‘NG Kerk se straf vir dosent veels te lig’

*******

‘NG Kerk se straf vir dosent veels te lig’ | Rapport

Johan Eybers

Sondag, 15 Januarie 2023

Die NG Kerk het nie naastenby streng genoeg op­getree teen ’n teologie­dosent van Maties wat die Godheid van Jesus bevraagteken nie, sê die Kairos-netwerk.

Dié behoudende drukgroep doen in ’n verklaring ’n striemende aanval op die kerk oor sy hantering van die klagte teen dr. Peter Nagel.

Nagel is ’n jaar lank die kansel verbied oor sy bevindings in ’n akademiese artikel, maar die Kairos-netwerk sê dit maak nie sin dat hy steeds toegelaat word om klas te gee by die kuratorium van die Universiteit Stellenbosch nie.

“Die tugmaatreëls teen Nagel voldoen nie naastenby aan die doel van kerklike tug nie, naamlik die eer van God, die welsyn van die kerk en die redding van die sondaar,” sê dr. Anton Knoetze, voorsitter van die Kairos-netwerk. Die Kairos-netwerk verteenwoordig NG gemeentes en gemeentelede wat doleer (rou), onder meer oor die kerk se besluit oor die aanvaarding van selfdegeslagverhoudings.

“Hoe sinneloos is dit om vir ’n dosent te sê jy mag nie meer Sondae preek nie, want jy verkondig dwaalleer, maar jy kan steeds elke dag van die week klas gee om die kerk se voornemende predikante op te lei? Dit hou geen rekening met die eer van God en die welsyn van die kerk nie,” sê Knoetze.

Rapport het verlede week berig dat Nagel skuldig bevind is op drie klagte van leerdwaling oor sy artikel “Problematising the Divinity of Jesus: Why Jesus Is Not Theós” (in die artikel verskyn die woord Theós deurgaans in antieke Griekse karakters). Nagel skryf dat Jesus nie gedurende die eerste eeu beskou is as een van ’n Godheid (of Theós) of as iemand wat nie mens is nie.

Die doel van sy studie was om die problematiek oor Jesus se Godheid te ondersoek en aan die hand van Bybeltekste te beredeneer. Theós is ’n antieke Griekse woord vir God of iets wat bonatuurlik is.

Nagel is daaraan skuldig bevind dat hy as ’n gelegitimeerde akademikus tot insigte gekom en gevolgtrekkings in sy artikel gemaak het wat die kern van die Kerk se belydenis weerspreek. Die gerekende navorser en akademikus se artikel is reeds drie jaar gelede in die vaktydskrif Neotestamentica gepubliseer en hy het al by verskeie internasionale simposiums hieroor opgetree.

Die ondersoekliggaam wat hom skuldig bevind het, sê Nagel se gevolgtrekkings in sy artikel weerspreek die kern van die Kerk se belydenis oor die drie-enigheid van God. Nagel het in reaksie hierop gesê navorsing is navorsing en moet nie as ’n geloofsbelydenis beskou word nie.

Die dagbestuur van die kuratorium het Maandag in ’n skerp bewoorde verklaring in die Kerkbode sy “spyt uitgespreek” oor Rapport se berig verlede Sondag omdat dit volgens hulle “ ’n vertroulike proses is en so behoort hanteer te word”.

Volgens hul verklaring was die fokus van die ondersoek om te bepaal of Nagel, as gelegitimeerde, steeds die Godheid van Christus “as sy persoonlike geloofsoortuiging handhaaf”, met “spesifieke verwysing na die belydenis oor Christus in die Belydenis van Nicea”.

Die Belydenis van Nicea, wat amptelik deel is van die belydenisgrondslag van die NG Kerk, kom uit die vierde eeu n.C. en word deur die wêreldkerk as belydenis aanvaar.

Die verklaring lui dat ’n ringtugliggaam “omvattende gesprekke met dr. Nagel gevoer het oor sy teologiese standpunte” en “tot die oortuiging gekom het dat die akademiese artikel wat hy aangebied het om sy standpunt te verduidelik inderdaad sy persoonlike standpunt oor die Godheid van Christus weerspieël en dat dit strydig is met die belydenis van die kerk en sy legitimasie-eed”.

Die dagbestuur voer aan ’n tug­ondersoek is nie ’n heksejag nie en nie ’n poging om iemand uit die kerk te dryf nie “maar om die een oor wie se leer en lewe daar gerugte en vrae ontstaan, op ’n broederlike wyse te begelei en te ondersteun, ten einde daardie optrede of leer weer te belyn met die belydenisskrifte en die gedragskode vir gelegitimeerdes”.

Die kuratorium het verduidelik dat Nagel se legitimasie tydelik opgeskort is om hom tyd te gun om sy akademiese integriteit te belyn met kerklike integriteit.

“Die dagbestuur van die kuratorium is besorg daaroor dat die berig in Rapport juis hierdie ruimte van besinning nou ernstig kan belemmer.”

Knoetze sê hulle is glad nie gemaklik met die kuratorium se verklaring in die Kerkbode oor die saak nie omdat die kurato­rium “duidelik die erns van hierdie dwaling onderskat”.

“As ’n dosent wat predikante moet oplei, openlik die Godheid van Jesus ontken, oortree hy nie maar net sy legitimasie-eed nie, hy verwerp die hart van die Evangelie en die geloof van al die Christelike kerke vir meer as tweeduisend jaar.

“Dit vra nie net ’n akademiese herformulering nie, maar radikale bekering,” sê Knoetze.

Volgens Knoetze versuim die kuratorium sy eie plig deur te maak asof hy niks verder kan doen nie, aangesien die universiteit Nagel se werkgewer is.

Hy sê ingevolge die kerk se reglemente is die kuratorium by magte om ’n dosent se magte op te skort of te beëindig om teologiestudente van die NG Kerk op te lei. Volgens Knoetze erken die kuratorium nou amptelik dat die Kairos-netwerk inderwaarheid uit die staanspoor reg was oor die ernstige leerdwaling by die teologiefakulteit.

“Daar is dosente wat die kernbelydenis van alle Christelike kerke verwerp en steeds toegelaat word om ons toekomstige predikante te onderrig.

“As die kuratorium met ongeldige verskonings hul plig versuim om toesig te hou oor ons teologiese opleiding, verbeur hulle hul bestaansreg in die kerk.”

Knoetze sê hulle is wel dankbaar dat daar ná jare se klagtes uiteindelik besluit is om ’n tug­ondersoek te doen na Nagel se dwalinge.

“Ons hoop en bid dat dit die begin sal wees van ’n skoonmaakproses om ons predikante se opleiding weer op ’n Skriftuurlike teologiese basis te plaas.”

Nóg Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die moderamen van die algemene sinode, nóg Nagel het op navrae geantwoord.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui