Moreleta: ‘goeie gesprek’ met leiers skuif besluit uit

Kyk ook:

Moreleta: ‘goeie gesprek’ met leiers skuif besluit uit

8 Mei 2019, Kerkbode

Daar is besluit om later te besluit.

So staan dinge tans met die makrogemeente in Pretoria wat verlede week kennis gegee het dat hul oorweeg om hulself los van die NG Kerk te maak.

Die vooruitsig van die kerk wat meer as 14 000 belydende lidmate “verloor” het ’n landwye beroering veroorsaak en selfs ’n bynaam op die lyf geloop: morelexit

Maar Dinsdagaand het die leiers van Moreletapark Gemeente laat blyk dat die koeël nog nie deur die kerk is nie. Dit na afloop van ’n “positiewe gesprek” met die senior NG-leiers, waaronder ds Nelis Janse van Rensburg, wat die gemeente gaan besoek het.

Dit kom ná Moreletapark Gemeente verlede week vir ds Dirkie van der Spuy ingelig het dat hulle die kerkverband wil verlaat. Van der Spuy is self ’n veteraan-Moreletaman wat deesdae steeds ouderling van die gemeente is maar ook in die leierskap is van Oostelike en Algemene Sinode dien.

Die jongste is ’n 369-woord persverklaring, uitgestuur deur Pieter Breytenbach, die gemeente se woordvoerder oor die aangeleentheid. Daarin wil dit klink asof die oorspronklike nota aan die NG Kerk dalk minder van ’n afsêbrief was as wat vroeër verstaan is.

Kerkbode wag steeds vir direkte kommentaar op ’n aantal vrae oor Dinsdag se ontmoeting en publiseer intussen die volledige persverklaring hieronder.

Persverklaring (7 Mei, 2019) – uitgetreik deur Pieter Breytenbach:

Die leierskap en die gemeente van Moreletapark het vir veertig dae gevas en gebid om by die Here te hoor aangaande sake wat hul toekoms raak as gemeente. Die gemeente, personeel en leierskap is genooi om terugvoer te gee aangaande hul belewenis en dit wat die Here vir hulle kom wys het.

Die volgende punte het duidelik uitgekom:

  1. Dat die gemeente moet terugkeer na hul roeping om die Evangelie uit te dra asook liefde teenoor mense te leef.
  2. Dat gemeentelede moeite moet doen met hul persoonlike verhoudings met God en voldoende tyd moet spandeer aan die lees van die Bybel en gebed.
  3. Dat daar ’n besef moet wees wie God is, dat God heilig is, dat daar ’n heilige vrees vir Hom moet wees en dat alles in die eerste plek net oor Hom moet gaan.
  4. Dat Sondebelydenis baie belangrik is en dat die Here van elkeen verwag om nie hoogmoedig te wees nie en as eenheid moet funksioneer.
  5. Dat leierskap met durf toegepas moet word en sal opstaan vir die waarheid en die gesag van die Skrif/Bybel.

Die terugvoer was eenparig dat hul hul rol binne die NG Kerk moet heroorweeg. Daarom is daar besluit om met ’n proses te begin om verskillende opsies te ondersoek en te oorweeg.

Deel van ons proses is om binne die NG kerk familie met die leierskap in gesprek te tree. Die eerste gesprek met lede van die Moderamen van die Algemene Sinode het plaasgevind. Hierdie was ’n baie sinvolle gesprek. Moreletapark se Leiers kon hulle bekommernis oor die handhawing van die gesag van die Skrif/Bybel en teologiese opleiding met die lede van die Moderamen van die Algemene Sinode deel. Ons gesprek vorm ’n goeie vertrekpunt rakende die proses om mekaar se harte te hoor. Vanuit Moreletapark se geledere volg daar besprekings met die Ring van Elarduspark en die Oostelike Sinode. ’n Finale besluit rakende Moreleta se rol binne die NG Kerk sal dus eers later geneem word.

Ons roep alle gelowiges op om saam met ons te bid vir die rol en toekoms van die NG kerk asook die kerk in die breë.

Moreletapark leierskap en lede van die Moderamen van die Algemene Sinode

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui