Hewige gevegte in kerke wêreldwyd oor gays

RAPPORT, 18 SEPTEMBER 2005
JOHANNESBURG FINAAL

http://152.111.1.87/argief/berigte/rapport/2005/09/18/R1/24/03.html

NUUS bl. IV

Hewige gevegte in kerke wêreldwyd oor gays

Z.B. DU TOIT

Die Vatikaan gaan ’n span ondersoekers na Rooms-Katolieke kweekskole in Amerika stuur om verskuilde homoseksuele op te spoor te midde van aanduidings dat die wêreldwye Anglikaanse Kerk op die rand van ’n skeuring staan oor huwelike tussen gay priesters.

Meningsverskille oor homoseksualiteit is skerp aan die toeneem binne etlike Christelike kerke met min tekens van ’n vergelyk tussen konserwatiewe en liberale teoloë en lidmate, veral oor die kwessies van homoseksuele priesters en die aanvaarbaarheid van huwelike tussen gays.

‘n Eksklusiewe berig Vrydag in The New York Times oor die Vatikaan se voorneme en ’n belangrike uitspraak Donderdag van voorste Anglikaanse leiers in Afrika staan op die agtergrond van hewige en steeds onopgeloste meningsverskille in Suid-Afrika se NG Kerk oor die posisie van ’n gay leraar, ds. Laurie Gaum.

Terwyl kerke onderling oorhoops lê oor die kwessie, het twee Amerikaanse staatsparlemente, dié van Kalifornië en Massachusetts, pas hul goedkeuring aan huwelike tussen homoseksuele verleen.

Die Vatikaan, oppergesag van die Katolieke Kerk, is egter vasbeslote om sy teologiese opleidingskole van gays te suiwer. Luidens die Times-berig gaan ondersoekers elk van die 299 kweekskole in Amerika ondersoek vir “getuienis van homoseksualiteit”, asook dosente wat verskil van die kerk se leer. ’n Besluit van die Katolieke Kerk of homoseksuele verbied moet word as priesters word juis nou afgewag.

Aartsbiskop Edwin O’Brien , aartsbiskop van die Amerikaanse weermag, het volgens die koerant gesê “enigiemand wat betrokke was by homoseksuele bedrywighede of wat sterk homoseksuele neigings het”, behoort nie tot ’n kweekskool toegelaat te word nie. Dit sluit mense in wat ’n dekade of langer nie seksueel aktief was nie.

Die hersiening van die kweekskole wat bekend staan as ’n “apostoliese besoek” behels die besoek van spanne aan die instellings met hul meer as 4 500 studente. Die vorige soortgelyke hersiening het 25 jaar gelede begin en 6 jaar geduur, berig die Times.

Intussen het ’n gesamentlike uitspraak deur Afrika se twee voorste Anglikaanse leiers die weg verder gebaan vir ’n skeuring met die Britse Anglikaanse Kerk, die Church of England. Aartsbiskop Peter Akinola van Nigerië en aartsbiskop Henry Luke Orombi van Uganda het ’n standpunt ingeneem teen die Britse kerk se goedkeuring van verbintenisse tussen gay priesters — indien hulle onderneem om selibaat te bly — ingevolge ’n nuwe burgerlike wet. Akinola het die Church of England se standpunt veroordeel en voorgestel dat die kerk uit die Anglikaanse gemeenskap geskors word, is die afgelope week in die Britse en Amerikaanse pers berig.

Akinola en Orombi se kerke het altesame sowat 26 miljoen lidmate, ’n derde van die wêreld se Anglikane en net soveel as dié van die Church of England. Die helfte van die wêreld se Anglikane woon in Afrika.

Die Nigeriese en Ugandese Anglikaanse Kerk het reeds bande met hul Amerikaanse eweknie, die Episkopaalse Kerk, asook met Kanada se Anglikaanse Kerk verbreek oor dié twee kerke se siening.

Volgens die Skotse koerant Scotland on Sunday maak Anglikane in Afrika hulle nou gereed om hul eie koers in te slaan en ’n nuwe Anglikaanse Kerk met sy hoofkantoor in Alexandrië, Egipte, tot stand te bring. Die plan is glo om die wêreldwye Anglikaanse leier en aartsbiskop van Kantelberg , dr. Rowan Williams, deur Akinola as hul geestelike leier te vervang en homoseksuele uit die volle kerklike lewe te verban.

Die Anglikaanse Kerk in Afrika verwag sterk steun van hul kerkgenote in die Amerikas en die Karibiese gebied. Saam maak hulle twee derdes van alle Anglikane uit.

Leiersfigure in Malawi se Anglikaanse Kerk het onlangs die aanstelling van biskop Nicholas Henderson teengestaan weens sy steun aan die gay-beweging in die kerk.

Albei huise van die staatsparlement van Kalifornië het intussen homoseksuele huwelike gewettig, maar die staat se Republikeinse goewerneur, mnr. Arnold Schwarzenegger, het kort daarna aangekondig hy gaan dié besluit veto. Massachusetts se wetgewer het feitlik gelyktydig ’n poging verwerp om ’n onlangse wet wat sulke huwelike gewettig het ongedaan te maak.

Aartsbiskop Edwin O’Brien van die Amerikaanse weermag, het gesê “enigiemand wat betrokke was by homoseksuele bedrywighede of wat sterk homoseksuele neigings het”, behoort nie tot ’n kweekskool toegelaat te word nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui