‘Ons besluit is nie oor geld of gays’ – Moreletapark

Kyk ook:

Geen mens weet hoekom Moreletapark so geheimsinnig is oor hulle rede om weg te breek nie. Dit is bietjie teleurstellend.

Aan die een kant word gesê: “…besluit om die NG Kerk te verlaat, het niks met verskillende standpunte oor selfdegeslagverhoudings of die kerk se geldsake te make nie”.

Net daarna word gesê: “hou die besluit eerder verband met verskeie woelinge in die NG Kerk en teologiese strominge”

As dit nie die homoseksuele kwessie is nie, watter ander teologiese strominge is dit?

Verder hoop ek nie dat Moreletapark ernstig is om by Hillsong betrokke te raak nie. Om mense deur musiek te trek is lyk my vir Hillsong ’n groter prioriteit as gesonde, gereformeerde leer (kyk Hillsong Church Exposed).

*************

‘Ons besluit is nie oor geld of gays’ – Moreletapark

Deur Jana Marx

6 Mei 2019

Die NG kerk Moreletapark in Pretoria se besluit om die NG Kerk te verlaat, het niks met verskillende standpunte oor selfdegeslagverhoudings of die kerk se geldsake te make nie, het Pieter Breytenbach, die gemeente se bedryfshoof, Maandag gesê.

Die kerk sal glo ’n amptelike verklaring uitreik sodra hy met die NG Kerk-leierskorps vergader het, maar volgens Breytenbach hou die besluit eerder verband met verskeie woelinge in die NG Kerk en teologiese strominge wat die NG kerk Moreletapark nie vir lief kan neem nie.

Talle bespiegelings het die ronde begin doen sedert Kerkbode verlede week berig het dié makro-gemeente in Pretoria met sy nagenoeg 14 000 lidmate wil sy bande met die NG Kerk verbreek.

Die oostelike sinode, waaronder die gemeente ressorteer, asook die NG Kerk se algemene sinode, is reeds amptelik per brief in kennis gestel. In die brief is geen rede vir die besluit verstrek nie.

Daar was gerugte dat Moreletapark se beweerde skuld dalk ’n rede is. Dis geen geheim nie dat Moreletapark in 2017 19 personeellede, insluitende drie van die kerk se 11 leraars, afgedank het. Volgens Breytenbach was die afleggings egter nie nét om finansiële verligting te bring nie.

“Geldsake het ’n rol gespeel, maar ons het ons bedieningsmodel ook in 2017 herevalueer.

“Ons finansies is nie die beste wat dit nog was nie, maar die besluit om weg te breek is nie geneem om op huurkoste of sinodale bydraes te bespaar nie. Geen eksterne faktore was op die tafel toe hierdie besluit geneem is nie,” sê Breytenbach.

Hy sê Moreletapark wik en weeg al jare oor die wegbrekery, “maar die Here het ons elke slag teruggeneem en dit duidelik gemaak ons het nog ’n rol om in die kerkverband te speel”.

Volgens Breytenbach is daar egter nou “vir die eerste keer duidelikheid dat ons rol daar eers verby is”, tensy “iets gebeur en die Here ons ’n ander pad wys”.

“Ons voel ons kan nie ons roeping verder onder die NGK, soos dit nou is, uitleef nie.”

Die besluit het talle gevolge, soos dat predikante hul status sal verloor, maar Breytenbach hou vol daar is ook eenparigheid onder die kerk se leraarkorps oor die besluit.

Die kwessie oor die kerkgeboue moet ook nog bespreek word.

Regspraak bepaal dat die NGK se kerkgeboue in hierdie geval die eiendom van die lidmate bly wat nié hul lidmaatskap van ’n spesifieke gemeente wil prysgee nie.

“Ons land se regstelsel kyk na die NGK se bates deur ’n lens van verenigingsreg wat sê dat ’n groep mense wat ’n bepaalde doel uitoefen, ’n reg het op die gebou wat hulle daarvoor wil gebruik,” sê dr. Dawid Kuyler, wat self al ’n regstryd namens die Verenigde Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika (VGKSA) moes bestuur toe sommige gemeentes van die NG Kerk in Afrika (NGKA) besluit het om te bly voortbestaan ná die samesmelting van die NGKA en die NG Sendingkerk (NGSK) as die VGKSA.

Kuyler is ’n afgetrede praktiese teoloog wat tans aan die Justo Mwale-Universiteit in Lusaka, Zambië, doseer.

Volgens Breytenbach is gerugte oor ’n samesmelting van Moreletapark met Hillsong of enige ander kerkgroep onwaar.

Die aanloop en die pad vorentoe

Moreletapark se kerkleierskorps en gemeente het vir 40 dae stil geword en saam gebid dat die Here die pad vorentoe vir hulle moet aandui.

“Ons het oor vyf weke ’n opname gedoen en elke Sondag in die kerk daaroor gepraat. Ons het ook ’n e-posadres beskikbaar gestel waarop gemeentelede kon reageer, en hulle is per elektroniese media herinner.”

Volgens Breytenbach het alles en almal, ook Skrifgedeeltes, hul besluit gesteun.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NGK se algemene sinode, sal die kerk Dinsdag op ’n vriendskaplike grondslag besoek omdat die sinode nie die mandaat het om die saak te besleg nie.

Volgens Breytenbach wil Moreletapark bloot hê Janse van Rensburg moet van hul besware kennis neem.

Moreletapark se kerkleiers sal Donderdag met lede van die oostelike sinode vergader om onder meer die agenda vir die amptelike vergadering op 23 Mei te bespreek.

Vrydag kom die ring van Elarduspark ook bymekaar.

Oor kommer oor botsende belange omdat ds. Dirkie van der Spuy tans moderator van die oostelike sinode en ook ondervoorsitter van die algemene sinode is en tot onlangs nog die hoofleier by Moreletapark was, het Retief gesê dis een van die sake wat op 23 Mei bespreek sal word.

Sou Moreletapark wegbreek, sal die “nuwe” gemeente waarskynlik ’n nuwe belydenisskrif opstel “wat sê waarvoor ons staan”, sê Breytenbach.

“Daar is nog baie leerstellings van die NGK wat ons altyd sal onderskryf, maar hier en daar sal ons dalk ’n ding heroorweeg of wil hersien. Hieroor het ons egter nog nie gepraat nie.”

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui