Moreletapark oorweeg om bande met NG Kerk te breek

Kyk ook:

Moreletaparkgemeente, een van die grootste NG Kerk gemeentes in die land oorweeg dit om bande te breek met die NG Kerk. Hulle wil egter nog nie redes gee nie. Dit is tog jammer dat hulle nie redes wil gee nie. As dit gaan oor die teologiese kwessies in die NG Kerk die afgelope jare, hoekom dan stil wees daaroor?

’n Ander vraag is of dit so eenvoudig gaan wees.

Tyd sal leer.

*************

Moreletapark ‘oorweeg’ om bande met NG Kerk te breek | Netwerk24

Hanti Otto

03 Mei 2019 14:54

Een van die NG Kerk se grootste gemeentes “oorweeg dit” om bande met dié kerk te verbreek.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die kerk se Algemene Sinode, het Vrydag bevestig dat hulle ’n brief van die Moreletapark-gemeente in die ooste van Pretoria ontvang het, waarin dié voorneme uitgespreek word.

“Ek weet nie in hierdie stadium hoekom nie, en hulle het nog geen rede vir die besluit gegee nie. Al wat die brief sê, is dat die gemeente ná ’n tyd van diep nadenke dit oorweeg om die NG Kerk te verlaat,” sê hy.

Hy en ander lede van die moderamen sal Dinsdag met die gemeenteleiers oor dié “ongewone situasie” vergader.

Janse van Rensburg sê sy afleiding is dat dit nie klink of die gemeente se besluit finaal is nie.

“Ons sal hoor wat hulle sê. Ons wil seker maak daar is nie misverstande oor die wyse waarop hulle hulle kan tuisvind by die NG Kerk se beleid en besluite nie.”

Nie een van die gemeente se twee woordvoerders, ds. Pieter Badenhorst of Pieter Breytenbach, die bedryfshoof, was beskikbaar vir kommentaar nie.

Die gemeente het wel by navraag gesê Breytenbach het laat weet hulle sal ’n mediaverklaring uitreik sodra die gesprekke met die afvaardiging van die moderamen, sowel as gesprekke met die Oostelike Sinode (die streek waaronder die Moreletapark-kerk val), afgehandel is.

Ingeligtes het ook laat val dat die besluit om bande te breek “nie finaal” is nie.

“Die gemeente is bekommerd oor dinge in die NG Kerk en wil daaroor praat,” het een gesê.

’n Gemeentelid het bygevoeg dat die besluit nie ligtelik geneem is nie.

“Daar was 40 dae van vas, bid en afsondering waarin die Here se wil gevra is oor die kerk se toekoms,” het dié gesê.

Die Moreletapark-gemeente word as ’n “makrogemeente” beskou.

Luidens Die Kerkbode is daar ongeveer 14 801 belydende lidmate en 5 423 dooplidmate.

Dit word beskou as een van die grootste NG gemeentes in die land, indien nie dié grootste nie.

*******************

Moreletapark: ‘Ander volg dalk’ | Netwerk24

Deur Hanti Otto

3 Mei 2019

Die besluit van een van die NG Kerk se grootste gemeentes om moontlik bande met die kerkverband te verbreek, was volgens gemeentelede “eenparig”.

Redes vir dié drastiese besluit van die Moreletapark-gemeente in die ooste van Pretoria is in dié stadium onbekend.

Die oostelike sinode, waaronder die gemeente val, en die algemene sinode, het Donderdag net ’n brief van die gemeente ontvang waarin gesê word hulle “tree uit sinodale-verband uit” en plaas die aangeleentheid “op die tafel” van die sinode.

Die gemeente het onlangs 40 dae lank gevas en gebid.

Vir die NG Kerk beteken die “op die tafel plaas” dat dié megagemeente met sy meer as 20 000 lidmate dit in dié stadium “oorweeg” om die kerkverband te verlaat en is dit nog nie ’n gegewe nie.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, moderator van die NG Kerk se algemene sinode, sê sy afleiding is ook dat die gemeente se besluit nie finaal is nie.

“Ek weet nie in dié stadium hoekom hulle dit oorweeg om bande te breek nie en hulle het nog geen aanduiding van die redes gegee nie. Al wat die brief sê, is dat die gemeente na ’n tyd van diep nadenke dit oorweeg om die NG Kerk te verlaat.”

Hy vind die situasie “hartseer” en sal Dinsdag saam met ander lede van die moderamen en gemeenteleiers vergader oor dié “ongewone situasie”.

“Ons sal hoor wat hulle sê. Ons wil seker maak daar is nie misverstande oor die wyse waarop hulle hul kan tuis vind in die NG Kerk-beleid en -besluite nie.”

Hy het, soos verskeie ander kenners, gesê hoewel die situasie “raar” is, word dit nie as ’n “krisis” beskou nie.

Dr. Jorrie Potgieter, kerkregkenner van die oostelike sinode, sê sy indruk is ook dat, hoewel die gemeente ’n besluit geneem het, hulle die proses binne die kerk wil hanteer.

“Ons in die NGK sien onsself as ’n familie, met ’n waardesisteem dat familie met mekaar praat. Die gebeurtenis is vir my baie hartseer. Jy kon my met ’n veertjie omslaan.”

Die Moreletapark-gemeente het by navraag gesê hulle sal ’n nuusverklaring uitreik sodra die gesprekke met die afvaardiging van die moderamen, sowel as gesprekke met die oostelike sinode, afgehandel is.

Nie ’n ligtelike besluit

Gemeentelede maak dit egter duidelik: hierdie is nie ’n besluit wat ligtelik geneem is nie.

“Dit gaan nie ook nie oor ons dink ons is beter as ander nie,” het een gesê.

’n Ander lidmaat het gesê hulle het “seker net minder as 50 dae gelede” besluit om God se aangesig te soek oor die gemeente se toekoms.

“Dit was ’n verootmoedigingsdaad deur leraars, gemeentelede en personeel. Die doel was nie met die opsie om die kerkverband te verlaat in gedagte nie,” het dié verduidelik.

Vir 40 dae is daar as “eenheid gebid, gevas en God se aangesig gesoek. Ons het intens gebid. Die Here het vir ons ’n pad gewys en dit voel vir ons – na hierdie intense tyd van gebed – dat soos dinge nou gaan in die NG Kerk, ons die kerkverband moet verlaat om ons roeping uit te leef.

“Dit was ’n proses wat met liefde en nederigheid gedoen is. Nie om iemand seer te maak of omdat ons dink ons is beter nie,” het nog ’n lidmaat gesê.

Nog een het bygevoeg: “Ons is bekommerd oor dinge in die kerk. Daar is dinge wat ons ontuis laat voel en ons wil daaroor praat, oor die opsies en die pad vorentoe”.

Nie ’n krisis

Dit is in dié stadium nie bekend of die besluit geneem is oor sekere beleidsaspekte van die NG Kerk waarmee die Moreletapark-gemeente nie saamstem nie.

Talle het wel gerugte ontken dat dit weens finansiële skuld is.

’n Kerkkenner sê daar was die afgelope paar jaar elke nou en dan gerugte dat Moreletapark eerder “op hul eie wil gaan”.

“Die ding dat hulle nou ’n brief skryf en sê hulle wíl gaan, is wel ’n stappie verder. Maar ek sou nog nie sê dis ’n krisis vir die NG Kerk of dat dit nou uitmekaar skeur nie.”

Nog een vermoed dat die gemeente sal aanvoer hulle is bekommerd oor die kerk se teologie-opleiding en sommige sienings, asook hul hantering van die Bybel.

Dr. Frits Gaum, vorige redakteur van die Kerkbode en voormalige moderator van die Wes-Kaapse sinode van die NG Kerk, sê die meeste kerke het maar probleme, want almal stem nie altyd oor alles saam nie.

“Ons sit met nuwe situasies in Suid-Afrika. Dit is hartseer as ’n kerk wil skeur. Ons moet ruimte maak vir mekaar, ander gun wat hulle dink. Daar is wel kernsake waaroor daar eenstemmigheid moet wees, soos die geloof in Jesus Christus. Met ander dinge moet ons aanvaar dat mense die Bybel verskillend interpreteer.

“Ons almal moet ernstig luister wat die Here vir ons wil sê,” meen Gaum.

—————————–

Wat as die gemeente wél wegbreek?

Hoewel talle die situasie nog nie as ’n krisis beskou nie, sê hulle dit kan wel “moeilikheid” veroorsaak, sou die Moreletapark-gemeente afstig.

“Daar mag ander gemeentes met dieselfde wroegings wees en die moontlikheid bestaan dat hulle kan volg, sou die Moreletapark-gemeente die voortou neem,” het een gesê.

Dr. Jorrie Potgieter, kerkregkundige van die Oostelike Sinode, sê hy het heelwat reaksie gekry van ander predikante.

Verskeie het gesê hulle hou die situasie dop en dit lyk of daar gemeentes is wat oorweeg om dieselfde pad te loop.

“Om een ding te sê, en dit te doen is (egter) nie altyd dieselfde ding nie. Ons moet ernstig bid dat ons nie in randsake verval nie, maar dat die eenheid van die kerk van Christus so ver moontlik behoue sal bly,” sê hy.

Die wegbreek-proses:

Dr. Jorrie Potgieter sê die Kerkorde beskryf nie ’n proses vir wanneer gemeentes uit kerkverband wil tree nie.

“ ’n Kerkraad behoort dus eers met die streeksinode te praat voordat die kerkraad besluit om uit die streeksinode te tree.

“Indien ’n kerkraad besluit om uit die kerkverband te tree, kan lidmate wat nie saamstem nie, beswaar maak of appèl by die ring aanteken,” sê hy.

Die proses is in die verlede deur hofsake getoets, waar sommiges wil afstig en ander nie.

“Die howe het bevind dat, selfs al bly tien mense NGK-lidmate, terwyl die ander afskei, bly die eiendom die NGK s’n.”

Prof. Piet Strauss, afgetrede professor in kerkreg en kerkgeskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat, sê hoewel so ’n saak in die hof kan draai, moet dit die laaste uitweg wees.

“Daar is uitsprake dat die mense in ’n gemeente wat die naam wil hou en lid bly van ’n spesifieke gemeente, dit wel behou.

“Die kerk is ’n universitas, ’n vereniging wat voortbestaan onafhanklik van die wisseling van sy lede. As party dus gaan, hou die ander alles wat die gemeente besit.

“As lede nie meer met mekaar kan praat nie, kan so ’n situasie enige kant toe gaan, selfs hof toe.

“Deur kerklik met mekaar te praat en dinge op ’n Bybels-verantwoordelike manier te hanteer, hoef ’n kerk egter nie te skeur nie.”

Nog ’n kenner bevestig dat dit “nie so maklik is” om weg te breek nie.

“Dis ’n moeilike proses en die kans is goed dat dié wat wil gaan, ‘kaal’ gaan uitstap, want die kerkgebou, inhoud, bankrekening, alles bly die NG gemeente s’n.

“So iets is ook nie gebonde aan ’n meerderheidsbesluit nie. As sommiges wil bly as NG gemeentelede, bly alles saam met hulle,” sê dié oud-dominee.

Die Moreletapark-gemeente:

Volgens Die Kerkbode is daar ongeveer 14 801 belydende lidmate en 5 423 dooplidmate in die gemeente.

Dit word beskou as een van die grootste, indien nie dié grootste, NG gemeente in die land.

Daar is agt leraars. Daar is eredienste in Afrikaans, Engels en ’n Afrikataal, sowel as aparte dienste vir die jeug.

Eredienste word ook op YouTube uitgesaai, terwyl preke op Sound Cloud beskikbaar is.

Die reuse-drievlak-ouditorium word gereeld uitverhuur vir konserte en konferensies.

Gereken as “een van die rykste” gemeentes, sê kerkkenners dat, sou die gemeente wel wegbreek, dit groter finansiële gevolge vir die oostelike sinode as vir die algemene sinode sal inhou.

Dr. Jorrie Potgieter, kerkregkenner van die oostelike sinode, sê gemeentes dra finansieel by tot bediening wat streeksinodes doen.

“Indien ’n gemeente sou besluit om die kerkverband met ander NGK-gemeentes te verlaat, beteken dit dat daardie gemeente hul bydraes vir die bediening ook terughou.

“Dit beteken dat die koninkryk van God skade ly”

*******************

NG Kerk se grootste gemeente wil waai | Kerkbode

2 Mei 2019 | Kerkbode

Kerkleiers sal eersdaags ontmoet om te sien of die NG Kerk haar grootste gemeente sal kan behou.

Ds Nelis Janse van Rensburg sal volgende week in Pretoria vergader met leiers van Moreletapark Gemeente wat die NG Kerk wil verlaat.

Die makrogemeente se voorneme om die kerkverband te verlaat, is glo na ’n “tydperk van afsondering en verootmoediging” geneem en geld vir leraars sowel as die kerk se meer as 14 000 belydende lidmate.

Janse van Rensburg en dr Dewyk Ungerer, onderskeidelik voorsitter en aktuarius van die Algemene Sinodale Moderamen, sal nou met Moreletaparkleiers ontmoet. “Ons moet hoor wat hulle sê, wat ons kan leer en watter ruimte daar vir hulle is om die Here te dien saam met ons,” het Janse van Rensburg oor die doel van sy besoek gesê.

Volgens Janse van Rensburg het hy met “hartseer en ontsteltenis” van die besluit te hore gekom, maar hy het klem daarop gelê dat hy nie volgende week se gesprek vooruit wil loop nie. “Daar is altyd moontlikhede om misverstande uit die weg te ruim.”

Kerkbode kon nog nie daarin slaag om met Moreletapark se gemeentewoordvoerder oor dié saak, ds Pieter Badenhorst, kontak te maak vir meer besonderhede oor die redes vir die besluit nie. Hou dus Kerkbode dop vir meer oor hierdie storie.

Die moontlike afskeiding van so ’n reuse-gemeente blyk nuwe vaarwater vir die kerk te wees. Janse van Rensburg het gesê hy het nog nie in sy 30 jaar bedieningstyd met so iets te doen gekry nie.

Nog ’n kerkleier wat by daardie gesprek teenwoordig sal wees, is ds Dirkie van der Spuy. Dié het aan Kerkbode verduidelik hy bevind homself as ’t ware tussen die twee partye, naamlik die sinodes (Oostelike Sinode in Pretoria en die Algemene Sinode) en dan die leiers van Moreletapark, wat hom van hulle besluit ingelig het nadat dit sonder sy medewete geneem is.

Van der Spuy het by navraag oor sy gemoedstoestand oor die gebeure gesê: “Op hierdie stadium bid ek vir die pad vorentoe dat die Here baie duidelik sal lei en dat almal oop sal wees om die stem van die Here te hoor,” het hy Donderdagaand (2 Mei) gesê.

Van der Spuy is die moderator van die Oostelike Sinode en ondervoorsitter van die Algemene Sinode. Hy het ’n sleutelrol in die groei van Moreletapark gespeel in sy termyn as leierleraar daar. Sy termyn is beëindig toe hy in Februarie 70 jaar oud geword het, maar hy dien steeds as ouderling by die kerk met agt leraars met portefeuljes wat wissel van “Gasvryheid en gemeenskap” tot “Wêreldsending” en wat ook met ’n kleuterskool, laerskool (Pure Hope Primary) en boekwinkel spog. “Aan die een kant verstaan ek die gemeente se bekommernis oor verskeie sake in die NG Kerk en dat hulle ná ’n opregte soeke na die wil van die Here aan Hom gehoorsaam wil wees. Aan die ander kant is my hart by die leierskap van die NG Kerk waar ek meewerk aan ’n pad om dinge wat pla aan te spreek,” aldus Van der Spuy.

Oor die vraag of Moreletapark se grootte ’n verskil aan die kerk se reaksie maak, het Janse van Rensburg gesê dit maak nie saak of die gemeente groot of klein is nie: “Ons kyk nie so daarna nie.” Hy het bygevoeg dat dit kerkregtelik ook nie eenvoudig is vir ’n gemeente om hulle sakke te pak nie. – Kerkbode-redaksie.

Meer oor Moreletapark-gemeente?

Moreletapark het 14 801 belydende lidmate en 5 423 dooplidmate wat dié gemeente loshande die grootste NG gemeente in die land maak.

Die enigste ander NG gemeente wat naby hulle totale aantal lidmate van 20 224 kom is kerksondermure in Centurion met 17 812.

Die gemeente se kerkgebou is in Moreletapark, ʼn voorstad van Pretoria, in De Villebois Mareuilrylaan en sowat 12 km van Pretoria se middestad.

Moreletapark-Assosiasie (MPA) is een van die gemeente se entiteite wat fokus daarop om gemeenteleiers en predikante te begelei en toe te rus.

Hulle het ook ʼn niewinsgewende organisasie, LIFT Community Development, wat die gemeente se gemeenskapsprojekte fasiliteer. Een van die organisasie se funksies is om Woodlane Village, ʼn plakkerskamp langs die kerk, te ondersteun.

Bronne: Jaarboek van die NG Kerk 2019, moreletapark.org

1 thought on “Moreletapark oorweeg om bande met NG Kerk te breek”

  1. Ek dink dis die begin van die einde van die NGK soos ons dit ken.
    Vandat die kerk homoseksualisme ‘gewettig’ het, is hulle ook nie meer die Kerk van die Here Jesus Christus nie.
    Net soos die NP verdwyn het, nadat hulle die land ‘weggeteken’ het, so sal die NGK kwyn en verdwyn.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui