Gaum en gay maat ‘hét seks gehad’

Die volgende artikel is op bladsy 3 in Rapport, 9 Oktober 2005 gepubliseer (skakel).

**********

Gaum en gay maat ‘hét seks gehad’

Genoeg bewyse van seksuele verhouding

9 Oktober 2005

MARLENE MALAN
Kaapstad

Lede van die ondersoekliggaam na die gedrag van die gay NG predikant ds. Laurie Gaum sê daar was genoeg getuienis voor hulle wat bewys het dat Gaum en sy “huweliksmaat”, mnr. Douw Wessels, wél in ’n seksuele verhouding saamgeleef het.

“Dit is so dat ds. Gaum nie voor die regskommissie van die ring van Kaap die Goeie Hoop wou erken daar was ’n seksuele verhouding tussen hulle nie, maar die kommissie meen daar was genoeg getuienis wat bo redelike twyfel bewys het hulle hét ’n seksuele verhouding gehad,” het dr. Francois Wessels, ’n kommissielid, gister aan Rapport gesê.

Dit kom nadat Gaum die afgelope week as gronde vir sy appèl teen die bevinding van die kommissie — dat hy in sy amp herstel word op voorwaarde dat hy voortaan selibaat leef — aangevoer het dit kan nie bewys word dat hy en Wessels ’n seksuele verhouding gehad het nie.

Gaum en Wessels het die afgelope vier jaar ’n verhouding gehad tot net voor Wessels se selfmoord in April vanjaar, en hulle is einde verlede jaar in ” ’n huweliksverbintenis” in Begijnhof in Nederland “ingeseën”. Die brief met Gaum se redes vir appèl is die afgelope week bekend gemaak.

Kommissielede het Gaum verlede maand ook gekritiseer oor sy verbreking van ’n ooreenkoms met dié liggaam om nié voortydig hul bevinding bekend te maak nie.

“Ds. Gaum het voorheen die ooreenkoms met ons verbreek om die bevinding vertroulik te hou totdat ons die amptelike bevinding kon bekend maak.

“Hy het nie sy woord gehou nie,” het ds. Thys du Toit, nog ’n kommissielid, aan Rapport gesê.

“Die kommissie het ds. Gaum gevra of hy bereid is om as homoseksueel georiënteerde selibaat te leef, maar hy was vasbeslote om nié dié onderneming aan ons te gee nie.

“Oor die bewering van seks — kom ons kyk of hy iemand kry wat hom glo.”

Van die aspekte wat die regskommissie in ag geneem het, is bepaalde foto’s wat van Gaum in die pers verskyn het, asook sy “huwelik” met Wessels. Foto: volkleur Onderskrif: Een van die naak foto’s van Gaum wat in die pers verskyn het. Die foto’s is deur sy “huweliksmaat”, mnr. Douw Wessels, geneem.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui