NGK maak ruimte vir homoseks, maar nie vir doop

Kyk ook:

Ds Heinrich Alberts van die gemeente Port Elizabeth, Hoogland het die volgende gravamen (beswaarskrif) ingedien tot die 2015 Algemene Sinode. Dit is egter verwerp. Kyk sy webblad alberts.za.net, spesifiek “Ons reis“.

Alhoewel daar argumente is vir die bekeringsdoop (grootdoop) is die probleem dat die NG Kerk deur die belydenisskrifte gebind word tot die verbondsdoop (kleindoop). Vir die NG Kerk om dus ruimte te maak vir die bekeringsdoop moet die belydenisskrifte (byvoorbeeld Heidelbergse Kategismus, Vraag 74) aangepas word deur middel van dieselfde proses as waarmee die belydenis van Belhar aanvaar wou word – gemeentes en sinodes moet dit met ’n tweederdemeerderheid aanvaar. Dit hoef nie noodwendig ’n duur proses te wees nie, maar dit bly ’n omvangryke proses.

Dit bly egter uiters ironies dat die NGK ruimte gemaak het vir homoseks tydens die algemene sinode van 2015, maar nie plek kan/wil maak vir die grootdoop nie.

*********

GRAVAMEN: HERBESKOUING VAN DIE BELYDENISDOOP AS VERANTWOORDBARE GEREFORMEERDE ALTERNATIEF

1. DOEL VAN DIE GRAVAMEN

1.1 In die bykans vier-en-twintig jaar in die bediening as leraar in die Ned. Geref. Kerk het ek geen ander geestelike kwessie teëgekom wat meer verdeeldheid, verwydering of seerkry veroorsaak het as die verskillende sienings rondom die doop binne ons kerk verband nie. Vanuit persoonlike gesprekke met lidmate van verskillende oortuigings aangaande die doop het dit vir my duidelik geword dat lidmate ’n diep behoefte het aan eerlike, openhartige gesprekke aangaande hulle verskillende oortuigings en persoonlike belewenisse, sonder die vrees vir teologiese veroordeling wat sou impliseer dat slegs iemand wat teologiese opleiding ontvang het, enige gesaghebbende uitspraak in die verband mag maak.

1.2 Hierdie gravamen wil dus poog om nie net ’n alternatiewe bedieningspraktyk voor te stel nie, maar ook aan te toon dat die belydenisdoop nie die karakter van die gereformeerde leer aantas nie, sodat die eenheid van die kerk daardeur intakt kan bly rondom die implementering van die Sinode se besluite rondom die doop in 2011 en 2013. Vir hierdie doel steun die gravamen sterk op die insigte van die “BEM verklaring” van die Wêreldraad van Kerke, Everett Ferguson se monumentale werk oor die doop in die eerste 5 eeue na Christus, Migliorie se Faith seeking Understanding en Verduin se Stepchildren of the Reformation.

1.3 Om verwarring uit te skakel, interpreteer hierdie gravamen die verwysing na “ ’n ander verstaan van die doop”, soos vermeld in die sinodebesluite van 2011 en 2013, spesifiek na die belydenisdoop en die verwysing na kinderdoop na die doop van babas of kinders wat nog nie van toerekenbare ouderdom is nie. Die term “Verbondsdoop” verwys na die doop wat die inlywing in die Verbond uitdruk en beskryf dus beide die kinderdoop sowel as die belydenisdoop, afhangende van watter doopbeskouing gehuldig word.

2. AGTERGROND

2.1 “In necessariis unitas, in dubiis libertas, in omnibus caritas.” (In essensiële sake, eenheid; In nie essensiële sake, vryheid; In alle sake, liefde) Hierdie gesegde, wat onder andere aan Augustinus toegedig word, is die vertrekpunt en die gees waarin hierdie dokument geskryf is. Uiteindelik is dit ook ’n goeie definisie van die “Teologie van eenheid” wat die NG Kerk die afgelope dekades gepoog het om te bedryf. Dit is verblydend dat hierdie vertrekpunt ook sigbaar is in die universele kerk wêreldwyd, soos verwoord in die BEM verklaring van die Wêreldraad van Kerke se resultaat na bykans vyftig jaar se studie rakende hierdie onderwerp.

2.2 Die gravamen wil poog om die raakpunte van beide gelowiges wat die kinderdoop sowel as die belydenisdoop onderskryf, te beklemtoon en sodoende toon dat die belydenisdoop nie die wese van ons Verbondsteologie aantas nie. In 2011 het die Algemene Sinode rondom die tema van ’n ruim huis gewerk (Teologie van Eenheid) en haar hand uitgesteek na lidmate wat “ ’n ander verstaan van die doop” het. Daardie besluite het sekere problematiek vir die bedieningspraktyk opgelewer, maar die hart van die Sinode was duidelik sigbaar in die versoenende gebaar. Die feit dat die Sinode van 2011 selfs opreg verskoning gevra het vir lidmate wat op een of ander wyse rondom die doop seergekry het, was ’n duidelike gebaar van deernis en omgee. By die Algemene Sinode in 2013 het die Sinode die ATR se interpretasie van die besluite van 2011 onderskryf, maar die bedieningsriglyne van die ATR het nuwe problematiek geskep vir die lidmate en ampsdraers wat “’n ander verstaan van die doop” huldig, maar ten spyte daarvan hulleself as gereformeerd beskou en daarom steeds tuis voel binne die NG kerkverband. Die bedieningsriglyne van die ATR het dit laat blyk dat die ruim huis wat in 2011 geskep is, se deure begin toegaan het.

2.3 Dit bly die Algemene Sinode se mandaat om te bepaal hoe ruim die huis is al dan nie, maar dan moet daar duidelike riglyne gegee word om te bepaal wie in hierdie ruim huis ingesluit word en wie buite gelaat word. Die ATR het met sy verslag gepoog om dit in ’n mate te doen, maar die implementering van hierdie riglyne het daartoe gelei dat lidmate wat die belydenisdoop onderskryf, maar steeds tuis voel binne die NG kerkverband, uiteindelik beleef dat hulle tot ’n “tweederangse lidmaatskap”, ’n lidmaatskap met beperkinge, gedegradeer is. Hierdie belewenis spruit uit die ATR se verslag aan die Sinode van 2013 oor die uitleg en toepassing van die besluite van 2011 in hulle verslag se punt 2.2 en 2.2.2. Volgens hierdie punte van die verslag maak die Sinode ’n duidelike onderskeid tussen lidmate enersyds, wat belydenis van geloof afgelê het en hulle sodoende mondelings verbind het aan die belydenis van die kerk; en ampsdraers andersyds, wat, in die geval van leraars, hulle skriftelik verbind het aan die belydenis van die kerk tydens hulle legitimasie verklaring, sowel as ouderlinge en diakens se mondelingse verbintenis aan die belydenis van die kerk met hulle bevestiging in die onderskeie ampte.

2.4 In die Kerkorde van 2013 se afdeling “BELEID, FUNKSIONELE BESLUITE EN RIGLYNE”, wat die besluite van die Sinode van 2011 rondom die doop insluit, stipuleer in punt 17.11.6 dat diegene wat weens hulle doop verstaan die NG Kerk verlaat het hartlik uitgenooi word om hulle “regmatige plek” in hulle plaaslike NG gemeente in te neem en saam mee te werk aan die koms van God se Koninkryk. Dit laat ons egter met die vraag wat die Sinode se presiese bedoeling met hierdie sogenaamde regmatige plek is. Die bewoording van die Sinode van 2011 skep die verwagting van onvoorwaardelike aanvaarding, ongeag jou persoonlike sienswyse rondom die doop. ’n Regmatige plek impliseer tog immers dat jy jou volle plek as lidmaat in die NG Kerk kan inneem en jou binne hierdie geestelike huis ten opsigte van jou geloofsoortuiging ten volle kan uitleef. Volgens die ATR se verslag wat die Sinode in 2013 onderskryf het, sluit hierdie “regmatige plek” klaarblyklik die ampte uit. Hieruit kan ons aflei dat daar kragtens lidmaatskap twee verskillende stelle reëls binne die NG Kerk geld: een vir diegene wat die kinderdoop onderskryf en ’n ander vir diegene wat die belydenisdoop aanhang. Hierdie dualisme in die kerk skep ’n weeskind mentaliteit by die lidmaat wat die belydenisdoop onderskryf omdat sy teenwoordigheid in die kerkverband wel “verdra” word, maar sy diens in die ampte uitgesluit word. Die dualisme wat deur die aanbevelings van hierdie verslag geskep word, maak ’n tegniese of kunsmatige onderskeid tussen lidmate aan die een kant en ampsdraers aan die ander kant om verby die argument van ’n dubbele stel reëls te kom en lei uiteindelik tot ’n vorm van diskriminasie teenoor diegene wat ’n ander verstaan van die Bybelse doop het omdat ’n dubbele stel reëls nie net verwarrend nie, maar ook onregverdig sou wees. Die dubbele stel reëls omseil uiteindelik slegs die probleem, maar kan dit nie oplos nie, want dit gee aanleiding tot wantroue in die kerk oor die motief agter die besluit dat mense met ’n ander verstaan van die doop steeds welkom is in die kerk. Sou hulle welkom wees om te bly omdat hulle steeds as volwaardige lidmate met ’n geldige opinie geag word, of is dit bloot ’n poging om hulle nie as lidmate aan ander kerke af te staan nie? Geen organisasie kan met twee verskillende stelle reëls vir sy lede (lidmate wat die belydenisdoop onderskryf teenoor lidmate wat die kinderdoop onderskryf en dan ook, in hierdie geval, lidmate teenoor ampsdraers) werk nie. Is die ampsdraer, insluitende die leraar, dan nie in die eerste plek ’n lidmaat nie?

2.5 Die gravamen wil die problematiek rondom hierdie besluite uitlig en moontlike oplossings vir goedkeuring aan die Sinode voorlê om sodoende die eenheid van die kerk eerder op te bou as af te breek. Verder wil dit pleit dat ons mekaar sal vashou in hierdie gesprek en nie sal laat los nie, maar nogtans duidelike, ondubbelsinnige besluite sal neem sodat lidmate presies kan weet waar hulle staan ten opsigte van hulle lidmaatregte binne die NG Kerk.

2.6 As leraar van die NG Kerk huldig ek al vir baie jare ’n ander verstaan rondom die doop en het daarom die gesprekvoering rondom hierdie onderwerp met groot belangstelling en hoop gevolg. Ten spyte van my ander verstaan van hierdie kwessie het ek egter myself nog altyd as volkome gereformeerd beskou en het daarom die uitlewing van my persoonlike oortuigings opgeoffer in die hoop dat die NG Kerk in die toekoms lidmate met ’n ander verstaan van die doop binne die kerkverband sou akkommodeer. Ek was dus baie opgewonde oor 2011 se besluite wat geblyk het om, vanuit my perspektief, ’n reuse stap in die regte rigting te wees. In dieselfde mate was ek egter teleurgesteld in 2013 se besluite, veral na die goedkeuring van die ATR se riglyne. Ek wil dus met hierdie gravamen vanuit die vertrekpunt van die gereformeerde gelowige wat ’n ander verstaan van die doop het, die miskonsepsies uitlig wat oor ons (mense wat glo in die belydenisdoop) in die harte van lidmate wat die kinderdoop onderskryf, leef en probeer bewys dat die belydenisdoop nie die gereformeerde karakter van die kerk aantas nie. Verder sal die gravamen probeer bewys dat die doop nie in die domein van “essensiële sake” behoort te ressorteer nie, maar eerder in die “nie-essensiële sake”, waar ons “vryheid” behoort te geniet en die liefde van Christus die deurslag behoort te gee. Daarom is die doel van hierdie gravamen ook nie om die kinderdoop verkeerd te bewys nie, maar eerder dat die belydenisdoop ’n verantwoordbare alternatiewe gereformeerde doop beskouing is.

3. INTERPRETASIE VAN 2011 BESLUITE

3.1 Die Algemene Sinode van 2011 verstaan weereens die Verbondsdoop as die kinderdoop. Die uitgangspunt is dat God se genade en trou te alle tye die gelowige se aanvaarding daarvan voorafgaan. Hierdie beskouing word onder andere gekoppel aan Ef. 2:8,9 en1 Kor. 7:14 wat duidelik stel dat ons uit genade gered word en dat hierdie redding ’n gawe van God is en nie uit onsself kom nie. Die aanname word gevolglik gemaak dat lidmate wat die belydenisdoop onderskryf die Verbondsdoop verwerp en deur die belydenisdoop ’n “bydrae” tot hulle redding wil lewer. Volgens hierdie beskouing word die genade van God, waaruit God eerste inisiatief tot ons redding geneem het, deur die belydenisdoop geminimaliseer tot ’n “vennootskap” waar die mens en God medewerkers in die redding van ’n verlore siel word. Hierdie aanname is egter ’n foutiewe een. Die belydenisdoop sluit nié God se eerste inisiatief tot ons redding óf Sy onverdiende genade uit nie, want daarsonder sou niemand immers tot geloof kon kom nie. God se eerste inisiatief en onverdiende genade word dus eerder gesien as ’n Goddelike aksie wat ’n menslike reaksie verwag. In Joh. 1:12 staan daar: “Maar almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Hiervolgens is die menslike reaksie op God se aksie om Hom aan te neem en in Hom te glo. Ook volgens Ef. 2:8 is hierdie menslike reaksie geloof. Hierdie menslike reaksie deur te gló, impliseer nie dat die mens op enige wyse God se reddende inisiatief verdien nie en neem dus niks van die onverdiende genade van God weg nie. Daarom neem die belydenisdoop ook niks van God se Verbond met die mens weg nie. Die verskil in Verbondsbeskouing tussen belydenisdoop en kinderdoop blyk eerder te wees in die wyse waarop elkeen glo dat hulle in die Verbond ingelyf word. Deur dus net na die kinderdoop as die Verbondsdoop te verwys, is daarom vanuit die perspektief van die belydenisdoop tegnies gesproke verkeerd. (Sien ook bespreking van Verbondsdoop, 7.6)

3.2 Aanhangers van die babadoop aanvaar dat kinders van gelowige ouers deur die bediening van die babadoop by die Verbond ingelyf word. Nakomelinge van Abraham is in die Verbond ingebore deur fisiese geboorte op grond van die feit dat Abraham in Verbond met God gestaan het. Dit was dus ’n generasionele Verbond. Die teken van hierdie Verbond was ’n fisiese besnydenis wat deur mensehande aan die vlees verrig is. Mettertyd is uiterlike reinigings rituele soos die mikvah bad en die onderhouding van ’n uiterlike wet wat deur die vinger van God op kliptafels geskrywe was, bygevoeg as deel van die Joodse geloofstradisie.

3.3 Aanhangers van die kinderdoop gaan van die veronderstelling uit dat die doop die besnydenis as Verbondsteken vervang het. Die logiese gevolgtrekking wat dus gemaak word, is dat as babas in die Ou Verbond die Verbondsteken van die besnydenis kon ontvang het, babas in die Nuwe Verbond die doop as teken kan ontvang.

3.4 Volgens Jesus se gesprek met Nikodemus (Joh. 3) word ons egter nie in die Nuwe Verbond ingelyf deur fisiese afkoms of natuurlike geboorte nie, maar wel deur wedergeboorte. Die Verbondsteken van die besnydenis aan die vlees deur mensehande verrig, word vervang met ’n besnydenis aan die hart wat die Here alreeds in Deut. 30:6 (OV) sowel as Eseg. 36 aan sy Verbondsvolk belowe het. Paulus bevestig hierdie innerlike besnydenis aan die hart as die Nuwe Testamentiese Verbondsteken wanneer hy in Rom. 2:28 sê: “Nie hy is ’n Jood wat dit uiterlik is nie en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. Nee, hy is ’n Jood wat dit innerlik is en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie… Paulus volg dieselfde gedagtegang wanneer hy in Fil. 3:3 sê: Ons het die ware besnydenis, óns wat God deur sy Gees dien, óns wat ons op Jesus Christus beroem en nie op uiterlike dinge vertrou nie. Die besnydenis bestaan dus steeds as die Verbondsteken in die Nuwe Verbond, maar die fisiese, uiterlike besnydenis deur mensehande aan die vlees word vervang deur ’n geestelike, innerlike besnydenis aan die hart deur die werking van die Gees. Hierdie innerlike besnydenis bestaan uit die “wegsny van die sondige natuur”, soos wat Kol. 2:11 dit stel, en is ’n konkrete voorstelling van wat tydens wedergeboorte deur die werking van die Heilige Gees in die hart van die bekeerling plaasgevind het. Die ou, onbekeerde mens wat eens geleef en die sonde gedien het, is as’t ware “weggesny” tydens wedergeboorte en is daarom dood sodat ’n nuwe skepping in sy plek in verbondenheid met God nuut kan leef. Hierdie dood en begrafnis van die “ou mens” vóór wedergeboorte en die opstanding van die nuwe mens in Christus word dan ook mooi deur die doop ritueel uitgebeeld. Daarom vervolg Paulus in Kol. 2:12 deur te sê dat hierdie besnydenis van die hart by die doop gebeur het. Hiermee wil Paulus nie die doop verhef tot ’n magiese handeling asof dit die doopwater self is wat wedergeboorte kan bewerkstellig of vervang nie, maar wil hy eerder sê dat die doop die innerlike wedergeboorte en besnydenis uiterlik voorstel. Paulus aanvaar dus dat iemand wat die doop as teken hiervan ontvang, reeds dit wat die teken voor staan, ervaar het.

3.5 In Rom. 6 beskryf Paulus ook die doop as ’n sterwe en begrafnis van die ou mens wat in die doopwater ingegaan het sowel as ’n geboorte van die nuwe mens wat vanuit die doopwater opgestaan het. Die afgaan in die doopwater is die mens se vereenselwiging met die dood van Jesus terwyl die opkom vanuit die doopwater die vereenselwiging met die opstanding van Jesus is. Daarby beskryf Tit. 3:5 wedergeboorte as ’n bad wat sonde afwas. 3.5.1 Dit is interessant dat al drie hierdie betekenisse van die doop aan die Joodse reinigingsbad (Mikvah) toegeskryf word: Die mikvah word beskou as ’n uiterlike reinigingsbad wat seremoniële onreinheid afwas. Die mikvah word ook beskou as die sterwe en begrafnis van die ou (onrein) persoon wat in die mikvah bad ingegaan het. Dit is egter nie net ’n sterwe en begrafnis van die ou mens nie, die mikvah word ook beskryf as die geboorte van ’n nuwe mens. Daarom word die mikvah vergelyk met ’n baarmoeder terwyl die water van die bad as die vrugwater binne die baarmoeder waaruit die baba gebore word, gesien word. Die persoon wat deur die mikvah gegaan het, word dus as ’n “nuwe skepping” gesien, net soos wat Paulus ’n persoon wat in Christus is (deur wedergeboorte) in 2 Kor. 5:17 beskryf: “As iemand in Christus is, is hy ’n nuwe skepsel; Die ou dinge het verby gegaan, dit het alle nuut geword.” Die parallelle in die betekenis van die mikvah van die Ou Testamentiese geloofstradisie (wat tot vandag toe nog deel van Judaïsme uitmaak) en die doop in die Nuwe testament is treffend en duidelik sigbaar. Dit is dus nie so eenvoudig as om bloot aan te neem dat die besnydenis van die Ou Verbond met die doop in die Nuwe Verbond vervang is nie aangesien beide die doop (mikvah) en besnydenis in een of ander vorm deel uitgemaak het van die geloofstradisie van beide die Ou sowel as die Nuwe Testament.

3.6 Dit is interessant dat hierdie besnydenis van die hart waarvan ons reeds in Deut. 30:6 en Eseg. 36:25 tot 27 lees, met die ontvang van ’n innerlike wet, ’n wet wat op die hart geskrywe staan, verbind word. In Deut. 30:6 belowe God: “Die HERE jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, om die HERE jou God lief te hê met jou hele hart en met jou hele siel, dat jy kan lewe.” Wanneer Jesus in Matt. 22:34 tot 37 gevra word wat die grootste gebod in die Wet is, antwoord Hy: “Jy moet die HERE jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand.” God se belofte in Deut. 30:6 is duidelik waarneembaar in Jesus se antwoord. Ons sien dieselfde beginsel van ’n innerlike wet wat op ’n besnede hart geskryf word wanneer God in Eseg. 36:26 tot 27 belowe: “Ek sal julle ’n nuwe hart gee en julle ’n nuwe gees in julle binneste gee; en ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. Ek sal my Gees in julle binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” Ons sien dus dat, net soos wat ’n uiterlike besnydenis sowel as ’n uiterlike wet deel van die Ou-Testamentiese geloofstradisie gevorm het, ’n innerlike besnydenis sowel as ’n innerlike wet wat op die hart van ’n gelowige geskrywe staan, deel van die Nuwe Testamentiese geloofstradisie uitmaak.

3.7 Opsommenderwys kan ons dus sê: Waar die nakomelinge van Abraham in die Verbond ingebore is deur fisiese geboorte of afkoms, word ons volgens Jesus (Joh. 3) in die Nuwe Verbond ingebore deur wedergeboorte. Op dieselfde wyse word ’n fisiese besnydenis aan die vlees vervang met ’n geestelike besnydenis aan die hart. Die uiterlike wet wat in die Ou Testament op kliptafels geskrywe was, word vervang met ’n innerlike wet wat op die hart wat eens “’n hart van klip” was, maar deur God met “’n hart van vlees” vervang is, geskrywe. Die uiterlike reinigingsbad (mikvah) van die OT geloofspraktyk, wat ’n sterfte en ’n geboorte gesimboliseer het, word in die NT met ’n innerlike bad, die bad van wedergeboorte (Tit. 3:5 OV) vervang en word deur die praktyk van die doop uitgebeeld.

4. HISTORIESE AGTERGROND VAN VROEËRE DOOPPRAKTYKE (1STE-5DE EEU N.C.)

4.1 Volgens Everett Ferguson (Baptism in the early Church) is die 3de eeu na Christus die tydperk wat vir ons belangrike agtergrond gee oor die ontstaan en vroeë ontwikkeling van die praktyk van die kinderdoop. Volgens Ferguson het die kinderdoop eers in die vyfde eeu na Christus die norm geword onder die invloed van Augustinus. Die vroeëre liturgieë van die doop (vóór die invloed van Augustinus) was volgens Ferguson duidelik gemik op persone van toerekenbare ouderdom. Proff. Hendrick Stander en wyle Jannie Louw van die Departement Antieke Tale aan die Universiteit van Pretoria maak in hulle boek met dieselfde titel (Baptism in the early Church) dieselfde gevolgtrekking. Eers aan die einde van die vierde eeu was daar mindere, maar tog merkbare tekens dat diegene wat nog nie vir hulleself kon besluit nie, in die bediening van die doop geakkommodeer is. (Ferguson, 2009: 632) Ferguson maak melding van die feit dat daar geen gedeelde teologie aangaande die kinderdoop tussen die Griekse en Latynse kerk van daardie tyd bestaan het nie en beskou dit as ’n sterk argument teen die beskouing dat kinderdoop ’n standaardpraktyk in die voorafgaande eeue was. Dit laat ons met die gevolgtrekking dat die praktyk van die kinderdoop die teologiese begronding daarvan voorafgegaan het.

4.2 Die geskiedkundige navorsing van Ferguson lewer oortuigende getuienis dat die kinderdoop as ’n nood praktyk ontwikkel het: die doop is as ’n noodmaatreël bedien aan ernstig siek of sterwende babas en jong kindertjies. Die rede hiervoor was ’n verkeerde interpretasie van die Joh. 3:5 teks waar Jesus sê: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie.” Die geboorte “uit water” is beskou as ’n verwysing na die doop as ’n essensiële voorvereiste vir redding. Mettertyd het die kinderdoop as noodmaatreël verder ontwikkel in ’n voorkomende maatreël totdat dit in die vyfde tot sesde eeu na Christus die norm geword het. Saam met die beoefening van sogenaamde “nood dope”, die uiteindelike koppeling van die doop aan die besnydenis, sowel as die feit dat geglo is dat die doop sonde kon verwyder, is die doop, volgens Stander en Louw, algaande toenemend aan klein kindertjies en nóg later aan babas bedien. Binne hierdie teologiese raamwerk (veral op die wyse wat dit deur Chrysostomus verwoord is) word die doop as ritueel die mees eksklusiewe donateur van Christelike seën. Die simbool word die werklike middel en so word die ritueel van die doop self, in plaas van Christus, die waarborg van ewige verlossing. (Stander & Louw,1994: 182,184) Ferguson (Ferguson, 2009: 373 tot 377) werp verdere lig op die reddende kwaliteit wat verkeerdelik aan die doophandeling self geheg is rondom die derde en vierde eeu deur te verwys na die inskripsies op die grafstene van jong kindertjies wat uit daardie tyd dateer. In hierdie inskripsies word die babas “gelowiges” genoem wat “genade ontvang” het omdat hulle by hulle sterfte “nuwe dopelinge” was. Op bl. 373 vertel Ferguson die verhaal van Appronianus wat gesterf het voordat hy twee was, maar dat sy liefdevolle ouma op sy sterfbed die kerk gevra het om hom toe te laat om “die wêreld as ’n gelowige te verlaat”.

4.3 Die koppeling tussen die doop en besnydenis het ook eers relevant geraak toe die ouderdom waarop iemand gedoop moes word ter sprake begin kom het. In die derde en vierde eeu was daar nie ’n duidelik ontwikkelde dogma oor die doop wat die besnydenis vervang het nie. Daarom dat die Abrahamitiese Verbond byna nooit in die literatuur van hierdie tyd genoem word nie. Dit is eers heelwat later dat ’n teologie hier rondom ontwikkel het waarvan die vierde eeuse teologie die fondasie gelê het (Stander & Louw, 1994: 185)

4.4 Vóór die invloed van Augustinus het die vroeëre kerk die doop as ’n openbare belydenis van geloof beoefen. Bekeerlinge is so spoedig moontlik na hulle bekering gedoop as ’n uiterlike belydenis van hulle innerlike, persoonlike geloof. Om hierdie rede is die doop as ’n openbare stelling onlosmaaklik verbind met die verklaring van reddende geloof. (Viola en Barna, 2008: 188) Weereens word geloof as die menslike reaksie op God se reddende genade en eerste inisiatief gestel. Vanuit tekste soos Hand. 2:27 tot 41; 8:12, 27 tot 38; 10:44 tot 48; 16:14 tot15, 31 tot 33; 18:8; 19:1 tot 5; 22:16 sien ons dat die Bybelse orde of progressie was dat bekering doop voorafgegaan het, soos wat die kerk dit dan ook in die eerste eeue na Christus toegepas het.

4.5 Aan die einde van sy laaste hoofstuk maak Ferguson die gevolgtrekking: dit word algemeen aanvaar dat daar dus geen oortuigende bewyse bestaan dat die kinderdoop vóór die laaste helfte van die tweede eeu n.C. deur die Kerk beoefen is nie. Dit laat ons met die geldige vraag: hoe kan aanhangers van die kinderdoop dit as die enigste aanvaarbare dooppraktyk beskou … 4.5.1 as daar so ’n groot chronologiese gaping tussen die doop as openbare belydenis van geloof, soos in die eerste eeu n.C. beoefen, en die kinderdoop as algemene praktyk vanaf die vyfde eeu n.C. is; 4.5.2 as daar in die Bybel so ’n duidelike verband tussen sondeberou, openbare belydenis van geloof en doop is; 4.5.3 as die eerste bekende doop liturgieë almal geskryf is vir persone van toerekenbare ouderdom; 4.5.4 as die doopbaddens of doopvonte oorspronklik almal vir volwassenes ontwerp is ( doopvonte is eers in die middel van die vyfde eeu n.C. verklein) 4.5.5 en daar boonop geen formele teologiese begronding van die praktyk voor die vyfde eeu n.C. bestaan het nie?

4.6 In “Faith seeking understanding” beskryf Daniel Migliore die gereformeerde teoloog Karl Barth se besware teen die kinderdoop. Sy argument kan in drie punte opgesom word:

4.6.1 Daar is geen eksplisiete basis vir die kinderdoop in die Woord nie.
4.6.2 Die kinderdoop lei tot die gevaarlike aanvaarding dat mense Christene word deur fisiese geboorte (in gelowige gesinne).
4.6.3 Barth se sentrale teologiese argument is dat kinderdoop die betekenis van die doop as toegang tot vrye en verantwoordelike Christelike dissipelskap verduister. (Migliore, 2004: 284) Barth benadruk dat die doop ’n Goddelike handeling: doping met die Heilige Gees (wedergeboorte) en terselfdertyd ’n dienooreenkomstige menslike reaksie: waterdoop is.

5. BEM VERKLARING VAN DIE WÊRELDRAAD VAN KERKE 1982

5.1 Een van die primêre doelwitte van die Wêreldraad van Kerke is om die eenheid van die Kerk van Christus wêreldwyd te verklaar deur alle kerke op te roep tot die doelwit van sigbare eenheid in één geloof en één eucharistiese gemeenskap wat uitdrukking vind in aanbidding en die lewe in Christus, sodat die wêreld mag glo. Een van die belangrikste voorvereistes in die bereiking van hierdie doel is dat daar tussen die verskillende kerkverbande ’n basiese ooreenstemming ten opsigte van die doop, die nagmaal en die ampte bereik sal word. Die BEM verklaring is die resultaat van meer as vyftig jaar van studie aangaande hierdie onderwerpe. Die meer as driehonderd lidkerke, verteenwoordigend van die totale diversiteit van die Kerk wêreldwyd, het meegewerk tot die resultaat in die BEM dokument saamgevat. Die rede waarom die resultaat van die BEM verklaring ten opsigte van die doop in hierdie gravamen vermeld word, is omdat die Wêreldraad van Kerke hoofsaaklik met ’n Teologie van Eenheid omgaan en in sy resultaat verkeerde persepsies van die doop na beide kante van die spektrum wil aanspreek en regstel sodat kerke kan werk na ’n sigbare eenheid in sy getuienis na buite. Dit wil ook poog om die vyandige gesindheid van die verlede tussen verskillende standpunte by te lê deur eerder te fokus op gedeelde oortuigings en perspektiewe.

5.2 Die bevinding van hierdie studie was dat die kerk oor die hele spektrum saamstem oor die volgende aspekte rakende die doop:

5.2.1 Die Kerk beoefen steeds die praktyk van die doop as ’n sakrament van toewyding aan die Here wat sy onverdiende genade aan die mens bewys het.

5.2.2 Daar is algemene konsensus oor die betekenis van die doop:

5.2.2.1 Die doop is ’n deelname in die dood en opstanding van Christus.
5.2.2.2 Die doop is ’n simbool van bekering, vergifnis en reiniging van sonde.
5.2.2.3 Die HG is werksaam in die lewe van mense vóór, gedurende en ná hulle doop.
5.2.2.4 Die doop word gesien as die inlywing in die Liggaam van Christus in.
5.2.2.5 Die doop is die seël of simbool van die Koninkryk van God en die lewe van die toekomstige wêreld.
5.2.2.6 Daar is algemene konsensus daaroor dat die doop ’n eenmalige gebeurtenis is en dus nie herhaal behoort te word nie.
5.2.2.7 Beide die belydenisdoop en die kinderdoop moet plaasvind binne die kerk as geloofsgemeenskap.

5.3 Daar is ’n onlosmaaklike verwantskap tussen geloof en die doop. Die doop is terselfdertyd ’n gawe van God en ’n menslike reaksie op daardie gawe.

5.3.1 Die doop word nie slegs gekoppel aan ’n enkele, verbygaande belewenis (die doopplegtigheid) nie, maar eerder aan ’n lewenslange groeiproses in Christus.
5.3.2 Soos wat gedooptes geestelik groei in die Christelike lewe deur die geloof, demonstreer hulle die realiteit dat God die mag het om die mensdom te regenereer en te bevry.

5.4. Die BEM verklaring wys egter daarop dat Kerke, ten spyte van bogenoemde ooreenstemming, verskil aangaande die praktyk van die doop: Kerke verskil ten opsigte van die tyd waarop die doop bedien moet word en ook rondom die metodiek (besprinkeling vs onderdompeling) van die doop.

5.4.1 Terwyl die moontlikheid van kinderdoop as ’n praktyk van die apostoliese era nie volkome uitgesluit kan word nie, is die patroon van éérs die persoonlike verklaring van geloof en dán doop die mees duidelik bevestigde volgorde in die Nuwe Testamentiese dokumente.

5.5. GEVOLGTREKKING TEN OPSIGTE VAN DIE BEM VERKLARING

5.5.1 Die BEM verklaring maak die stelling dat verskillende kerke toenemend mekaar se dooppraktyke erken. Hierdie wedersydse erkenning is ’n belangrike uitdrukking van die eenheid in Christus ten opsigte van die doop. Daar word ook ’n beroep gedoen op kerke om hierdie eenheid openlik te verklaar. Hierdie eenheid vra toegewing na beide kante van die spektrum: Kerke wat die belydenisdoop toepas, moet poog om duideliker uitdrukking te gee aan die feit dat kinders onder die beskerming van God se genade geplaas word; terwyl kerke wat die kinderdoop toepas daarteen moet waak om die doop nie sonder enige voorbehoud te bedien nie en met erns die verantwoordelikheid om die dopeling te begelei tot ’n ware oorgawe aan Christus opneem.

5.5.2 Vir die doeleindes van hierdie gravamen is dit belangrik om daarop te let dat sommige kerke, volgens die BEM verklaring, daarin kon slaag om beide dooppraktyke as gelykstaande alternatiewe in een kerk te integreer. Waar kinderdoop verkies word, moet die doop uiteindelik opgevolg word met ’n latere verklaring van geloof terwyl die belydenisdoop voorafgegaan moet word deur ’n toewyding en inseëning seremonie. Die voorbeeld van hierdie kerke roep ons op om te poog om ook gelykstaande alternatiewe in ons dooppraktyke te erken ter wille van sigbare kerkeenheid.

6. GEREFORMEERDE TEOLOGIE

6.1 Kerke wat die kinderdoop as die enigste Verbondsdoop beskou, sien die voorkeur van die belydenisdoop as “ongereformeerd”. Om te bepaal of daar meriete vir hierdie aanname is, sal ons eers moet verwoord wat ons onder die term “gereformeerd” verstaan. Wêreldwyd word algemeen aanvaar dat die kern van gereformeerde teologie op die vyf beginsels, soos in die “Sola’s” verwoord, sowel as die sogenaamde “vyf punte” van Calvinisme berus:

6.1.1 Sola Scriptura (Die Skrif alleen)
6.1.2 Sola Christus (Christus alleen)
6.1.3 Sola Gratia (Genade alleen)
6.1.4 Sola Fide (Geloof alleen)
6.1.5 Soli Deo Gloria (Die heerlikheid/eer van God alleen)

6.2 Die vyf punte van Calvinisme hang hiermee saam:

6.2.1 Die totale verdorwenheid van die gevalle mensdom
6.2.2 Die onvoorwaardelike uitverkiesing van God
6.2.3 Beperkte Versoening
6.2.4 Onweerstaanbare genade
6.2.5 Volharding van die heiliges

6.3 By nadere beskouing sien ons dat die belydenisdoop nie die geldigheid van een van hierdie grondbeginsels aantas nie. Die BEM verklaring as resultaat van die Wêreldraad van Kerke se jare lange navorsing oor hierdie onderwerp is ’n duidelike bewys hiervan. Die argument dat die kinderdoop alleen die kern van gereformeerde teologie verteenwoordig, is dus nie ’n geldige een nie. Daarom kan die belydenisdoop dus ook nie as “ongereformeerd” beskou word nie, maar eerder as ’n Bybels verantwoordbare alternatief wat óók deur die gereformeerde bril gelees kan word. Die feit dat daar Gereformeerde Baptiste kerke bestaan, ondersteun hierdie argument.

6.4 Die belydenisskrifte vorm deel van die fondasie van die gereformeerde teologie. Die NG Kerk bely die “Quia” standpunt wat verklaar dat die belydenisskrifte waar is omdat dit met die Bybel ooreenstem. Daarteenoor staan die “Quatenus” standpunt wat verklaar dat die belydenisskrifte waar is in soverre dit met die Bybel ooreenstem. Die probleem van die “Quia” standpunt is dat dit veronderstel dat die belydenisskrifte onfeilbaar is omdat dit met die Bybel ooreenstem. Hierdeur word die belydenisskrifte onaantasbaar verklaar deurdat daar geen ruimte gelaat word vir moontlike foutiewe interpretasie van die Bybel waarop die belydenisskrifte gebaseer is nie. Gevolglik kan die belydenisskrifte ook nooit gewysig word nie. Dit laat ons egter met die praktiese tameletjie rondom bv. Artikel 36 van die Nederlandse Geloofsbelydenis wat aanvoer dat die verantwoordelikheid om nie net aan die staatsbestuur aandag te gee en daaroor te waak nie, maar ook “om die heilige Woordbediening te beskerm, om sodoende alle afgodery en valse godsdiens teen te gaan en uit te roei, die ryk van die antichris te vernietig en die koninkryk van Jesus Christus te bevorder, die Woord van die evangelie orals te laat verkondig, sodat God deur elkeen geëer en gedien word soos Hy in sy Woord beveel” by die staat berus. Niemand huldig egter meer hierdie standpunt soos in Artikel 36 verwoord nie. Om steeds die Quia standpunt te verdedig, word ons aangemoedig om hierdie artikel “histories” te lees. As ons egter konsekwent wil wees, moet ons erken dat dit soms nodig is om ons belydenisskrifte van tyd tot tyd opnuut aan die Bybel te meet om seker te maak dat dit steeds Bybels verantwoordbaar is en bly. Die feit dat die kerk oor die jare heen hulle sienswyse aangaande ’n verskeidenheid van sake soos apartheid, sensuur, homoseksualisme, saamwonery, ens. gewysig het, toon dat die NG Kerk nie ’n probleem het om terug te gaan na die Woord en dit te herinterpreteer nie. Hoekom is ons dan so huiwerig om dieselfde met die belydenisskrifte te doen? Die belydenisskrifte kan tog nie hoër geag word as die soewereine Woord van God waarop dit gebaseer is nie. Het dit nie tyd geword om weer opnuut na Artikel 34 van die Nederlandse geloofsbelydenis en Vraag 74 van Sondag 27 van die Heidelbergse Kategismus te kyk nie?

7. VERBONDSDOOP

7.1 Volgens die doopformulier van die NG Kerk word die kinders van gelowiges gedoop omdat God ’n Verbond van genade met ons en ons kinders gesluit het. Die vertrekpunt is dat God die kind van die begin af in sy Verbond met gelowige ouers insluit, daarom moet kinders as ’n teken hiervan gedoop word. Die feit dat die dopelinge nog nie die vrye genade wat God aan hulle bewys het, verstaan nie, beklemtoon die feit dat God inisiatief neem in hulle verlossing. Ter stawing hiervan stel die doopformulier dat hele gesinne gedoop is waar die ouers tot geloof gekom het. Daar is drie Bybelse verwysings na huishoudings wat gedoop is:

7.1.1 Hand. 16:32 tot 33 (Die tronkbewaarder en sy huisgesin)
7.1.2 1 Kor. 1:16 (Stefanas en sy gesin)
7.1.3 Hand. 16:15 (Lidia en haar huisgesin)
7.1.4 Cornelius en sy “mense” (Hand. 10:44 tot 48 en Hand. 11:14 tot 15) is ’n moontlike vierde verwysing.

7.2 Diegene wat die kinderdoop onderskryf, gebruik hierdie verwysings na gesinne aan wie die doop bedien is as ’n Bybelse bewys om hul standpunt te regverdig. Om dit suksesvol te doen, moet die indirekte afleiding noodgedwonge gemaak word dat hierdie huisgesinne ook kindertjies van nie toerekenbare ouderdom ingesluit het en dat die doop ook aan hulle bedien is. Die geldigheid van hierdie aanname word egter bevraagteken as ons in ag neem dat in minstens drie van die bogenoemde Bybelse verwysings daar genoegsame getuienis is om te aanvaar dat hierdie huisgesinne nie babas ingesluit het nie.

7.2.1 Die tronkbewaarder en sy huis: Hand. 16:32 sê pertinent dat die Woord van die Here aan die tronkbewaarder en aan al die mense in sy huis verkondig is. Vers 34 sê dat hy en sy hele huisgesin vol blydskap was omdat hulle nou geglo het. Gevolglik kan ons aanneem dat hierdie hele huisgesin van toerekenbare ouderdom was omdat die Woord aan hulle verkondig kon word en hulle tot geloof kon kom. Daarom is hulle dan ook almal gedoop.(v33)

7.2.2 Stefanas en sy huisgesin: In 1 Kor. 16:15, 16 lees ons weer van Stefanas en sy gesin vir wie Paulus volgens 1 Kor. 1:16 gedoop het. Hier noem Paulus hulle “die eerste bekeerlinge in Agaje”. Hierdie huisgesin moes dus ook van toerekenbare ouderdom gewees het. Paulus verwys verder na die feit dat hierdie gesin “hulle tot diens van die gelowiges gestel het”. Hulle was dus nie net oud genoeg om te glo nie, maar ook om diensbaar binne die geloofsgemeenskap te wees. Daarom moedig Paulus die gemeente in Korinte aan om hulleself “onder die leiding van sulke mense te plaas” en ook elkeen wat saam met hulle werk en arbei. (v16)

7.2.3 Cornelius en sy mense: Hand. 11:14 vertel vir ons dat Cornelius die bediening van die Evangelie nodig gehad het sodat “hy en sy hele huisgesin” gered kon word. Hand. 10:44 tot 47 vertel egter vir ons dat almal wat hierdie evangelie gehoor het die Heilige Gees ontvang het en in ongewone klanke God geprys het. Cornelius se huishouding was dus nie net oud genoeg om die goeie boodskap te hoor en aan te neem nie, maar ook om die gawe van ongewone tale te ontvang. Hierop reageer Petrus deur in v47 te vra: “Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?”

7.2.4 Lidia en haar gesin: Hand. 16:14 tot 15 vertel net vir ons dat Lidia deur die Here ontvanklik vir Paulus se woorde gemaak is en dat sy en haar huisgesin daarna gedoop is. Al wat ons verder van haar weet, is dat sy ’n purperverkoopster van Tiatira in Klein Asië was wat in Korinte kom handel dryf het. Daarbenewens gee die Skrifgedeelte vir ons geen verdere inligting aangaande haar huishouding wat as ’n argument vir óf teen die kinderdoop gebruik kan word nie.

7.3 GEVOLGTREKKING Daar is dus nie genoegsame Bybelse getuienis om aan te neem dat babas deel uitgemaak het van die gesinne wat in die Nuwe Testament gedoop is nie.

7.4 Anders as wat algemeen aanvaar word, verwerp gelowiges wat die belydenisdoop onderskryf nie die genadeverbond wat God met ons en ons kinders sluit nie. Hulle glo ook dat God Self die inisiatief in elkeen se redding neem en die kinders van gelowige ouers van die begin af insluit in die Verbond deurdat Hy hulle laat deel in die voordele en voorregte van Sy verbondsbeloftes. Die vraag is egter of Hy dit spesifiek deur die bediening van die doop doen. As kinders van gelowiges deur die bediening van die doop in die genadeverbond ingelyf word, wat sou die implikasie daarvan wees vir die kinders van gelowige ouers wat nog nie gedoop is nie? Sou God dan nie eerste inisiatief in hul redding neem deur Sy Hand van genade ook na hulle toe uit te steek nie, bloot op grond van die tegniese feit dat hulle nie gedoop is nie? Deel hulle nie in hulle ouers se verbondsbeloftes en voorregte nie? Uiteindelik moet ons onsself afvra wat ons onder die term “Verbondskinders” verstaan. Verwys die term na die kinders van gelowige ouers wat in Verbond met God staan of is dit bloot ’n tegniese term wat verwys na kinders aan wie die kinderdoop bedien is?

7.5 Die problematiek rondom die kinderdoop vanuit die perspektief van diegene wat die belydenisdoop onderskryf, sentreer rondom die implikasies wat die Bybelse betekenis van die doop vir die dopeling inhou. Soos ons reeds in die Bybel gesien het, is daar ’n duidelike verband tussen wedergeboorte en dit wat die doop simboliseer. In 1 Kor. 6:10 beskryf Paulus die lewenswandel van die “ou mens” voordat hy deur God geregenereer is. Dan vervolg Paulus in v 11: “En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God.” Dit laat ons met die vraag: verwys hierdie “afwas” waarvan Paulus praat na die uiterlike handeling van die doop of eerder na ’n innerlike werklikheid soos deur die doop uitgebeeld? Volgens Tit. 3:5 is die “bad” waardeur God ons red die “bad van wedergeboorte” en die “vernuwing deur die Heilige Gees”. Die doop kan dus beskryf word as ’n uiterlike handeling wat ’n innerlike waarheid uitbeeld of simboliseer. As ons die eienskappe van wedergeboorte aan die handeling van die doop toeskryf, word die doop opsig self die handeling wat regenerasie teweeg bring. Sodoende word die doop die ekwivalent van wedergeboorte en die bediening van die doop opsig self ’n reddende handeling, terwyl ons doopformulier pertinent stel dat dit nie die geval is nie.

7.6 Voorstanders van die belydenisdoop het dus nie ’n probleem met die Verbondsdoop nie, maar is van die oortuiging dat die doop slegs bedien moet word wanneer dit ’n innerlike waarheid weerspieël. Reeds in Gen. 15 sluit God die Verbond met Abram terwyl die verbondsteken van die besnydenis eers in Gen. 17 deur God ingestel word. Abraham word die vader van die gelowiges genoem en is deur God regverdig verklaar op grond van die feit dat hy in God geglo het (Gen. 15:6) en nie op grond van die feit dat hy die uiterlike verbondsteken aan sy liggaam gedra het nie. Rom. 4:11 bevestig hierdie feit: “Hy (Abraham) het die besnydenis as ’n teken ontvang. Dit is ’n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo.” Op dieselfde wyse as Abraham word gelowiges as die “kinders van Abraham” opgeroep om te glo. Gal. 3:7: “Julle verstaan dan dat die wat uit die geloof is, hulle is kinders van Abraham. v9 Sodat die wat uit die geloof is, geseën word saam met die gelowige Abraham.” Abraham word dus hier vir ons as ons voorganger in die geloof, of “geloofsprototipe” gestel in wie se spore ons moet volg deur te glo soos wat hy ook geglo het, om uiteindelik as kinders van Abraham en daarom ook erfgename gereken te word. (Sien Gal. 3:29) In Gal. 3:26 vervolg Paulus deur te sê dat ons kinders van God word deur die geloof in Jesus Christus. In v 27 maak Paulus dan die volgende stelling: “Want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee.” Volgens die geskrifte van die kerkvaders en hul beskrywing van die dooppraktyke in hul vroeë gemeentes is mans en vroue apart gedoop omdat dopelinge naak gedoop is. (Louw D, 2013) Die simboliek wat deur hierdie praktyk uitgebeeld is, is sprekend. Die dopeling het met sy “ou klere”, ’n simboliese voorstelling van sy ou lewe vóór bekering en wedergeboorte, na die doopwater gegaan. By die doopwater het hy egter sy ou klere – en daarmee saam sy ou lewe – uitgetrek en afgegooi soos ’n verwerplike kleed. Ná die doopritueel het die dopeling nuwe klere aangetrek as ’n simbool dat hy opnuut gebore en nou met Christus beklee is. Om dus deur die doop met Christus beklee te kan word, impliseer dat geloof die bediening van die doop vooraf moet gaan. Charles R Erdman bevestig hierdie implikasie wanneer hy sê: “Paul here affirms that through the operation of faith we are all sons of God…in Christ Jesus … Into such a relationship we are brought by baptism; “For as many of you as were baptized into Christ did put on Christ.” Baptism here denotes a confession of faith. Without faith baptism would be an empty form. …”(Erdman, 1961: 85) Die uiterlike handeling van die doop vind dus eers sy waarde wanneer dit sy innerlike waarheid wat daardeur gesimboliseer word, reflekteer. Hierdie innerlike waarheid is die regenerasie van die ou mens deur wedergeboorte, want dit is deur wedergeboorte wat die ou mens wat ons eens was saam met Christus sterwe en begrawe word en die nuwe skepping in Christus saam met Hom opgewek word tot ’n nuwe lewe. Wanneer die bediening van die doop as uiterlike simbool losgemaak word van wedergeboorte as ’n innerlike werklikheid, word dit in die woorde van Charles R Erdman, soos reeds vermeld, “an empty form”, ’n leë handeling wat sy oorspronklike Bybelse betekenis verloor het.

8. OORDOOP/HERDOOP

8.1 In my eie bediening is daar waarskynlik geen enkele kwessie waaraan ons plaaslike gemeente meer lidmate verloor het as die een rondom die NG Kerk se amptelike beskouing van die bediening van die belydenisdoop aan lidmate wat as babas gedoop is nie. Volgens die BEM verklaring is een van die sake waaroor die meeste kerke saamstem die oortuiging dat die doop, net soos wedergeboorte, ’n eenmalige gebeurtenis behoort te wees omdat ons ook net een maal saam met Christus sterwe en opstaan in ’n nuwe lewe. Tog toon die praktyk dat talle kerke wat die belydenisdoop onderskryf geen gewetensbeswaar daarteen het om die belydenisdoop te bedien aan diegene wat reeds as babas gedoop is nie. Die rede hiervoor is dat hulle nie die kinderdoop as die Bybelse doop beskou nie. Om begrip te hê vir ons lidmate wat as babas reeds gedoop is, maar steeds die behoefte ervaar om die belydenisdoop te ondergaan, is dit belangrik om hulle beweegredes hiervoor te verstaan. Hierdie lidmate beskou die belydenisdoop as ’n daad van gehoorsaamheid aan ’n Bybelse opdrag soos o.a. in Matt. 28:19 uiteengesit:
8.1.1 Gaan na al die nasies toe
8.1.2 Maak die mense my dissipels
8.1.3 Doop hulle (daardie dissipels)
8.1.4 Leer hulle

8.2 GEVOLGTREKKING

8.2.1 Vanuit hierdie progressie is die Bybelse opdrag om die doop te bedien aan diegene wat reeds dissipels geword het.

8.2.2 Hierdie lidmate beskou gevolglik die belydenisdoop as die ware Bybelse doop en erken dus nie die doop wat hulle as babas ontvang het nie. Al beskou hulle nie die kinderdoop as die ware doop nie, beteken dit nie dat die ritueel vir hulle waardeloos was nie. Hulle sien eerder hulle kinderdoop as ’n belofte van toewyding wat hulle ouers as Verbondsouers teenoor God afgelê het om hulle aan die Here toe te wy en in Sy weë groot te maak. Vanuit hierdie perspektief beskou hulle nie hul belydenisdoop as ’n herdoop of wederdoop nie, maar eerder as die ware doop. Die motief in die harte van lidmate wat die belydenisdoop ondergaan ten spyte daarvan dat hulle reeds as babas gedoop is, is dus nie minagting, opstandigheid of rebellie teenoor die kerk nie. Ten spyte daarvan het hierdie perspektief van die sogenaamde “wederdopers” deur die eeue, soos vandag steeds, aanleiding tot geweldige aanstoot onder diegene wat die kinderdoop onderskryf, gegee. Myns insiens vorm hierdie aanstoot deel van die huiwering binne die NG Kerk om die belydenisdoop te erken en te bedien aan lidmate wat reeds die kinderdoop ontvang het. Sulke lidmate moet dus noodgedwonge weggewys word na gemeentes wat wel die belydenisdoop aan hulle sal bedien as hulle volgens hulle oortuiging en gewete sou wou optree. Die Sinode van 2011 laat wel ruimte dat sodanige lidmate, nadat die belydenisdoop elders aan hulle bedien is, welkom is om weer hulle regmatige plek in hulle plaaslike gemeentes in te neem. Die beskuldiging dat hierdie lidmate deur hulle belydenisdoop die genade wat God aan hulle bewys het, verwerp en as’t ware “in Sy gesig teruggooi” deur te probeer “bydra” tot hulle redding, ontmoedig hulle egter om dit te doen. Die besluite rakende die doop van die Sinode van 2013, soos vervat in die Kerkorde van 2013 se BELEID, FUNKSIONELE BESLUITE EN RIGLYNE (17.14.2.4) dat hierdie lidmate pastoraal begelei moet word en die oproep in die ATR se verslag aan die Sinode van 2013 (2.2.1.1) dat kerkrade en predikante die “gereformeerde verstaan van die Verbondsdoop met oortuiging moet bevestig”, impliseer dat hierdie geestelike belewenis (die belydenisdoop) waaraan hulle soveel betekenis heg, deur hul kerk as ’n “dwaling” waarvan hulle in werklikheid bekeer moet word, gesien word. Die feit dat hulle voortaan beperkte lidmaatregte geniet deurdat hulle van die ampte uitgesluit word, bevestig hierdie implikasie. Dit lei noodgedwonge tot:

8.2.2.1 ’n mentaliteit van geheimhouding omdat hulle uit vrees vir geestelike veroordeling nie met vrymoedigheid kan verklaar of getuig aangaande hulle geloofservaring nie. Die hartseer gevolg hiervan is dat die oorspronklike Bybelse betekenis van die doop as openbare verklaring van geloof daardeur verlore gaan. (As ons ’n landswye anonieme opname kon maak oor hoeveel van ons NG Kerk lidmate reeds ’n belydenisdoop elders ondergaan het, maar nooit die vrymoedigheid gehad het om dit in die openbaar bekend te maak nie, sou dit vir ons groter insae in die noodsaaklikheid om tot ’n bevredigende vergelyk te kom, kon gee.)

8.2.2.2 die soeke na ’n nuwe geestelike tuiste deur lidmate wat andersyds steeds tuis en lojaal aan hulle plaaslike gemeente sou gebly het. Die realiteit is dat lidmate wat noodgedwonge elders moet gaan om die belydenisdoop te ontvang, dikwels nie weer na hulle plaaslike NG gemeente toe terugkeer nie. Sodoende verbeur die NG Kerk lidmate wat, as hulle deur die kerk geakkommodeer sou geword het, hulle plaaslike gemeente met hulle Godgegewe gawes en bedieninge sou gedien het en sodoende vir ons ’n aanwins kon gewees het.

8.2.2.3 die skending van die getuienis van ons kerk omdat beperkte lidmaatregte diskriminerend en liefdeloos van aard is.

8.3 Die Sinodes van 2011 en 2013 laat wel ruimte vir doopherdenking/herinnering vir diegene wat behoefte daaraan het om hulle doop in die openbaar te vier. “Doopviering” as alternatief was myns insiens ’n poging tot kompromie, maar nogtans nie ’n geslaagde een nie, deels omdat die riglyne daarvoor vaag omskryf was (wat weer op sy beurt sy eie problematiek tot gevolg gehad het) en andersyds omdat dit nie vir lidmate wat die belydenisdoop onderskryf ’n aanvaarbare alternatief vir die Bybelse doop is nie.

9. GEVOLGTREKKING

9.1 Die kerngedagtes van hierdie gravamen kan soos volg saamgevat word:

9.1.1 Ons gee dankbaar erkenning vir die versoenende gebaar van die Sinode van 2011 vir hulle poging om ten opsigte van die doop ’n ruim huis vir almal te skep. Die problematiek rondom die implementering van die ATR se riglyne, soos goedgekeur deur die Sinode van 2013, vereis egter ons dringende aandag en duidelike, doelgerigte besluitneming om verwarring uit te skakel en sodoende kerkeenheid te beskerm en te bevorder. Om dit te verseker, sal ons konsekwent moet wees ten opsigte van die lidmaatregte van almal wat in hierdie ruim huis ingesluit word.

9.1.2 Die gravamen het gepoog om die doop perspektief van die diegene wat die belydenisdoop onderskryf uit te lig as ’n geldige, alternatiewe siening wat nogtans in lyn is met die toepassing van gereformeerde beginsels:

9.1.2.1 Die feit dat geloof as ’n menslike reaksie op God se eerste inisiatief en aksie vereis word, sê op geen wyse dat ons daardeur God se reddende genade verdien of ’n bydrae daartoe kan lewer nie.
9.1.2.2 Die belydenisdoop impliseer nie die verwerping van God se verbond nie. Die belydenisdoop is ook ’n Verbondsdoop.

9.1.3 Die verskil in die doop perspektiewe lê eerder in die wyse waarop ons glo dat ons tot die Verbond toetree:

9.1.3.1 Diegene wat die kinderdoop onderskryf, glo dat die kindertjies van gelowige ouers deur die bediening van die doop in die Verbond ingelyf word.
9.1.3.2 Diegene wat die belydenisdoop onderskryf, glo dat hulle deur wedergeboorte by die Verbond ingelyf word deur te glo as ’n reaksie op God se reddende genade.

9.1.4 Historiese navorsing toon dat die praktyk van die kinderdoop eers vanaf die 3de eeu n.C. begin ontwikkel het.

9.1.5 Tot minstens die derde eeu was die belydenisdoop die standaardpraktyk in die Kerk.

9.1.6 Die BEM verklaring van die Wêreldraad van Kerke roep kerke wêreldwyd op tot die doelwit van sigbare eenheid ter wille van die Kerk se getuienis in die wêreld. Om in hierdie doelwit te slaag, sal ons ’n basiese ooreenstemming ten opsigte van die doop, die nagmaal en die ampte moet bereik. Dit impliseer toegewing en akkommodasie na beide kante toe. ’n Teologie van Eenheid roep ons op om eerder te poog om “in te sluit” as om “uit te sluit” in die “ruim huis” wat ons bely ons graag wil wees.

9.1.7 Oor die jare heen het die NG Kerk haar bereidwilligheid bewys om haar sienswyse rakende belangrike sake te heroorweeg en aan te pas volgens nuwe lig vanuit die Woord. Die Kerk behoort egter dieselfde bereidwilligheid te toon ten opsigte van haar belydenisskrifte.

9.1.8 Die beskouing van die belydenisdoop as ’n “herdoop” van iemand wat reeds die kinderdoop ontvang het, leef slegs in die harte van diegene wat die kinderdoop as die ware doop onderskryf. Vanuit die perspektief van diegene wat die belydenisdoop onderskryf, is hulle doop ’n daad van gehoorsaamheid en nie ’n daad van rebellie of opstandigheid teenoor die NG Kerk nie.

9.1.9 Doopviering/herdenking is nie ’n aanvaarbare alternatief in die plek van die doop vir diegene wat die belydenisdoop onderskryf nie.

9.2 Volgens die artikel “The case for dual Baptism Part 1” op die Patheos blog (Bird, 2011) behoort Christelike geloofsoortuigings teologies geprioritiseer te word deur te onderskei tussen:

9.2.1 Essensiële geloofsoortuigings: hierdie kategorie sluit die grondbeginsels van die Christelike geloof soos die Evangelie, die Drie-eenheid, die menswording van Jesus, ens. in en is daarom ononderhandelbare kwessies.

9.2.2 Belangrike geloofsoortuigings: Dit sluit sake in wat belangrik is ten opsigte van kerkorde en leerstellige kwessies waaroor verskil mag word, maar wat nie die leer aangaande die verlossing aantas nie. Volgens hierdie artikel val die doop en die nagmaal onder hierdie kategorie.

9.2.3 Onbelangrike sake: Dit sluit kwessies van persoonlike oortuiging en voorkeure sowel as gewetensake in. Voorbeelde hiervan sou bv. Christene en alkohol gebruik, watter Bybelvertaling verkieslik is, ens. kon wees.

9.2.4 Gevolgtrekking:

9.2.4.1 As die doop dus nie in die kategorie van “essensiële geloofsoortuigings” nie, maar eerder in die tweede kategorie van “belangrike geloofsoortuigings” ressorteer, behoort dit nie ’n struikelblok vir eenheid in die Kerke wat Jesus as Here bely, te wees nie. Om hierdie rede is die Teologie van Eenheid so ’n belangrike fondament van hierdie gravamen. Paulus se onderbeklemtoning van die doop teenoor die prioritisering van die verkondiging van die Evangelie in 1 Kor. 1 bevestig dat die doop ook vir Paulus nie ’n essensiële saak was nie.

9.2.4.2 Hierdie teologiese prioritisering sluit mooi aan by die gesegde “In essensiële sake, eenheid; In nie essensiële sake, vryheid; In alle sake, liefde” wat as ons vertrekpunt vir hierdie gravamen dien. As die doop nie onder essensiële sake val nie, maar eerder by die nie essensiële sake tuishoort, behoort ons vryheid te geniet om ons eie oortuigings rakende die doop te handhaaf en uit te leef. Om hierdie vryheid vir onsself toe te eien, vereis egter van ons om daardie selfde vryheid ook na die ander kant van die geloof spektrum te bied. Sodoende sou ons eenheid selfs in diversiteit kon hê, maar dit sou vereis dat ons mekaar ruimte gun en sonder veroordeling werklik hóór. Mag die liefde van Christus uiteindelik ook in hierdie saak die deurslag gee!

10. MOONTLIKE VOORSTELLE VIR BEDIENINGSPRAKTYK

10.1 Voordat ons die pad vorentoe kan bepaal, moet ons eers beslis of daar wel ’n gesamentlike weg vorentoe moontlik is. Dit noodsaak ons om terug te keer na dít waaroor ons, ten spyte van ons verskillende doop beskouings, wel saamstem: Die kern van ons geloof sentreer rondom ons belydenis dat ons uit genade alleen, deur geloof gered word. Die Evangelie van Jesus, Sy kruisiging en opstanding, is die sentrale waarheid van ons geloof. As ons egter die doop die beslissende faktor maak waarvolgens ons bepaal of iemand in die NG Kerk se “ruim huis” ingesluit of uitgesluit word, verhef ons indirek die doop tot die sentrale waarheid en die kern van ons geloof. Sodoende word die “teken” verhef tot die “inhoud”. Ons mag egter nie toelaat dat dit gebeur nie, want dit sou beteken dat ’n gesamentlike weg vorentoe onmoontlik sou wees.

10.2 Aangesien dit die Algemene Sinode se mandaat en verantwoordelikheid is om die kerk se beleid te bepaal, wil hierdie gravamen die volgende voorstelle vir oorweging aangaande die moontlike pad vorentoe aan die Sinode voorlê:

10.2.1 Lidmate moet gelyke lidmaatregte geniet, ongeag hulle verskillende doop beskouings, anders sou dit onmoontlik wees om hulle regmatige plekke in hul plaaslike gemeentes in te neem, soos wat hulle aangemoedig word om te doen. In die praktyk beteken dit dat lidmate nie uit die ampte uitgesluit mag word op grond van die feit dat hulle ’n ander doop beskouing handhaaf nie. Dit noodsaak dat die Sinode ’n duidelike besluit hieroor sal moet neem en dat daardie besluit dan eerlik en openlik aan ons lidmate gekommunikeer sal moet word, aangesien beperkte lidmaatskap teenstrydig met ’n regmatige plek is. Indien die Sinode sou besluit om dit te doen, sal die Sinode revisie van die ATR se riglyne rondom die interpretasie van die Sinode van 2011 se besluite rakende die doop moet neem.

10.2.1.1 AANBEVELING: GELYKE LIDMAATREGTE

10.2.1.2 Die Sinode besluit dat lidmaatregte nie bepaal of beperk sal word op grond van lidmate se persoonlike doopbeskouing nie. 10.2.1.3 Die Sinode bring die nodige wysigings in die Kerkorde aan.

10.2.2 Indien die Sinode die gravamen gelyk sou gee dat die belydenisdoop teologies ook as ’n gereformeerde interpretasie van die doop gesien kan word, sou die gravamen ’n dubbele bedieningspraktyk rondom die doop, soos tans alreeds in baie gereformeerde kerke suksesvol geïmplementeer is, wou voorstel. Voorbeelde van kerke wêreldwyd wat so ’n dubbele bedieningspraktyk handhaaf, sluit o.a. die Presbiteriaanse kerke in die VSA en Australië, die Reformed Church of France, die Christelik Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika en die Presbiteriaanse kerk in Egipte in. In praktyk beteken so ’n dubbele bedieningspraktyk dat ouers die keuse volgens hul geloofsoortuiging mag maak om hul babas te doop óf te wag totdat hulle kinders eers self tot geloof gekom het. In die geval van die kinderdoop sal die kind, wanneer hy tot geloof gekom het, ’n openbare belydenis van geloof moet aflê. As die ouers egter sou kies om die doop van hul babas uit te stel totdat hulle tot persoonlike geloof gekom het, sal die babas tydens ’n toewyding seremonie aan die Here opgedra word.

10.2.2.1 AANBEVELING: BELYDENISDOOP AS ALTERNATIEWE GEREFORMEERDE DOOP

10.2.2.1.2 Die Sinode gee gelyk dat die belydenisdoop teologies ook as ’n gereformeerde interpretasie van die doop gesien kan word

10.2.2.1.3 Die Sinode keur ’n dubbele bedieningspraktyk t.o.v. die kinderdoop en belydenisdoop, soos in ’n aantal gereformeerde kerke reeds aanvaar is, goed.

10.2.2.1.4 Die Sinode stel ’n taakspan saam om die kerk te bedien rondom die praktiese aspekte van sodanige bedieningspraktyk.

10.2.3. As die Sinode sou besluit om die belydenisdoop te akkommodeer, sou ons die liefdevolle ruimte moet skep waarbinne lidmate wat reeds die kinderdoop ontvang het, maar volgens hulle persoonlike oortuiging en gewete die belydenisdoop wil ondergaan, dit mag doen sonder die vrees vir veroordeling of etikettering as “wederdopers” omdat dit vanuit hulle perspektief hulle eerste “ware” doop is.

10.2.3.1 AANBEVELING: RUIMTE VIR BELYDENISDOOP

10.2.3.1.1 Die Sinode skep ruimte vir lidmate wat reeds die kinderdoop ondergaan het, maar volgens geloofsoortuiging behoefte het om die belydenisdoop te ondergaan, om dit sonder veroordeling te doen.

10.2.4. Indien die Sinode sou besluit dat die doop wél ’n essensiële saak en dus ononderhandelbaar is, vra die gravamen dat die Sinode nogtans sal oorweeg om gemeentes met ’n “losser assosiasie” toe te laat om sodoende gemeentes wat oorwegend ’n ander doop beskouing handhaaf te akkommodeer en steeds binne die kerkverband te behou.

10.2.4.1 AANBEVELING: VERBREDING VAN KERKVERBAND

10.2.4.1.1 Die sinode bevind dat die doopbediening aan kindertjies van nie toerekenbare ouderdom nie ’n essensiële saak in ons geloofspraktyk is nie.

10.2.4.1.2 Die Sinode keur die verbreding van die Kerkverband goed sodat gemeentes wat hulleself ten volle gereformeerd beskou, maar die belydenisdoop onderskryf, steeds deel kan vorm van die Kerkverband.

10.2.5. Die gravamen wil ’n beroep op die sinode doen om, indien die gesprek steeds sou voortgaan, ook voldoende met lidmate wat ’n ander doop beskouing handhaaf, te konsulteer. Sodoende word hulle die geleentheid gegun om hulle eie oortuiging sélf te stel eerder as wat gelowiges wat nie in hulle oortuigings deel nie namens hulle sou moes praat. Sodoende kan misverstande voorkóm en verkeerde persepsies na beide kante toe uitgeskakel word en daar doeltreffend na wedersydse begrip toe gewerk word. Solank as wat ons eerlik en met deernis met mekaar blý praat, is daar hoop, selfs al stem ons nie altyd met mekaar saam nie.

10.2.5.1 AANBEVELING: INKLUSIEWE KONSULTASIE

10.2.5.1.1 Die Sinode besluit om in alle gesprekke rondom die doop inklusiewe konsultasie prosesse van stapel te stuur sodat geen party in die gesprekke uitgesluit word nie.

10.3 Mag ons in nederigheid en liefde kies om wedersyds leerbaar en oop vir mekaar te bly; oop vir vernuwing en verandering, sodat ons ons leuse “Semper Reformanda” gestand kan doen.

11. LITERATUURLYS

11.1 BOEKE

  • Erdman, CR, 1961. The Epistle of Paul to the Galatians. 1ste uitg. Philadelphia: Westminster Press.
  • Ferguson, E, 2009. Baptism in the Early Church. 1ste uitg. Grand Rapids: Wm. B. Eerdmans Publishing Co..
  • Kingdon, D, 1973. Children of Abraham. 1ste uitg. Cambridge: Carey Publications Ltd.
  • König, A, 2009. Die Evangelie is op die Spel. 1ste uitg. Wellington: Lux Verbi.BM (Edms.) Bpk..
  • Migliore, D, 2004. Faith seeking understanding. 2de uitg. Grand Rapids: Wm. B. Eerdmans Publishing Co..
  • Pawson, D, 1997. The Normal Christian Birth. 1ste uitg. Great Britain: Hodder & Stoughton.
  • Stander, HF & Louw, JP, 1994. Baptism in the Early Church. 2de uitg. South Africa: Didaskalia Publishers.
  • Verduin, L, 1964. The Reformers and their Stepchildren. 1ste uitg. Grand Rapids: Wm. B. Eerdmans Publishing Co..
  • Viola, F & Barna, G, 2008. Pagan Christianity. 2de uitg. Illinois: Tyndale.

11.2 ELEKTRONIESE DOKUMENTE

11.3 NG KERK DOKUMENTE

  • AGENDA vir die 15de vergadering van die ALGEMENE SINODE van die NEDERDUITSE Gereformeerde Kerk, 2013.
  • ATR VERSLAG; DOOP: UITLEG EN TOEPASSING VAN DIE ALGEMENE SINODE 2011 SE BESLUITE OOR DIE DOOP (vgl. Agenda A.14 (Aanvullend) bl. 47 pt 2.1.2; Notule Dag 4 bl. 32), 2013.
  • BESLUITEREGISTER vir die 15de vergadering van die ALGEMENE SINODE van die NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK, 2013.
  • Handboek vir die Erediens. 1ste uitg. Kaapstad: NG Kerk Uitgewers, 1988.
  • NOTULE vir die 15de vergadering van die ALGEMENE SINODE van die NEDERDUITSE Gereformeerde Kerk, 2013.
  • DIE KERKORDE VAN DIE NEDERDUITSE GEREFORMEERDE KERK met Reglemente, Beleid, Funksionele Besluite en Riglyne soos vasgestel deur die Algemene Sinode in Oktober 2013.

DS. HJ ALBERTS
NG KERK PE HOOGLAND

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui