se gemeentes kan aansoek doen om deel te word van die betrokke sinode.

Probleem: Slegs een van die 10 samestellende sinodes kan so besluit.

  1. Verklaar ’n leergeskil met die Algemene Sinode en/of sinodes: Dit kan slegs werk indien genoeg tyd beskikbaar is. Enige mindere vergadering kan dit doen (Art 44.4 en 44.5).
  2. Vorm alternatiewe kerkverbande en netwerke oor die huidige struktuur heen. Doen dit na analogie van Artikel 72 en die NG Kerk se Tussen-Orde wat in beginsel sulke strukture toelaat as oorgangsmaatreël tot ware kerkeenheid. Hier gaan dit vir ons oor soeke na ware eenheid nl. eenheid met die gemeentes en gelowiges wat vashou aan die waarheid van die Woord.

Stap 4: Verduidelik die voordele van eenvormige optrede.

Die Beraad wil by alle behoudende lidmate en kerkvergaderings sterk aanbeveel om sovêr moontlik eenvormig te wees in die reaksie op en die hantering van die 2019-besluite. As elke lidmaat of gemeente sy eie pad sou loop, kan dit die kerk onherstelbaar versplinter. Baie lidmate sal verbitterd word en heeltemal van die kerk onttrek. Ander sal dalk na kerke oorgaan wat weer in ander opsigte ernstige dwalings huisves. Die hartseerste is dat die kerk se getuienis daardeur groot skade ly en dat die Satan sy sin kry om die kerk te versplinter. Dit is beter om ons eie eer prys te gee terwille van die eer van God en die positiewe getuienis van Sy Kerk.

Ons weet dat ons saak reg is, daarom hoef ons nie paniekerig te word nie. Natuurlik mag ons ook nie stilsit nie. Kom ons werk saam en glo dat die Here ten spyte van ons, Sy Kerk sal bewaar. Eenvormige reaksie het groter trefkrag en het beter kans op sukses.

Deur eenvormige optrede tussen 2015 en 2019 was groot sukses behaal. Daardeur is 2015 se omstrede besluite twee keer ongeldig verklaar. As ons nou eenvormig saamwerk kan die sinode weer verplig word om 2019 se besluite te herroep.

Stap 5: Neem ’n duidelike besluit om 2019 se besluite in geheel te verwerp.

’n Groot deel van die besluit is soos aantreklike blink sjokolade papier wat mens maklik so kan flous dat jy die slegte suurklontjies wat daarin toegedraai is nie eers raaksien nie. Daarom moet die besluit in sy geheel verwerp word.

Die Beraad verwerp die AS 2019 se besluit oor selfdegeslagverhoudinge in geheel en versoek alle behoudende lidmate en kerkvergaderings om soortgelyke besluite te neem.

Waarom? …Want die besluit van 2019 is onwettig en ongeldig:

5.1 Want dit is direk in stryd met die Woord van God.

  • By implikasie gee die sinode nou amptelike goedkeuring aan seksuele verhoudings tussen twee persone van dieselfde geslag wat volgens die Bybel vir die Here ’n gruwelike sonde is. (Gen. 19:5-7; Lev. 18:22; Lev. 20:!3; Rigters 10:22; Rom 1:27; 1 Kor. 6:9-10; 1 Tim 1:9-10; Matt. 19:4-6) Hieroor debatteer ons by hierdie vergadering nie verder nie omdat die Bybel dit helder en duidelik leer.
  • Geen kerkvergadering het die reg om enige besluit te neem wat in stryd met die Bybel is nie.

Art. 29 van die Nederlandse GeloofsbelydenisWat die valse kerk betref: dit skryf aan homself en sy besluite meer mag en gesag toe as aan die Woord van God;…

5.2 Want dit was op ’n onkerkordelike wyse geneem.

Daar is verskeie redes waarom die besluit kerkordelik onwettig is soos bv.

  • Die sinode was mislei oor die werklike oorsprong van die beskrywingspunt
  • Die besluit is gefinaliseer welwetend dat dit baie omstrede is. Sien Art 3 punt 4.2 van 2019 se Kerkorde. Dit is ’n ooreenkoms wat sedert 1994 in die kerk geld. Die sinode het ten spyte van voorstelle en uitdruklike versoeke uit die vergadering in 2015 en weer in 2019, geweier om die ooreenkoms gestand te hou.

5.3 Want dit is ook in stryd met die siviele reg nl. Wet 17 van 2006. (Civil Union Act) (Die Wet op Burgerlike verbintenisse).

  • Predikante mag nou wel burgerlike verbintenisse tussen twee persone van dieselfde geslag bevestig aan die hand van die Civil Union Act – Wet 17 van 2006. Volgens die sinode mag dit egter nie ’n huwelik of selfs alternatief vir die huwelik genoem word nie.
  • Volgens die Civil Union Act is so ’n verbintenis egter reeds in alle opsigte gelyk aan ’n huwelik en kan die persone wat so volgens hierdie wet bevestig word self besluit of hulle dit ’n huwelik of ’n burgerlike verbintenis wil noem. Die Sinode het nie reg om die landswet te wysig nie. So word lidmate gruwelik mislei.

5.4 Want dit projekteer ’n valse beeld van die meerderheid kerklidmate se geloofsoortuiging.

  • Die Algemene Sinode se besluite word wêreldwyd bekend as die amptelike standpunt van die NG Kerk. Indien die Algemene Sinode dus besluite as NG-beleid verkondig, welwetend dat dit nie eers naastenby die oortuiging van meeste van sy lidmate verteenwoordig nie, is die besluite moreel onwettig. Die Sinode het geweier om haar eie besluit hieronder na te kom.
  • (AS Handelinge 1994 asook Kerkorde 2019 Regl 3.4.2)
  • Indien die Algemene Sinode goeie rede het om te vermoed dat ’n besluit of standpunt moontlik tot groot verdeeldheid kan lei, moet die Sinode vóór die finale besluitneming, die advies van mindere kerkvergaderings inwin ten einde konsensus oor die betrokke sake in die NG Kerkverband as geheel te probeer verkry.

5.5 Want die besluit is baie liefdeloos teenoor die gay-gemeenskap.

Die Bybel leer ons dat homoseksuele dade ergerlike sonde is waarvan ons (soos met alle ander sondes ook) vergifnis kan kry deur berou en bekering. Deurdat die Algemene Sinode hierdie sondige gedrag kondoneer en selfs die kerklike seën daarop plaas, handel die sinode baie liefdeloos.

  • Die ganse homoseksuele gemeenskap word deur die sinode se besluite getroos dat berou en bekering nie nodig is nie, want die NG Kerk se seën rus op hulle sonde. So word hulle dan beroof van die genadige aanbod van vergifnis, reiniging en bevryding van die sonde. Hulle word geleer om te glo dat hul sondes vir die Here mooi en goed is.
Jes. 5:20 : Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg wat van duisternis lig maak en van lig duisternis wat bitter soet noem en soet bitter.

Stap 6: Daadwerklike optrede nadat die besluit geneem is.

Die Beraad besluit om soos volg aan te beveel vir verdere daadwerklike eenvormige optredes. Let wel 6.1 tot 6.4 hieronder moet verkieslik gelyklopend uitgevoer word aangesien dit mekaar komplimenteer.

6.1 Gee amptelik kennis van jul besluit: Stel jul besluit wat geneem is op skrif en stuur dit na al die belanghebbende vergaderings:

  • Maak dit aan die gemeente bekend
  • Stel die Ring in Kennis
  • Stuur ’n afskrif na skriba van streeksinode
  • Stuur ’n afskrif na die sekretaris van die Algemene Sinode
  • Stuur ’n afskrif na beraad@moreleta.co.za

6.2 Artikel 37

Onder huidige omstandighede bied Kerkorde Artikel 37 waarskynlik een van die beste oplossings.

Ongelukkig is dit ’n opsie waaroor slegs by sinodale vergaderings besluit kan word. Ons kan wel lidmate en kerkvergaderings inligting gee oor prosedures wat gevolg moet word.

  • Die Beraad versoek daarom lidmate, leraars, kerkrade en ringe om skriftelik by hul streeksinodes aan te dring om so gou moontlik uit te tree uit die Algemene Sinodale verband volgens Artikel 37 van die 2019 Kerkorde.
Artikel 37: Dit staan die samestellende kerke/sinodes (vgl voetnota) vry om met behoud van alle regte voorregte besittings naam ensovoorts uit die algemene sinodale verband te tree wanneer hulle so ’n stap voor God in die lig van sy Woord kan regverdig.
  • Wanneer een sinode so besluit het, moet die sinode ook besluit dat behoudende gemeentes wat buite die sinodale streek val, mag aansoek doen om deel te word van die betrokke sinode.
  • Behoudende kerkrade uit ander sinodale gebiede kan dan aansoek doen om deel van daardie sinode te word.
  • So word die naam NG Kerk asook alle bates en voorregte behou. Dan is dit nie ’n nuwe kerk wat gestig word nie, maar slegs ’n nuwe sinodale verband wat nie meer verbind is aan die Algemene Sinode se omstrede besluite nie.

6.3 Amptelike Leergeskil met die Algemene Sinode (Art 44.4 en 44.5 en Reglement 19.8)

Intussen moet ons gelyktydig met 6.1 tot 6.2 ook hard werk aan uitvoering van die volgende:

Verklaar ’n amptelike leergeskil met die Algemene Sinode. Dit is die opsie wat Goudland reeds gekies het.

  • Ons moedig soveel moontlik kerkvergaderinge (kerkrade, Ringe en sinodes) aan om ’n amptelike dispuut met die AS te verklaar rondom die omstrede 2019 besluite.
  • Hierdie opsie kan gekombineer word met verskillende variasies van dolering om die sinode te oortuig hoe dringend hierdie geskil hanteer moet word.
  • Al die vergaderings wat ’n leergeskil verklaar het, dring dan daarop aan dat die ASM ooreenkomstig Reglement 3 punt 2.1 binne 30 dae ’n buitengewone vergadering van die Algemene Sinode byeenroep om die leergeskil te besleg.
Regl 3.2.1 Die moderamen van die Algemene Sinode (ASM) het die reg om ’n buitengewone sinode byeen te roep met skriftelike kennisgewing van vier weke aan al die samestellende sinodes en mag in onvoorsiene omstandighede die sinode uit stel
  • Indien dit nie by die buitengewone vergadering van die Algemene Sinode suksesvol besleg word nie, word verdere beroep gedoen word op al die streeksinodes afsonderlik. Vgl. Artikel 44.4 en 44.5.
Artikel 44.

44.4 Sake in verband met leertug, leergeskille of geskille tussen sinodes en mindere vergaderinge kan by wyse van appèl voor die Algemene Sinode dien. In gevalle van leertug en leergeskille word ’n tweederdemeer-derheidsbesluit vir die bekragtiging van die uitspraak van die Algemene Sinode vereis (vergelyk Artikel 65.2 van die Kerkorde).

44.5 Indien ’n tweederdemeerder-heid nie verkry word nie, mag enige van die partye ’n verdere beroep op die afsonderlike sinodes doen. Die gesamentlike volstrekte meerderheid van stemme van die afsonderlike sinodes is dan beslissend.

  • Indien die beroep op al die streeksinodes sou misluk , word ons gedwing om terug te keer na opsie 7 as eerste keuse met opsie 4 of 5 by stap 3 hierbo as laaste uitweg.
  • Aangesien al die kerklike middele dan uitgeput is, word ons dan gedwing tot een van die meer radikale opsies.

6.4 Alternatiewe netwerke en kerk verbande.

Hierdie optrede by 6.4 moet verkieslik in werking gestel word gelyklopend met 6.1 tot 6.3

Baie behoudende lidmate en kerkrade wat vertroue in die huidige kerkverband verloor het, is teologies en emosioneel geïsoleer. Daar bestaan dus groot behoefte om alternatiewe netwerke en kerkverbande te vorm waar ons as geesgenote in leer en belydenis weer die kerk wat tans innerlik verskeur is, kan herenig tot ware eenheid in liefde en waarheid. Hierdie netwerke en verbande strek oor die bestaande strukture en soek na kerkherstel in die waarheid en liefde. Dit oorspan die huidige strukture waar ’n skyn van uiterlike eenheid is terwyl die innerlike skeuring reeds ’n voldonge feit is.

Ef. 4:14-16 : (14)Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. (15)Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, (16)en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.

Dit gaan oor ’n gemeenskaplike soeke na ware eenheid met gelowiges wat vashou aan dieselfde Evangelie en erkenning van die gesag van die Woord asook eenheid in leer en belydenis. Hierdie nuwe kerkverbande en netwerke in ons pad na ware kerkhereniging doen ons na analogie van soortgelyke netwerke en verbande wat in die Tussen-Orde voorgeskryf word. Vgl. Kerkorde Artikel 71 asook die Tussen-Orde van die NG Kerk.

9 thoughts on “Moreletaberaad: Riglyne vir behoudende lidmate en kerkvergaderinge van die NG Kerk”

  1. Die Satan se doel word as kerkversplintering aangedui. Hoewel misleiding en verwarring sy taktiek is, is my waarneming dat kerkgroepe wêreldwyd eerder gekaap word sodat die hele groep gelowiges hulle dan onder sy domein en beheer bevind. Hy wil die kerk oorneem en verenig in ’n wêreldwye kerk met alle gelowe daarmee vermeng. Dis dan die Skrifgetroue lidmate wat dan noodgedwonge wegsplinter,

    Alhoewel ek aflei dat dit tog so aangeraak is, is dit jammer dat dit nie beter in die besluite verwoord is nie. Dis die kern van die probleem en ’n groot waarskuwing aan die kerk.

  2. Laastens, Net vir die interessantheid. Let op hoe die kerk in China baie sterk groei sonder al hierdie strukture. Dis basies huiskerke. Maar Jesus is die Hoof en die Heilige Gees is in die mense en Hy lei hulle. En as hulle met Sataniese oorname gedreig word – is dit op die kleiner groep vlak en word daar hanteer. Mens kan hieruit leer.

  3. Dankie vir hierdie beraad en so dankbaar oor jul besluit in gehoorsaamheid. Ons het reeds ons ring en plaaslike Sinnode ingelig met ons skrywe dat ons nie die Sinnode se besluit kan ondersteun nie en dat dit geen outoriteit by ons dra nie.

  4. Baie dankie hiervoor. Dit gee redelike antwoorde en riglyne ook op my vrae. Ek is ontsteld oor wat ek sien en beleef in my eie geliefde NG gemeente.

  5. Soos ek aan Ds Norma Rosseau verstaan, is punt 8 (rakende dispute) ook die pad wat INDIVIDUELE LIDMATE kan loop: “8. Verklaar ’n leergeskil met die Algemene Sinode en/of sinodes: Dit kan slegs werk indien genoeg tyd beskikbaar is. Enige mindere vergadering kan dit doen (Art 44.4 en 44.5).” – – dink net, as daar in elke dolerende gemeente nie net die kerkraad nie, maar ook 10 lidmate hul eie briewe skryf! Sy het gese dit moet DIREK aan die AS gestuur word, want as dit aan nie-dolerende Ringe of Sinodes gestuur word kan dit daar geblok word.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui