Kobus Lazenby: ’n Brief aan die president

*******

Kobus Lazenby: ’n Brief aan die president | Netwerk24

Kobus Lazenby

12 Oktober 2022

Beste mnr. Ramaphosa,

Ek weet nie werklik hoe ek hierdie brief moet begin en wat ek moet sê nie, want daar is so baie dinge op my gemoed.

Ek het die voorreg gehad om in 1994, met die eerste demokratiese verkiesing, ’n voorsittende beampte tydens die stemdae by ’n stemlokaal in Bloemfontein te wees. Dit was ’n aangename ervaring en die atmosfeer was swanger van opwinding, afwagting, onsekerheid, vrees en opgewondenheid.

’n Nuwe daeraad het aangebreek, of so het dié van ons wat positief gesind was gedink. Die eerste tien jaar het in ’n sekere mate aan hierdie positiwiteit substans gegee en het dit relatief goed gegaan. Maar toe begin dinge versleg, veral tydens die periode waar u adjunkpresident was en Jacob Zuma die president.

Ek, en ek glo duisende ander mense, was gefrustreerd omdat u stilgebly het terwyl al die korrupsie en staatskaping voortgegaan het. U het stilswyend en ontkennend toegelaat dat die land op die afdraande pad gestuur word. Ek het in ’n sekere sin u strategie verstaan, want sou u tóé teen die president gegaan het, het hy u eenvoudig vervang, soos destyds met hom gebeur het.

Toe gebeur 2018 en u word president. Ek was opgewonde en baie optimisties dat dinge nou gaan gebeur. U is gereken as die leier wat Suid-Afrika nodig het. Die land was opgewonde en optimisties dat dinge gaan verander, want u was mos deel van die skrywers van een van die beste grondwette ter wêreld!

Maar helaas – niks het op die oog af veel verander nie. ’n Paar nuwe ministers is aangestel, maar ons sit nog steeds met die té groot kabinet. Kommissies is aangestel om dinge te ondersoek. Ja, ek gee toe, die wiel draai stadig, maar ons het meer bewyse nodig dat dinge ten goede gaan verander.

U was ongelukkig om ’n Covid-19-pandemie te bestuur. Ons het u jammer gekry met die heel eerste familievergadering en het u ondersteun, maar u het toegelaat dat drakoniese regulasies ons ekonomie verlam het en u het daarmee onder meer stilswyend toegelaat dat smokkelhandel vastrapplek gekry het.

Ons is nou verby die Covid-19-fiasko, en ek verstaan nie, meneer die president – wat hou u nog terug?

Ons het ’n ander pandemie – Eskom. Is die ANC so verdwaas oor al die eise en pligte van “regering wees”? Weet die ANC nie wat om met ons mooi land te doen nie?

U ken die storie van die hond wat die motor jaag en vang en dan nie weet wat om daarmee te doen nie. Die ANC het in 1994 die motor gevang en dit blyk deesdae nie te weet wat om daarmee te doen nie.

Meneer die president, u is ’n strateeg. In my jare as dosent in strategie het ek altyd vir my studente gesê die doel van strategie is om ’n organisasie van punt A na ’n beter punt B te neem – dit word genoem optimale posisionering.

Daar is net een van drie uitkomste vir enige organisasie (ook ons land): ’n beter punt B, ’n slegter punt B of ons bly by punt A en stagneer en misluk. Slaag u as president, en in breër verband die ANC, daarin om ons mooi land met sy enorme potensiaal van punt A na ’n beter punt B te neem? Met watter opsie is ons besig? En waar is ons? Op pad na ’n beter punt B?

Wees asseblief eerlik! Moenie die land bluf nie – die ANC terg homself met die idee dat dinge beter gaan. (Miskien gaan dit beter met ’n paar elite-mense wat danksy korrupsie al die pad bank toe lag.)

Wat my verder ontstel, is dat die ANC-regering toelaat (en die oorsaak is) dat belowende en talentvolle jong mense die land verlaat op soek na beter alternatiewe omdat hulle geen vooruitsigte in hierdie mooi land van ons het nie.

Dit veroorsaak dat ek as ouer hartseer is oor my kind die land moet verlaat omdat hy vir homself en sy gesin geen toekoms sien nie. Ek is kwaad vir die regering van die dag dat hy my en ander se familiebande opbreek. Dit is die geval by so baie Suid-Afrikaanse ouers.

Dit, en so baie ander dinge, is hoekom daar ’n weerstand teen die ANC-regering aan die opbou is. Géén wêreldklas-organisasie sal toelaat dat daar ’n verlies aan bevoegde menslike hulpbronne is wat die organisasie kon help om van punt A na die beter punt B te beweeg nie. Dit laat my ongelukkig net met een gevolgtrekking: Die ANC as regering en party is geen wêreldklas-organisasie nie.

Daar is soveel welwillendheid onder Suid-Afrikaners – wit, bruin en swart – maar hierdie welwillendheid word deur die ANC-regering verwoes en vertrap.

Mnr. Ramaphosa, oor twee jaar is daar ’n algemene verkiesing en ek ys as ek dink dat u nie weer die presidentskandidaat vir die ANC gaan wees nie, want u het dit in u om ’n beter uitkoms vir hierdie land te help bewerkstellig.

Maar dan moet u uit die loopgraaf kom waar u wegkruip en begin veg vir ’n beter Suid Afrika. U is dit ten minste verskuldig vanweë al die rykdom wat u in hierdie mooi land van ons geniet.

Komaan, wys wat in u steek.

Sterkte!

Kobus Lazenby

* Lazenby is ’n afgetrede medeprofessor aan die Universiteit van die Vrystaat en boer deesdae in Heidelberg in die Wes-Kaap. Die mening van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui