Die NG Kerk by ’n kruispad

Kyk ook:

’n Mens moet kophou as jy op die N3 ry en jy by die vurk (op google maps se foto) kom. Draai jy daar links is jy op die grootpad na Durban en die Suidkus. Draai jy daar regs bevind jy jou op die pad na die westelike dele van ons land en jy kan uiteindelik by die Kaap uitkom. As jy die verkeerde roete daar kies is omdraai nie maklik nie. Hoe verder jy ry hoe moeiliker raak die omdraai.

Omtrent elke leraar in die NG Kerk besef waarskynlik in hierdie dae (2019) dat ons paaie in die kerk besig is om uitmekaar te gaan. Op 28 September 2018, het die gesprek oor LGBT ’n historiese laagtepunt in ons kerk bereik toe 61 akademiese teoloë, ’n venynige verklaring teen ander leraars in die Kerkbode gemaak het (kyk NG teoloë reageer). Optrede soos hierdie en dit nogal uit akademiese kringe is een van die redes waarom dit onmoontlik raak om in ’n gees van wedersydse vertroue met mekaar in die kerk om te gaan.

Ons ervaar almeer dat die pogings tot gesprek beantwoord word met ’n nuwe terminologie in die kerk wat ons nie voorheen geken het nie. Ons hoor van: “haatspraak … fundamentalisme … liefdeloosheid … onverdraagsaamheid … onmenswaardig … menseregte … gay-lidmate”. Regters in die hof moet uiteindelik vir ons die laaste woord spreek.

Ek vra my af wat het tussen ons gebeur? Waarom kan ons mekaar nie verstaan nie?

Ek glo dit kom van ver af. Ons word oor die jare blootgestel aan uiteenlopende sieninge oor die Bybel en oor God. Ons moet dikwels op ons lewensreis keuses maak. Die keuses wat jy maak lyk aanvanklik nie belangrik nie, maar dit bring jou uiteindelik op ’n pad, wat jy nie beplan het nie.

Aan die begin voel jy onseker, maar die pad is breed en jy vorder vinnig. Jy wou Kaap toe gaan, maar Durban is darem nader en die see is daar lekker warm. Jy sê vir jouself: “Makuna matata … Geen probleem nie ….Dis nie so erg nie … Kom ons kyk waar ons uitkom!”

Sulke besluite gebeur herhaaldelik oor jare in elkeen van ons se koppe. Ons dink ná oor God en die wêreld. Ons gedagtes neem vorm aan oor dinge waarop ons elkeen individueel verder voortbou.

Die Here Jesus het ook oor twee paaie gepraat. Hy het gepraat van die breë pad en die smal pad (Mat 7:13-14). Elke pad het ’n bestemming. Die een pad lei na die verderf en die ander pad lei na die lewe. Dit is wat Jesus vir ons sê. Dit is dus baie belangrik vir ons elkeen om ons te vergewis op jy op die regte pad is.

Op ’n dag moet ons almal by God se tolhek stilhou waar Jesus self aan diens sal wees. Die slegste ding wat ooit met ’n mens kan gebeur is om by Jesus te hoor: “Ek ken jou nie”. Daar is kerkleiers wat sal sê:  “Here, ek het dan boeke oor U geskryf. Ek was in aanvraag as prediker, ek het groot gemeentes tot stand gebring”. Dan sal hulle Jesus duidelik en hard hoor sê: “Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My af, julle wat die wet van God oortree” (Mat 7:23). Dit is woorde van die Here waarvan elke mens moet kennis neem.

Daar is nog tyd vir omdraai of om jou roete te verander. Ons moet nie na ménse luister nie, want daar is ook valse roete-aanwysers (Mat 7:15).

Jesus is die “weg, die waarheid en die lewe” en niemand anders nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui