Ontkenning van Jesus se Godheid is vernietigend

Kyk ook KOMMENTAAR onderaan.

*******

BRIEF | Ontkenning van Jesus se Godheid is vernietigend | Rapport

Sondag, 15 Januarie 2023

Ds. Stefaan de Jager, Jeffreysbaai, skryf:

Rapport (8 Januarie) berig oor dr. Peter Nagel, ’n teologiedosent aan die Universiteit Stellenbosch, wat sê dat senior kerkleiers hom “teologies verkrag” het toe hy voor stok gekry is oor ’n akademiese artikel waarin hy skryf dat Jesus nie God is nie.

Die kerkhervormer Johannes Calvyn tref in sy Institusie die volgende onderskeid: “Geringe afdwalinge maak die bediening ook nie onwettig nie, dit wil sê dwalinge wat die hoofsaak van die leer nie raak nie, waaroor daar eenstemmigheid behoort te wees. As die hoofsaak van die leer egter vervals is, volg daarop noodsaaklik die ondergang van die kerk. Paulus sê dat die kerk gebou is op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is (Ef 2:20). As die fondament weggeneem word, hoe sal die gebou dan bly staan?” [Kommentaar: Kyk Johannes Calvyn oor kerkskeuring.]

Dit wil my voorkom dat verskille oor byvoorbeeld selfdegeslagverhoudings (tans); apartheid (destyds); klein- of grootdoop; die vrou in die amp, ensovoorts, as “geringe afdwalinge” sou kon deurgaan. Waar die Godheid van Jesus Christus egter ontken word, gaan dit oor die hoofsaak van die leer wat vervals word, oor die fondament wat weggeneem word, naamlik dat Jesus Christus “my Here en my God” is, soos Thomas dit bely het (Joh 20).

Om die Godheid van Christus te ontken is geen geringe afdwaling nie, dit is teologies vernietigend.

Kommentaar

Daniel Louw

Stefaan beweer dat die goedkeuring van selfdegeslagverhoudings, saam met apartheid, die doop en die vrou in die amp as ‘n “geringe dwaling” gesien kan word.

Die Bybel is egter baie duidelik daaroor dat selfdegeslagverhoudings sonde is (kyk Die Bybel oor homoseksualteit). Om dus te beweer dat selfdegeslagverhoudings ‘n geringe dwaling is, sou dieselfde wees as om te sê dat die goedkeuring van moord, diefstal en pornografie, ‘n geringe dwaling is. Dit is ook presies hoekom die goedkeuring van selfdegeslagverhoudings in die NG Kerk die laaste strooi was wat tot die ontstaan van Kairos Netwerk gelei het.

Verskillende sieninge oor die doop en die vrou in die amp, aan die ander kant, is nie sonde nie en is daarom “geringe dwalinge” of eerder randsake. Nog voorbeelde van randsake is waarskynlik die wegraping, die uitverkiesing en die kindernagmaal. (Vir meer hieroor, kyk Is homoseksualiteit ‘n randkwessie?)

Wat van apartheid?

Apartheid was te gekompliseerd om dit bloot in geheel af te maak as sonde. Maar kom ons veronderstel egter dat apartheid in sy geheel sonde was, dan sou apartheid ook nie ‘n “geringe dwaling” wees nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui