Moenie Jesus as Messias miskyk nie!

Kyk ook:

Die volgende is geskryf deur Henriëtta Klaasing in reaksie op Neels Jackson se Oor ’n mensgerigte godsdiens (12 Oktober 2022). Dit is aan Kerkbode gestuur, maar dit is nie geplaas nie.

********

Neels Jackson konsentreer so hard op ‘n eensydige “evangelie” dat Jesus ’n mensgerigte lewe kom leef het, dat hy Jesus as Messias miskyk. Neels verwys op twee plekke na die Sabbat. Dit gaan nie bloot oor mense soos Neels skryf nie – Jesus se gesag as Heer van die Sabbat word beide kere beklemtoon.

Hy verwys na die mensgerigtheid van Jesus se wonderwerke. Sy genesingswonders dui altyd op ’n groter waarheid, naamlik dat Jesus die Seun van God met gesag is. Wanneer Hy demone uitdryf, word Sy gesag oor hulle beklemtoon. Net so beklemtoon van die wonderwerke Jesus se gesag oor die natuur. Sy werke is gekenmerk deur gesag aangesien Sy woorde krag gedra het om dit uit te voer. Jesus het wonderwerke gedoen om die waarheid van Sy boodskap te demonstreer.

Neels verwys na die die tweede vermeerdering van die brood in Markus 8 dat dit wys hoe Jesus vir mense omgee. Hy moet ook in Johannes 6 oor die eerste vermeerdering van die brood lees waar die ryk, diep betekenis van die wonderwerk van die brood duidelik uitkom. Dit lyk asof Neels net soos die skare, so betower is met die kos, dat hulle die feit gemis het dat hulle Messias gekom het, dat HY die Brood van die Lewe is. Daar is ook ‘n kosbare heenwysing na die dieper betekenis van die Nagmaal.

Neels verwys na die Ou Testament en skryf dat die profete deurgaans sterk standpunt inneem teen onreg en verdrukking. Jesus self het vir die Emmausgangers en Sy dissipels by Moses en al die profete begin en al die Skrifuitsprake (ook in die Psalms) wat op Hom betrekking het, vir hulle uitgelê (Lukas 24 vers 27, 44, 45). Ook ons moet die Messias in die Ou Testament raaksien.

Moenie Jesus as Messias miskyk nie!

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui