NG Kerk: Skeuring dreig ná besluit oor homoseksualiteit

Kyk ook:

Aan Goudland sinode: Breek asseblief weg! Daar is baie gemeentes wat na julle opkyk!

********

NG Kerk: Skeuring dreig ná besluit oor homoseksualiteit | Netwerk24

8 November 2019

Jana Marx

Goudland bespreek kerkorde, Skrifgesag

’n Skeuring dreig in die NG Kerk ween s’n vroeëre besluit oor die hantering van homoseksualiteit.

Die NG Kerk se sinode Goudland, wat uit 148 gemeentes in Noordwes en Gauteng bestaan, oorweeg om uit die algemene sinodale verband te tree.

Ds. Nelis Janse van Rensburg, voorsitter van die algemene sinode (AS), waarsku dat so ’n skeuring “geweldig sleg vir die eenheid van die kerk en die kerk in Suider-Afrika se getuienis kan wees”.

Die sinode Goudland – vroeër bekend as die sinode Wes-Transvaal – het eergister ’n buitengewone sinodesitting by die NG kerk Tetelestai in Randfontein byeengeroep, waar die AS se besluit oor homoseksualiteit bespreek is.

Die AS se besluit, wat in Oktober in Benoni geneem is, maak voorsiening vir ’n verskeidenheid van menings oor homoseksualiteit, met die doel om kerkeenheid te behou.

Dit beteken kerkrade kan onder meer self besluit of hulle gay predikante wil beroep en selfdegeslagverbintenisse wil bevestig.

Dié besluit is problematies vir die sinode Goudland.

Volgens Kerkbode het die 240 afgevaardigdes verskeie kwessies in die buitengewone sinodesitting bespreek. Die streeksinode het art. 37 van die Kerkorde bespreek. Luidens die artikel kan ’n sinode volledig wegbreek en sy status as NG kerk, voorregte en naam behou.

Die kwessie van Skrifgesag het ook ter sprake gekom. Sommige gemeentes in die sinode Goudland voel dat die AS nie meer die Bybel as die primêre bron beskou nie en dat besluite geneem word op grond van “die sielkunde en wetenskap”.

‘n Finale besluit oor ’n moontlike wegbreek van die AS is nie geneem nie. Die sinode Goudland wil eers volgende week met die AS se moderamen vergader.

Afgevaardigdes van die sinode Goudland sal op 20 November stem oor of hulle gaan wegbreek van die AS.

Ds. Norma Rossouw, voormalige voorsitter van sinode Goudland, sê volgens Kerkbode die AS se besluit oor homoseksualiteit is nie gegrond op Bybelse beginsels nie. Volgens haar is daar geen Bybeltekste in vanjaar se besluit vervat om dit te staaf nie. [Kommentaar: Kyk onder vir haar Facebook plasing.]

Toe Rossouw om verdere kommentaar genader is, het sy ’n Facebook-inskrywing van haar aan ’n geslote groep aangestuur vir publisering. Sy skryf daarin: “Die algemene sinode se besluit dien net een kant van die kerk – so much vir eenheid. Die besluit van jou kerkraad sal jou nie vrywaar van die besluit van die algemene sinode nie.

“Kerkrade kan nie oor beleid besluit nie, dit hoort op die tafel van die algemene sinode en die orde en beleid van die algemene sinode is wat sal dien op die tafel wanneer jy in die hof staan.”

Ds. Johan Brink, voorsitter van sinode Goudland, het volgens Kerkbode eergister aan af gevaardigdes gesê dié streeksinode is by ’n kruispad.

Brink sê hy het die AS ná die vorige besluit oor homoseksualiteit, wat in 2015 geneem is, gewaarsku dat dit groot finansiële implikasies sal hê.

Volgens Brink trek al tien sinodes waaruit die AS bestaan finansieel swaar.

[Nelis] Janse van Rensburg sê om “drukkende geldsake” aan die 2015-besluit toe te skryf, “kan nie verantwoordbaar word nie”.

“Daar is landwyd ekonomiese druk. Daar is baie redes waarom geldsake onder druk is.”

Brink sê by navraag omdat die sinode Goudland se buitengewone sinodesitting nog onderweg is, het die dagbestuur besluit “om geen kommentaar te lewer of uitsprake te maak nie”.

Adv. Dewyk Ungerer, die AS se aktuarius en ’n kerkregkenner, sê indien die skeuring plaasvind, sal die kerk regsekerheid oor ’n paar kernkwessies moet kry.

Implikasies wat ondersoek moet word, is byvoorbeeld dat dominees hul bevoegdheid kan verloor.

“Waar sal Goudland dominees kry wat gelegitimeer is as hulle uit die verband tree? En sal hulle dan ’n dominee van binne die NG Kerk kan beroep?”

[Kommentaar: Kyk egter Goudland Sinode hoef nie te skrik vir koue pampoen nie.]

Die NG Kerk lei tans predikante by drie universiteite op. Indien die Sinode Goudland van die kerk wegbreek, ontstaan die vraag of hy nog gelegitimeerde NG-proponente mag beroep.

Norma Roussouw op facebook

Vroeg in my lewe het ek gelukkig besef dat ek kan kies in watter gesprekke ek betrokke wil raak en dat ek nie deel hoef te word van elke person se eie binne oorlog nie. Ook het ek geleer om nie uit emosie te reageer nie, eers te wag, te bid, weer te wag, voor ek antwoord. Ek dink die tyd is nou om iets te sê. Adidas en Nike het na gister baie kompetisie met al die labels wat ek gekry het.

Ek kies om nie in ’n slagoffer mentaliteit te verval nie, want deur Christus is ek vry. Ek moes myself inhou om nie te reageer op die gender video van die Algemene Sinode nie. Van die grootste teenkanting, naming en shaming wat ek nog in my lewe en party baie erger as die wat op die video genoem word beleef het was van mede vroue kollegas.

Die gesprek gister en my voorstel was nie op die aanvaarding en liefde vir homoseksuele mense nie, as gelowige aanvaar ek dat dit ’n gegewe is. Die gesprek handel oor selfdegeslag verbintenisse en LGBTI wat veel wyer strek as enige gesprek wat ons nog in die kerk gehad het en dat alle predikante a.g.v. die besluit van die Algemene Sinode binne die NG Kerk genoodsaak sal wees om die verbintenisse te sluit ongeag jou gewetens beswaar. Na daar aan die Sinode gepleit is om nie die besluit nou te neem nie, het hulle steeds voort gegaan om die besluit deur te kry. Die Algemen Sinode se besluit dien net een kant van die kerk – so much vir eenheid -. Die besluit van jou kerkraad sal jou nie vrywaar van die besluit van die Algemene Sinode nie. Kerkrade kan nie oor beleid besluit nie, dit hoort op die tafel van die Algemene Sinode en die orde en beleid van die Algemene Sinode is wat sal dien op die tafel wanneer jy in die hof staan. Dit is nie die roete van die kerk om hof toe te gaan nie, maar uit ervaring is dit deesdae waar die kerk haar gereeld bevind omdat mense voel hulle is ook vasgeloop binne die raamwerk van alle kerklike weë. Wat my meer bekommerd maak is dat die vrou in die amp en homoseksuele verbintenisse as dieselfde teologiese gesprek gesien word. Ek is baie gemaklik daarmee dat ons as Sinode gister nie ’n besluit geneem het nie, alhoewel dit my voorstel was. Die Sinode het gevoel hy is nie gereed om die besluit te neem nie, omdat hulle nie voorbereid was daarop nie. Anders as die Algemene Sinode is ek dankbaar dat ons dit gehoor het en nie vir die besluit gedruk het nie, maar nou geleentheid gee vir gesprek met die ASM en ons dan kan voorberei vir die volgende vergadering om ’n goeie verantwoordelike besluit te neem en ook al die implikasies van ’n Artikel 37 te verstaan. Meeste van julle wat reageer het op gister is beter kerkreg en kerkgeskiedenis kenners as ek maar tog ’n paar opmerkings. In ’n Artikel 37 tree jy uit die verband met behoud van alle regte, voorregte, besittings, naam ensovoorts. Dus verloor jy nie jou status as predikant nie. Interesant dat legitimasie in die begin by ringe gelê het asook colloquium doctum wat presies was wat die woord sê – kollegas wat saam praat oor die doktrines. ’n Sinode sou ook ’n besluit kon neem om ’n ander sinode se legitimasie te erken as dit aan hulle eie standaarde voldoen. Dan is dit nie nodig vir ’n colloquium doctum nie, soos Willie Jonker daaroor geskryf het. Die sentiment dat al die goeie werk verlore is dan, dra nie water nie. Die Sinode sou as ’n ekumeniese vennoot steeds samewerkings ooreenkomste met die Algemene Sinode kon hê. Ek sou nog baie kon sê, maar ek weet ook dat hierdie die begin van ’n gesprek in die kerk is.

1 thought on “NG Kerk: Skeuring dreig ná besluit oor homoseksualiteit”

  1. Dit is werklik verstommend dat daar argumente kan bestaan dat homoseksualiteit deur Die Bybel goedgekeur word. Dit word duidelik in Die Bybel as ’n afskuwelike sonde beskryf en indien die NG Kerk hierdie basiese beginsel/opdrag gaan misken is die NG Kerk verantwoordelik vir sy eie skeuring en vernietiging asook vir misleiding van sy gemeentes en gemeentelede. Dit is om die woord van God te verdraai om die wil van mense te pas. Dan sal God so ’n skeuring na alle waarskeinlikheid toelaat. Moet asb nie voortgaan om God so te tart nie! Dit is eintlik baie eenvoudig. Begin deur ’n lys van tekste uit Die Bybel aan te haal waar homoseksualiteit aangehaal word. Kyk dan wat die onderliggende bedoeling daardie teks is. Vir of teen homoseksualiteit? Die anwoord is NIE nuut nie en sal beslis NIE ’n verrassing wees nie.
    Verwys: Lev. 18:22; “Jy mag nie ’n homoseksuele verhouding hê nie. Dit is ’n afstootlike sonde”.
    Lev. 20:13; In hierdie skrifgedeelte word homoseksualiteit ondubbelsinnig as n afskuwelike sonde beskryf.
    Rom. 1:24–28; In hierdie skrifgedeelte word daar meer algemeen na homoseksualiteit as sonde verwys. nie. Dit word wel ondubbelsinnig as perversiteit beskryf en dat mense hulle aan hulle eie verdraaide opvattings oorgee.
    1 Kor. 6:9: “Moet julleself nie mislei nie” Lees wat hierna volg. Daar is n duidelike straf – “julle sal nie deel kry aan die koningkryk van God nie”.
    Homoseksualiteit, as daad, word dus in beide die ou as die nuwe testament veroordeel as ’n afskuwelike sonde. Dit is baie ondubbelsinnig en dit is verstommend dat die sinode selfs hieroor redeneer. Daar word verwys na die finansiêle impak van so n besluit wat absoluut verstommend is. Het die duiwel dan so n enorme houvas op selfs die sinode dat daar eerder na finansies gekyk word in stede van die sonde wat op die tafel is, maar nie deur die sinode gesien kan/wil word nie?
    Die sinode het n bepaalde rol om te vervul maar huidig is my algemene gevoel dat die sinode wil doen en sê wat mense pas eerder as om die direkte opdragte soos in Die Bybel opgeteken te bekragtig en te beklemtoon. Die sinode is beslis nie daar om ’n “nuwe” bybel te skep waarin sonde uitgeskryf kan word soos dit mense pas nie. Moet julleself dus nie mislei nie maar moet veral nie ander mislei nie.

Maak 'n opvolg-bydrae

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde word met * aangedui