Is homoseksualiteit ‘n randkwessie?

Is homoseksualiteit ‘n randkwessie?

Toe die NG Kerk in 2019 ruimte gemaak het vir selfdegeslagverhoudings was daar mense wat gevoel het dat dit ‘n randkwessie is en daarom was dit ‘n goeie besluit.

Wat is ‘n randkwessie?

Randkwessies is dinge:

  1. waaroor die Bybel nie duidelik is nie
  2. wat nie sonde is nie
  3. wat nie jou redding sal beïnvloed nie

Nog ‘n manier om iets te toets vir ‘n randkwessie is of ‘n mens die persoon nog as ‘n broer of suster in die geloof kan sien en of jy hulle as ‘n dwaalleraar sien.

Kom ons meet homoseksualiteit teen hierdie drie dinge:

Duidelikheid

Wanneer die Bybel eenvoudig gelees word (die voor die handliggende interpretasie), is dit baie duidelik dat die Bybel homoseksualiteit op ten minste vyf plekke in die Bybel baie pertinent veroordeel en selfs as ‘n afstootlike en afskuwelike sonde beskryf:

  1. Levitikus 18:22: Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde. (Let daarop dat feitlik ál die voorskrifte in Levitikus 18 vandag nog net so geldig is.
  2. Levitikus 20:13: Twee mans wat homoseksueel verkeer, doen ’n afskuwelike sonde. Hulle moet doodgemaak word. Hulle verdien die dood.
  3. Romeine 1:27: Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit.
  4. 1 Korintiërs 6:9-10: (9)Of weet julle nie dat mense wat onreg doen, geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen (10)of diewe of geldgieriges of dronkaards of kwaadpraters of bedrieërs sal deel kry aan die koninkryk van God nie.
  5. 1 Timoteus 1:9-10: (9)’n Mens moet onthou dat die wet nie vir die wetsgehoorsame bedoel is nie, maar vir mense wat hulle nie aan wet en orde steur nie, goddeloses en sondaars, mense sonder eerbied vir wat heilig en gewyd is, dié wat vader of moeder doodmaak, moordenaars, (10)ontugtiges, mense wat homoseksualiteit beoefen, ontvoerders, leuenaars, dié wat meineed pleeg of enigiets anders doen wat met die gesonde leer in stryd is.

Geen plek in die Bybel noem homoseksualiteit in ’n positiewe of selfs neutrale lig.

Om dit te betwyfel, moet jy die gesag van die Bybel bevraagteken.

Sonde

Al vyf dele in die Bybel wat praat oor homoseksualiteit sê dat dit sonde is. Daarom moet homoseksualiteit dieselfde hanteer word as ander sondes soos moord, verkragting, egbreuk, pornografie, diefstal, leuens, ens. – dit moet ten alle koste vermy word.

Om te sê dat homoseksualiteit ‘n gawe van God is, is om dít wat sleg is, goed te noem (Jesaja 5: (20)Ellende wag vir dié wat sleg goed noem en goed sleg…)

Redding

Die Bybel is baie duidelik daaroor dat slegs mense wat tot bekering gekom het, hemel toe sal gaan. Enigeen wat volhard in sondes het nie tot bekering gekom nie.

1 Korintiërs 6:9-10 noem dit spesifiek as ’n sonde wat jou laat opeindig in die hel.

********

Dit is daarom dat dit nie ’n randkwessie is nie en daarom is dit nie moontlik om vir mekaar ruimte te maak hieroor nie.

Hoe hanteer mens ander Christene wat verskil oor kernkwessies?

Die volgende is ‘n lys van teologiese kwessies wat baie duidelik minder belangrik as homoseksualiteit is:

  • Sing van verskillende liedere
  • Verskillende sieninge oor die werking van die Heilige Gees
  • Doop (groot vs klein)
  • Kindernagmaal
  • Wegraping
  • Onderhouding van die sabbat
  • Vrou in die amp
  • Verskillende sieninge oor die uitverkiesing
  • Die ouderdom van die aarde: Hierdie is egter nie so ‘n eenvoudige een nie – sodra ‘n mens aanvaar dat die aarde miljoene jare oud was, dan gaan dit gewoonlik ook gepaard met die siening dat daar dood en swaarkry voor die sondeval was.

Die Bybel is nie noodwendig glas helder oor bogenoemde nie, dit is nie sonde nie en dit bepaal nie jou redding nie. Christene wat egter oor hierdie kwessies verskil, kan ‘n mens as broers en susters in die geloof hanteer. Hierdie kwessie is egter gewoonlik die kwessies wat verskillende kerkdenominasies van mekaar skei. As hierdie sake dan genoeg is om mense in verskillende denominasies te skei, dan kan mense met verskillende sieninge oor kernkwessies, soos homoseksualiteit, beswaarlik binne dieselfde denominasie funksioneer.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui