Die mite van verbondsdoop en verbondskind

Kyk ook:

Die volgende kom uit die boek Die Verbond en die Vervalsing, onder hoofstuk 12 “Die mite van verbondsdoop en verbondskind – ’n vraaggesprek met prof Jannie Louw” op bl 131, deur Krause Venter en Tom Gouws. Dit is ’n onderhoud met prof Jannie Louw oor die doop.

Dit klink na goeie argumente. Net iets om aan te dink: Kinders van gelowige ouers word gedoop. Sulke kinders is veronderstel om gelowig grootgemaak te word, dus het die meeste van daardie kinders nie soos bekeerlinge, ’n bekeringsdatum nie. Hulle het dus van die begin van hulle lewe in verhouding met Jesus gelewe. As in ag geneem word dat die doop die afwassing van sonde simboliseer en die aflê van die ou mens en opstanding van die nuwe mens en dat dit ook geen magiese krag het nie, kan ’n mens nie dan ook redeneer dat die kleindoop aanvaarbaar is nie? Dit maak egter baie sin dat ’n ongelowige wat gelowig word, gedoop word wanneer hy tot bekering kom om die aflê van die ou mens en opstanding van die nuwe mens in Jesus te simboliseer (soos beskryf in (8)).

Iets anders om aan te dink: As die doop slegs ’n teken is wat nie magiese krag het nie, hoe belangrik is dit dan of jy klein of groot gedoop word? En hoe belangrik is die hoeveelheid water wat gebruik word?

Ander bykomende kommentaar verskyn in [blokhakies] tussen die teks.

Vir argumente vir die kleindoop deur ds Gideon Aggenbag, kyk:

Hier volg die onderhoud tussen Krause Venter en prof Jannie Louw:

**********

HOOFSTUK 12

DIE MITE VAN VERBONDSDOOP EN VERBONDSKIND –

‘N VRAAGGESPREK MET PROF. JANNIE LOUW

Krause Venter

Hierdie onderhoud[1] van Krause Venter met prof. Jannie Louw het in laasgenoemde se kantoor by die Universiteit van Pretoria plaasgevind.

KV: In Gereformeerde kringe, en ek bedoel spesifiek in die NG Kerk, word u erken as ’n wêreldoutoriteit op die gebied van die Griekse taal. Kan ek so ’n stelling maak?

(1) JPL: Baie ouens sê so. As hulle my voorstel by plekke, sê hulle so. Miskien is dit omdat ek by so baie van die buitelandse navorsingsgroepe ingeskakel is, dat ek in die veld nou redelik goed bekend is. Ek en ’n kollega in Amerika, Eugene Nida, het in 1988 ’n groot projek, wat ons 17 jaar geneem het, voltooi. Dit is ’n groot woordeboek oor die Griekse Nuwe Testament.

KV: Professor, ek wil net hoor: die Grieks wat u doseer, is dit meer Bybelgekoppel, of is dit meer suiwer Grieks?

(2) JPL: Dit is sommer alles. Ons dek by Pretoria Universiteit ’n baie breë spektrum. Ons doen die klassieke Grieks, so van omtrent ’n 1 000 v.C. af tot so 400 v.C.. En dan die periode daarna, tot omtrent 300 n.C., wat ons Hellenistiese Grieks noem. Daarbinne val ook die Nuwe Testament en ander Griekse tekste wat Christelik van aard is. Dan doen ons ook die Bisantynse periode, tot omtrent 600 n.C., en in hierdie twee laaste fases is daar ’n gedeelte wat ons noem die Pateristiek, wat kom van die Latynse woord pater, wat vader beteken. Dit is die geskrifte van die vroeë kerkvaders. AI die geskrifte van die vroeë Christelike kerk het natuurlik eers na Christus ontstaan en tot so 400 jaar n.C. was alles oorwegend in Grieks geskryf. Van toe af is dit afwisselend in Grieks en Latyn geskryf en in die later fases weer, meer na die Middeleeue toe, is alles weer in Latyn geskryf. Dit is ’n reusegroot literatuur. En baie van die goed wat in die boek is wat ek en my kollega Stander ook geskryf het oor die geskiedenis van die doop, is eintlik alles uit die dokumente[2] van die vroeë Christelike kerk gehaal. Daarin het ons getoon wat die kerkvaders gesê het en wat die praktyke van die vroeë kerk was.

KV: Ek dink die basiese probleem waarmee ons worstel as mense wat uit die tradisionele kerke of die tradisie van babadoop uit kom, is om die doop van kinders in verband te bring met die doop in die Nuwe Testament. Ons het nou vanmiddag begin kyk na die strekking van die woord en so ver as wat ons twee kon bepaal, kry ons die begrip doop eers in die Nuwe Testament. Dit is ’n begrip wat totaal onbekend is in die Ou Testament.

(3) JPL: Ja, dit is nogal eienaardig dat dit nie daar voorkom nie, maar miskien is dit omdat die Ou Testament soos ons hom nou het, strek tot so 400 jaar voor Christus en daar sluit hy omtrent af. Daar is Joodse geskrifte, waarvan baie in Grieks geskryf is, waarin die doop wel voorkom, maar in die ouer periode in die Ou Testament het die Jode nie eintlik bekeerlinge uit ander nasies gemaak of aanvaar nie. Die Filistyne, ensovoorts, is as heidene gesien en klaar. Dis maar eers kort voor die Christelike tyd dat die Jode bekeerlinge uit ander volke begin inbring het en dan het hulle hulle ook gedoop. In die Nuwe Testamentiese tyd het die Jode dus doop geken. Hulle het mense gedoop, want toe Johannes byvoorbeeld ook begin doop het, was dit ook nie vir hulle vreemd nie.

KV: Die begrip doop soos ons dit in die Nuwe Testament ken, kom dus nie formeel voor in die Ou Testament nie, maar die begrip besprinkel[3] tog dan wel?

(4) JPL: Dit kom baie voor, ja.

KV: En ons kry wel weer die woord besprenkel in die Nuwe Testament, soos in 1 Petrus 1:2[4], maar dan gaan dit oor die besprenkeling van die bloed van Jesus. En dan is daar gedeeltes in Hebreers waar daar spesifiek gepraat word van besprenkeling.[5] Kan ’n mens die verband trek tussen hierdie begrip van besprenkeling na die begrip doop soos ons dit ken in die Nuwe-Testamentiese bedeling?

(5) JPL: Hoegenaamd nie. Ek dink dit is akademies totaal en al ontoelaatbaar om dit te doen. Kyk, die kerke wat nou babas doop, doen dit, maar hulle moet dit doen, want dit is deel van hulle geloof en hulle soek dan maar om goed bymekaar te sit. Hulle gaan van die standpunt uit dat die handeling of metode van daardie besprenkeling het deurgegaan van die Ou Testament na die Nuwe Testament. Kyk, in die Ou Testament – waar jy besprenkeling kry, wat baie gebeur het, is dat wanneer daar offerandes gebring is, is die altaar natgespat met die bloed. Die offers in die Ou Testament, die bloed wat daar gevloei het en wat daar ook besprenkel is (en somtyds is die bloed ook net daaroor gesmeer, ’n mens kan amper sê geverf), dit het vir die mense wat dan teenwoordig was, gesimboliseer dat hierdie dier gesterf het. In die Ou Testament was die loon van die sonde die dood – as jy wil versoening hê, dan moet daar gesterf word om daardie oortreding te versoen en daarom het hulle die dier geslag en geoffer en die dood wat plaasgevind het, het die versoening dan gesimboliseer. Hulle het wel verstaan dat God dit vergewe, maar hierdie handeling het dit vir die mense sigbaar voorgestel en dan het hulle besprinkeling toegepas. Maar daardie was nie ’n doop nie – dit was offerandes vir vergifnis van sondes.

KV: Maar dit is die punt wat ek verstaan wat gemaak word: jy besprinkel die kind met water. Ons doen dit nie meer met bloed nie, maar jy besprinkel die kind en daarom word die kind se sonde nou afgewas, of hy word geheilig, of wat ook al.

(6) JPL: Ek dink nie mens kan dit met die offers verbind nie, want die gedagte dat die kind gereinig word, die kom van ’n ander rigting. Dit kom onder andere uit daardie voor-Christelike dooppraktyke, want, soos ek netnou gesê het, die Jode het in die tyd voor die Nuwe Testament en ook ten tye en daarna wel die doophandeling geken, maar die doophandeling was nie net ’n Christelike of Joodse gebruik nie. Baie van die ou volke het dope gehad. Nie net die Grieke en Romeine nie, maar ook die omliggende volke van die Jode het dit gehad. Jy het dit in Egipte gekry, in die Egiptiese godsdiens, byvoorbeeld; ook die Persiese godsdiens het ’n doopseremonie gehad. Kom ek noem nou maar een van hulle: In Egipte het hulle die bul geslag oor ’n stellasie waarin die een wat nou tot die lsis-diens toetree, gereinig moet word en dan het hy onder die stellasie gestaan en hulle slag ’n bul daar – wat krag gesimboliseer het- en dan drup die bloed op die persoon af en dit reinig hom van sy vorige lewe en nou is hy geskik om die godsdiens te betree. Hierdie handelinge het met ander woorde reiniging gesimboliseer. En as die Jode iemand gedoop het – hulle noem dit die proselietedoop; die proseliet was ’n nuwe bekeerling – dan het hulle hom gewoon met water gedoop.

Oor die metode hoe hulle gedoop het, het ons eintlik geen gegewens nie. Dit is nie beskryf nie. Die mense raai maar hoe hulle dit gedoen het, maar hulle sou dit waarskynlik maar gedoen het soos Johannes die Doper en die ander volke en dit is nou maar in ’n rivier, in water. En of hulle hom nou heeltemal lyf en koponder gedruk het en of hulle met ’n groot bak water oor hom gegooi het, het nie eintlik saak gemaak nie. Mens het suggesties wat jy in ou skrywers kry en daaruit kan aflei dit lyk of hulle dit op verskillende maniere gedoen het. Die hele idee was maar net: daar het ’n klomp water oor hom gekom, wat simboliseer, sê maar: hierdie Filistyn word nou ’n Jood, nou is sy Filistynlewe afgewas, hy is nou skoon en hy kan nou tot die Joodse godsiens toetree.

Toe die Christelike doop gekom het, of laat ek liewers sê toe Johannes die Doper gedoop het, het hy vir die mense gesê hulle moet hulle bekeer van hulle verkeerde weë. Dit is ’n doop wat nie heeltemal dieselfde inhoud gehad het as wat die Christelik doop het nie, maar dit sluit nog by die Joodse tradisie aan – julle moet julle lewens verander en kom hier dat ek julle doop. Daardie doop wat hy in die Jordaan met die mense gedoen het, het ook gesimboliseer dat hulle nou ’n nuwe lewe wil ingaan. Van die lewe wat hulle ingaan, het hy gesê: “Daar is die Lam”, dus moes hulle Hom nou volg.

Maar die Christelike doop het dan eers in werklikheid begin toe Jesus dit as opdrag gegee het. En omdat hierdie gedagte van reiniging uit die tradisie sterk met die doop geassosieer is, is dit vanselfsprekend dat dit ook ’n faktor is wat amper ongevraagd oorgedra is na die Christelike doop toe.

Daar is in die Nuwe Testament, in Titus, wel sprake van gereinig met die waterbad van die wedergeboorte.[6] Dus was reiniging ’n faktor, maar deur wedergeboorte en nie deur doop nie – dit was nie in die Christelike doop in die Nuwe Testament die hooffaktor nie. By daardie dooppraktyke was besprenkeling heeltemal onbekend. Hulle het nie mense wat gedoop is, besprenkel volgens die metode wat jy die bloed op die altaar besprenkel het nie.

Jy sien, mense gaan altyd die metode so op die voorgrond stel, maar jy moet vra wat het die handeling beteken. Hulle het die mense eenvoudig in water ingedruk soos wat dit hulle gewoonte was, maar hulle het ook ander metodes gebruik. As daar nie genoeg water was nie, dan het hulle die mens in ’n kom of ’n bad gedruk en party keer het hulle met ’n ander voorwerp ’n klomp water oor hulle gegiet.

KV: Die volgende punt word nou op grond van die Hebreerstekste en die teks uit 1 Petrus gemaak: kyk, die besprenkeling waarvan hier sprake is, is die besprenkeling met die bloed van Christus. Wanneer ons dan hierdie babatjie vat, dan besprenkel ons hom met water en daardeur word hy gereinig omdat die bloed van Christus hom inbring in die koninkryk in. Ek wil graag hê u moet dit vir my nog duideliker uitspel. Is daar ’n Skriftuurlike verband tussen die doop en besprenkeling?

(7) JPL: Kyk, die skrywer van die Hebreerboek gebruik ’n beeld, maar om daardie beeld te verstaan, moet ’n mens hom nie direk verbind met die outydse offer nie. Jy kan hom wel indirek verbind. Toe Jesus die nagmaal ingestel het, het Hy van die brood gesê: “Dit is my liggaam wat vir julle gebreek is.” Van die wyn het Hy gesê: “Dit is my bloed wat vir julle gestort is en elke keer as julle dit doen, moet julle aan My dink, dat Ek vir julle gesterf het.” Christus is die Redder, dus is dit die primêre simboliese betekenis van sy bloed. Wat in die wyn by die nagmaal gesimboliseer word, is dan Christus se sterwe aan die kruis. Dit is Christus se sterwe wat die mens vrymaak en wat die mens reinig en wat die mens God se kind maak. Dit is nie die water of enigiets wat jy doen nie. En in hierdie passasies waar gesê word: julle is gereinig deur die besprenkeling van die bloed, gebruik hy natuurlik nou die woord besprenkeling omdat hy uit ’n Joodse agtergrond kom en hy weet diegene aan wie hy skryf, ken die besprenkelingsritueel van bloed op die altaar en wat daardie besprenkeling op die altaar voorgestel het, dat God nou hulle sondes vergewe. Hy neem dus nou net dieselfde beeld oor en sê daarmee dit is Christus se sterwe wat sondes vergewe.

KV: So dit verwys glad nie na doop nie?

(8) JPL: Nee. En daarom sê ek daar is ’n indirekte verband, hierdie een wat ek nou verduidelik het. Jy moet, as jy oor die doop praat, eers gaan vra wat simboliseer die doop. Die simboliek van die doop stel Paulus baie duidelik in Romeine 6 as jy daar gaan kyk. Verse 3 en 4 sê: “Of weet julle nie dat ons almal wat in Christus Jesus gedoop is, in sy dood gedoop is nie? Ons is dus saam met Hom begrawe deur die doop in die dood, sodat net soos Christus uit die dode opgewek is deur die heerlikheid van die Vader, ons ook so in ’n nuwe Iewe kan wandel.”

Kom ons vat net so ’n oomblik dan kyk ons wat het gebeur het in die vroeë Christelike kerk deur te kyk na wat die praktyk was soos dit blyk uit die geskrifte van die kerkvaders en hul vroeë gemeentes. Soos ek gesê het, is dit ’n omvangryke literatuur en daar is baie, baie materiaal daarin wat oor die doop handel. In hierdie geskrifte word detailbeskrywings gegee van doopgeleenthede, wat daar gebeur het, van mense wat Christene wou word en hoe hulle onderrig en ingelei is in die kennis, dat hulle presies moes weet wat hulle doen, dat hulle belydenis van hulle geloof moes aflê en as die voorgangers dan nou oortuig was dat hierdie mense se geloof eg is, dat hulle dit werklik bedoel, dan het hulle gesê: nou goed – dan kan julle gedoop word. In die vroeë kerk is mans en vrouens apart gedoop, want die persoon is nakend gedoop. Jy het ook ’n aparte doopkamer gehad vlakby die kerk. Soms is daar ook riviere, baddens, damme of komme gebruik.

Wat ek nou vertel, is wat letterlik in die geskrifte staan; dit is nie goed wat jy aflei uit wat geskryf staan nie. Jy staan by die water en dan sê die voorganger: “Glo jy in God, die Vader? Glo jy in Jesus Christus en glo jy in die Heilige Gees? En elke keer as hy dit gesê het, het hy die persoon onder die water gedruk.

As Petrus nou sê julle is met die bloed besprenkel, is dit maar ’n simboliese uitdrukking om te sê: maar toe julle gedoop is, nadat julle geglo het in Christus, het Christus se versoening ook vir julle versoening gebring en is julle gereinig van julle sondes, maar dit kom nie magies deur daardie besprenkeling nie. Waarom het hulle die mense nakend gedoop? Dit was deel van die simboliek. Jy het na die bad toe gegaan, met al jou klere aan en dan trek jy dit uit en dit het jou ou lewe voorgestel – die ou mens word nou hier afgelê – en dit word dan verwyder. Jy kry nie weer daardie klere nie. Dit word vernietig. En dan gaan jy deur die water en as jy anderkant uitkom, kry jy nuwe klere. Dan is jy nuut beklee met Christus. Dieselfde simboliek: Beklee julle met Christus. Trek Christus nou as julle nuwe klere aan. Dan het hulle die nuwe klere aangetrek en baie kere het hulle nog die mense met olie ook gesalf, wat weer ’n teken was van die uitdryf en die verbanning van die mag van die duiwel oor jou lewe. Direk daarna is hulle dan na die kerk toe; dan het die mans en vrouens weer saamgegaan en dan het hulle nagmaal gevier. Hulle het die dood van Christus gedenk en gesê: dit is hierdie dood, hierdie sterwe van Christus – Romeine 6 – wat die werklike inhoud is van die simboliek wat hulle nou daar uiterlik met hierdie tekens gedoen het, is. En dit is doop.

In jou hele Nuwe-Testamentiese tydperk en tot omtrent 300 n.C. was dit die algemene praktyk. Dus as jy in daardie ouer geskrifte die woordjie doop kry, moet jy verstaan dit is wat gebeur het. Daar was nooit in daardie ou geskrifte die geringste, maar die geringste toespeling op goed soos verbond en besnydenis en besprenkeling nie.

KV: En kinders?

(9) JPL: Kinders is wel gedoop as hulle belydenis van geloof afgelê het; as hulle die hele proses deurgegaan het. Daar was nie ’n ouderdomsbeperking nie.

KV: Nou waar kom die dooppraktyk vandaan soos wat dit vandag in die Gereformeerde kerke toegepas word?

(10) JPL: Dit is ’n later ontwikkeling. Hierso so 300 n.C. het dit gekom en ek sal nou-nou meer daaroor vertel. Ek wil nog net iets hier byvoeg: as ’n mens nou gaan na die Nuwe Testament en jy wil in die Nuwe Testament ’n teks of ’n passasietjie kry wat kinderdoop of babadoop as onderwerp het, sal jy niks kry nie. Dit kan nie daar staan nie, want in die tyd toe hierdie NuweTestamentiese boeke geskryf is, het dit nie bestaan nie. Drie eeue nadat die Nuwe Testament geskryf is, het daardie gebruik om babas te doop, eers gekom. Hulle het nooit voor die tyd dit gedoen nie. Dit is my hele dispuut met baie van die teoloë. Dis wat ek altyd sê: Julle het nou ’n sisteem en julle wil dit graag regverdig uit die Nuwe Testament uit. Hoekom is julle nie net doodgewoon eerlik en sê dat dit ’n later ontwikkeling in die kerk is nie? As die kerke wat babatjies wil doop net wil erken: Ons volg ’n later ontwikkeling in die kerk na, dan is hulle ten minste eerlik.

Jy kom nou uit die Hervormde Kerk. Die Hervormde Kerk het vir Gert Pelser gevra om ’n stuk oor die doop vir hulle te lewer. En hy sê dit daar uitdruklik. Ek het ’n afskrif van sy verhandeling by hom gekry. Hy sê baie duidelik: daar is geen gegewens in die Nuwe Testament waarmee jy kan bewys dat die verbondsdoop bewys kan word nie. Dit is net nie daar nie.

KV: Die doop wat dus praktyk was in die vroeë kerk, was dus direk gekoppel met geloofsoorgawe, die feit dat die persoon bereid was om sy lewe neer te lê om met Jesus beklee te word?

(11) JPL: Ja, baie beslis. Daardie woorde van Paulus oor beklee word met Christus word deur die vroeë skrywers aangehaal wat oor die doop gepraat of gepreek het: So moet julle hulle doop, en dan beskryf hulle die hele liturgie van die doop. Hulle haal altyd Paulus aan. Paulus sê: Sterf saam met Christus en staan saam met Hom op.

KV: Daar is net een punt nog. Ons weet nou hoe die verhaal vorentoe gaan. Om net vir ’n oomblik terug te keer: Wanneer ons kyk na Jesus se doop, en ons sien in Mattheus 3 waar Hy gedoop word, word daar gesê: “en Hy het opgekom uit die water uit”. Kan ons dan nie daarvan die punt maak, so na aan die oorspronklike Grieks soos ons kan, dat hy ook onder die water ingegaan het nie?

(12) JPL: Waarskynlik was dit so. Waarom ek sê waarskynlik is omdat dit nie letterlik so staan nie, maar as jy na al die – en nou praat ek ook van die eerste 300 jaar – as jy na al daardie geskrifte gaan, dan is die mense in baie water gedoop. Daar is byvoorbeeld ’n geskrif met die titel: Die didagie van die apostels – didagie beteken leerstukke – en dit is omtrent die oudste katkisasieboek wat ’n mens kan kry. Hy dateer uit so 140 n.C. en daarin gee die skrywer die volgende doopvoorskrifte: As julle doop, moet die een wat die “doophandeling gaan uitvoer, die een wat gedoop gaan word, en as daar nog twee of drie ander kan bykom des te beter, moet julle eers vooraf vas en bid en julle voorberei vir hierdie handeling. Die dopeling moet drie keer in water gedruk word en hy moet gedoop word in die Naam van die Vader, Seun en Heilige Gees. En dan sê die skrywer: maar as julle nie genoeg water het nie, kan julle ook maar water oor hom uitgiet. Hy gaan voort en sê as julle nie koue water kan gebruik nie, kan warm water ook gebruik word. Hy maak dus voorsiening vir alle praktyke, want wat gebeur het in daardie tyd is dat die vroeë Christene nie hangups gehad het oor hoeveel water of oor hoe diep moet jy hom indruk nie. Die water was ’n simbool of ’n teken en as hulle nou baie ou mense gehad het of iemand wat tot die geloof kom op sy siekbed of sy sterfbed, wat maak jy nou met hom? As jy hom onder die water indruk, is hy dadelik dood. Maar dit was die toegewings wat hulle gemaak het. Hulle sou nie in die geval van ’n ou wat perdfris en gesond is en waar hulle genoeg water gehad het, dit gedoen het nie. Daar het hulle hulle doodgewoon in die baddens met baie water in gaan onderdompel.

Ek weet daar is sommige boeke – daar is bv. een wat deur ’n argitek geskryf is en hy het hieroor ook geskryf en hy word dikwels aangehaal – en hy sê hulle moes skynbaar ook babas gedoop het, want die badjies wat hulle gebruik het wat jy in die huiskerke waar hulle bymekaar gekom het en waar die doopvonte was, gekry het, was maar ’n kleinerige bad. Hy sê ’n groot persoon sal nie daarin pas nie. Maar hy meet die moderne mens van vandag en dan meet hulle die bad daaraan. Die mense in die antieke tyd was baie kleiner as ons en jy kan dit maklik selfs tot in die Middeleeue sien. AI daardie harnasse wat in die museums is, is klein. Ook aan die ou huise sien mens dit. Die deure is laag. Dit is dus nie ’n argument daardie nie. Hulle het eenvoudig normaalweg die ouens onder die water gedruk. En as daar nie genoeg water was nie, het hulle nie probleme gehad om hom op ’n ander manier te doop nie.

KV: Die punt wat gemaak word dat daar ’n verskil is tussen doop in water en doop met water, na aanleiding van die Grieks, baptizo, is dus nie geldig nie.

(13) JPL: Daar is nog ’n ander ding wat jy daar kan byvoeg. Die Grieks het net die woordjie “en” en dit kan in Afrikaans met “in” of “met” vertaal word. Want dit is dieselfde ding. As jy iemand in water doop of met water doop, sal die Grieks vir jou sê: wat is die verskil? “En” beteken net jy gebruik water om hom te doop. In die Grieks beteken die woord baptizo nie soseer die metode nie. Wat soos ’n paal bo water staan, is dat dit gedoen is nadat ’n persoon tot geloof gekom het.

KV: Kom ons vergeet nou die metode. Kom ons kyk wat sê Jesus in Mattheus 28:19: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” Daardie doop wat Jesus instel – as ons twee nou kom en ons sê ons wil graag die Woord navolg, ons wil hierdie gemeente baseer op die Woord van God, wat is hierdie baptizo of doop wat Jesus instel aan die einde van die evangelies?

(14) JPL: Dit is duidelik: jy moet allereers die evangelie aan hom verkondig, en dan as hy hierdie verkondiging aanvaar, dan doop jy hom en as hy gedoop is, dan los jy hom nie net daar nie. Dan moet jy hom nog die res van sy lewe onderrig. Daardie doop beteken dan net: doop hulle – en die destydse mense sou dit verstaan het dat jy water moet gebruik as ’n simbool wat simboliseer dat hierdie persoon nou gesterwe het met Christus, opgestaan het in ’n nuwe lewe, en dat die sondes afgewas is (die ou mens) – en daardie doop sal ek dan definieer as: jy moet hierdie godsdienstige handeling ondergaan waardeur jy simbolies ingelyf word. Want kyk dit is nie die doop wat jou ook inlyf in Christus nie, nie daardie handeling nie. Net die wedergeboorte kan dit doen. lemand kan Jesus as Verlosser aanneem, wedergebore word met die Heilige Gees en nooit gedoop word nie. En hy is gered. Die doop is ’n belydenis in die openbaar. Want anders kan ons nagmaal ook afskaf. Want Jesus het gesê: Elke keer as julle hierdie brood eet en hierdie wyn drink, met ander woorde elke keer as hulle eet – want brood en wyn was hulle normale voedsel – elke keer as hulle aan tafel gaan, moes hulle herinner word: Christus het vir my gesterf. Die rede waarom ons dit nou in die kerk hou, is bloot om dit gesamentlik te herdenk. Dit simboliseer dat ons as medegelowiges dit doen. Maar dit is nie die doen van die nagmaal wat betekenis het nie. Baie ouens dink as hy darem met die paar nagmaalsgeleenthede in die kerk kom, is hy gered. Dit is nie die doen wat iets aan jou doen nie. Jy gaan daar net openlik bely: hierdie goed wat ek binne glo, simboliseer ek nou met ’n handeling.

KV: Maar die punt is gemaak dat die metode nie die ding is nie. Ons kan die water vat en dan gooi ons dit op die kind se kop. Nou is die kind gedoop. Nou kan hy een of ander tyd wedergebore raak.

(15) JPL: Dit glo ek nie. Dit kan nie gebeur nie, want die Skrif is daarteen.

KV: So dit staan glad nie in die Bybel nie?

(16) JPL: Kyk, sê nou maar ’n mens sou vir iemand wat tot geloof kom, sê hy moet gedoop word en as jy dan ’n bietjie water vat en dit op sy kop sprinkel – dis doop! So die ouens wat nou so knaend aanhou oor die besprinkeling of die onderdompeling – die metode is irrelevant. Wat daar gebeur, wat die inhoud daarvan is, dis belangrik. Maar wat is die groot verskil nou? As jy die Nuwe Testament neem, dan gaan dit oor geloof, sterwe en opstanding. Die babadoop word in die moderne tyd met die besnydenis verbind. Maar dit is iets heeltemal anders.

In geskrifte van dié kerke – en ek praat nie nou net van een kerk nie, maar van al die kerke wat babas doop – word daar baie uitdruklik gesê dit is nie doop wat dit doen nie (jou red nie), dit is jou geloof in Christus. Maar in hulle praktyk is dit iets heel anders. Ek was een aand in ’n gemeente en een van Pretoria Universiteit se teologiese professore het gepraat oor geloofsversekering. En hy sê toe: “As jy nou twyfel op ’n dag of jy werklik ’n kind van die Here is, dink net daaraan: ek is gedoop.” Dit is Katolieke teologie. Die Katolieke glo dit. Hulle glo dit tot vandag toe. As jy in die Katolieke Kerk gedoop word, dan is jy gered.[Dit is baie waar dat die doop niks met jou redding te doen het nie en ook geen magiese waarde het nie (soos later bespreek word), maar ter versagting moet ’n mens net dít sê: Indien predikante só na die doop verwys, bedoel hulle tog seker nie noodwendig dat die doop jou redding bewerkstellig nie. Is dit nie maar net ’n poging (alhoewel tegnies nie korrek nie) om iemand te help om geloofsekerheid te kry nie? Ek stem egter baie sterk saam dat lidmate nooit onder valse voorwendsels moet wees dat die doop jou redding bewerkstellig nie.]

KV: Dit is dus ’n oorerwing direk van die Katolisisme?

(17) JPL: Ja, ’n mens kan dit uit die geskiedenis baie duidelik sien.

KV: Sê u dus dat die doop van babas uit die Roomse kerk kom?

(18) JPL: Ja, onteenseglik. Soos ek netnou gesê het, was die afwas van sondes by die Jode, maar ook by al die heidense godsdienste, die hoofklem van die doop. Dit was ’n belangrike ding vir die mense van destyds en geleidelik het hierdie reiniging as’t ware op die voorgrond gekom. Die simboliek van sterwe en opstaan het ongelukkig in die bespreking van die doop bietjie na die agtergrond verskuif. Toe het mense begin glo as jy reg gedoop is, dan is jy reg, dan is jy gereinig.

Toe kry ’n mens aan die einde van die derde eeu hierdie gedagte: wat daarvan as ’n persoon sterf voordat hy tot geloof gekom het? Is hy dan verlore? Die praktyk het toe in die kerk begin ontwikkel – eers sporadies en later al meer en meer – ons moet hulle doop. Daar is ’n baie oulike studie gemaak deur Professor Ferguson van Amerika oor die grafskrifte in die vroeë Christelike kerk en daar is baie grafskrifte waarop iets soos hierdie staan: Hierdie – en dan sy naam – was 8 maande oud (of wat ook al die geval mag wees) toe hy of sy gesterf het, maar gelukkig is hy gedoop op die datum en daarom is hy nou ’n Christen. Daar is een van ’n seuntjie wat 11 maande oud was en toe sy ouma, wat wel ’n Christen was, gesien het hy gaan sterf, het sy gou die priester gaan haal om hom te doop sodat hy as Christen hemel toe kon gaan. En dit is die gedagte wat begin posvat het.[Daar is nie kwessies daaroor dat hierdie ’n verkeerde siening oor die doop is nie.] ’n Mens kan dit vergelyk met ons situasie vandag. Waarom is daar mense wat alles sal doen om die nagmaalsgeleenthede in die kerk by te woon, maar oor die ander gee hy nie om nie? Dit is omdat hy magiese krag in die nagmaal sien. Waar kom hy daaraan? Dit het maar deur die eeue ontwikkel dat die nagmaal ’n baie belangriker diens as die ander is. En so het die gedagte maar ontwikkel dat jy mense kan vrywaar deur hulle te doop. Ferguson noem dit in sy boek “clinical baptism”. En so het dit algemeen geword.

En toe het die vraag nou ontstaan by die teoloë van destyds: as jy iemand nou só doop, waar gaan jy die grens trek? Tertullianus, een van die kerkvaders, het ’n geskrif geskryf oor die doop en daarin bepleit hy dat ’n mens, by kinders onder drie jaar, dit net in die hoogste uitsonderings moet doen. Hy het nou nie hierdie “veiligheid” heeltemal afgeskryf nie. Hy het gesê hy voel ongelukkig oor die praktyk, want daar is nie belydenis nie; as jy iemand doop, moet hy weet wat hy doen. Hy moes Christus aangeneem het. Hierdie praktyk, sê hy, wat nou inkom dat mense voor die voet kleintjies doop omdat dit dan “veilig” is, is verkeerd.

Maar daar was ook ander groepe in die vroeë kerk wat dit anders gedoen het. Hulle het gesê as jy gedoop is, het die doop ook afwassing gesimboliseer en so het die afwassing belangriker begin word. Toe was daar ander groepe wat die doop uitgestel het en mense net op hulle sterfbed gedoop het. Daar het ’n dispuut ontstaan tussen hierdie groepe, want hierdie laaste praktyk is baie riskant. Hoe weet jy wanneer iemand gaan sterf?

En toe, vir die heel eerste keer het een van die ou kerklike skrywers gesê: hoekom maak ons nie maar soos die Jode nie. Hulle besny kinders op die agste dag. Kom ons doop kinders op die agste dag. Dan is ons veilig vir die toekoms. Ander het gesê, ja, maar wat van die eerste sewe dae en daar was toe groepe wat kinders onmiddellik na hulle geboorte gedoop het, want dan is hy veilig.

Hierdie soort praktyke het in die kerk ingekom toe die kerk ook al verwêrelds het, want dit was in die tyd van Konstantijn. Baie mense dink dat toe Konstantijn die Christendom die staatsgodsdiens maak en dit wettig, toe was die Christendom vry, maar dit was eintlik ’n ramp, want dit het verwêreldliking in die kerk gebring. En van die 300’s af verder het jy dit al meer gekry: die kerk het die mense se geestelike sake namens hulle reggemaak. In daardie tyd het die gemeente in Rome toe ook die leidende status gekry, want Rome was die hoofstad van die wêreld. En daar is opgesien na die leiers van die kerk in Rome. Die biskoppe van Rome het die Ieiding gegee. En die Roomse kerk het tot vandag die idee dat die kerk voorsien vir jou alles. Die kerk is jou moeder wat jou heilig maak en deur die doop is jy dan verseker van die ewige lewe. Hulle het ook vandag nog die laaste geleentheid wat hulle die oliesel, extreme unction, noem. Net voor iemand sterf, kom die priester en salf hom met olie om seker te maak hy gaan hemel toe. Hierdie rites het vir mense sekerheid begin gee. Ongelukkig is dit ook met doop en nagmaal die geval. En daardeur het die kerk verval.

En dan met die Hervorming, wanneer die Hervormers breek met al daardie praktyke, die aflaatstelsel en die ander, het hulle helaas nie met die babadoop gebreek nie. In Vercuil se boek noem hy dit baie duidelik deur briewe tussen Calvyn en van die ander Hervormers aan te haal, dat hulle nie wil wegdoen met die babadoop nie, want “dan gaan ons die mag verloor”. Hulle wou soveel moontlik mense in die kerk kry, want die Katolieke was toe hulle vyande en kon hulle dooddruk. En daarom het hulle nooit met die babadoop gebreek nie.

Hulle het wel met die Katolieke teologie gebreek wat sê sonder die doop kan jy glad nie in die hemel kom nie. Dit is Christus wat dit doen, het hulle gesê, maar hulle het ook gesê: “die doop het ’n menigte ander voordele” en jy kan nie die kind daarvan ontneem nie. So het dit gebly. En toe was daar mos die wederdopers – die ouens wat by Hervorming gesê het ons moet totaal breek – hulle was die Anabaptiste, maar hulle is uit die kerk geban.

Tegelykertyd met die gedagte van die kind wat te gou sterf, het daar ’n ander leerstelling in die kerk ontstaan, wat vroeër nooit bestaan het nie en dit was die idee van erfsonde. Hulle het dit gaan knoop aan wat Dawid gesê het. Toe hy berou gehad het oor sy Batseba-episode het hy gesê: “Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.” (Psalms 51:7) Dit was maar net ’n Hebreeuse uitdrukking wat dit sterk gestel het, m.a.w. ek is so sleg dat ek van kindsbeen af sleg is. Maar hulle het dit verstaan as: ek is in sonde gebore, in die sin van: toe ek gebore is, het ek sonde van my ouers geërf. En toe die babadoop gekom het, veral hier van 400 n.C. af, kry jy dit in baie geskrifte. Toe het hulle begin sê dit is belangrik dat die babatjie gedoop word sodat hy van sy erfsonde ontslae kan raak. Van toe af is kinders gedoop.

KV: Een van die skrifte wat gebruik word deur die Gereformeerde teologie om bevestiging te verleen aan die doop van kinders is die gedeelte in Kolossense 2: 11-12.[7] Het dit enigiets met die doop te doen?

(19) JPL: Niks. Hulle lees dit nie reg nie. Hulle moet net lees wat daar staan. Want daar sê Paulus: “Julle is besny,” en hoekom sê hy vir hulle hulle is besny? Die agtergrond daar ken ons goed. In die gemeente was Jode en nie-Jode en die Jode het hulle uitgespreek oor die klomp heidene wat nou Christene word, maar hulle is nie besny nie; hulle moet ook besny word. Kyk vir Paulus. Hy het vir Timoteus besny toe hy vir die Jode gaan preek het, want hulle sou hom net nooit daarsonder aanvaar het nie. So Paulus het maar ’n bietjie toegegee aan hulle druk. Maar hy sê hier: in werklikheid is julle besny. Julle is besny met die besnydenheid van Christus. Julle is besny met die besnydenis van die hart. Die geloof is julle besnydenis. Want dit is hulle geloof in Christus wat hulle tot die volk van God maak. Vir Israel was die vleeslike besnydenis ’n teken dat hulle God se volk is. En dan sê hy daar in Kolossense 2:12: Julle is besny, nie met die besnydenis van die vlees nie, maar met die besnydenis van die Christus. Dit is die bekering; dit is die geloof.

KV: Hy gaan dan verder deur ’n verband te lê met wat hy noem: “begrawe deur die doop”. Nou sien die Gereformeerde teoloë dit dat die besnydenis as’t ware deur die doop kom. Daarom word daar ook duidelik in die belydenisskrifte gesê dat die doop het in die plek van die besnydenis gekom, al is daar nie een eksplisiete Skrifgedeelte om dit mee te staaf nie.

(20) JPL: Hulle is nie korrek in die gelykstelling nie. Die besnydenis wat hulle as Christene het, is die bekering. En in daardie teks sê hy: deur die doop is julle begrawe. Toe julle gedoop is, het julle met Christus gesterf en opgestaan. Dit het julle God se volk gemaak. Paulus wys hulle eintlik tereg: as julle nou so tekere gaan oor die besnydenis: dit is die sterwe met Christus wat julle God se volk maak en as julle dan nou wil besny wees, julle is besny, maar in die hart. Ons het nie nou meer ’n vleeslike besnydenis nie. Dit is al wat daar staan. Maar dit het met babadoop op die aarde niks te doen nie.

KV: Dan is daar die geval van die twee families: die familie van die purperverkoopster en die familie van Kornelius. Hulle sê daar is wel babas in daardie tyd gedoop, want die oomblik toe die ouers, Kornelius in die een geval en Lydia in die ander geval, tot die geloof kom en Jesus aanneem, is almal gedoop.

(21) JPL: Maar die vorige vers sê: Hulle het almal die prediking aangeneem.

[Lydia: Handelinge 16: (14) Een van dié wat geluister het, was ’n vrou met die naam Lidia, wat die Joodse geloof aangeneem het. Sy het handel gedrywe met pers wolmateriaal en was van Tiatira afkomstig. Die Here het haar vir Paulus se woorde ontvanklik gemaak. (15) Sy en haar huisgesin is toe gedoop. Daarna het sy ons uitgenooi en gesê: “Aangesien julle daarvan oortuig is dat ek in die Here glo, kom gaan by my tuis.” En sy het ons oorreed om dit te doen.

Kornelius: Handelinge 10: (24) en ’n dag later in Sesarea aangekom. Kornelius het hulle al verwag en het sy familie en huisvriende reeds bymekaar geroep.
Hand 10: (47) “Hierdie mense het net soos ons die Heilige Gees ontvang. Wat kan dan verhinder dat hulle nou met water gedoop word?” (48) Toe het hy beveel dat hulle in die Naam van Jesus Christus gedoop moet word. Daarna het hulle hom gevra om ’n paar dae by hulle te bly.]

KV: So u sê dat daar nie babas by kon gewees het nie, want hulle kan nie die prediking aanneem nie?

(22) JPL: Dis reg. Daar staan: Hulle het almal die woord aangeneem. ’n Baba sou dit nie kon aanneem nie. Nou kan iemand sê: sê nou maar daar was nou een babatjie daar en die res het Hom almal aangeneem en nou sluit hulle maar ook die babatjie daarby in. Dan sal ek daarop antwoord: hoekom het dit dan 300 jaar geduur voordat hulle begin het om babas te doop en hoekom het dit só lank geneem voordat die doop ’n geskilpunt in die kerk geword het? As hulle van die begin af babas gedoop het, hoekom sou hulle later die vraag gehad het: wat word van die babatjies wat sterf wat nie gedoop is nie? So die hele geskiedenis is daarteen dat daar babas by kon gewees het. Maar ek beroep my direk op die woorde: hulle het almal geglo.

KV: Kom ons kyk nou na ’n ander situasie. Ons is nou wedergebore – ek en my vrou. Wat is die situasie nou met kinders wat nog tot hulle verstand moet kom om Christus aan te neem?

(23) JPL: Daar is Romeine 2 deurslaggewend vir my. Vers 6: God vergeld elkeen volgens sy dade. En in vers 11 herhaal hy dit: God trek niemand voor nie. En ek glo so oor hierdie klein babatjie wat te sterwe kom: dit is God wat daar oordeel. En omdat ek weet dat God regverdig oordeel, weet ek God sal nie daardie babatjie iets kwaads toereken nie. Maar dit is die ouers se verantwoordelikheid om, wanneer hierdie kind tot sy verstand kom, die evangelie te bring en as die kind dan Jesus aanneem, dan is hy gered. Selfs ’n klein kindjie kan dit doen. En of hy dan dadelik daar gedoop word of later, maak nie saak nie, want die doop is ’n belydenis in die openbaar. Die doop maak hom nie ’n kind van God nie. As ’n mens aan die ander kant wil sê: ek aanvaar nie dat God regverdig sal oordeel nie en hierdie kind kwaad nie sal toereken nie, dan is dit wat hulle gedoen het: hulle het ’n wetjie gemaak en die kind gou gedoop en nou sê hulle (eintlik vir God]: Jy kan maak net wat Jy wil, hy is klaar gedoop. Dit is mos Godslastering.

KV: Vir my voel dit dat wanneer jy doop en dit nie gaan oor Jesus bely nie, dan is dit amper of jy Jesus van die kruis afhaal.

(24) JPL: Presies. Jy neutraliseer Hom. Jy gebruik iets anders in die plek van Jesus. In die Rooms-Katolieke kerk, met hulle baie beelde van Maria met die baba Jesus, is Maria dan ook die simbool van die kerk, wat vir Jesus sal sorg, die kerk wat sal sorg dat Jesus nie iets oorkom nie. Maar die kerk doen die dinge. In al hulle liturgieë kan jy dit ook sien. Ook in die doop: ons sal die Here help. As Hy nou dalk hier opslip om nie hierdie babatjie raak te gesien het nie, dan maak doop mos alles reg. Dit is Roomse teologie.

KV: Nog ’n punt wat gemaak word, is rondom 1 Korinthiers 7:14[8] waar hulle sê die kind word geheilig, met ander woorde wat hulle dan sê, is: Pa en Ma staan in vir die kind. As ma en pa wedergebore is, dan neem die kind die geloof van die ouer aan en daarom kan hy gedoop word.

(25) JPL: Dan sou ek sê: as dit werklik is wat die Bybel daar beteken: as ma of pa gelowig is, dan is die kind mos outomaties gelowig. Waaroor is julle bekommerd – die kind is dan mos gered. Waarom wil julle hom nog doop?

KV: Maar is dit wat dit daar beteken?

(26) JPL: Dit is nie wat daar staan nie. Die Griekse woord hagios wat daar gebruik word, is gewoonlik met. “heilig” vertaal, maar wat beteken heilig? Heilig het ’n hele paar betekenisse. Een van die betekenisse van heilig is morele perfektheid. In 1 Pet. 1:16 staan daar: “Wees heilig, want Ek is heilig.” Nou hoe kan ’n mens soos God heilig wees? Maar al wat dit beteken is: laat jou morele perfekte lewe gebaseer wees op God se morele lewe. Gebruik God as jou voorbeeld.

Die opskrif by hierdie gedeelte, wat deur Gereformeerdes self daar geplaas is, sê: Vrae oor die huwelik. Nie: Vrae oor die doop nie. Dit het hier gehandel oor ’n huwelik tussen ’n gelowige en ’n ongelowige. Die vraag was dan: Wat van die kinders? Maar daar is niks verkeerd met die kinders nie. Die kinders is nie buite-egtelik nie. Uit ’n Christelike oogpunt is hulle ook deel van die Christelike gemeenskap, want die pa of die ma is ’n gelowige en dit beteken net dat as ek ’n gelowige is, is my kind outomaties in hierdie “geklank” van die gelowige wêreld.

KV: Maar waar kom die verbondskind dan in?

(27) JPL: Daar is nie so iets soos ’n verbondskind nie. Elke persoon moet tot geloof kom. Die begrip van verbondskind wat uit die verbondsteologie kom, die kry hulle van die besnydenis. Ek het nou baie geskrifte oor die verbond gelees. Dit word altyd aan die Abrahamverbond gebind. En die Here het vir Abraham gesê: Trek op uit jou land. Ek gaan jou ’n land gee en Ek gaan jou ’n groat nageslag gee. Dit is my verbond met jou. En Hy sê en jy moet My dien. Daar is heelwat verbonde in die Ou Testament. Later het die Here ook gesê: Ek sal jou God wees en jy moet My dien. Dit is ’n ooreenkoms wat ek met jou maak. En daarmee het ek nie ’n probleem nie. Dit is wonderlik en dit is waar. En Jesus sê, toe Hy die nagmaal instel: Hierdie wyn, my bloed is die teken van die nuwe verbond. Jy is net deel van die nuwe verbond as jy wedergebore is.

Â

Voetnotas

[1] Die oorspronklike onderhoud is getranskribeer deur Ronnie van Rensburg en geredigeer deur Tom Gouws. Die volledige onderhoud is op kassetband beskikbaar by die outeurs.

[2] So ’n gepubliseerde bron is bv. Henry Bettenson, red. 1896. Documents of the Christian Church. Oxford: University Press.

[3] In die volgende tekste word gepraat van die besprinkeling van ’n huis (Levitikus 14:51), ’n melaatse (Numeri 19: 19) en ’n bed (Spreuke 7: 17). Kolossense 4:6 sê ons woorde moet met sout besprinkel wees. In die Hebreerboek is daar in hoofstuk 9 drie verwysings waarin die woord besprinkel voorkom: “Want as die bloed van stiere en bokke en die as van ’n vers wat die verontreinigdes besprinkel, heilig maak tot reiniging van die vlees, hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig van dooie werke’om die lewende God te dien.” (verse 13-14); “Daarom is ook die eerste testament nie sonder bloed ingewy nie; want toe elke gebod volgens die wet deur Moses aan die hele volk aangekondig is, het hy die bloed van die kalwers en bokke saam met water en skarlakenrooi wol en hisop geneem en die boek self en die hele volk besprinkel en gesê: Dit is die bloed van die testament wat God met die oog op julle verorden het. En hy het ook die tabernakel en al die gereedskap van die diens net so met die bloed besprinkel.”

[4] 1 Petrus 1:2: “uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die Gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus”.

[5] Hebreers 10:22: ” laat ons toetree met ’n waaragtige hart in voile geloofsversekerdheid, die harte deur besprenkeling gereinig van ’n slegte gewete en die liggaam gewas met rein water”. Hebreers 11:28: “Deur die geloof het hy die pasga gehou en die besprenkeling van die bloed, sodat die verderwer hulle eersgeborenes nie sou aanraak nie.” Hebreers 12:24: “en by Jesus, die Middelaar van die nuwe testament, en die bloed van die besprenkeling wat van beter dinge spreek as Abel”. Laasgenoemde vers word in die NV soos volg vertaal: “en by die besprinkelingsbloed”.

[6] Titus 3:5: “na sy barmhartigheid het Hy ons gered deur die bad van die wedergeboorte en die vernuwing deur die Heilige Gees … ”

[7] Kolossense 2:9-12: “Want in Hom woon al die volheid van die Godheid liggaamlik; en julle het die volheid in Hom wat die Hoof is van alle owerheid en mag; in wie julle ook besny is met ’n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.”

[8] 1 Korintiërs 7:14 “Want die ongelowige man is geheilig deur die vrou, en die ongelowige vrou is geheilig deur die man; want anders sou julle kinders onrein wees, maar nou is hulle heilig.”

Â

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui