Johannes Calvyn oor kerkskeuring

Die volgende is geneem uit Johannes Calvyn se institusie (vir ‘n opsomming van sy institusie, kyk Die institusie van Calvyn (Afrikaanse opsomming)):

Geringe afdwalinge maak die bediening ook nie onwettig nie, dws dwalinge wat die hoofsaak van die leer nie raak nie, waaroor daar eenstemmigheid behoort te heers. En wat die sakramente betref, het ons sulke dwalinge op die oog wat die wettige instelling deur Christus nie tot niet maak nie. As die hoofsaak van die leer egter vervals is en die sakramente omvergewerp is, volg daarop noodsaaklik die ondergang van die kerk. Paulus sê dat die kerk gebou is op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is (Ef 2:20). As die fondament weggeneem word, hoe sal die gebou dan bly staan? Hoe kan daar ‘n kerk wees waar die leuen heers (1 Tim. 3:15)?

… Die leer is heeltemal begrawe, en die openbare samekomste is plekke van afgodery en goddeloosheid. Daarom bestaan daar geen gevaar dat ons ons van die kerk van Christus sal afskeur as ons weier om aan daardie skandaligheid deel te neem nie. Die kerk is nie ingestel om ‘n band te wees wat ons in afgodery, goddeloosheid en onkunde aangaande God sal hou nie, maar om ons in die vrees van God en gehoorsaamheid aan die waarheid te hou. Hulle prys hulle kerk aan asof dit die enigste ter wêreld is, en noem almal skeurmakers wat hulle daaraan onttrek.

… As God sy tempel kon verlaat, moet hulle ons nie wys wil maak dat Hy só aan persone of plekke gebind is dat Hy by hulle sal bly wat net die naam en skyn van ‘n kerk het nie.

… Hulle beskuldig ons van skeurmakery en kettery, omdat ons ‘n ander leer verkondig as hulle, hulle wette nie gehoorsaam nie en afsonderlik vergader vir die gebed, die doop, die nagmaal en ander heilige handelinge.

… Ketterye en skeurmakery ontstaan deurdat die mense nie die Hoof soek en die leer van die hemelse Meester nie bewaar nie. Laat hulle ons dan maar vir ketters uitkryt, daar is geen ander oorsaak vir die vervreemding as net dit dat hulle die suiwere belydenis van die waarheid nie kan verdra nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui