Selfdegeslagbesluit: Nuwe gids wil sinodes en lidmate help

’n Taakspan het nou ’n gids saamgestel na aanleiding van die 2019-besluit oor selfdegeslagsverhoudings. Nelis Janse van Rensburg het daarop gewys dat die dokument nie bedoel is om lesers van ’n bepaalde standpunt te oortuig nie, maar om ruimte te skep vir gelowiges om volgens hul oortuigings op te tree.

By die lees van hierdie gids, het die volgende woorde by my opgekom: gegorrel, onsamehangend, onlogies, onteologies, gryp na strooihalms.

‘n Klomp voorbeelde word genoem hoe daar ruimte gemaak word in die kerk vir verskillende dinge (sommige van die voorbeelde is nie eers geldig nie), maar op geen manier word daar gewys hoekom daar ook vir homoseksualiteit ruimte gemaak moet word nie. Hoekom val homoseksualiteit eerder onder persoonlike geloofsake soos die gebruik van alkohol, om selibaat te leef of om voltyds die sendingveld te betree teenoor kernsake soos moord, diefstal, Jesus se letterlike opstanding, redding deur slegs Jesus alleen, ensovoorts. As ’n mens in ag neem hoe prominente teoloë in die NG kerk dwaal, is ek nie eers oortuig dat ek met die opstellers van hierdie gids sal saamstem oor wat kernsake is nie.

Dit is daarom baie duidelik dat homoseksualiteit gedryf word deur die hedendaagse humanistiese kultuur. Dit het hoegenaamd nie ’n teologiese dryf nie. Die feit dat die vyf verse in die Bybel wat oor homoseksualiteit handel nie eers in hierdie dokument genoem word nie, bevestig dit.

Die skrywers van hierdie gids maak asof God slegs een emosie het en dit is liefde. Ek sou graag hulle reaksie wou hoor op Jesus se “liefdelose” uitsprake.

As ’n mens hierdie gids lees, kan ’n mens nie help om te dink aan die aanhaling van Joseph Goebbels, een van Adolf Hitler se naaste en mees toegewyde vertrouelinge:

“As jy ’n leuen lank genoeg, hard genoeg en gereeld genoeg vertel, sal mense jou glo.”

Die voorwoord van die gids word afgesluit met die woorde: “In diens van Christus“. Dit het my laat dink aan Lukas 6:46:

“Watter sin het dit dat julle My aanspreek met ‘Here, Here!’ en nie doen wat Ek sê nie?

Hieronder volg ’n kort artikel op Kerkbode oor die gids en daarna volg die gids met kommentaar en skakels wat ek ingevoeg het. Kyk ook die volgende kommentaar oor hierdie gids:

Kyk ook die kommentare onderaan die Gids.

*********

Selfdegeslagbesluit: Nuwe gids wil sinodes en lidmate help | Kerkbode

4 Maart 2020

Enige twyfel dat die NG Kerk al dekades worstel met die kwessie van homoseksualiteit word uit die weg geruim in ’n nuwe gidsboekie wat ontwikkel is om die jongste besluit oor die saak toe te lig.

Die gids is ontwikkel om die kerk se tien streeksinodes te help om met gemeentes en lidmate gesprek te voer oor die 2019-sinodebesluit oor selfdegeslagverbintenisse.

Die span van ses wat die gids ontwikkel het, sal dit self na streeksinodes neem en wel op uitnodiging deur hierdie liggame, volgens dr Pieter van der Walt, een van die samestellers.

’n Konsepweergawe van die gids is op 4 Maart in Benoni deur lede van die moderamen bespreek. Kerkbode publiseer die konsepweergawe soos by die ASM-vergadering versprei, hieronder.

Ds Heerden van Niekerk, die sameroeper van die span wat in opdrag van die Algemene Sinode opgetree het vat die doel met die gids saam: “Ons opdrag is om te verduidelik hoe die Algemene Sinode tot die 2019-besluit gekom het. Ons is bereid om te luister, om vrae te beantwoord en toeligting en agtergrond te verskaf.”

Die gids gaan haal die storie by 1986 toe homoseksualiteit vir die eerste keer op die agenda van die kerk se Algemene Sinode verskyn het, maar poog om ’n balans te vind tussen te veel en te min konteks en detail oor die agtergrond van hierdie besluit wat tot verdeling in die kerk gelei het.

Die 36-bladsy A5-dokument kyk na dinge soos:

  • Die pad van die NG Kerk met selfdegeslagverhoudings sedert 1986.
  • Skrifhantering en ’n geskiedenis van teologiese verskille in die kerk.
  • Hoe die kerk dink oor “kern-” en “randsake” en reageer op onderliggende verskille.
  • Bybelse tekste oor “onderlinge eenheid”.
  • ’n “Christelike styl” van gesprek.

Ds Nelis Janse van Rensburg, moderator van die Algemene Sinode, het daarop gewys dat die dokument nie bedoel is om lesers van ’n bepaalde standpunt te oortuig nie, maar om ruimte te skep vir gelowiges om volgens hul oortuigings op te tree.

Afgevaardigdes by die ASM-vergadering in Benoni bespreek vandeesweek (3-5 Maart) sake uit die 94-blad agenda.

In ’n terugvoersessie oor die dokument het dr Fanie Cronjé, predikant van die NG gemeente Riviera-Jakaranda in Pretoria, die gids verwelkom as hulpmiddel “vir lidmate wat nie allergies vir lees is nie”. Dr Frederick Marais het gesê die gids werp lig op die belangrikheid van die “hermeneutiese vermoë” van leraars.

Die samestellers het die mandaat om die enkele voorstelle wat op 4 Maart van die vloer by die ASM-vergadering gehoor is, by te werk en die dokument te voltooi en te versprei.

**************

Gids

Agtergrond en Inligting

Die Algemene Sinode se 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings

KONSEPDOKUMENT

vir bespreking deur ASM, Maart 2020

Opgestel deur die AS span vir gesprek met sinodes oor die 2019-besluit

INHOUD

Voorwoord (bl.3)

1. Storielyn: Die pad van die NG Kerk met selfdegeslagverhoudings sedert 1986 (bl.4)

2. Skrifhantering: ’n Geskiedenis van onderlinge verskil (bl.15)

2.1. ’n Opsomming van die amptelike Skrifbeskouing van die Algemene Sinode

2.2. Vasgeloop?

2.3. Die waarheidsvraag: ’n geskiedenis van teologiese verskille in die NG Kerk

3. Eenders of een: Hoe gaan ons om met onderliggende verskil? (bl.21)

3.1. Handelinge 15: ’n Gewigtige saak word deur ’n kerkvergadering hanteer

3.2. Een kerk in ’n verdeelde samelewing

3.3. Oor kern- en randsake

3.4. Implikasies van ’n trinitariese teologie vir ons uitdagende gesprekke

4. “Bly in My soos Ek in julle”: Ons vereniging met Christus en onderlinge eenheid (bl.29)

5. ’n Christelike styl: Hoe praat ons met mekaar? (bl.30)

Voorwoord

Hierdie is ’n gids wat toeligting en hulp bied aan sinodes vir gesprek oor die Algemene Sinode se 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings.

Punt 9 van die Algemene Sinode se 2019-besluit oor selfdegeslagverhoudings lui:

“Die sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word om volgens hulle oortuiging op te tree, respekteer. Ook dat daar ’n span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan ons help om ’n ingeligte besluit te neem.”

’n Diverse span is deur die ASM aangewys, naamlik Heerden van Niekerk (sameroeper), Maartje van der Westhuizen, Dewyk Ungerer, Bertus Cilliers, Anton Fick (sekundus) en Pieter van der Walt.

Ons kies vir die volgende benadering in die uitvoering van ons opdrag:

  1. Reël gesprekke in oorleg met streeksinodes, volgens elk se eie behoeftes;
  2. Verduidelik tydens hierdie gesprekke hoe die Algemene Sinode tot by die 2019-besluit gekom het;
  3. Ondersteun sinodes om so ingelig as moontlik self verder te praat en te besluit.
  4. Meng nie in by sinodes se eie prosesse nie;
  5. Lewer verslag aan ons opdraggewer, die ASM.

Elke sinode is welkom om volgens hul eie, unieke behoeftes van ons aanbod gebruik te maak. Nooi ons gerus na julle sinodesitting, vra ’n gesprek met julle leierspan aan, en/ of maak gebruik van die materiaal.

Ons opdrag is om te verduidelik hoe die Algemene Sinode tot die 2019-besluit gekom het. Ons is bereid om te luister, om vrae te beantwoord en toeligting en agtergrond te verskaf.

Kontak ons gerus met vrymoedigheid

In diens van Christus

Heerden van Niekerk & span

1. Storielyn: Die pad van die NG Kerk met selfdegeslagverhoudings sedert 1986

Toe homoseksualiteit in 1986 vir die eerste keer op die agenda van die NG Kerk se Algemene Sinode verskyn het, is gesê ’n homoseksuele oriëntasie is nie iemand se “persoonlike skuld” nie. [K1] Seksuele verhoudings van dieselfde geslag is in die lig van die Bybel wel ondubbelsinnig afgewys as in stryd met die wil van God. Vir baie jare was dít die amptelike standpunt van die NG Kerk.

Vir meer vollige dokumente oor die storielyn, besoek selfdegeslagverhoudings.bybelmedia.org.za

Die Algemene Sinode van 2002 het besluit om nie langer te bly staan by die streng afwysende beleidstandpunt van 1986 nie. Die sinode het besluit om verdere studie te doen en nie weg te deins van komplekse vrae nie. Wat leer ons uit psigiatriese en sielkundige navorsing? Die indeks vir die beskrywing van psigiatriese afwykings (DSM) het immers homoseksualiteit uit hulle lys van psigiese afwykende gedragsverskynsels verwyder.[K2] Is homoseksualiteit aangebore of aangeleer? Wat leer ons uit Bybelnavorsing? Praat die Bybeltekste oor promiskue gedrag, of ook oor homoseksuele mense wat in ’n permanente verhouding van liefde en trou staan?[K3]

Die Algemene Sinode van 2004 het gesê dat alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, ingesluit is in God se liefde en op grond van hulle geloof alleen as volwaardige lidmate van die kerk aanvaar behoort te te word. Die sinode was oortuig dat hulle hiermee die sterk afwysende 1986-besluit vervang het.[K4]

Die Sinode van 2004 het ook opnuut gepraat oor die gesag en interpretasie van die Bybel. Die Bybel is Gods Woord, wat gesag oor ons hele lewe het en ons alles leer wat ons hoef te weet om te glo en God se wil te gehoorsaam. Die Bybel vereis egter nié dat ons ons denkvermoë moet opoffer nie.[K5] Bybelinterpretasie is noodsaaklik en belangrik. Ons moet as geloofsgemeenskap saam onder leiding van die Heilige Gees soek na die betekenis van God se Woord. Bowenal: Ons verstaan die Bybel vanuit die hart daarvan, naamlik die evangelie van Jesus Christus. Hierdie verstaan van die gesag en interpretasie van die Skrif het die invloed gehad dat daar weer met vrymoedigheid na tekste gekyk kon word om nuut te vra na die betekenis daarvan.

’n Diverse taakspan is aangewys wat by die volgende sinode voorstelle moes maak. Die taakspan het hulle werk gedoen in die wete dat “die debat oor homoseksualiteit wêreldwyd kompleks en kontensieus is, met die potensiaal om verwydering en skeuring binne kerke en kerkverbande te veroorsaak”.

Die 2007-verslag, met uitvoerige bespreking van Bybeltekste, kan gevind word by: kerkargief.co.za/doks/acta/AS_Agenda_2007.pdf

Die taakspan se verslag het by die Algemene Sinode van 2007 geland met twee uitvoerige bylaes met twee verskillende standpunte. Die een standpunt het gelui dat homoseksuele persone ten volle aanvaar moet word op dieselfde basis as heteroseksuele persone. Die ander dat homoseksuele verhoudings afgekeur moet word en dat homoseksuele persone “gerehabiliteer” kan word.

Die eerste bylaag [Kommentaar: Onder leiding van André Bartlett.] het geargumenteer dat homoseksuele gedrag binne vaste verhoudings van liefde en trou Christelik-eties aanvaarbaar is. Die volgende oortuigings is gestel: (i) Die Skrifgegewens oor homoseksualiteit moet nie verstaan word as ’n afkeur van homoseksualiteit nie, maar eerder as ’n bepaalde ongesonde en afbrekende vorme van seksuele gedrag; (ii) Vaste verhoudings tussen persone van dieselfde geslag is Christelik-eties aanvaarbaar as dit gerig is op die vorming van ’n vaste verbintenis van liefde en trou; (iii) Lewensverbintenisse tussen persone van dieselfde geslag behoort dieselfde legitimiteit as die huwelik te geniet; (iv) Homoseksuele persone in niepromiskue, vaste verhoudings van liefde en trou kan tot die besondere ampte in die kerk toegelaat word; (v) ’n Bybels-gefundeerde pastorale model moet daarop gerig wees om homoseksuele persone te begelei om ook volgens ’n Christelik-etiese verantwoordelike leefstyl te leef; (vi) Die menswetenskappe (die mediese wetenskap, die psigiatrie, sielkunde, ens) ondersteun toenemend die gevolgtrekking dat mense se seksualiteit nie ’n doelbewuste keuse is nie, maar die gevolg is van ’n komplekse ontwikkelingsproses; (vii) Seksuele oriëntasie kan nie terapeuties verander word nie, hoewel dit in sommige gevalle moontlik is om die seksuele gedrag van ’n persoon, anders as sy/haar seksuele oriëntasie, kunsmatig te manipuleer; (viii) Die kerk word vanuit haar verbondenheid aan die boodskap van die evangelie geroep om die kulturele en sosiale vooroordele teen homoseksualiteit as sonde uit te wys; (ix) Die kerk word verder geroep om die Godgegewe menswaardigheid van alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, te erken.

Hierdie groep het onderskeid getref tussen “hoofsake van die Bybelse leer” en “middelmatige sake wat nie die eenheid van die kerk in gedrang moet bring nie”. Hulle wou die dubbele as sentrale maatstaf inspan, ook in sake soos homoseksualiteit. Hulle wou in ag neem dat daar tussen die tyd van die Bybelskrywers en die moderne leser baie tyd verloop het en dat nuwe wetenskaplike kennis voordurend ontwikkel. Die kerk het immers met kwessies soos slawerny, die posisie van die vrou, en sekere ander kulturele en seremoniële gebruike en voorskrifte bewys dat daar ’n bepaalde bewussyn en onderskeidingsvermoë van veranderwoordelike Skrifgebruik nodig is.[K6]

Die tweede bylaag het geargumenteer dat homoseksuele gedrag nie Bybels regverdigbaar is nie. Hierdie groep was oortuig dat die Bybelskrywers kennis gedra het van permanente gay verhoudings tussen mans sowel as vroue en dit verwerp het. Hulle logiese afleiding was ook dat Jesus volstaan het by die tradisionele wetsvoorskrifte oor homoseksualiteit.

Hierdie groep het ook die argument bespreek dat ons nie moet vra na die uitsprake van enkele tekste in die Bybel nie, maar na die gang van die Bybel. Om te kies vir die saak van die liefde en in die lig daarvan te sê dat ons eerder die homoseksuele persone so moet aanvaar soos hulle hulleself uitleef en nie enige liefdelose voorskrifte, gebaseer op enkele tekste, moet gee nie, is om uit die oog te verloor hoe ’n mens die etiese boodskap van die Bybel lees. Ons moet nie net lees wat daar geskryf staan nie, maar ook wat nié daar staan nie. Dit is duidelik dat vir die Bybelskrywers en eerste lesers dit vanselfsprekend was dat seksuele verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag verkeerd was. God het man en vrou gemaak om bymekaar te pas. Van ander verbintenisse het die mense van die Bybel wel geweet, maar dit is duidelik dat hulle oortuig was dat dit teen die Here se wil was.

Daar was ook dinge waaroor die opstellers van die twee afsonderlike bylae in die 2007 verslag konsensus gehad het.

  • Die Skrif: Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke en besluite oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne dié konteks te interpreteer.
  • Mensgerigtheid: Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer moet word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
  • Inklusiewe lidmaatskap: Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle behoort op grond van hulle doop en geloof as volwaardige lidmate van die kerk van Christus aanvaar te word. Onder volwaardige lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
  • Huwelik: Alhoewel daar ook verskil van mening oor die huwelik bestaan, is daar ten minste konsensus daaroor dat die huwelik tussen ’n man en ’n vrou ’n belangrike instelling van God is.
  • Promiskuïteit: Sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit word as destruktiewe en sondige gedrag afgekeur.
  • Pastorale ondersteuning: Die kerk behoort ondersteuningsisteme daar te stel en pastorale sorg, waar nodig, te verskaf aan persone wat op een of ander wyse die werklikheid van homoseksualiteit beleef.

Die bespreking van hierdie verslag met die twee uiteenlopende bylae by die Algemene Sinode van 2007 het uiteindelik gelei tot die aanvaarding van voorstelle wat ooreengekom is deur die moderators van die samestellende sinodes en van die Algemene Sinode tydens ’n spesiale werksessie:

Die Algemene Sinode van 2007 besluit soos volg:

  1. Die Bybel is ons uitgangspunt en in ons nadenke oor homoseksualiteit soek ons eerlik na maniere om die Bybelse waardes betekenisvol binne die konteks te interpreteer.
  2. Ons aanvaar die liefde van Christus as die enigste geldige grondhouding waarop verhoudinge binne die geloofsgemeenskap gebaseer word. Alle mense is geskep na die beeld van God; die verlossing in Christus is vir alle mense en die Gees is uitgestort op alle gelowiges. Daarom aanvaar ons die menswaardigheid van alle mense.
  3. Alle mense, ongeag hulle seksuele oriëntasie, is ingesluit in God se liefde en hulle word op grond van hulle doop en geloof as lidmate van die kerk van Christus aanvaar. Onder lidmaatskap word verstaan toegang tot die sakramente, toegang tot die ampte en onderworpenheid aan die kerklike tug.
  4. Die Algemene Sinode herbevestig die besluit van 2004 dat, volgens ons verstaan van die Bybel, slegs die verbintenis tussen een man en een vrou as ’n huwelik beskou kan word.
  5. Die Algemene Sinode bevestig ook die besluit van 2004 dat sowel heteroseksuele as homoseksuele promiskuïteit ten sterkste veroordeel word.
  6. Die Algemene Sinode besluit dat, in die lig wat ons tans het, homoseksuele verbintenisse en huwelike nie as ’n alternatief vir die huwelik aanvaar kan word nie.
  7. Die verlening van predikantsbevoegdheid is ’n funksie van die Algemene Sinode. Die sinode besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen tot die predikantsamp toegelaat word.
  8. Die Algemene Sinode erken die diskresie van Kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes in die gees van Christelike liefde te hanteer.

Die 2007-besluit was duidelik: homoseksuele gelegitimeerdes wat ’n selibate lewenstyl beoefen kan tot die predikantsamp toegelaat word.

Daar het mettertyd via die Kuratorium van die NG Kerk in Suid-Afrika ’n versoek gekom na die Algemene Sinode om verder te onderskei. Die Kuratorium het natuurlik direk in verhouding gestaan met gay studente wat geroepe voel om predikant te word en die pad van teologiese studie geloop het.[K7]

Ook in ander kerke in Suid-Afrika is gedurende hierdie tyd hieroor dieselfde spanning beleef. Dit het daartoe gelei dat die Algemene Sinode van 2013 die saak nie kon systap nie en die kerk se standpunt van 2007 is op die agenda van die sinode in Port Elizabeth geplaas.

Die 2013-sinode het die volgende prosesvoorstel aanvaar:

Die Algemene Sinode

  1. bevestig dat die besluit van 2007 oor homoseksualiteit geneem is na ’n deeglike eksegetiese en teologiese studie.
  2. gee opdrag aan die ASM om in voortsetting van die 2007 verslag oor homoseksualiteit ’n studie te doen oor die status van selfdegeslagverhoudings in die lig van die Skrif en Gereformeerde tradisie
  3. besluit dat homoseksuele en heteroseksuele studente wat hulle voorberei vir die bediening in die NG Kerk, aan dieselfde Christelik-etiese standaarde moet voldoen met die oog op legitimasie.
  4. verbind hom ook in die hantering van die saak aan die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid.

Die 2013 sinode het dus verdere studie gevra oor die status van selfdegeslagverhoudings, en besluit dat dieselfde etiese standaarde sal geld vir beide homoseksuele en heteroseksuele studente met die oog op legitimasie.

Die Seisoen van Menswaardigheid moes hierin bepalend wees.

Die Algemene Sinode van 2015 het die saak weer gedebatteer en later tydens hul vergadering ’n oop, gefasiliteerde gesprek gevoer. Die vorige besluit dat homoseksuele gelegitimeerdes slegs predikante mag word indien hulle sonder ’n seksuele verhouding leef, is hier opgehef.

Die Algemene Sinode van 2015 se besluit lui soos volg:

  1. Die Algemene Sinode herbevestig die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind haarself tot die handhawing van die menswaardigheid van alle mense.
  2. Die Algemene Sinode verklaar dat hetero- en homoseksuele persone wat in ’n verhouding van persoonlike geloofsgehoorsaamheid aan die Here leef, ten volle kan deelneem aan al die voorregte van die kerk as verbondsgemeenskap.
  3. Die Algemene Sinode herbevestig die besluite oor die huwelik van 2004, 2007 en 2013 dat slegs die verbintenis van een man en een vrou as ’n huwelik beskou word.
  4. Die Algemene Sinode besluit om in die lig van punt 1 hierbo erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag wat gekenmerk word deur liefde en trou, en maak voorsiening dat hierdie verbintenisse deur predikante wat hulle weg oopsien, bevestig kan word.
  5. Dieselfde Christelik-etiese standaarde (leer en lewe) geld vir die legitimasie van ordening van alle persone. Punt 7 van die besluit van 2007 verval.
  6. Die Algemene Sinode erken die diversiteit van beskouinge oor selfdegeslagverbintenisse binne die NG Kerk en bevestig die reg van kerkrade om hieroor hulle eie standpunte en praktyke te formuleer en te reël.
  7. Die Algemene Sinode bevestig die diskresie van kerkrade om die verskille oor homoseksualiteit in gemeentes te hanteer en versoek hulle om dit in ’n gees van Christelike liefde te doen.
  8. Die Algemene Sinode bied hierdie besluite oor selfdegeslagverhoudings aan met nederigheid na ’n ernstige soektog en as die beste toepassing van die boodskap van die Bybel soos ons dit tans verstaan. Die Algemene Sinode versoek lidmate, gemeentes en kerkvergaderings om weereens op ’n selfstandige soekproses na die toepassing van die boodskap van die Bybel hieroor te gaan. In die soektog kan studiestukke van die Algemene Sinode van 2007, 2011, 2013 en 2015 ernstig gelees word. In ooreenstemming met die NGB Art 2 behoort die besondere en algemene openbaring gebruik te word, dws die beste huidige menswetenskaplike bevindings.
  9. Die Algemene Sinode besluit om ’n Christelik-Bybels-etiese model oor die seksualiteit vir alle mense te ontwikkel om gemeentes te begelei in die lig van voorafgaande besluite. Hierdie saak word ook verwys na die Projekspan vir Leer en Aktuele Sake, wat reeds ’n soortgelyke opdrag in A.8.2 bl 172 punt 7.4 ontvang het.
  10. Die Algemene Sinode besluit om ’n bevatlike oorsig van die NG Kerk se reis met homoseksualiteit saam te stel en te versprei om gemeenteleiers te bemagtig in die begeleiding van gemeentes oor hierdie saak.

Die Algemene Sinode het verder besluit:

  1. Vanuit ons verbintenis tot die waardes van die Seisoen van Menswaardigheid sê ons as Algemene Sinode opreg jammer vir mense wat seergekry het en wie se waardigheid aangetas is weens enige homofobiese taal, gedrag of gesindheid van die kant van die kerk, ook tydens hierdie vergadering.
  2. Die Algemene Sinode weerhou haarself voortaan van enige homofobiese taal, gedrag en gesindheid juis vanweë ons verbintenis aan die Seisoen van Menswaardigheid, en ook vanuit ’n diepe oortuiging van die diskriminerende aard van sodanige taal, gedrag en gesindheid as gevolg daarvan.”

Die Algemene Sinode het verder besluit:

  1. Die Algemene Sinode dra dit aan die Algemene Steunspan Regte op om die kerkregtelike- en regsimplikasies van enige besluit(e) insake selfdegeslagverhoudings te ondersoek met verslag en aanbeveling aan die Algemene Sinodale Moderamen.
  2. Die Algemene Sinode neem kennis dat volgens die Civil Union Act (Wet 17 van 2006) vereis word dat denominasies skriftelik by die Minister moet aansoek doen om toestemming te verkry om selfdegeslagverbintenisse te voltrek (vergelyk Klousule 5 wat soos volg lees: Designation of ministers of religion and other persons attached to religious denomination or organisation as marriage officers: (1) Any religious denomination or organisation may apply in writing to the Minister to be designated as a religious organisation that may solemnise marriages in terms of this Act).

Die Algemene Sinode het verder besluit:

  1. Die Sinode van Namibië versoek die Algemene Sinode om kennis te neem dat pt 4 in die goedgekeurde voorstel wat soos volg lees “erkenning te gee aan die status van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag”, in stryd is met die landswette van Namibië.
  2. Die Algemene Sinode keur goed dat hierdie pt 4 oor selfdegeslagverhoudings nie afdwingbaar is op die Sinode van Namibië nie.

Die 2015-besluit het buitengewoon baie reaksie ontlok in gemeentes en in die openbare media. Kommentaar uit die kerk het meer as 600 bladsye beslaan.

Daar was ook ’n reeks appélle. Die ASM het besluit om ’n Buitengewone Algemene Sinode te hou om besware, appélle, gravamina en ander voorleggings te hanteer.[K8] Hierdie sinodesitting het plaasgevind in Pretoria vroeg in November 2016.

Die 2016 Buitengewone Algemene Sinode het die besluit van 2015 omgedraai:

1. Die Algemene Sinode besluit om die saak van selfdegeslagverhoudings met groot omsigtigheid te benader en om nie standpunte op gelowiges en gemeentes af te dwing waarvan die Gees die gemeentes nie oortuig het nie.

2. Die Algemene Sinode

2.1. herbevestig haar verbintenis aan die besluite van die Algemene Sinode van 2011 oor Skrifbeskouing, Skrifgesag, Hermeneutiek en Skrifuitleg.

  1. Die Algemene Sinode herbevestig die verklaring Skrifgebruik en Skrifgesag, soos aanvaar by die Sinode van 2004, as ’n eenvoudige en prinsipiële samevatting van die NG Kerk se Skrifbeskouing.
  2. Die Algemene Sinode wys daarop dat vir ’n meer volledige uiteensetting van die saak, die verslae soos goedgekeur in 1986 (getiteld Skrifgebruik en Skrifgesag), 1990 (Skrifberoep in Etiese Sake) en 2002 (Gesag van die Skrif) hiermee saam gelees behoort te word.”

(Vgl.: Notule Algemene Sinode 2011, bladsy 91)

2.2. wys daarop dat die amptelike besluite van die Algemene Sinode oor Skrifgebruik en Skrifgesag nie gewysig is nie en steeds die geldende standpunt is.

3. Die Algemene Sinode bely

3.1. dat ons altyd soekend moet bly na die waarheid van die evangelie tussen veelvuldige stemme en in ’n stukkende wêreld.

3.2. dat gelowiges met diep oortuigings oor selfdegeslagverhoudings dikwels van mekaar verskil, en daarom moet hierdie soeke in ’n gees van luister, sensitiwiteit, smeking, dringendheid en verantwoordelikheid benader word, wagtend op die leiding van die Heilige Gees.

3.3. dat almal betrokke by die verskillende vertolkings erns maak met die Skrif en dat daar by almal ’n opregte begeerte is om God se wil te soek.

3.4. dat die kerk die plek is waar almal omarm en die genade van Christus ontdek moet word.

4. Die Algemene Sinode

4.1. beklemtoon dat geen mens minderwaardig behandel mag word nie, maar inteendeel dat met respek en liefde teenoor alle mense opgetree moet word. Ons erken die gelykwaardigheid van alle mense ongeag seksuele oriëntasie en verbind onsself opnuut tot die bevordering van die Godgegewe waardigheid van alle mense.

4.2. roep alle lidmate en ampsdraers op om, ongeag seksuele oriëntasie, mekaar met die liefde van Christus te aanvaar.

4.3. vra onvoorwaardelik vergiffenis waar persone met ’n homoseksuele oriëntasie nie soos hierbo behandel is nie

4.4. herbevestig dat die huwelik deur God ingestel is as ’n heilige en lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou en dat enige seksuele gemeenskap (dade) buite so ’n vaste formele huweliksverbintenis nie aan Christelike riglyne voldoen nie, maar erken die realiteit dat daar lidmate van dieselfde geslag in burgerlike verbintenisse is wat getuig van liefde en trou.

4.5. bevestig dat die gesin as hoeksteen in ’n Christelike gemeenskap beskou word.

4.6. is oortuig dat enige persoon wat die genade van die Here deelagtig is en Jesus Christus as Here bely, ongeag seksuele oriëntasie, ’n volwaardige lidmaat van die kerk is en as sodanig as ongesensuurde lidmaat volle toegang het tot al die ampte in die kerk.

4.7. bevestig dat Kerkrade die reg behou om self te besluit wie in leiersposisies in die gemeentes mag dien, en kan nie verplig word om enige persoon wat in ’n selfdegeslag burgerlike verbintenis is, in diens te neem nie.

4.8. besluit dat dieselfde Christelik-etiese standaarde met betrekking tot leer en lewe geld vir die legitimasie en ordening van alle persone, ongeag seksuele oriëntasie.

Die hof het bevind dat die sinode van 2016 se besluit nie geldig is nie weens prosedurele foute. Dit het beteken die 2015-besluit staan. [K9]

Die 2019 Algemene Sinode het die vorige besluit wat in 2015 geneem is, ter syde gestel, ook omdat die verkeerde prosedure met die neem daarvan gelog is.

’n Beskrywingspunt van die Sinode van Wes-Kaapland (Mei 2019) is as voorstel aangebied en dit is so aanvaar:

  1. Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot vasgelooptheid gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is.
  2. Die Algemene Sinode bely egter dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisgrondslag, en dat hierdie eenheid nie verbrokkel wanneer daar oor Skrifhantering en Skrifuitleg ten opsigte van hierdie saak verskil word nie, maar verryk en verdiep word.
  3. Die Algemene Sinode is verbind tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar, met respek vir mekaar se uiteenlopende benaderings, Skrifhantering en hermeneutiek.
  4. Die Algemene Sinode moedig gemeentes aan om voort te gaan met die skep van gesprekruimtes vir gesonde geloofsonderskeidende gesprekke oor hierdie (en ander) teologies-etiese kwessies, en toe te sien dat:

4.1 hierdie ruimtes inklusief en divers bly;

4.2 nie oor ánder te praat nie, maar eerlik en broos vanuit die eie posisie, en

4.3 daar werklik erns gemaak word met die Woord van God.

  1. Die Algemene Sinode respekteer kerkrade se reg om geloofsonderskeidende gesprekke in hulle eie kontekste te voer en moedig kerkrade aan om deurdagte en verantwoordelike besluite te neem.
  2. Die Algemene Sinode moedig kerkrade aan, om by die aanwysing van persone in die ampte, lidmate se:

6.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

6.2 toegang tot die sakramente,

6.3 integriteit van verhoudings, en

6.4 geskiktheid vir die spesifieke rol in ag te neem

6.5 ongeag ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie en -identiteit.

  1. By die legitimasie van teologiese studente, moet die studente se:

7.1 doop, belydenis, roeping, spiritualiteit en getuienis van leer en lewe,

7.2 toegang tot die sakramente,

7.3 integriteit van verhoudings, en

7.4 teologiese- en bedieningsvorming in ag geneem word, ongeag ras, geslag, klas, of seksuele oriëntasie en -identiteit.

  1. Die Algemene Sinode erken dat daar:

8.1 kerkrade en predikante is wat nie hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig nie,

8.2 ook kerkrade en predikante is wat wel hulle weg oopsien om burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag te bevestig.

  1. Die Algemene Sinode wil graag die ruimte wat vir almal geskep word, om volgens hulle oortuiging op te tree, bevestig. Die Algemene Sinode besluit ook dat daar ’n span saamgestel word wat elke streeksinode sal besoek om hierdie saak duidelik en deeglik deur te werk. Dit kan ons help om ’n ingeligte besluit neem.
  2. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen persone van dieselfde geslag.
  3. Die Algemene Sinode

11.1 betreur dat die verloop van die debat en die besluite in die kerk die afgelope jare lidmate verwar en seergemaak het;

11.2 vra gay-lidmate en hulle families wie se menswaardigheid wetend en onwetend misken is, uitdruklik om verskoning vir die pyn wat hulle in die kerk beleef het;

11.3 verbind hom daartoe om in die gees van hierdie besluit ruimtes te skep vir gesprek waarin almal se menswaardigheid gerespekteer word.

11.4 Die Algemene Sinode bedank gay-lidmate wat volgehou het met waagmoedige en konstruktiewe gesprekke in die kerk.

  1. Die Algemene Sinode dra dit aan ATLAS op om voort te gaan met studie oor die huwelik en menslike seksualiteit met die oog op terugvoer aan die volgende sinode.

Kerkbode het onder andere die volgende oor die 2019-besluit gesê:

  • Die 2019-besluit bied ruimte vir verskillende standpunte oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Kerkrade, ringe en sinodes het die reg om self te besluit watter standpunt hulle hieroor wil inneem.
  • Die besluit bely dat die eenheid van die kerk gefundeer is in ’n eenheid met Christus en die belydenisskrifte. Hierdie eenheid verbrokkel nie as daar verskille oor die hantering en uitleg van die Bybel is nie.
  • Die Algemene Sinode het hom verbind tot voortgesette gesprekke en gemeentes aangemoedig om ook ruimte vir gesprek te skep.
  • Kerkrade word aangemoedig om in die verkiesing van mense tot die ampte lidmate se doop, roeping, spiritualiteit en getuienis oor leer en lewe in ag te neem, maar nie ras, geslag of klas of seksuele oriëntasie of identiteit nie.
  • Die sleutelwoord van hierdie besluit is “moedig aan”. Dit bind kerkrade nie. By die legitimasie van teologiestudente moet aspekte van hulle geestelike lewe ook in ag geneem word, maar nie ras, geslag, klas of seksuele oriëntasie nie.
  • Die besluit gee erkenning aan verskillende standpunte oor die bevestiging van gay paartjies in burgerlike verbintenisse en bevestig die ruimte vir almal om volgens eie oortuiging op te tree.

2. Skrifhantering: ’n Geskiedenis van onderlinge verskil

Die Algemene Sinode het ’n amptelike, gedeelde Skrifbeskouing. Daar is egter nie eenstemmigheid wanneer dit kom by Skrifhantering nie.

Ons bely almal in die woorde van die Nederlandse Geloofsbelydenis Artikel 7 dat die Skrif die wil van God volkome bevat, dat alles wat die mens vir sy saligheid moet glo, daarin voldoende geleer word, en dat ons niks met die Goddelike Woord mag gelykstel nie, want dié waarheid is bo alles.

Tog is daar verskille oor betekenis en toepassing. In 1985 skryf die Algemene Jeugkommissie bekommerd aan die Algemene Sinodale leiers dat teenstrydige uitsprake van teoloë onrus in die kerk bring en die jeug verlam. Die Sinode het toe ’n proses van besinning oor die Skrif aan die gang gesit. Die duidelikste formulering word gevind in die verklaring, Skrifgebruik en Skrifgesag (2004). Hierdie verklaring is in 2011 ’n “eenvoudige en prinsipiële samevatting” van die NG Kerk se Skrifbeskouing genoem en moes saamgelees word met die goedgekeurde dokumente van 1986, 1990 en 2002.[K10]

2.1. ’n Opsomming van die amptelike Skrifbeskouing van die Algemene Sinode

In 2002 het die Algemene Sinode die verhouding tussen die “menslike” en “Goddelike” in die totstandkoming en gebruik van die Skrif diepgaande bespreek. Aspekte soos historiese konteks, literatuursoort en die leiding van die Gees is ondersoek. Die volgende oortuigings is gestel:

  1. Wie die gesag van die Woord aanvaar, offer nie die Goddelike gawe van sy of haar denkvermoë op nie.
  2. Die Skrif is nie ’n bron van eksakte natuurwetenskaplike en historiese informasie nie, maar bring ons by die kennis wat tot verlossing lei deur die geloof in Christus.
  3. Die hart van die boodskap van die Skrif en sake wat meer op die rand lê, kan nie van mekaar losgemaak word nie, maar ons moet die verskil in ag neem.
  4. Die gesag van elke onderdeel van die Skrif funksioneer binne die geheel van die Skrif.
  5. Die Skrif vertolk die geskiedenis wat God met die mense gemaak het en ons kom deur middel hiervan, toegerus deur die Gees, wat die eintlike Tolk is, met God in aanraking.
  6. Die gesag van die Skrif berus in die boodskap van Christus en nie in die kerk se keuse om dit as kanon te aanvaar nie.
  7. Die gesag van die Skrif hang saam met die beloftes van God, wat berus op wat God gedoen het op Goeie Vrydag en Paassondag.

Die behoefte het steeds bestaan dat die kerk se Skrifbeskouing só verwoord sal word dat dit nie misverstand wek nie. Verdere kommentaar is ontvang en ’n raamwerk is opgestel waarbinne vanuit ’n gereformeerde verstaan verder besin kon word. Die grense van hierdie raamwerk is in vyf punte verwoord, wat deur die Sinode van 2004 goedgekeur is om vir bespreking aan Ringe en gemeentes deur te gee. In kort kom die vyf punte neer op die volgende:

  1. Die Bybel is die Woord van God en is daarom gesagvol oor ons hele lewe. Dit is betroubaar, duidelik en voldoende.
  2. Ons denkvermoë word nie uitgeskakel wanneer ons die Bybel lees nie.
  3. Die kerk soek onder leiding van die Heilige Gees as geloofsgemeenskap na dit wat God deur sy Woord in ons tot stand bring. Hierdie soeke geskied nie sonder verantwoordelike Skrifinterpretasie nie.
  4. Die kerk mag in elke tyd anders oordeel oor die beste reëls en metodes vir verantwoordelike Skrifuitleg.
  5. Ons is daartoe verbind om in gesprek te bly met mekaar en met ander, as deel van die kerk van alle eeue, om die dinge te onderskei waarop dit aankom (Fil 1:9-10).

2.2. Vasgeloop?

Die “vasgelooptheid” ten opsigte van Skrifhantering, waarna in die 2019 AS-besluit oor selfdegeslagverhoudings verwys word, dui daarop dat ons met dieselfde Bybel by verskillende gevolgtrekkings kom en dan buite hoorafstand van mekaar beland. Ons mag nie aanvaar dat ons in ’n doodloopstraat is nie. Ons sou ook, in plaas van “vasgelooptheid”, kon praat van ’n “verstrengeldheid”. Verstrengeling kan ontknoop word.

Ons kom met dieselfde Bybel tot verskillende etiese gevolgtrekkings. Hoe nou gemaak?[K11]

’n Diep respek en agting vir God en sy Woord lê agter die verskillende standpunte oor selfdegeslagverhoudings.

  • Onder diegene wat ’n ernstige kommer oor en ’n afwysende reaksie op die Algemene Sinode 2019 se besluit het, is dit hulle liefde vir God en medemens wat daartoe lei dat hulle nie ruimte kan maak vir enige iets wat na hulle oortuiging volgens die Bybel teen God se wil ingaan nie. Hulle is oortuig dat hulle God sal verloën en hulle medemens sal mislei wanneer hulle dit doen.
  • Vir diegene wat ruimte wil maak vir gelowiges uit die LGBTQI-gemeenskap om hulle seksualiteit met verantwoordelikheid teenoor God uit te leef, is dit juis ook hulle liefde vir God en medemens wat hulle dring. Daarom verwelkom hulle ’n besluit wat dit aan mindere kerkvergaderings oorlaat om in hulle eie konteks en volgens hulle eie Skriftuurlike oortuigings, eie besluite hieroor te neem.

2.3. Die waarheidsvraag: ’n geskiedenis van teologiese verskille in die NG Kerk

Die NG Kerk het dit oor baie dekades reggekry om met teologiese verskille saam te leef en mekaar in die proses nie kwyt te raak nie.

Vincent Brümmer skryf in sy boek, Vroom of Regsinnig? Teologie in die NG Kerk, oor ’n goue draad wat regdeur die geskiedenis van die NG Kerk loop. Hy noem dit die verband tussen regsinnigheid van hart en regsinnigheid van leer. Die onderskeid tussen hierdie twee teologiese strominge behoort as ’n implisiete subteks in die debatte van die kerk gesien te word en kan ook dien as ’n raamwerk waarbinne die kontroverse in die kerk beoordeel kan word.

Vroomheid of regsinnigheid van hart word gesien as ’n persoonlike verhouding met God en berus op die beskouing dat God nie verstaan wil word nie, maar dat God eerder bemin wil word. Hierteenoor sou dié wat kies vir ’n regsinnigheid van leer eerder klem plaas op die verdediging van die leerstellinge van die kerk soos neergelê in die belydenisskrifte.

Brümmer erken dat so ’n onderskeid kunsmatig sou kon word, maar wil dit juis nie as rigied en onbuigbaar verstaan nie. Daar was oor die afgelope 150 jaar verskeie teoloë wat gepoog het om die kloof tussen regsinnigheid van hart en regsinnigheid van leer te oorbrug. Herman Bavinck het byvoorbeeld albei strominge identifiseer, maar nie noodwendig aanklank gevind by die mees prominente verteenwoordigers van die twee strominge nie.

Andrew Murray en Nicolaas Hofmeyer se verset teen die Moderne Rigting in die teologie is vir Brümmer ’n voorbeeld van die klem op regsinnigheid van hart. Abraham Kuyper se konfessionalisme, met die klem op die soewereiniteit van God, is weer ’n voorbeeld van regsinnigheid van leer. Albei strominge wil die uitdagings van die Verligting die hoof bied.

Vir sommige mense is geloof “a thing like a love affair” en vir ander “a thing like a theory” (Chesterton). Die eerste groep noem Brümmer mistici en die tweede konfessionaliste. Hulle verskil in die manier waarop hulle die verband tussen vroomheid en regsinnigheid verstaan. Albei tendense het in die geskiedenis van die NG Kerk ’n rol gespeel. Murray en Hofmeyr het die belydenisskrifte geïnterpreteer in terme van hulle spiritualiteit van kindskap. Vir Kuyper het die regsinnigheid van die leer die voorrang gehad. [K12]

Ferdinand Deist skryf in sy boek, Kan ons die Bybel dan nog glo? Onderweg na ’n Gereformeerde Skrifbeskouing, treffend oor die verskillende benaderings tot Skrif en geloof wat geleef het in die NG Kerk sedert die totstandkoming van eie teologiese opleiding. Hy noem die woorde “fundamentalisme” en “liberalisme” twee woorde wat “kwistig in ons Suid-Afrikaanse debat gebruik word”. As iemand iemand anders wil “bêre” noem hy hom ’n fundamentalis of ’n liberalis. In der waarheid het hierdie begrippe ’n lang en gelaaide geskiedenis. Ons dominees wat aanvanklik aan die kweekskool studeer het, kon nie verdere studie by die Nederlandse Ryksuniversiteite onderneem nie aangesien hulle nie grade ontvang het nie. Inrigtings in Amerika, soos Princeton en Louisville, asook in Skotland, het wel ons opleiding erken. So ook die Vrije Universiteit van die strenger Gereformeerdes in Amsterdam. Heelwat predikante het daar verder gaan studeer en so het die NG Kerk stadig maar seker aan die begin van die twintigste eeu ’n meer ortodokse Skrifbeskouing begin aanneem. Daar was nou enkele hoofrigtings in die NG Kerk. (i) Die “Reveil”-rigting, soos verteenwoordig deur Andrew Murray, wat die opkoms van ’n ongebonde en willekeurige liberale teologie beantwoord het met ’n klem op die diepe belewenis van die belydenis van die kerk. (ii) Die “ortodoks-Gereformeerde rigting, soos verteenwoordig deur iemand soos CR Kotzé, wat ’n baie spesifieke inspirasieteorie aanvaar het as die enigste moontlike interpretasie van die belydenis. (iii) ’n Derde groep, wat heelwat kleiner was, was die (Amerikaans geïnspireerde) fundamentalistiese groep, of sg “evangelicals”, wat bekend geword het in die Du Plessis-stryd, en mense ingesluit het soos DR Snyman en DG Malan. Hierdie groepie het geglo in “the literal inerrancy of the Bible” en het saligheid gekoppel aan suiwerheid van leer in plaas van die geloof in Christus.[K13]

Dit was vir Deist toe reeds – in 1986 – jammer dat ons met die kategorieë van “liberaal” en “fundamentalisties” werk, aangesien “die baard van die liberale teologie darem al honderd-en-vyftig jaar werklik op die grond sleep en die tagtigjarige baard van die fundamentalisme ook al suggereer dat sy tyd uitgedien is.”

Nietemin beskryf Deist hoe die verskillende benaderings in die NG Kerk tot die Skrifleer verspreid lê tussen hierdie twee pole. Enkele figure kan gevind word op die ekstreme uithoeke. Aan die een kant is daar dié soort Skrifbeskouing wat met reg bibliolatrie, of Bybelaanbidding genoem kan word. Aan die ander kant is daar ’n soort teologie wat van die grensdrade van belydenisse niks wil weet nie.

“Binne die grense van die Gereformeerde belydenis is daar egter ruimte vir verskillende teorieë oor ’n saak, ruimte vir verskil van opinie, en daardie ruimte moet in ’n Gereformeerde kerk altyd jaloers bewaak word.”[K14]

Die NG Kerk het ’n lang geskiedenis van teologiese verskil. Ons kon nog altyd daarin slaag om die eenheid van die kerk te bewaar. Die vraag hoe ons omgaan met onderlinge teologiese verskil, is waarskynlik nou een van die belangrikste.

Dit is dus so dat ons “vasgelooptheid” of “verstrengeldheid” ver in die gekiedenis terug gevind kan word. Aan die een kant, sou ’n mens kon sê, is daar mense wat ’n objektiewe waarheid in die Bybel wil ontsluit en, aan die ander kant, mense wat die rol van eie voorkeure, eie geskiedenis en voorveronderstellings in die verstaansproses in ag wil neem.

Dít kan egter ook nie net tweeledig of “binêr” verstaan word nie. Dikwels is dit so dat mense wat min of meer uit dieselfde teologiese, hermeneutiese dampkring kom, verskillende gevolgtrekkings maak oor selfdegeslagverhoudings. Met min of meer dieselfde hermeneutiek huldig hulle verskillende standpunte.[K15]

Die 2019 besluit verreken hierdie werklikheid baie goed. Ons hou mekaar vas omdat daar iets veel groter en dieper is wat ons bind, en die besluit gee vir ons ruimte.

3. Eenders of een: Hoe gaan ons om met onderliggende verskil?

3.1. Handelinge 15: ’n Gewigtige saak word deur ’n kerkvergadering hanteer

Die aard van die 2019 besluit oor SGV-verhoudings, wat ruimte maak vir twee verskillende standpunte oor dieselfde saak, het by baie lidmate vrae laat ontstaan oor hoe so ’n besluit moontlik kan wees.

In die Bybel is ’n besluit waar twee standpunte in ag geneem word egter nie vreemd nie. In Handelinge 15:1-35 sien ons ’n baie duidelike voorbeeld van twee groepe wat saamstem om te verskil.

In Handelinge 15 word ’n gewigtige teologiese saak in die vroeë kerk aan die orde gestel, naamlik of nie-Joodse gelowiges ook besny moet word. Hierdie vraag is uitgestryk tydens ’n gesamentlike byeenkoms van verteenwoordigers van die gemeentes van Antiogië en Jerusalem. Vir ’n klompie Joodse gelowiges uit Judea wat in die gemeente van Antiogië aangekom het, was dit ’n uitgemaakte saak dat die onderhouding van die wet van Moses en die besnydenis bymekaar hoort (15:1). Die besnydenis was die merkteken van die verbond. Dit was die bewys dat die draers daarvan tot God se volk behoort. Hulle was daarom van mening dat nie-Jode wat deel geword het van die kerk, ook hierdie teken moes ontvang. Die kerk was immers die ware verteenwoordigers van Israel.

Teenoor hierdie siening van sommige Joodse gelowiges, was Paulus en Barnabas van mening dat nie-Jode nie nodig het om die leefstyl en rituele van die Jode aan te neem wanneer hulle tot geloof kom nie (15:2). Hierdie meningsverskil oor die besnydenis tussen die Joodse gelowiges en Paulus-hulle het tot ’n groot openbare konfrontasie gelei. Ten einde raad het die gemeente van Antiogië toe besluit om ’n afvaardiging na Jerusalem te stuur om hierdie saak met hulle leierskorps, die apostels en ouderlinge, uit te klaar.

In Handelinge 15:23-29 lees ons die besluit van die vergadering wat in ’n brief aan die gemeentes gestuur word. Die Joodse-gelowiges kan aanhou om hulself te besny en die nie-Joodse gelowiges hoef nie. Tog was daar ’n paar sake wat albei groepe saamgestem het om nie te doen nie, soos die eet van vleis wat aan ’n afgod geoffer is.

Die voorbeeld van Handelinge 15 kan ons as kerk gerusstel dat ons 2019 besluit ’n Bybelse manier van besluit is.[K16]

3.2. Een kerk in ’n verdeelde samelewing

Hier volg nou ’n kort samevatting van Prof Marius Nel se aanbieding tydens die 2019 Sinode oor eenheid en diversiteit:

Dié diversiteit was veral in die groot kosmopolitiese stede van die Romeinse Ryk gekonsentreer. Daarom is dit opvallend dat dit juis in dié kosmopolitiese stede – Rome, Antiogië, Efese – is waar die vroeë kerk gefloreer het. Waarom? Wat het die Christene in staat gestel om diverse mense, sonder dwang in een beweging saam te snoer?

Diversiteit is nie ’n nuwe ding nie. Die eerste-eeuse Mediterreense wêreld, waar die kerk ontstaan het, was ’n uiters diverse wêreld. Die konflik wat dié diversiteit te weeg gebring het, is dan ook sigbaar in die Nuwe Testament. Ons sien dit in die konflik tussen verskillende groepe in Korinte, die stryd tussen volgelinge van Jesus en Jode in Matteus en die vervolging in Openbaring. Ons lees ook van dwaalleraars in die Johannese briewe, die stryd om heidene in die kerk te verwelkom, en toenemend vrae oor die plek van vroue.

Die DNS van die vroeë kerk het 4 merkers bevat wat dit in staat gestel het om ’n groot diversiteit van mense te kon akkommodeer.[K17]

1. ’n Klem op eenheid eerder as eendersheid

Die vroeë kerk het eenheid eerder as eendersheid nagejaag. In terme van eendersheid word ons deur ’n veelvoud van gemeenskaplikhede aan mekaar gebind. Ons het omtrent alles in gemeen met mekaar. In terme van eenheid word ons deur een gemeenskaplikheid aan mekaar geknoop. In die Nuwe Testament is die een gemeenskaplikheid wat die eenheid van die kerk bepaal geloof in Jesus as Here. Dit is dan ook paradoksaal dat die soeke na nóg samebindende gemeenskaplikhede die kerk dikwels eerder versplinter het as wat dit die kerk hegter verenig het. Veral die Gereformeerde tradisie is vatbaar hiervoor.

Die vroeë Christene het ook geglo dat diversiteit die liggaam van Christus genees en nie vermink nie! Let op hoedat in 1 Korintiërs 12 dit nie net gaan oor die hantering van verskillende geestelike gawes nie, maar ook oor verskillende kulture wat oor hulle beskik! Dit gaan dus oor ’n veelvlakkige diversiteit (etnies en geestelik).[K18]

In kort genees diversiteit ons op ’n manier wat ons nie eens kan bedink in ’n eenvormige wêreld nie!

2. Die ontwikkeling van ’n nuwe oriëntasie wat die polariteite in die samelewing deurbreek het.

Die Romeinse Ryk is gekenmerk deur polariteite

  • Griek – Barbaar
  • Jood – Heiden
  • Man – Vrou
  • Slaaf – Vryman
  • Burger – nie-Burger

Die Romeinse Ryk is gekenmerk deur duidelike polariteite: man-vrou; Griek-Barbaar; Jood-Nie-Jood; slaaf-Vryman. Dit is belangrik om te besef dat die polariteite nie tussen twee gelyke pole was nie. Telkens was die een pool die bevoorregte een gewees. So was die status van slawe laer as die van vry manne. Die status en mag ongelykheid het beteken dat diegene aan die sterk pool onwillig was om die verhouding te verander aangesien hulle in die proses van hulle voorregte sou verloor. Selfs tussen individue bestaan die probleem dat ons onwillig is om onsself ondergeskik aan ander te stel. Tog is dit juis van die vroeë kerk gevra het: dat ander se belange eerste gestel word.[K19]

Die vraag is daarom hoe ons dit reg kry? Dit is maklik om dit te beveel, maar hoe bewerk mens dit? Ons weet wel dat die vroeë kerk dit reggekry het as ons die diverse mense sien vir wie Paulus in Romeine 16 groete stuur.

Hoe het dit gebeur? In kort het die vroeë kerk die verskillende polariteite deurbreek met ’n Christus- oriëntasie. Telkens kry ons uitsprake in die Nuwe Testament wat die verskillende polariteite van die Grieks-Romeinse wêreld verwoord (bv. Gal 3:28: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: In Christus Jesus is julle almal één.”) Ander praat net weer van die konflik tussen individue (soos in Filippense 2:4-5: Julle moenie net elkeen aan sy eie belange dink nie, maar ook aan die van ander. Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was.”) Dan is die vraag hoe word die verskillende polariteite ontlont? Nie deurdat die een pool soos die ander word (die nastreef van eendersheid) nie. Die antwoord vir die konflik in die stryd is dat beide pole soos Jesus word deur sy gesindheid van diens aan te neem.

So vergewe ek nie ander omdat hulle my vergewe nie, of omdat hulle dit verdien nie. Ek vergewe hulle omdat Jesus my vergewe het (Kol. 3:13). Christene los nie die polariteite op deur hulle te ontken nie (mans is soos vroue en andersom), of om die een bo die ander te stel nie (mans heers oor vroue) maar deur beide volgens die voorbeeld van Jesus te leef. Daarom kan ons Joodse en nie-Joodse Christene wees.

3. ’n Ingesteldheid om vanuit God se genade na onsself en ander te kyk.

Die vroeë kerk het genade op ’n ruim wyse verstaan. Genade was vir hulle nie net om iemand hulle verlede te vergeet nie. Dit was ook om vir hulle die toekoms te bied wat God aan hulle uit sy genade geskenk het. Ons wil vir mense ruimte maak deur vir hulle te sê “ondanks wie jy is” is jy welkom danksy God se genade. Om mense op dié wyse te verwelkom laat hulle egter nie bly nie. Ons kan nie net vir vroue sê “julle is welkom in die bediening omdat God julle in genade verwelkom het nie.” Ons moet verder gaan en die toekoms wat God vir hulle oopgebreek het vier. So praat Paulus nie net oor genade as hy oor sy verlede as vervolger van die kerk praat nie. Hy praat ook oor sy roeping om die evangelie aan die heidene te verkondig as genade (Gal. 1:13-16).

Ons maak ruimte vir diversiteit as ons vir mekaar sê – “ek en jy is hier danksy God wat uit genade ons verlede vergewe het.” En as ons vir mekaar sê – “Ek en jy het nou ’n roeping waaroor ons nie eens kon droom nie. Ons het die toekoms alleen omdat God dit vir ons uit genade geskenk het.”

Genade is dus nie net om te besef dat God ons en ander van ons verlede vrygespreek het nie. Dit is ook om raak te sien dat God vir ons en ander ’n nuwe toekoms (roeping) gee wat ons nooit vanuit onsself sou kon bedink nie.

‘n Ryker verstaan van genade word benodig

  • Genade maak ons nie net onverdiend vry van ons verlede nie
    • Genade gee aan ons ’n nuwe, onverwagte toekoms

Let op hoedat Paulus in Galasiërs 1:13-16 praat: (13)Ek het die kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei. (14)En in die Joodse leer het ek onder my volksgenote bo baie van my leeftyd uitgestyg, want ek was ’n fanatieke yweraar vir die oorgelewerde leer van my voorvaders. (15)Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Toe Hy in sy goedheid besluit het (16)om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie oor Hom onder die heiden nasies sou verkondig… [K20]

4. Die kerk is ’n familiebesigheid

Jakobus 2 – My broers en susters, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie. Sê nou daar kom in julle samekoms ’n man in met goue ringe aan sy vingers en met deftige klere aan en daar kom ook ’n brandarm man in met ou klere aan, en sê nou julle maak ’n ophef van die man met die deftige klere en julle sê vir hom: “Kom sit u hier gemaklik,” maar vir die arm man sê julle: “Gaan staan jy daar anderkant” of: “Kom sit hier by my voete,” het julle dan nie onder mekaar onderskeid gemaak en mense op grond van verkeerde oorwegings beoordeel nie? Luister, my liewe broers en susters! Kies God nie juis dié uit wat in die oë van die wêreld arm is, om ryk te wees in die geloof en om die koninkryk in besit te neem wat Hy belowe het aan dié wat Hom liefhet nie?

Dit is opvallend dat die kerk nie oor hulself as ’n organisasie gepraat het nie. Dit het inteendeel eerder familietaal gebruik. Die kerk het haarself naamlik as familie verstaan. So word gelowiges as “broers en susters” aangespreek. Die implikasie hiervan is geweldig. In die antieke wêreld is alle interaksies op een van drie wyses verrig in terme van wederkerigheid (wat doen ons aan mekaar en wat verwag ons van mekaar).

  • Negatiewe wederkerigheid – Jy leef ten koste van buitestanders. Jy kan hulle indoen in besigheid as dit jou mense bevoordeel. So maak jy wette om jou belange, eerder as almal s?, te bevorder.
  • Gebalanseerde wederkerigheid – Jy leef in harmonie met buitestanders wat deel van jou stam of nasie is. Jy help hulle byvoorbeeld om ’n pad te bou en hulle help jou om ’n dam te bou. Jy doen nie iets wat jou van hulle vervreem nie, maar jy gaan nie jouself indoen nie. Jy hou eerder noukeurig boek van alle “transaksies.”
  • Positiewe wederkerigheid – Jy leef tot voordeel van buitestanders. In die geval is die buitestanders jou familie. Ouers sal byvoorbeeld meer investeer in hul kinders as wat hulle ooit sal terugkry. Daar word nie boekgehou van die transaksies tussen hulle nie.

DIE SAKRAMENT VAN DIE SOEN

“GROET MEKAAR MET ‘N SOEN VAN CHRISTELIKE LIEFDE. VREDE VIR JULLE ALMAL WAT IN CHRISTUS IS!” 1 PETRUS 5:12

Om oor die kerk as familie te praat is dus om te sê dat in die nuwe familie ons nie boek hou van “transaksies” nie. Ons leef tot voordeel van ander. Die nuwe familie was ook nie ’n geheime een nie. Hulle het mekaar eerder in die openbaar hanteer soos familie deur mekaar te soen.

Dalk benodig ons weer die “sakrament” van die soen![K21]

3.3. Oor kern- en randsake

Dit help om oor ons soeke na die wil van God in die Woord op drie vlakke na te dink. Dit kan soos volg voorgestel word:

Die eerste sirkel noem ons kerngeloof. Hierdie sirkel omvat die kern van dit waarin gelowiges oor die wêreld glo soos geopenbaar in die Skrif. Oor hierdie kernwaarhede is daar weinig verskil tussen gelowiges. Hierdie kerngeloof word Sondag na Sondag deur gelowiges in kerke dwarsoor die wêreld bely.[K22]

Die tweede sirkel omskryf ons as ons toegepaste geloof of die kerklike tradisie waarin ons staan. Dié sirkel beskryf hoe gelowiges hulself deur die eeue saam gegroepeer het rondom hul verstaan en interpretasie van die Woord van God ten opsigte van hul kerklike, gemeenskaps- en missionale lewe. Dit het tot gevolg gehad dat daar verskeie verskillende kerklike tradisies ontstaan het. In hierdie tradisie ontwikkel eie geloofsgebruike en belydenisskrifte – bv. Ortodoksie, Rooms Katolisisme, Gereformeerd, Metodisties, Evangelies, Pinkster ens. Vandag erken en bely ons dat God veel groter is as enige enkele tradisie en dat ons deur die verskillende tradisies saam Sy volheid beter kan beleef. Ons behoort aan die Gereformeerde tradisie omdat ons daarin die meeste tuis voel ten opsigte van gebruike en belydenisse.

Die derde en laaste sirkel omskryf ons as ons persoonlike geloof. Hierdie buitenste sirkel omsluit my persoonlike geloofsverhouding met God waar ek aanvullend tot my kerngeloof en my toegepaste geloof ook in ’n eiesoortige persoonlike verhouding met God staan. Binne hierdie persoonlike geloofservaring vind ek God deur Sy Woord en Gees wat my verlig oor hoe ek as individu voor en vir Hom moet lewe. Hierdie verhouding is egter persoonlik en wat vir my geld (of wat God aan my persoonlik sê) geld nie noodwendig vir die gelowige langs my op presies dieselfde wyse nie. So kan God van my vra om selibaat te bly, of om nie drank te gebruik, of om sendingveld toe te gaan of my motor vir ’n goeie saak weg te gee. Dit wat God van my in my geloof vra kan ek egter nie verwag dat my broeder en suster langs my ook net so moet nakom of leef nie – van hulle mag God dalk iets anders vra of verwag. Dit word deur God aan hulle persoonlik geopenbaar.

Daarom, as ons Sondag ’n erediens bywoon, hoor en verstaan ons nie almal die boodskap dieselfde nie. God maak aan elkeen Sy wil persoonlik en eiesoortig deur Sy Gees bekend. Ek moet egter altyd waak dat ek nooit my persoonlike geloof en dit wat God aan my openbaar, verhef asof dit die kern van geloof is en almal dit net so moet hoor en verstaan.[K23]

3.4. Implikasies van ’n trinitariese teologie vir ons uitdagende gesprekke

“Een van die beste dinge wat gelowiges vandag kan doen, is om saam te kyk na wat die geloofsbelydenis van Nicea vir ons sê oor God die Vader, God die Seun en God die Heilige Gees.” – Dirkie Smit, Ons Glo In. Gedagtes en motiewe uit wat die kerk bely oor God as Vader, Seun en Heilige Gees.

Moderne mense dink deïsties oor God. Volgens die deïsme is God ’n afsydige, generiese krag.

Die God wat ons in die verhale en prente van die Bybel leer ken is egter Vader, Seun en Gees.

Die God van die Bybel is Persoonlik en werk lewend, dinamies en verhoudingsmatig met ons en in ons wêreld. Vader, Seun en Gees is aktief in beweging in die wêreld en skakel ons in sodat ons daaraan deelneem. Jesus het immers gesê “soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook” (Joh 20:21). Hy roep ons op in die Drie-enige God se dinamiese beweging van liefde na die wêreld toe en die Gees skakel ons persoonlik hierby in.

Dit is juis om hierdie beweging van die Drie-enige God te verstaan en konkreet daaraan deel te neem dat ons doelbewus ’n reis van geloofsonderskeiding betree. Eerlike leierspanne van gemeentes besit nie die antwoorde op alles nie. Daar is dieper vrae oor God en oor die identiteit en roeping van die gemeente waaroor nagedink en onderskei moet word. Juis in tye van krisis, wanneer die ou antwoorde nie meer werk nie, is dit nodig om sake dieper te deurdink en met wysheid te oorweeg.[K24]

“Onderskeiding” (discernment) kom van die Latynse woord discernere wat beteken “om te skei”. Dit beteken letterlik om in ’n krisis deur toetsing ’n onderskeid tussen goed en kwaad te maak.” Geloofsonderskeiding is om “die regte pad te vind” (Luk 1:17); om “met insig te leef” (Efe 1:8); om “saam te dink”, “saam te streef” en “een van denke te word” (Fil 2:2).

Geloofsonderskeiding kom neer op ’n proses van luister en wéér luister na God en na mekaar, totdat die Gees ’n oortuiging onder ons laat groei waarmee ons kan vorentoe beweeg. Geloofsonderskeiding is die kuns en gewoonte om sáám, luisterend op die Here te wag.

Die kuns van geloofsonderskeiding beteken nie dat almal eenders begin dink nie, maar wel dat die gedeelde vertrekpunt dat Christus die Here van die gemeente is ons oordeel diep beïnvloed.

Om saam in geloof onder leiding van die Gees te onderskei, behels meer as dat enkelinge die mag het om namens ander te besluit (hiërargie), die mening van die meerderheid gelykgestel word aan God se wil (demokrasie) of ’n reëlgebonde of tegniese benadering gevolg word, waar orde en reëls die deurslag gee (burokrasie).

Geloofsonderskeiding kom neer op ’n proses van luister en wéér luister na God en na mekaar, totdat die Gees ’n oortuiging onder ons laat groei waarmee ons kan vorentoe beweeg.

4. “Bly in My soos Ek in julle”: Ons vereniging met Christus en onderlinge eenheid

Christus se versoek om in Hom te bly (Johannes 15:4), is vir ons hantering van die 2019-besluit van deurslaggewende betekenis.

Ons word met Christus verenig omdat Christus Homself aan óns bind; omdat Hy die inisiatief in liefde neem en “kies om in ons te bly”. Hierdie intieme band met die lewende Christus het ’n radikale invloed op alle aspekte van ons menswees.

Die idee van die gelowige se gewortelheid in Christus figureer regdeur die Nuwe Testament. Volgens Efesiërs 1:13-14 is ons in Christus “verkies, verlos en verseël”. Op verskeie plekke gebruik Paulus die en Christo-formule (47 keer om presies te wees). Hy skryf dat iemand wat in Christus is, ’n “nuwe skepsel” is (2 Kor. 5:17), en dat alle gelowiges, Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou, as één in Christus geag moet word (Gal. 3:28). Deur ons doop, skryf hy, is alle gelowiges “met Christus verenig” en het ons nou sáám “deel van Christus geword” (Gal. 3:27).

Ons vereniging met Christus, die gekruisigde en opgestane Here, is die diepste waarheid omtrent ons lewe en identiteit.

Calvyn en die Gereformeerde tradisie plaas ’n sterk klem op ons vereniging met Christus. Ons word in Christus “ingelyf” en “met Hom beklee”, sodat ons met Hom kan “saamgroei” (Institusie 3.1.1). Christus “woon in ons harte”. Daar vind ’n “mistieke eenwording” (mystica unio) plaas tussen die gelowige en Christus (Institusie 3.11.10). Dit is op grond van wat hy as die “misterie” van die vereniging met Christus sien, dat ons met God versoen word, en ons gevorm word om te wees wie ons geskape en geroepe is om te wees. Die evangelie is so ontwerp dat ons in Christus “ingeplant kan word” (1 Kor. 1:9) en dat dit die “doel van die menslike lewe is om met God verenig te word” (Hab. 2:4).

Dít gebeur veral aan die nagmaalstafel (Institusie 4.17.1). Die implikasie van ons vereniging met Christus, is dat ons ook met mekaar verenig moet wees. Omdat ons één met Christus gemaak word moet die geloofsgemeenskap, as Christus se sigbare liggaam, ook één by die nagmaalstafel word. Niemand wat in Christus is, mag uitgesluit of te na gekom word nie; almal moet in liefde en genade ingesluit word. Aangesien Christus “net een liggaam het waarin Hy ons almal deelgenote maak, moet ons noodwendig almal saam deur so ’n deelagtigheid (in sy liggaam) een liggaam word”. Gelowiges “moet in so ’n groot geesteseensgesindheid aan mekaar verbind en verbonde wees dat daar geen tweedrag of skeiding onder hul voorkom nie”. Ons het ’n “pragtige voordeel uit die sakrament gehaal, as hierdie gedagte in ons gemoedere afgedruk en ingegrif is dat ons geeneen van ons broers (of susters) leed kan aandoen, verag, verstoot, geweld kan aandoen of op enige manier aanstoot kan gee sonder om tegelyk met Christus onenig te wees nie; dat ons Christus nie kan liefhê sonder om Hom in ons broers en susters lief te hê nie; dat ons net so besorg moet wees oor ons broers en susters se liggame as oor ons s’n omdat hulle ledemate van ons liggaam is; soos geen deel van ons liggaam deur ’n gevoel van pyn geraak word sonder dat dit oor al die ander dele daarvan versprei nie, so moet ons nie toelaat dat ’n medebroer of -suster deur enige kwaad getref word sonder dat ons uit medelye vir hom ontroer word nie” (Institusie 4.17.38).

Ons vereniging met Christus, deur die Gees, hou dus baie direkte implikasies in vir die eenheid en gemeenskap van gelowiges.

5. ’n Christelike styl: Hoe praat ons met mekaar?

In die kerk, wanneer ons sterk voel oor ’n sekere saak, of dit nou is oor watter kleur die kerk se mure geverf moet word of iets ernstiger soos ampte, doop ens. kan ons maklik vergeet waaroor dit regtig gaan. Ons kan so sterk vir ons standpunt baklei dat die liefde en ander christelike waardes by die deur uitvlieg.

In 1 Korintiërs 13 kom gee Paulus vir die gemeente net weer perspektief oor waaroor dit regtig gaan. Hierdie hoofstuk moet ook in die lig van 1 Korintiërs 12 en 14 gelees word. In hierdie twee hoofstukke kom ons agter dat die gemeente uitdagings beleef het tussen die gelowiges oor watter gawes nou belangriker as ander is. Paulus gebruik die liggaamsmetafoor om te verduidelik dat elke gelowige ’n belangrike plek in die gemeente het. Die gawes wat ons van God ontvang is nie om ons eie beuel te blaas nie, maar om mekaar deur die Gees op te bou in geloof.

1 Korintiërs 13 herinner gelowiges net weer dat al ken jy al die antwoorde en het jy al die gawes en jy het nie liefde vir mekaar nie, dan beteken dit niks. Hy gaan dan verder deur in vers 4-7 vir ons te verduidelik wat liefde dan beteken. “Liefde is geduldig, die liefde is vriendelik, dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie en hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles en verdra alles.”

In vers 11 sien ons dat wanneer jy geestelik volwasse is, dan redeneer jy nie meer soos ’n kind nie. ’n Kind kan net sy eie punt insien en het nie die vermoë om in ’n ander se skoene te staan nie. As ’n mens in jou geloof groei, behoort jy ook na ander te kan luister. In vers 12 word die gemeente ook net weer herinner dat ons nog nie alles weet nie. Ons ken net gedeeltelik, maar eendag sal ons God ten volle ken. Hierdie vers moet ons aanspoor om ons eie sienings maar saggies vas te hou, in die wete dat ons nog nie alles weet nie.

Mag ons in die gesprek oor selfdegeslagverhoudings nie die woorde van 1 Korintiërs 13 vergeet nie. Mag dit ons aanspoor om mekaar met liefde en respek te hanteer.[K25]

Kommentare

[K1] Moontlik. Op dieselfde manier kan ’n mens seker dan ook redeneer dat ’n reeksmoordenaar, verkragter, boemelaar en dwelmslaaf in ’n mate ’n slagoffer van sy omstandighede is. MAAR, dit kan nie geld as regverdiging vir jou situasie nie. Hierdie persone moet steeds die volle verantwoordelikheid dra vir hulle dade.

[K2] Om die leser ’n idee te gee, volgens Types and Symptoms of Common Psychiatric Disorders is voorbeelde van psigiatriese afwykings (of geestesversteurings) die volgende: depressie, persoonlikheidsafwykings, angsversteuring, skisofrenie (om die werklike baie abnormaal te interpreteer), eetversteurings en verslawende gedrag. As homoseksualiteit uit hulle lys van psigiese afwykende gedragsverskynsels verwyder is, dan beteken dit dat hulle glo dat homoseksualiteit ’n normale verskynsel is. Dit is net hoegenaamd nie waar nie. Hierdie dokument skep die indruk dat dit deur wetenskaplike navorsing bepaal is. Die vraag is, hoe het hulle dit bepaal? Wat van soveel homoseksuele mense wat daarvan vrygekom het (kyk Getuienisse van voorheen gay mense)? As mense so gebore word, hoekom is daar geen spoor van homoseksualiteit in mense se DNS nie?

[K3] Nêrens in die Bybel word enige vorm van homoseksuele verhouding goedgepraat of goedgekeur nie. Vir meer hieroor, kyk Wat van liefdevolle, gay verhoudings?.

[K4] Hierdie stelling word herhaal en selfs uitgebrei in die 2007-besluit. ’n Mens sou seker kon redeneer dat selfs mense wat homoseksueel geörienteerd is, welkom is in die kerk mits jy homoseksuele persone in dieselfde lig sien as mense wat sukkel met dwelms, drank, pornografie of ’n kort humeur. Dit is egter duidelik iets wat oorwin moet word.

[K5] Dit is waar dat die Bybel nie vereis dat ons ons denkvermoë moet opoffer nie, maar wanneer mense hierdie sê bevraagteken ek hulle motief. Hierdie gedagte word gewoonlik heeltemal misbruik om die gesag van die Skrif te verwerp. Dit is dieselfde om te sê die Bybel is nie ’n geskiedenis of wetenskapshandboek nie. Die volgende is van toepassing hierop: “Leaving Your Brains at the Church Door?” Dr Jonathan Sarfati.

[K6] Hierdie kultuurverskille word hopeloos oordryf. Kyk gerus Die Bybel oor slawe, Vrouens en hoede en Die Bybel oor die man en vrou se rol in die huwelik.

[K7] Kyk Wie is Lulani Vermeulen? Sy was ’n homoseksuele teologiese student wat wou legitimeer en het aan die einde van 2011 groot kontroversie ontlok.

[K8] Kyk NGK 2016 sinode: lys van beswaarskrifte. Geen van hierdie beswaarskrifte is op die ou einde hanteer nie.

[K9] Kyk Oorsig van NGK 2019 hofsaak oor homoseksualiteit.

[K10] Wanneer gepraat word oor Skrifgesag word altyd baie mooi woorde gebruik soos:

  • “gesag het oor ons hele lewe”
  • “betroubaar is, omdat ons vas glo dat God werklik is soos Hy Homself in die Skrif aan ons bekend maak”
  • “duidelik is, omdat die kerk hierin die helderheid van die evangelie van God se liefde en genade hoor”

Liberale se skuiwergat is dat daar verskillende interpretasies is.

[K11] Oor die term “vasgelooptheid” kyk gerus die artikel ’n Vasgeloopte kerk deur Jan Louw.

[K12] Regsinnigheid van hart teenoor regsinnigheid van leer: Hier word gesuggereer dat progays klem lê op ’n persoonlike verhouding met God en klem lê op die beskouing dat God nie verstaan wil word nie, maar dat God eerder bemin wil word (“a thing like a love affair” – mistici). Hierteenoor is die antigays wat klem plaas op die verdediging van die leerstellinge van die kerk (“a thing like a theory” – konfessionaliste). Maar beide groepe doen dit darem uit ’n oortuiging en liefde vir God.

Dit is egter hoegenaamd nie geldig nie. Dit is weereens mooi woorde sodat mense ruimte moet maak vir mekaar. Ware liefde vir God is gehoorsaamheid aan Hom. Dit is so eenvoudig soos dit. Daarom is kern leerstellinge van uiterste belang.

[K13] Andrew Murray, Johannes du Plessis, en andere: Dit is baie interessant hoe Andrew Murray uitgebeeld word. Daar word gesê dat hy die liberale teologie beantwoord het met ’n klem op die diepe belewenis van die belydenis van die kerk. Dus was sy fokus op ’n verhouding met God en nie leerstellinge nie. Dit is nie waar nie. Hy het hierdie liberales, onder leiding van JJ Kotze, in die hooggeregshof gaan veg (Aug 1864) en het self die verdediging waargeneem. Ná ’n pleidooi van vier en ’n half uur is hy deur regter sir Sydney Bell gekomplimenteer met die opmerking dat weinig advokate dit so goed sou kon gedoen het. Hy was selfs betrokke by die appél by die Britse geheime raad in 1866 in Londen waar hy ook namens die kerk opgetree het. Dit sê baie vir die hoeveelheid ruimte wat hy toegelaat het vir ander standpunte. Die rede hoekom hierdie gids nie vir Andrew Murray in ’n “slegte” lig wil plaas nie is omdat hy so gerespekteerd was en vandag steeds erkenning ontvang deur die feit dat die pryse vir beste Afrikaanse teologiese publikasies na hom vernoem is (kyk Andrew Murrayprys).

In hierdie gids word die liberale Johannes du Plessis in ’n goeie lig gestel en die konserwatiewe groepie (Malan en Snyman) in ’n slegte lig. Hier word beweer dat hierdie konserwatiewes saligheid gekoppel het aan suiwerheid van leer in plaas van die geloof in Christus. Ek wonder of ek dit kan glo.

[K14] Neem in ag dat Ferdinand Deist ’n liberale teoloog was.

[K15] Wat is die gronde vir hierdie stelling?

[K16] ’n Mens kan hoegenaamd nie hierdie geval in Handelinge 15 vergelyk met homoseksualiteit nie. Jesus het gekom en die ou verbond vervang met ’n nuwe een. ’n Mens het begrip daarvoor dat daar mense was wat nog aan die ou verbond wou vashou. Om jouself te besnydenis of nie is egter nie sonde nie. Dit is heeltemal anders as homoseksualiteit wat as ’n sonde veroordeel word. Hoe is dit dat die kerk nog al die eeue heen homoseksualteit as ’n sonde gesien het, maar nou aan die einde van die 20ste en 21ste eeu word dit bevraagteken? Wat het intussen verander? Niks nie. Homoseksualiteit word uit en uit gedryf deur die hedendaagse humanistiese kultuur. Dit het hoegenaamd nie ’n teologiese dryf nie. Die feit dat die vyf verse wat oor homoseksualiteit handel nie eers in hierdie dokument genoem word nie, bevestig dit. Om Paulus uit te beeld as iemand wat gedurig ruimte gemaak het vir verskillende teologiese sieninge is oneerlik. Oor die besnydenis sê Paulus: “Ek wens die mense wat dié verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (Galasiërs 5:12). Kyk ook Kyk Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade en Die Bybel oor dwaling.

[K17] Daar was natuurlik in sommige gevalle ruimte geskep en ons moet vandag ook ruimte skep vir mense, maar slegs oor randkwessies. Homoseksualiteit is nie ’n randkwessie nie. Dit is iets waaroor die Bybel baie duidelik is. As dit ’n randkwessie is, wat nog: Jesus se opstanding, sy wonderwerke, die bestaan van die duiwel, hel?

[K18] Dit is verregaande om ’n saak te probeer maak vir verskillende sieninge oor homoseksualiteit deur na die verskillende geestelike gawes te verwys. Hier word na strooihalms gegryp.

[K19] Hier word beweer dat antigays in een of ander bevoorregte posisie staan en dit gaan verloor deur ruimte te maak vir progays. Hoe kom die skrywers van hierdie gids hieraan?

[K20] Ek faal totaal om te sien hoe hierdie argument bydra daartoe dat ons ruimte vir mekaar moet maak. Uit Galasiërs 1:13-16 leer ons dat geen sonde te groot is vir God om te vergewe nie, mits jy daarvan wegdraai en omvergifnis vra. Die boodskap hier is dat daar genade is vir enige eksgay, nie vir gays wat in ’n gayverhouding leef nie.

[K21] Hierdie tipe van stellings getuig van desperaatheid om ’n punt te maak.

[K22] Daar is alreeds ’n wesenlike verskil tussen die kernwaarhede van liberales en behoudendes in die NG Kerk. Wil die skrywers van hierdie gids nie so gaaf wees en voorbeelde van kernwaarhede vir ons gee nie? Ek dink nie ons stem hoegenaamd saam oor wat die kernwaarhede is nie. Kyk byvoorbeeld Fanie Snyman moeg vir verdagmakery wat ’n lys gee van liberale teologiese dosente.

[K23] Om selibaat te bly, of om nie drank te gebruik, of om sendingveld toe te gaan of my motor vir ’n goeie saak weg te gee is uitstekende voorbeelde van dinge wat deel is van jou persoonlike geloof. Homoseksualiteit is egter baie duidelik nie so ’n persoonlike kwessie. Die Bybel is duidelik daaroor.

[K24] Dus, omdat ons nie op alles antwoorde het nie moet ons ruimte maak vir homoseksualteit. Nie geldig nie. Deur dieselfde argument moet ’n mens dan ruimte maak vir pedofilie, moord, steel en egbreuk.

[K25] Sover moontlik moet ons beskaafd met mekaar praat, maar tog wil ek herinner hoe onverdraagsaam Paulus en selfs Jesus was met tye. Kyk Jesus se “liefdelose” uitsprake en dade en Die Bybel oor dwaling. Om een voorbeeld te noem: Handelinge 13: (9)Maar Saulus, dit is Paulus, vol van die Heilige Gees, het hom skerp aangekyk(10)en gesê: “Duiwelskind! Deurtrapte skelm en bedrieër! Vyand van alles wat reg is! Sal jy ophou om in die pad van die Here te staan!

3 thoughts on “Selfdegeslagbesluit: Nuwe gids wil sinodes en lidmate help”

  1. BAIE dankie vir die plasing hiervan Daniel. Ek het ook die GIDS gelees. Hier is ’n paar inleidende opmerkings voordat ek my indrukke puntsgewys gee:

    Waarom vind die ASM (as die opdraggewer van die hele proses om die GIDS te versprei en “te verkoop” aan lidmate, gemeentes, sinodes) dit hoegenaamd nodig om hulself te verdedig rakende besluite van ASM2019? En waarom is die hooffokus spesifiek selfdegeslagverhoudings, al is daar met AS2019 meer as 15 ander besluite geneem? Is dit reg om in hierdie moeilike tye geld te spandeer aan sodanige GIDS, om spanne saam te stel om rond te gaan en mense verder “in te lig”? In my heugenis het dit nog nooit vantevore gebeur nie (nee nou onthou ek: iets soortgelyks het met Belhar en die voorgenome verandering van Artikel 1 van die Kerkorde gebeur). Met die Moreletapark Beraad is dit oor en oor gestel dat die leergeskil oor veel meer as selfdegeslagverhoudings gaan. Is hierdie abnormale aandag aan selfdegeslagverhoudings juis omdat DIT agenda is: om die gay kwessie met alle mag vorentoe te dryf?

    “Die Algemene Sinode neem kennis dat verskille in die kerk ten opsigte van Skrifhantering en Skrifuitleg tot VASGELOOPTHEID gelei het, en dat voortgaande besinning oor verantwoordelike Skrifuitleg steeds nodig is”(AS Oktober 2019). Hiermee wil ek afskop want ek sou die VASGELOOPTHEID eerder wou beskryf as “VASGEVERFDHEID”, dat hulle hulself in ’n hoek vasgeverf met veral drie gebeurtenisse: Die eerste was in Kraaifontein toe ʼn openlike gay ds Louis van der Riet as leraar van die NG Kerk bevestig is (Februarie 2019) en ’n paar maande later in Julie 2019 Philipp Dietmann wat in ’n selfdegeslagverbintenis is, as predikant bevestig is in NG Gemeente Stellenberg. Die derde was natuurlik die opspraakwekkende gay hofsaak. Die reaksie op al hierdie dinge was geweldig groot. Die Weskaapse sinode en ASM was nou in ’n krisis en “skadebeheer” moes toegepas word. As die “genie” uit Aladdin se lampie is, hoe kry jy dit terug?

  2. MY GESPREKSPUNTE OOR DIE “GIDS”:

    1 Oorhaastig en ondeurdag

    Dat hierdie dokument (GIDS) oorhaastig en ondeurdag voorberei was, moet ’n mens seker nie verbaas nie, gesien in die lig van die oorweldigende reaksie wat daar vanuit die geledere van besorgde lidmate deur die jare opgebou het en ge”eskaleer het in reaksie op meer onlangse gebeure soos in Kraaifontein en Stellenberg en die gayhofsaak. Dat een van die die grootste gemeentes in die land naamlik Moreletapark hul voornemens uitgespreek het om ’n buitengewone beraad te hou wat oop sou wees vir enige besorgde lidmaat van enige deel van die land kon ook ’n rol gespeel het – – daar sou dringend skadebeheer toegepas moes word. Saam met die “vasgelooptheid” was hierdie faktore klaarblyklike redes vir die opstel van hierdie dokument. Die huidige leierskap het navorsing gedoen en bevind dat daar ’n middelgroep besluitlose, beinvloedbare gemeentes/lidmate bestaan wat so gou as moontlik oorreed moet word na hulle standpunte. Verder is daar besorgde lidmate wat van mening is dat 2019 se besluite (wat blykbaar kom vanuit een beskrywingspunt) onregmatig ingedien is onder voorwendsel dat dit van die Sinode van Wes-Kaapland kom. Is hierdie onderdagte optrede dalk vanwee oorhaastigheid?

    2 Gryp na strooihalms en ’n gegorrel

    Waarom word die woord “vasgelooptheid” skielik verander na “verstrengeldheid” (wat glo ontknoop kan word) ? Dit is na my mening ’n gryp na ’n strooihalm en verander niks aan die feit dat die AS2019 hulself in ’n hoek vasgeverf het en nie weet hoe om daar uit te kom nie – ’n flou poging om verkeerde dinge reg te stel. Bo aan p.22 (tweede paragraaf) staan : “Die voorbeeld van Handelinge 15 kan ons as kerk gerusstel dat ons 2019 besluit ’n Bybelse manier van besluit is”. Nog ’n strooihalm. Veelvuldige verwysings na en aanhalings van slim mense (selfs Calvyn se Institusie) oortuig nie en is bloot ’n gegorrel wat nie waarlik tot ’n punt kom nie.
    3 Denkspronge

    Menslike denke word gebruik sonder Bybelse begronding om diepgaande verandereings aan besluite te maak. Op p. 14 (punt 7.4) word “seksuele orientasie en –identiteit” byvoorbeeld bygevoeg om ruimte te maak vir die gay-agenda. Ook op ander plekke. Bo aan p.23 (derde paragraaf) staan : “In kort genees diversiteit ons op ’n manier wat ons nie eens kan bedink in ’n eenvormige wereld nie!” Hoe word daar van die voorafgaande na so ’n konklusie anders as met ’n denksprong!

    4 Buite konteks

    Baie min Skrifgedeeltes word aangehaal in vergelyking met die geskrifte van sogenaamde geleerdes. Is dit om die naiewe deursnee lifmaat te flous en beindruk en geleerd voor te kom met “diepgaande navorsing”? Waar die Woord wel aangehaal word, word dit nie behoorlik binne konteks gebruik nie of om ’n bepaalde agenda te bevorder, soos die reedsgenoemde voorbeeld van Handelinge 15.

    5 “Liefdeis liefde”

    Die spreuk “liefde is liefde” wat die mantra was van die skynbaar suksesvolle AS2015 word oral tussen die lyne weer gebruik om twyfelendes te oorreed. Besorgde lidmate word baie dikwels van liefdelose optrede teenoor gays beskuldig, maar WAT is ware Bybelse liefde? Is dit nie om die sondaar te waarsku dat sy/haar pad nie in lyn is met God se Woord nie?

    6 Dinge wat weerspreek word of bloot net nie sin maak nie

    Daar is dinge wat mekaar weerspreek: in die een asem word gese dat die Bybelse huwelik nog hoog geag word deur die ASM, maar ’n paar bladsye later word dit aan gemeentes oorgelaat om self te beluit ? (p. 18 ) Die Engelse het ’n uitdrukking dat ’n mens nie ’n speler en skeidsregter tegelyk kan wees nie. In die GIDS op p 14 staan daar dat ATLAS die opdrag gegee word om ’n formulier te ontwikkel vir die bevestiging van burgerlike verbintenisse tussen mense van dieselfde geslag – dit gaan dus verder as AS2015. Die hele saak rakende selfdegeslagverbintenisse is dan nog onder bespreking, hoe kan so ’n stap dan geneem word? ’n Ander saak is dat die AS “verbind is tot ’n voortgaande en nederige diepe luister na mekaar … “ (p.13 punt 3)!! EENSYDIG luister JA! Na net een kant van die saak. ’n Dowe oor word verleen aan die kant van besorgde lidmate!! Wat van die nalaat om met AS2019 die Skriftuurlike en teologiese besware in die gravamina (in die GIDS word self erken dat daar meer as 600 bladsye was) aan die orde te stel en te bespreek? (Dit is op ’n CD gesit waar gemeentes self kon besluit of hulle daardeur wil gaan of nie). Die Algemene Sinode se oordrewe herhaling van verskonings aan die gay-gemeenskap, terwyl verskonings ontbreek vir die geweldige groot finansiële-, geestelike- en integriteitskade wat die Algemene Sinode reeds veroorsaak het aan die NG Kerk en die besorgde (en ook naiewe goedgelowige lidmate) lidmate wat erns maak met die Woord van God, word betreur!!

    7 Liberalisme en humanisme met gepaardgaande hoogagting van mens- en gedragswetenskappe

    Liberalisme en humanisme is die modedenke van die dag, dwarsoor die wereld. Amerika is seker die beste voorbeeld en die NGK in SA is ook nie oorgeslaan deur hierdie gees nie. Godsdienstige humanisme is ’n integrasie van ’n humanistiese etiese filosofie waar menslike behoeftes, belangstellings en vermoëns .sentraal staan. Die GIDS is vol van voorbeelde hiervan. Menseregte word so dikwels die fokus, terwyl die Bybel menslike aanspreeklikheid en verantwoordelikheid teenoor God voorhou. Die ASM en diegene wat by hierdie GIDS betrokke is, moet weer die NGB lees : wereldbeeld en wetenskap (ook mens-en gedragswetenskappe), kultuur, geskiedenis, en so meer is ONDERGESKIK aan die GODDELIKE WOORD! (Art 2, NGB): “God maak Hom nog DUIDELIKER en MEER VOLKOME aan ons deur Sy Heilige en GODDELIKE WOORD bekend”.

    8 Min-agting van God se Woord

    Hierdie hang saam met punt 6. Die oormatige klem wat gele word op geskrifte van mense, die mens- en gedragswetenskape en die min verwysings na en gebrek aan diepgaande Bybelstudie oor spesifieke dele van die Bybel is opvallend. Vir besorgde lidmate is dit nie aanvaarbaar nie, aangesien die Skrif ons beveel om aan God en Sy Woord meer gehoorsaam te wees as aan mense of menslike leringe. Die 2019 besluite stem grootliks ooreen met die 2015-besluite waarteen steeds dieselfde teologiese besware vanuit die Bybel en belydenisskrifte bestaan, maar wat nie deur die Algemene Sinode hanteer of beoordeel is nie

    Henrietta Klaasing – 24 Maart 2020.

  3. Nog ’n kwessie wat onder die loep geneem sal moet word, is of die opstel van die GIDS dalk onkerkordelik is. Een van die punte onder riglyne vir behoudende lidmate wat genoem is by die Moreletapart Beraad is 5.2. Dat van die prosedures/ besluite tydens AS2019 moontlik onkerkordelik sou wees. “Die besluit is gefinaliseer welwetend dat dit baie omstrede is. Sien Art 3 punt 4.2 van 2019 se Kerkorde. Dit is ’n ooreenkoms wat sedert 1994 in die kerk geld. Die sinode het ten spyte van voorstelle en uitdruklike versoeke uit die vergadering in 2015 en weer in 2019, geweier om die ooreenkoms gestand te hou.” (Geneem uit die dokument wat na MPB versprei is). Is die GIDS wat voortgevloei het uit ’n onkerkordelike besluit, dan nie ook onkerkordelike nie – – dit wonder ek net by sigself.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui