NG gemeente Rustenburg-suid se standpunt oor SGV

Kyk ook:

Kerkraads besluit

Die volgende besluit is deur die kerkraad van die Ned. Geref. Gemeente Rustenburg-Suid geneem tydens ’n kerkraadsvergadering op 28 Oktober 2015 in reaksie op die Algemene Sinode se besluite rondom homoseksualiteit (selfdegeslagverhoudings) wat soveel onmin, verwarring en misleiding veroorsaak:

  1. Ons as die kerkraad van die Ned. Geref. Gemeente Rustenburg-Suid distansieer onsself in die sterkste moontlike ondubbelsinnige taal van die Algemene Sinode van 2015 se besluite oor selfdegeslagverhoudings.
  2. Ons glo dat die Skrif duidelik is dat alle seksuele verhoudinge buite die huwelik (die lewenslange verbintenis tussen een man en een vrou) teen God se wil en plan is.
  3. Verder méér verwerp ons enige besluite van die Algemene Sinode en meerdere kerkvergaderings wat besluite neem wat bots met die Woord van God of geregverdig word vanuit ’n humanistiese, filantropiese raamwerk. Ons glo in God, die openbaring van Sy Woord, dat dit die bron is vanSy Wil en dat ons daaraan gehoorsaam moet wees en nie aan menslike oortuigings en drange nie. Die Woord kan nie aangepas word by die kultuur nie, die kultuur moet aanpas by die Woord.
  4. Dit is tyd dat ons weg beweeg om sonde goed te praat! Ons glo dat die beoefening van homoseksualiteit teen God se wil en plan is soos alle ander sondes waaroor die Skrif praat. God maak nie ’n onderskeid tussen verskillende soorte sonde nie. Vir al hierdie sondes is daar vergifnis en vrymaking deur die soenoffer van Jesus Christus.
  5. Die Here het ons geroep om die Evangelie te verkondig en om mense te help om ’n leefstyl te kweek wat in lyn is met die Woord van God. Daarom betreur en bevraagteken ons ten sterkste die teologiese verwarring en morele verval in die groter NG Kerk asook die teologiese fakulteite vanwaar die misbruik van die Bybel vandaan kom. As ’n Reformeerende gemeente staan ons by die Solas van die Reformasie en verhef ons geen van die belydenisskrifte, menswetenskappe of menslike voorkeure bo die Skrif nie.
  6. Die gemeente se deure staan oop vir alle mense om; na die voorbeeld van Christus; met liefde en deernis ontvang en versorg te word volgens die Woord van die Here. Ons is almal vergeefde sondaars wat in God se genade leef.
  7. Ons belydenis is dat wanneer ’n persoon egter in enige sonde volhard kan so ’n persoon nie in enige leiersposisie in ons gemeente dien nie. As gemeente leef ons deur die oop uitnodiging van Jesus wat vir alle belydende mense genade, vergifnis en heling bied.
  8. Laastens betreur die kerkraad die feit dat die sinode die geleentheid nie benut het om ’n profetiese stem te wees in die tyd waarin ons leef oor brandende sake soos die sosiaal / morele verval, magsmisbruik, korrupsie, stand van onderwys, werkloosheid, armoede, staatsverval en vele ander aspekte wat die daaglikse lewe van lidmate raak nie.
  9. Paulus waarsku vir Timoteus in 2 Tim 4: 3 met hierdie woorde: “Daar sal ’n tyd kom wanneer die mense die gesonde leer nie meer sal verdra nie. Hulle sal hulle eie begeertes volg en vir hulle leermeesters bymekaarmaak wat net sal sê wat hulle graag wil hoor.”
  10. Ons gebed in hierdie saak is dat Paulus se woorde in Ef. 4: 15 waar sal wees in ons gemeente, Ring, Sinode en Kerk: “Ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe.”
  11. Ons doen ’n baie ernstige beroep op die Ring van Rustenburg en die Noordelike Sinode om ’n ondubbelsinnige Bybelse standpunt in te neem rakende die hele kwessie van selfdegeslagverhoudings.

Rom 6:12,13

Moet dan nie toelaat dat die sonde nog langer oor julle heerskappy voer en julle die begeertes van julle sterflike aardse bestaan laat gehoorsaam nie. Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die sonde stel as ’n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat God wil.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui