Oor ’n mensgerigte godsdiens

Kyk die volgende kommentaar op Neels Jackson se artikel hieronder:

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

Oor ’n mensgerigte godsdiens | Kerkbode

Neels Jackson

12 Oktober 2022

Die NG Kerk en spesifiek die Algemene Sinode word deesdae meermale verwyt dat dit ’n ideologie van sosiale geregtigheid nastreef, of anders gestel, dat dit ’n mensgerigte godsdiens beoefen. Die vraag wat gereformeerde gelowiges moet vra, is wat ons in die Bybel oor mensgerigte godsdiens lees. Neels Jackson deel tien teksgedeeltes met enkele gedagtes oor elkeen.

  1. Markus 2:23-28. In hierdie gedeelte neem die Fariseërs Jesus kwalik omdat Hy niks doen om te keer dat sy dissipels op die sabbat koringare afpluk nie. Die Fariseërs is gesteld op die handhawing van God se wet. En uit Eksodus 20:9-11 is dit duidelik dat God se wet bepaal dat ’n mens geen werk op die sabbat mag doen nie. Die Fariseërs laat hulle nie beïnvloed deur menslike behoeftes nie. Hulle laat die wet alleen hulle lei. In sy antwoord aan hulle, verklaar Jesus: “Die sabbatdag is vir die mens gemaak, en nie die mens vir die sabbatdag nie.” Daarmee dui Jesus aan dat ’n mensgerigte vertolking van die wet die korrekte een is.
  2. Markus 3:1-6: Jesus is op die sabbat saam met ’n aantal Fariseërs en ’n man met ’n gebreklike hand in ’n sinagoge. Die Fariseërs se fokus is weer die wet. Hulle hou Jesus dop om te sien of hy die man met die gebreklike hand op die sabbat gaan gesond maak, sodat hulle hom kan aankla. Jesus kyk hulle kwaad aan en “was diep bedroef oor hulle verhardheid”. Dan genees Jesus die man en die Fariseërs begin ’n komplot om Jesus om die lewe te bring. Jesus het die mensgerigte benadering gevolg en daarvoor wou die Fariseërs Hom om die lewe bring.
  3. Markus 5:25-34: Op pad na Jaïrus se huis raak ’n vrou wat aan bloedvloeiing ly, aan Jesus se klere. Jesus gaan staan en luister na haar storie. Al is sy onrein. Al is sy ’n vrou. Jesus besef hier is iemand in nood en hy bestee tyd aan haar. Hy maak haar gesond. Sy is maar een van die mense vir wie Jesus tyd maak, dikwels ten spyte daarvan dat dit die sosiaal onaanvaarbare ding was om te doen. Hy maak tyd vir kinders, vir vroue, vir tollenaars, vir sondaars, vir ’n Romeinse offisier. Jesus kom wys vir ons hoe ons op mense ingestel moet wees.
  4. Markus 8:1-10: Hierdie teks handel oor Jesus se tweede vermeerdering van die brood. As moderne mense sulke verhale van Jesus se wonderwerke lees, roep dit dikwels die vraag op: “Hoe is dit moontlik?” Ons behoort liewer te vra waarom Jesus die wonderwerk gedoen het. In hierdie verhaal gee Jesus self die antwoord: “Ek kry hierdie mense innig jammer, want hulle is nou al drie dae lank hier by My en hulle het niks om te eet nie.” Gaan lees ’n mens die verhale van Jesus se ander wonderwerke, sien ’n mens dieselfde mensgerigte benadering van Jesus telkens raak. Hy sien iemand se nood raak en gryp in om daardie nood te verlig.
  5. Matteus 5:23-24: In sy bergrede maan Jesus sy volgelinge dat as hulle ’n offer na die altaar toe bring en dit val hulle by “dat jou broer iets teen jou het”, dan moet hulle eers die saak met die broer gaan regmaak en dan die offer kom bring. Jesus praat hier oor iemand wat die Godgerigte ding wil doen om ’n offer te bring. Volgens Jesus moet so iemand egter eers die mensgerigte ding doen om die saak met ’n medemens uit te klaar. Eers as dit gedoen is, kan die persoon die Godgerigte ding kom doen.
  6. Matteus 25:31-46: Jesus praat hier oor die laaste oordeel, en Hy maak duidelik dat daar geoordeel gaan word op grond van hoe mense opgetree het teenoor ander mense wat in nood verkeer: mense wat honger, is, dors is, vreemdelinge is, sonder klere is, siek is, in die tronk is. En Hy maak dit duidelik dat hoe ’n mens teenoor daardie mense optree, eintlik is hoe ’n mens teenoor Jesus self optree. As jy vir iemand wat honger is, kos gee (of nie gee nie), is dit so goed of jy gee vir Jesus self kos (of jy gee nie vir Hom kos nie). “Vir sover julle dit aan een van die geringstes van hierdie broers van My gedoen het, het julle dit aan My gedoen,” sê Jesus. Die manier waarop ons ons liefde vir God betoon, is deur reg aan die minstes te laat geskied.
  7. Johannes 13:34-35 en Johannes 15:12 en 17: Drie keer gee Jesus in hierdie gedeeltes die opdrag: “Julle moet mekaar liefhê.” Dit is ’n opdrag om mensgerig te wees. Waarom, sou ’n mens kon vra, sê Jesus hier niks daarvan dat sy volgelinge God moet liefhê nie? Wat het van die Godgerigtheid geword? Natuurlik moet ons vir God liefhê. Maar die manier waarop ons God moet liefhê, is deur mekaar lief te hê. Jesus se opdrag om mekaar lief te hê, impliseer die liefde tot God. ’n Godgerigte lewe vind neerslag in ’n mensgerigte lewe.
  8. Markus 10:35-45: Die verwagting wat Jesus se dissipels van Hom gehad het, was die algemene Messiasverwagting wat die Jode destyds gehad het. Hulle het uitgesien na ’n messias wat die koninkryk van Dawid sou herstel en hulle van die Romeinse oorheersing sou bevry. Teen daardie agtergrond vra Johannes en Jakobus in hierdie gedeelte dat hulle die ereplekke weerskante van Jesus in sy nuwe koninkryk kan beklee. Hulle vra na posisies van mag en invloed en eer. Maar die koninkryk wat Jesus verkondig, is nie dié van Dawid of soos enige ander koninkryk nie. Jesus verduidelik vir hulle dat die magtiges in aardse koninkryke baasspeel oor hulle mense. Jesus dui ’n ander weg vir sy volgelinge aan. Hulle moet mekaar dien. Hulle moet almal se dienaar wees. Dit is ’n mensgerigte benadering wat Jesus aan hulle voorhou.
  9. Johannes 13:1-17: Die aand voor sy kruisiging, en voordat Jesus die Paasmaal met sy dissipels deel, was Hy hulle voete. Hy verduidelik vir hulle dat Hy daarmee ’n voorbeeld stel. Soos Hy met hulle gedoen het, moet hulle ook met mekaar doen. Jesus se dissipels moet ingestel wees op die nood en behoeftes van die mense om hulle, en hulle moet mekaar dien om daardie nood en behoeftes te vervul.
  10. Johannes 19:26-27: Terwyl Jesus aan die kruis hang en besig is om ’n stadige en wrede dood te sterf, gee Hy aandag aan sy ma en aan sy geliefde dissipel. Vir haar sê Hy: “Daar is jou seun,” en vir hom: “Daar is jou moeder.” Tot in sy sterwensuur is Jesus gerig op die behoeftes en nood van mense.

Die Evangelies is vol daarvan dat Jesus ’n mensgerigte lewe kom leef het en dat Hy van sy volgelinge verwag om Hom hierin te volg.

Die Evangelies bring hiermee nie iets nuuts na die Bybel nie. Reeds in Genesis 12, as God vir Abram roep, seën God hom sodat hy tot ’n seën vir ander sal wees. Die profete neem deurgaans sterk standpunt in teen onreg en verdrukking. ’n Mens vind die boodskap dwarsdeur die Bybel. Die brief van Jakobus verklaar dat egte en suiwer godsdiens onder meer is om om te sien na die behoeftes van die weeskinders en weduwees, die weerloosste mense van die destydse samelewing.

’n Besorgdheid oor die lot van die medemens lê aan die hart van die evangelie.

Neels Jackson is ’n voormalige redakteur van Kerkbode.

Kommentaar

Henrietta Klaasing

Neels Jackson konsentreer so hard op ‘n eensydige “evangelie” dat Jesus ’n mensgerigte lewe kom leef het, dat hy Jesus as Messias miskyk. Neels verwys op twee plekke na die Sabbat. Dit gaan nie bloot oor mense soos Neels skryf nie – Jesus se gesag as Heer van die Sabbat word beide kere beklemtoon.

Hy verwys na die mensgerigtheid van Jesus se wonderwerke. Sy genesingswonders dui altyd op ’n groter waarheid, naamlik dat Jesus die Seun van God met gesag is. Wanneer Hy demone uitdryf, word Sy gesag oor hulle beklemtoon. Net so beklemtoon van die wonderwerke Jesus se gesag oor die natuur. Sy werke is gekenmerk deur gesag aangesien Sy woorde krag gedra het om dit uit te voer. Jesus het wonderwerke gedoen om die waarheid van Sy boodskap te demonstreer.

Neels verwys na die die tweede vermeerdering van die brood in Markus 8 dat dit wys hoe Jesus vir mense omgee. Hy moet ook in Johannes 6 oor die eerste vermeerdering van die brood lees waar die ryk, diep betekenis van die wonderwerk van die brood duidelik uitkom. Dit lyk asof Neels net soos die skare, so betower is met die kos, dat hulle die feit gemis het dat hulle Messias gekom het, dat HY die Brood van die Lewe is. Daar is ook ‘n kosbare heenwysing na die dieper betekenis van die Nagmaal.

Neels verwys na die Ou Testament en skryf dat die profete deurgaans sterk standpunt inneem teen onreg en verdrukking. Jesus self het vir die Emmausgangers en Sy dissipels by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake (ook in die Psalms) wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê (Lukas 24:27,44-45). Ook ons moet die Messias in die Ou Testament raaksien.

Moenie Jesus as Messias miskyk nie!

Stefaan de Jager

Daar is ’n hemelsbreë verskil tussen die ideologie van sosiale geregtigheid en ’n mensgerigte godsdiens.

Natuurlik is die Evangelie `n mensgerigte godsdiens, want God het immers Mens geword en die Skrifgedeeltes wat hier aangehaal word, wys tereg daarop hoe belangrik God mense ag, want Hy het immers Sy lewe vir mense kom gee. Die tweede gebod leer dat ons ons naaste moet liefhê soos onsself, en dat hierdie tweede gebod gelyk staan aan die eerste gebod wat leer dat ons God moet liefhê.

Wanneer die kerk egter in ’n ideologie van sosiale geregtigheid sou verval, sou dit wees omdat die eerste en tweede gebod omgeruil word. Dan word die liefde vir God en die erkenning van die Bybel as Sy Woord op die agtergrond geskuif en die mens word as’t ware vergoddelik, ’n vergoddeliking wat ons humanisme noem.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui